Hoe hulle huweliksprobleme opgelos is
Miljoene het vandag met huweliksprobleme te kampe. Dikwels is dit die onbedagsame of selfs wrede dade van een van die huweliksmaats wat hierdie moeilikhede ten grondslag lê. Maar baie het oplossings vir hulle huweliksprobleme gevind. Kyk byvoorbeeld hoe dit in die geval van ’n egpaar in oostelike Europa gebeur het.
Jare lank het Stefan dikwels dronk geword, sy vrou wreed geslaan en sy geld op perdewedrenne verkwis. Ondanks die ontberinge wat sy vrou toe verduur het, het sy by hom gebly en hom geldelik onderhou. Maar toe het Stefan begin om die Bybel te bestudeer en uiteindelik een van Jehovah se Getuies geword. Hoewel sy hele lewenswyse ten goede verander het, wou sy vrou nou van hom skei.—1 Kor. 6:9-11.
Toe die regter in die hof gevra het dat ’n rede vir die egskeiding aangevoer word, kon hierdie vrou niks slegs oor die huidige gedrag van haar man sê nie. Gevolglik is die huwelik nie ontbind nie. Mettertyd het die vrou haar hart vir die waarheid geopen en nadat sy die Bybel agt maande lank bestudeer het, het sy haar toewyding aan God gesimboliseer deur in water gedoop te word. Vandag vind hierdie egpaar geluk in hulle verenigde aanbidding van die barmhartige God, Jehovah.
Toegepaste Christelikheid bring beter mans, vrouens en kinders voort. En die Bybel bied hulp om probleme op te los. Dit gee ook aan diegene wat die boodskap daarvan aanvaar ’n ware en lewende hoop wat geluk verskaf.