Sal jy ‘’n fout verklap’?
‘EK STEL nie in julle Bybelboodskap belang nie. Ek het dit nie nodig nie. Ek gaan gereeld kerk toe en lei ’n skoon lewe. Waarom gaan preek julle nie vir die mense oorkant die straat nie? Ek kan julle ’n paar dingetjies van hulle vertel. Hulle het regtig ’n bietjie godsdiens nodig.’
Dit is nie vir Christene buitengewoon om hierdie woorde te hoor wanneer hulle probeer om Bybelwaarhede met hulle medemens te deel nie. Die neiging om ’n mensself te verhoog en neerhalend van ander te praat is niks nuuts nie. Duisende jare gelede het die geïnspireerde psalmis die volgende woorde, wat Jehovah God tot “die goddelose” gerig het, aangehaal: “Jou mond laat jy los in boosheid, en jou tong vleg bedrog. Jy sit en praat teen jou broer, die seun van jou moeder beskimp jy [teen die seun van jou moeder verklap jy ’n fout].”—Ps. 50:19, 20, vgl. NW.
Is jy ook geneig om ‘’n fout te verklap’ wanneer die naam van ’n familielid, ’n kennis of moontlik ’n bepaalde etniese groep ter sprake kom? Jy sal waarskynlik erken dat dit baie maklik is om met ander fout te vind. Baie wat dit doen, voel sleg daaroor en wil graag die probleem van chroniese vittery te bowe kom. Die Woord van God kan hiermee help. Hoe?
‘WAAROM JOUSELF TE GRONDE RIG?’
As mense nadink oor die slegte gevolge van vittery kan dit hulle aanspoor om dit te vermy. In verband met eiegeregtigheid, wat ’n kenmerk is van diegene wat voortdurend met ander foutvind, waarsku die Skrif: “Wees nie alte regverdig en hou jou nie buitengewoon wys nie: waarom sou jy jouself te gronde rig?” (Pred. 7:16). ’n Persoon wat “alte regverdig” is, kry ’n verhewe dunk van sy eie vermoëns en ontwikkel ’n gesindheid van veroordeling teenoor ander. Die gevolg vir so ’n selfaangestelde kritikaster is dat hy homself “te gronde rig”. Nie alleen sy medemens ‘vermy hom soos die pes’ nie, maar, nog erger, hy verloor God se guns.
’n Belangrike rede hiervoor is dat die persoon wat ander voortdurend kritiseer sy eie tekortkominge oor die hoof sien. Die Skrif sê egter duidelik dat alle mense onvolmaak gebore word (Ps. 51:7; Rom. 5:12). “Daar is geen mens wat nie sondig nie” (1 Kon. 8:46). Mense vind dit gevolglik baie onsmaaklik wanneer hulle altyd gekritiseer word deur indiwidue wat net so sondig soos hulle is.
“HEILIGER” AS ANDER?
Jy het moontlik opgemerk dat persone wat baie godsdienstig is dikwels op ander neersien. Die Bybel bevat ’n buitengewone voorbeeld hiervan in Jesaja 65:2-5:
“Ek het my hande die hele dag uitgebrei na ’n opstandige volk wat wandel op ’n weg wat nie goed is nie, agter hulle eie gedagtes aan; ’n volk wat My gedurigdeur in die aangesig terg, wat offer in tuine en rook laat opgaan op bakstene; wat in die grafte sit en vernag in verborge plekke; wat varkvleis eet en daar is brokke onrein vleis in hulle skottels; wat sê: Bly daar! Kom nie naby my nie, want ek is heilig vir jou!”
Volgens The Modern Language Bible het daardie Israeliete gesê: “Bly weg, moenie nader kom nie, want ek is heiliger as jy.” Dink net daaraan. Hulle het valse afgodediens beoefen. Hulle het tussen die grafte gesit, iets wat hulle op sigself onrein sou maak (Num. 19:14-16). Die doel daarvan was waarskynlik om met die dode te kommunikeer—iets wat vir God ’n gruwel is (Deut. 18:10-12; Jes. 8:19-22). Daarbenewens het hulle varkvleis geëet, nog iets wat reëlreg in stryd was met die geskrewe wet van God wat destyds van krag was (Deut. 14:7, 8). Hulle godsdiensbedrywighede het hulle nietemin “heiliger” as ander laat voel, dermate dat hulle hul mede-Israeliete versoek het om op ’n afstand te bly sodat hulle nie heiligheid verkry nie. Volgens die Bybel kan selfs persone wat die ware aanbidding beoefen voor eiegeregtigheid swig en ’n negatiewe beskouing van ander hê.—1 Kor. 4:6.
MOENIE FOUTVIND NIE
Sien jy in jouself ’n neiging om te krities teenoor ander te wees? Wat kan jou help om van daardie neiging ontslae te raak? Hou eerstens in gedagte dat jy ook baie foute het. “Daarom is jy, o mens wat oordeel, wie jy ook mag wees, sonder verontskuldiging”, het die apostel Paulus gesê, “want waarin jy ’n ander oordeel, veroordeel jy jouself; want jy wat oordeel, doen dieselfde dinge.”—Rom. 2:1.
God self stel andersyds ’n volmaakte voorbeeld van hoe om ander se foute te beskou. “Barmhartig en genadig is die HERE”, het die psalmis geskryf, “lankmoedig en groot van goedertierenheid. Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie. Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie.”—Ps. 103:8-10; vergelyk Lukas 17:3, 4.
Die Skrif spoor Christene aan om Jehovah God se barmhartigheid na te volg. “Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het” (Kol. 3:13). Let daarop dat ’n mens ander moet vergewe selfs wanneer daar ’n gegronde “klag” bestaan. Waar Jesus aangetoon het hoe belangrik dit is om die foute van ander te vergewe, het hy gesê: “As julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.”—Matt. 6:14, 15.
Aangesien die hele mensdom sonde erf, het almal baie foute. Maar as ’n mens oor ander se foute dink en praat, het dit slegs slegte verhoudinge met Jehovah God en jou medemens tot gevolg. In plaas daarvan om God se voorbeeld te volg, weerspieël die persoon wat voortdurend met ander foutvind die gees van die een wat deur God se Woord “die aanklaer” genoem word, naamlik Satan die Duiwel (Openb. 12:10). Neem jou dus voor om nie ’n fout te verklap wanneer die gesprek volgende keer oor mense handel nie.
“Die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid. Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal ’n menigte sondes bedek.”—1 Pet. 4:7, 8.