Vergewe jy soos Jehovah vergewe?
“As julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.”—MATTHEÜS 6:14, 15.
1, 2. Watter soort God het ons nodig, en waarom?
“BARMHARTIG en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid. Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie. Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie. Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. Soos ’n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees. Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is.”—Psalm 103:8-14.
2 Aangesien ons in ongeregtigheid gebore en in sonde ontvang is, met oorgeërfde onvolmaakthede wat ons voortdurend aan die wet van die sonde probeer onderwerp, het ons ’n God wat ‘gedagtig is dat ons van stof gemaak is’ uiters nodig. Driehonderd jaar nadat Dawid Jehovah op so ’n pragtige wyse in die 103de Psalm beskryf het, het ’n ander Bybelskrywer, Miga, hierdie selfde God op soortgelyke wyse geprys vir sy goedgunstiglike vergifnis van sondes wat ons al gepleeg het: “Watter god kan met u vergelyk word: wat foute wegneem, wandade vergewe, nie vir ewig toornig bly nie, maar genot daaruit put om genade te betoon? Ontferm u weer eens oor ons, vertrap ons foute, werp ons sondes tot op die bodem van die see.”—Miga 7:18, 19, The Jerusalem Bible.
3. Wat beteken dit om te vergewe?
3 In die Griekse Geskrifte beteken die woord vir “vergewe” om te “laat gaan”. Let op dat Dawid en Miga se woorde hierbo dieselfde betekenis op ’n aantreklike, beskrywende wyse oordra. As ons die verstommende omvang van Jehovah se vergifnis ten volle wil begryp, kan ons gerus ’n paar van die talle voorbeelde hersien waar dit daadwerklik toegepas is. Die eerste voorbeeld toon dat Jehovah mense sal vergewe al was hy van plan om hulle te vernietig.
Moses doen voorspraak—Jehovah luister
4. Ná watter bewyse van Jehovah se mag was die Israeliete steeds bang om die Beloofde Land binne te gaan?
4 Jehovah het die nasie Israel veilig uit Egipte tot na aan die land gebring wat hy hulle as ’n vaderland belowe het, maar hulle het geweier om verder te gaan, omdat hulle die inwoners van Kanaän, blote mense, gevrees het. Nadat hulle gesien het hoe Jehovah hulle deur middel van tien vernietigende plae uit Egipte verlos het, ’n ontsnappingsroete deur die Rooi See voorsien het, die Egiptiese leër vernietig het wat hulle probeer volg het, die Wetsverbond met hulle by die berg Sinai ingestel het wat hulle Jehovah se uitverkore volk gemaak het en hulle op wonderbaarlike wyse van daaglikse manna uit die hemel voorsien het om hulle aan die lewe te hou, was hulle, vanweë ’n klomp buitengewoon groot Kanaäniete, bang om die Beloofde Land binne te gaan!—Numeri 14:1-4.
5. Hoe het twee getroue verkenners Israel probeer moed inpraat?
5 Moses en Aäron het verslae op hulle aangesig geval. Josua en Kaleb, twee getroue verkenners, het Israel probeer moed inpraat: ‘Die land is ’n buitengewoon goeie land, ’n land wat oorloop van melk en heuning. Wees nie bevrees vir die volk van die land nie; Jehovah is met ons!’ Pleks dat hulle deur sulke woorde aangemoedig is, het die bang, opstandige volk Josua en Kaleb probeer stenig.—Numeri 14:5-10.
6, 7. (a) Wat het Jehovah besluit om te doen toe Israel nie die Beloofde Land wou binnegaan nie? (b) Waarom het Moses beswaar gemaak teen Jehovah se oordeel oor Israel, en met watter resultaat?
6 Hulle het Jehovah baie kwaad gemaak! “Daarop het die HERE aan Moses gesê: Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het? Ek sal hulle met die pes tref en hulle uitroei; en Ek sal jou ’n groter en sterker nasie maak as hulle. Toe het Moses aan die HERE gesê: Maar die Egiptenaars het gehoor dat U deur u krag hierdie volk onder hulle uit laat optrek het en dit aan die inwoners van hierdie land gesê. . . . As U nou hierdie volk soos een man ombring, dan sal die nasies wat die tyding aangaande U gehoor het, spreek en sê: Omdat die HERE hierdie volk nie kon inbring in die land wat Hy hulle met ’n eed beloof het nie, het Hy hulle in die woestyn omgebring.”—Numeri 14:11-16.
7 Moses het ter wille van Jehovah se naam om vergifnis gesmeek: “Vergeef tog die ongeregtigheid van hierdie volk na die grootheid van u goedertierenheid, en soos U hierdie volk van Egipte af tot hiertoe vergewe het. Toe sê [Jehovah]: Ek vergewe, volgens jou woord.”—Numeri 14:19, 20.
Manasse se afgodediens en Dawid se owerspel
8. Watter soort naam het koning Manasse van Juda vir homself gemaak?
8 ’n Uitsonderlike voorbeeld van Jehovah se vergifnis is die geval van Manasse, die seun van goeie koning Hiskia. Manasse was 12 jaar oud toe hy in Jerusalem begin regeer het. Hy het die hoogtes gebou, altare vir die Baäls opgerig, heilige boomstamme gemaak, voor die sterre van die hemel neergebuig, waarsêery en towery beoefen, dodebesweerders en waarsêers aangestel, ’n gesnede afgodsbeeld in Jehovah se tempel gesit en sy eie seuns in die dal van Hinnom deur die vuur laat gaan. “Hy het baie gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE” en “het Juda en die inwoners van Jerusalem verlei om meer kwaad te doen as die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdelg het”.—2 Kronieke 33:1-9.
9. Wat het Jehovah beweeg om Manasse genade te betoon, en wat was die resultaat?
9 Uiteindelik het Jehovah die Assiriërs teen Juda laat optrek, en hulle het Manasse gevange geneem en hom na Babilon geneem. “In sy benoudheid het hy die aangesig van die HERE God om genade gesmeek en hom diep verootmoedig voor die aangesig van die God van sy vaders en tot Hom gebid; en Hy het hom verhoor en na sy smeking geluister en hom na Jerusalem in sy koningskap teruggebring” (2 Kronieke 33:11-13). Manasse het toe die vreemde gode, die afgodsbeelde en die altare verwyder en hulle buitekant die stad laat gooi. Hy het offerandes op die altaar van Jehovah gebring en Juda aangemoedig om die ware God te dien. Dit was ’n ongelooflike bewys van Jehovah se gewilligheid om te vergewe wanneer nederigheid, gebed en korrektiewe stappe vrugte voortbring wat by berou pas!—2 Kronieke 33:15, 16.
10. Hoe het Dawid sy sonde met Uria se vrou probeer toesmeer?
10 Koning Dawid se owerspelige sonde met die vrou van Uria die Hetiet is alombekend. Hy het nie net owerspel met haar gepleeg nie, maar ook ’n fyn uitgewerkte plan beraam om die hele situasie toe te smeer toe sy swanger geraak het. Die koning het Uria verlof gegee om die gevegsfront te verlaat omdat hy verwag het dat hy huis toe sou gaan en geslagsgemeenskap met sy vrou sou hê. Maar uit respek vir sy medesoldate op die slagveld het Uria dit nie gedoen nie. Dawid het hom toe genooi om by hom te kom eet en hom dronk gemaak, maar steeds het Uria nie by sy vrou gaan slaap nie. Dawid het toe ’n boodskap na sy generaal gestuur om Uria op die voorpunt van die hewigste geveg te plaas sodat Uria sou sterf, wat toe ook gebeur het.—2 Samuel 11:2-25.
11. Hoe is Dawid tot berou vir sy sonde gebring, maar wat het hy verduur?
11 Jehovah het sy profeet Natan na Dawid toe gestuur om die koning se sonde oop te vlek. “En Dawid sê vir Natan: Ek het gesondig teen die HERE! En Natan sê vir Dawid: So het die HERE dan ook u sonde vergewe: u sal nie sterf nie” (2 Samuel 12:13). Dawid het baie skuldig gevoel oor sy sonde en sy berou in ’n hartgrondige gebed aan Jehovah uitgedruk: “Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie. Die offers van God is ’n gebroke gees; ’n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!” (Psalm 51:18, 19). Jehovah het nie Dawid se gebed wat uit ’n gebroke hart gekom het, verag nie. Dawid is nogtans swaar gestraf in ooreenstemming met Jehovah se stelling oor vergifnis in Exodus 34:6, 7: “Hy sal geensins vrystelling van straf gee nie.”—NW.
Salomo se toewyding van die tempel
12. Wat het Salomo tydens die toewyding van die tempel gevra, en wat was Jehovah se antwoord?
12 Toe Salomo die tempel van Jehovah voltooi het, het hy in sy toewydingsgebed gesê: “Luister dan na die smekinge van u kneg en van u volk Israel wat hulle na hierdie plek toe sal bid; ja, mag U hoor uit u woonplek, uit die hemel; en as U hoor, vergewe dan.” Jehovah het geantwoord: “As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.”—2 Kronieke 6:21; 7:13, 14.
13. Wat toon Esegiël 33:13-16 aangaande Jehovah se beskouing van ’n mens?
13 Wanneer Jehovah na jou kyk, aanvaar hy jou vir wat jy nou is, nie vir wat jy in die verlede was nie. Dit sal wees soos Esegiël 33:13-16 sê: “As Ek aan die regverdige sê dat hy sekerlik sal lewe, en hy vertrou op sy geregtigheid en doen onreg, dan sal aan al sy geregtighede nie gedink word nie, maar deur sy onreg wat hy doen, daardeur sal hy sterwe. En as Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe—en hy hom van sy sonde bekeer, en reg en geregtigheid doen—gee die goddelose die pand terug, vergoed hy wat geroof is, wandel hy in die insettinge van die lewe, sodat hy geen onreg doen nie—dan sal hy sekerlik lewe, hy sal nie sterwe nie.”
14. Wat is ’n besondere kenmerk van Jehovah se vergifnis?
14 Die vergifnis wat Jehovah God aan ons voorsien, sluit ’n besondere kenmerk in, een wat vir mense moeilik is om by hulle vergifnis te voeg—hy vergewe en hy vergeet. Party mense sal sê: ‘Ek kan jou vergewe vir wat jy gedoen het, maar ek kan dit nie (of sal dit nie) vergeet nie.’ Let in teenstelling hiermee op na wat Jehovah sê hy sal doen: “Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.”—Jeremia 31:34.
15. Watter reputasie het Jehovah wat vergifnis betref?
15 Jehovah vergewe sy aanbidders op aarde al duisende jare lank. Hy het sondes vergewe waarvan hulle bewus was, sowel as baie waarvan hulle onbewus was. Sy voorsiening van barmhartigheid, lankmoedigheid en vergewensgesindheid was eindeloos. Jesaja 55:7 sê: “Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.”
Vergifnis in die Christelike Griekse Geskrifte
16. Waarom kan ons sê dat die manier waarop Jesus vergewe met dié van Jehovah ooreenstem?
16 Die Christelike Griekse Geskrifte bevat baie verslae oor God se vergifnis. Jesus praat dikwels daarvan en toon sodoende dat hy met Jehovah daaroor ooreenstem. Jesus se denkwyse kom van Jehovah af, hy weerspieël Jehovah, hy is die presiese afdruksel van Jehovah se wese; om hom te sien, is om Jehovah te sien.—Johannes 12:45-50; 14:9; Hebreërs 1:3.
17. Hoe het Jesus toegelig dat Jehovah “menigvuldiglik” vergewe?
17 Die feit dat Jehovah menigvuldiglik vergewe, word getoon deur een van Jesus se gelykenisse, waar ’n koning ’n dienskneg ’n skuld van 10 000 talente (ongeveer R120 000 000) kwytgeskeld het. Maar toe die dienskneg nie ’n mededienskneg ’n skuld van honderd pennings (sowat R220) wou kwytskeld nie, was die koning woedend. “Jou slegte dienskneg, al daardie skuld het ek jou kwytgeskeld, omdat jy my gesmeek het; moes jy nie jou mededienskneg ook barmhartig wees soos ek jou ook barmhartig gewees het nie? En sy heer het hom in toorn oorgegee aan die pynigers totdat hy sou betaal het alles wat hy hom skuldig was.” Jesus het dit daarna toegepas: “So sal ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy broeder van harte sy oortredinge vergewe nie.”—Mattheüs 18:23-35.
18. Hoe het Petrus se beskouing van vergifnis met Jesus se beskouing vergelyk?
18 Net voor Jesus die gelykenis hierbo gegee het, het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe maal toe?” Petrus het gedink dat hy baie vrygewig was. Hoewel die skrifgeleerdes en die Fariseërs ’n perk op vergifnis gestel het, het Jesus vir Petrus gesê: “Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe” (Mattheüs 18:21, 22). Sewe keer sou skaars genoeg wees vir een dag, soos Jesus gesê het: “Pas op vir julleself. En as jou broeder teen jou sondig, bestraf hom; en as hy berou kry, vergewe hom. En as hy sewe maal op ’n dag teen jou sondig en sewe maal op ’n dag na jou terugkom en sê: Ek het berou—moet jy hom vergewe” (Lukas 17:3, 4). Wanneer Jehovah vergewe, hou hy nie boek daarvan nie—gelukkig vir ons.
19. Wat moet ons doen om Jehovah se vergifnis te ontvang?
19 As ons nederig genoeg is om berou te hê en ons sondes te bely, is Jehovah bereid om ons welwillendheid te bewys: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”—1 Johannes 1:9.
20. Hoe het Stefanus ’n gewilligheid getoon om mense hulle sondes te vergewe?
20 Jesus se volgeling Stefanus het in ’n merkwaardige gees van vergewensgesindheid hierdie bede geuiter toe ’n woedende gepeupel hom gestenig het: “Here, Jesus, ontvang my gees! En hy het op sy knieë neergeval en met ’n groot stem uitgeroep: Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie! En met dié woorde het hy ontslaap.”—Handelinge 7:59, 60.
21. Waarom was Jesus se gewilligheid om die Romeinse soldate te vergewe so verstommend?
21 Jesus het ’n selfs verstommender voorbeeld van vergewensgesindheid gestel. Sy vyande het hom gearresteer, hom onwettig verhoor, hom veroordeel, hom gespot, op hom gespoeg, hom met ’n sweep met baie rieme geslaan waaraan daar waarskynlik stukkies been en metaal vasgemaak was en hom uiteindelik ure lank aan ’n paal vasgenael gelaat. Die Romeine was by baie van hierdie dinge betrokke. Maar toe Jesus sterwend aan daardie folterpaal was, het hy die volgende aan sy hemelse Vader omtrent die soldate gesê wat hom aan die paal genael het: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”—Lukas 23:34.
22. Watter woorde uit die Bergpredikasie moet ons probeer toepas?
22 In sy Bergpredikasie het Jesus gesê: “Hou aan om julle vyande lief te hê en om te bid vir dié wat julle vervolg.” Tot aan die einde van sy aardse bediening het hy hierdie beginsel self nagevolg. Is dit te veel gevra van ons wat met die swakhede van ons sondige vlees sukkel? Ons moet ten minste probeer om die woorde toe te pas wat Jesus sy volgelinge geleer het nadat hy hulle die modelgebed gegee het: “As julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie” (Mattheüs 5:44, NW; 6:14, 15). As ons vergewe soos Jehovah vergewe, sal ons vergewe en vergeet.
Onthou jy?
◻ Hoe beskou Jehovah ons sondes, en waarom?
◻ Waarom is Manasse in sy koningskap herstel?
◻ Watter besondere kenmerk van Jehovah se vergifnis is ’n uitdaging vir mense om na te volg?
◻ In watter opsig was Jesus se gewilligheid om te vergewe so verstommend?
[Prent op bladsy 24]
Natan het Dawid help besef dat hy God se vergifnis nodig het