Vrae van lesers
• Moet ’n gemeente optree teen ’n gedoopte Christen wat ’n menslike orgaan, soos ’n horingvlies of ’n nier, tydens ’n oorplantingsoperasie ontvang?
Die oorplanting van menslike weefsel of been van een mens na ’n ander is ’n saak waaroor elkeen van Jehovah se Getuies ’n gewetensbesluit moet neem. Party Christene meen dat dit kannibalisties is om enige weefsel of liggaamsdeel van ’n ander mens in hulle liggaam in te neem. Hulle voer moontlik aan dat die oorgeplante menslike orgaan deel van die ontvanger se liggaam moet word om hom lewend en funksionerend te hou. Hulle meen moontlik dat dit fundamenteel nie verskil van die inname van vlees deur die mond nie. So ’n sienswyse ontstaan moontlik omdat hulle redeneer dat God geen spesifieke voorsiening gemaak het dat die mens die vlees van sy medemens kan eet toe hy voorsiening gemaak het dat mense die vleis van diere kan eet nadat die lewensonderhoudende bloed uitgeloop het nie. Hulle neem dalk ook die wyse in ag waarop mense in Bybeltye die eet van mensevlees vir selfbehoud beskou het. Kyk byvoorbeeld die verslag in 2 Konings 6:24-30; Deuteronomium 28:53-57; Klaagliedere 2:20 en 4:10. In Johannes 6:48-66 het Jesus van beeldspraak gebruik gemaak en gesê dat mense sy vlees moet eet en sy bloed moet drink. Toe party van sy Joodse dissipels hierdie bespreking hoor, en nie die geestelike betekenis van sy woorde snap nie, was hulle geskok en het hulle opgehou om hom te volg. Hierdie verslae toon hoe mense die eet van mensevlees beskou het.
Ander opregte Christene meen moontlik vandag dat die Bybel nie onomwonde die mediese oorplanting van menslike organe verbied nie. Hulle redeneer miskien dat daar in party gevalle nie verwag word dat die menslike orgaan ’n permanente deel van die ontvanger se liggaam moet word nie. Liggaamselle word glo elke sewe jaar vervang, en dit sal waar wees van enige menslike liggaamsdele wat oorgeplant word. Daar kan ook geredeneer word dat orgaanoorplantings van kannibalisme verskil, aangesien die “skenker” nie gedood word om voedsel te voorsien nie. In party gevalle het mense wat op sterwe gelê het liggaamsdele geskenk sodat dit op ander oorgeplant kon word. Indien ’n oorplanting sou vereis dat ‘n mens iemand anders se bloed inneem, sou dit natuurlik onteenseglik in stryd met God se gebod wees.—Hand. 15:19, 20.
Dit is duidelik dat persoonlike beskouings en gewetensbesluite oor die oorplantingskwessie verskil. Dit is algemeen bekend dat die gebruik van menslike stof deur ander mense wissel van klein items soos hormone en horingvliese tot lewensorgane soos niere en harte. Hoewel die Bybel spesifiek verbied dat bloed ingeneem word, is daar geen Bybelse gebod wat regstreeks die gebruik van ander menslike weefsel verbied nie. Daarom moet elke indiwidu wat ’n besluit oor hierdie saak neem, sake deeglik en biddend oorweeg en dan gewetensgetrou besluit wat hy of sy voor God kan doen of nie kan doen nie. Dit is iets waaroor daar persoonlik besluit moet word (Gal. 6:5). Die gemeente se regterlike komitee kan nie tugmaatreëls toepas indien iemand besluit om ‘n orgaanoorplanting te aanvaar nie.