Hy het “hulle liefgehad tot die einde toe”
JOHANNES, die apostel, het ’n baie goeie verhouding met Jesus gehad. Hy was die een “vir wie Jesus liefgehad het”, soos sy Evangelie dit stel. Tydens die laaste “nagmaal” het Johannes langs Jesus gelê, en dit was vir hom dat Jesus, toe hy aan die folterpaal gehang het, die spesiale voorreg gegee het om Jesus se moeder, Maria, in sy huis in te neem en na haar om te sien asof sy sy eie moeder was.—Joh. 13:23; 19:25-27; 20:2; 21:20.
Hierdie wedersydse band tussen Jesus en Johannes was nie die gevolg van fisiese aantrekkingskrag nie. En Johannes was ook nie ’n sentimentalis, soos party beweer nie, hoewel dit waar is dat hy baie oor liefde gesê het. Ware en opregte Goddelike liefde is in werklikheid ’n sterk, rein eienskap wat nou verwant is aan lojaliteit. In al sy geskrifte het Johannes ’n sterk liefde en lojaliteit teenoor Jesus Christus en Jehovah geopenbaar. Jesus, wat ‘geweet het wat in die mens is’, het dit hoog op prys gestel, en dus het hulle baie geheg aan mekaar geraak.—Joh. 2:25.
Wanneer ons dink aan daardie laaste aand wat Jesus saam met sy volgelinge deurgebring het, is dit moeilik om ons in hulle posisie in te dink. Nie een van hulle, nie eens Johannes, het ’n duidelike idee gehad van wat daardie nag met Jesus sou gebeur nie. Toe dit die punt bereik het waar Jesus gesê het: “Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My”, en Petrus ten sterkste ontken het dat hy so iets sou doen en ook gesê het dat hy sy Meester so nimmer as te nooit sou verloën nie, ‘het ook al die dissipels so gesê’ (Matt. 16:21-23; 26:31-35). Wat ’n groot skok moes dit tog gewees het toe dinge presies verloop het soos voorspel is! Vir hulle het daardie aandmaal begin soos net maar nog ’n herdenking van die oorspronklike Pasgamaaltyd. Maar vir Jesus het dit die grootste betekenis moontlik gehad, soos getoon word deur alles wat Jesus vir sy dissipels en in gebed vir sy Vader gesê het, veral toe hy, “na die maaltyd” die gedenkmaal van sy eie dood ingestel het. Ons kan baie hieroor te wete kom deur hoofstukke 13 tot 17 van Johannes se Evangelie te lees.
Daardie gedetailleerde verslag is geskryf ongeveer 65 jaar na daardie gebeure plaasgevind het, en dit staaf beslis Jesus se woorde in verband met die werking van “die Trooster, die Heilige Gees”: “Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Joh. 14:26). Ja, die geliefde Johannes is goed geleer, en ons kan ons voorstel met watter innige gevoel en waardering hy aangaande Jesus geskryf het:
“Voor die fees van die pasga het Jesus, omdat Hy wis dat sy uur gekom het dat Hy uit hierdie wêreld sou oorgaan na die Vader, en omdat Hy sy eie mense liefgehad het, hulle liefgehad tot die einde toe.”—Joh. 13:1.
Johannes het seker dikwels nagedink oor die wonder van daardie volgehoue, lojale liefde wat deur Jesus betoon is en wat van ’n oorvloed onverdiende goedheid gespreek het. Daardie dissipels was seker van hulleself; nogtans was hulle swak en het hulle gefaal toe die toets aangebreek het. Nie dat hulle slegte harte gehad het nie. Dit was net menslike swakheid, wat deur Satan uitgebuit is, maar dan ook net tydelik.—Luk. 22:32.
“HOU AAN OM DIT TE DOEN”—WAAROM?
Ons nader nou die herdenking van Jesus se dood op 14 Nisan 33 G.J., en nog ’n viering van “die nagmaal van die Here”. Dit sal in al die gemeentes van Jehovah se Getuies gevier word na sononder op Maandag, 31 Maart 1980. Wat is dus voor in ons gedagte? Waarom het Jesus, nadat hy die brood en toe die beker aan sy dissipels gegee het, die woorde herhaal: “Hou aan om dit te doen tot my gedagtenis”?—1 Kor. 11:20, 23-26, vgl. NW.
Dat Jesus self geweet het wat al hierdie dinge beteken het, word getoon deur wat hy ’n paar dae tevore gesê het toe hy hierdie eenvoudige dog kragtige illustrasie gegee het en homself met ’n koringkorrel vergelyk het: “As die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug” (Joh. 12:24). Sy volgende woorde toon dat hy ten volle bedag was, nie net op die smartlike lyding en skande wat sy dood aan die folterpaal sou meebring nie, maar ook op die wonderlike en verreikende gevolge van daardie oortreffende voorbeeld van selfopofferende liefde aan sy kant. Jesus het daarin sy hartgrondige begeerte uitgespreek om sy Vader se naam te verheerlik, en op daardie oomblik het Jehovah op sy Seun se beroep gereageer, want “daar het toe ’n stem uit die hemel gekom: Ek hét dit verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.”—Joh. 12:25-33.
Jesus het dieselfde soort liefde aan die dag gelê as wat sy Vader gehad het, soos hy vroeg tydens sy bediening gemeld het: “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Ja, hy was “die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as ’n losprys vir almal”. Hy het ‘vir elkeen die dood gesmaak’ (Joh. 3:16; 1 Tim. 2:4-6; Hebr. 2:9). Hy het in werklikheid die sondaar se plek ingeneem, soos so duidelik beskryf word in Jesaja 53:4-7, 10, en in Filippense 2:5-11 (NW) bevestig die apostel Paulus hoedat daardie offer-“dood aan ’n folterpaal” wonderlike gevolge vir die mensdom gehad het. Dit sal goed wees indien ons almal hierdie gedeeltes deurlees en daaroor nadink terwyl die Gedenkmaalseisoen nader.
Benewens die verreikende gevolge wat pas bespreek is, was daar ’n paar belangrike onmiddellike gevolge wat Jesus veral in gedagte gehad het toe hy die herdenking van sy dood ingestel het. Hy het weliswaar by een geleentheid na homself verwys as “die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het”, en toe gesê: “Die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee” (Joh. 6:51). Nadat Jesus in die rede geval is deur party Jode in sy gehoor, het hy egter op dieselfde tema voortgegaan en dinge van groter betekenis gesê vir diegene wat daarby betrokke was. Hy het reeds gepraat oor die eet van hierdie simboliese “brood”, maar nou het hy gesê:
“As julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie. Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag. . . . Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom” (Joh. 6:53-56).
Merkwaardige woorde! “Baie van sy dissipels” het hieroor gestruikel “en nie meer saam met Hom gewandel nie”. Wat is die verduideliking?—Joh. 6:60-66.
Jesus het geweet dat die wêreld, die mensdom, waarna daar in die vorige tekste verwys is, ten tye van sy koninkryk, wanneer daar “’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde” sou wees en daar selfs ‘geen dood meer sou wees nie’, die geleentheid sou kry om die voordele van die losprysoffer te ontvang (Openb. 21:1-4; Luk. 23:42, 43, vgl. NW). Maar hy het ook geweet dat dit sy Vader behaag het dat party lede van die aarde se sondige mensdom as konings en priesters saam met hom op sy hemelse troon moes sit (Luk. 22:28-30; Openb. 3:21; 20:6). Hy het geweet dat hoewel hy, die “Christus”, die vernaamste lid van Abraham se saad is, hierdie ander lede van die Christengemeente wat “almal een in Christus Jesus” is en die geestelike “Israel van God” uitmaak, egter ook “die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename” is (Gal. 3:16, 28, 29; 6:16). Dit was voorwaar ’n blyk van “genade op genade”.—Joh. 1:16.
Die 11 getroue apostels wat daardie nag, 14 Nisan, saam met Jesus was, was die eerstes wat genooi is om daardie ongesuurde brood te eet en daardie beker wyn te drink, wat volgens Jesus sy sondelose vlees en sy lewensbloed voorgestel het (1 Kor. 11:23-26). Volgens Jesus sou daar ander kom wat later “deur hulle woord in My sal glo” (Joh. 17:20). Let op hoe dikwels die woord “in” of die uitdrukking “in eendrag met” (NW) in verband met hierdie gelowiges herhaal word, woorde wat slegs in verband met Jehovah en Christus Jesus en die lede van die gesalfde Christengemeente gebruik word, soos blyk uit Johannes 6:56; 10:38; 14:10, 11, 20; 15:4-7; 17:21-23, 26. An American Translation gebruik die uitdrukking “in eendrag met” sowel as die uitdrukking “verenig met my”.
Die lede van hierdie gemeente word op ’n spesiale wyse behandel, maar weens geen verdienste van hulle kant nie (Ef. 2:5; 1 Joh. 2:2). Hulle word deur God se gees tot ’n hemelse hoop verwek, die hoop om saam met Christus in sy hemelse opstanding te deel, mits hulle eers, soos Paulus gesê het, getrou is in “die gemeenskap aan sy lyde [en] . . . aan sy dood gelykvormig word”, naamlik ’n offerdood, en alle hoop op lewe op ’n paradysaarde laat vaar (Filip. 3:10). Hierdie weg van opoffering begin wanneer iemand deur God gekies word as ’n lid van daardie Christelike gemeente wat “die liggaam van Christus” uitmaak, soos verduidelik in Mattheüs 16:24 en 1 Korinthiërs 12:12-27. Hierdie lede kom in die “nuwe verbond”, wat geldig gemaak is deur Christus se vergote bloed, en hulle deel in die bediening daarvan.—1 Kor. 11:25, NW; 2 Kor. 3:6, NW; 4:1-7.
Daar is nog steeds ’n paar op aarde wat “in Christus Jesus” is en wat die getuienis van God se gees het dat hulle ‘God se geesverwekte kinders’ en “mede-erfgename van Christus” is (Rom. 8:1, 14-17). Dit is aan hierdie kosbare waarhede wat hulle sal dink wanneer hulle vir die “nagmaal van die Here” vergader. Maar die oorgrote meerderheid van Jehovah se Getuies wat daardie nag sal vergader, het nie daardie hemelse hoop nie. Hulle weet dat hulle nie lede van die “klein kuddetjie” is nie, maar vereenselwig hulself met die “groot menigte” “ander skape” waarvan Jesus gepraat het (Luk. 12:32; Joh. 10:16; Openb. 7:9). Hulle beoefen ook geloof in die vergote bloed van Jesus (Openb. 7:14). Hulle hoop om ‘die Koninkryk te beërf’ in die sin dat hulle die seëninge daarvan, ewige lewe op aarde, sal geniet soos Jesus in Mattheüs 25:31-40 belowe het. Hulle geniet ook noue omgang met Christus se “broeders”, wat in daardie gelykenis gemeld word. As “uitlanders” vergeleke met die geestelike Israeliete, het hulle groot waardering vir die voorreg en verantwoordelikheid om saam met laasgenoemdes Koninkryksvrugte te dra (Jes. 56:6, 7; 61:5; Matt. 21:43). Party het selfs gesterf weens hulle getroue standpunt vir die waarheid en hulle onverskrokke verkondiging van die Koninkryksboodskap. Maar al sterf hulle ’n marteldood, is dit nie ’n offerdood soos dié van Jesus en diegene wat “mede-erfgename van Christus” in die hemelse koninkryk is nie. Omdat hulle van hierdie onderskeid bewus is, gebruik hulle nie die embleme, naamlik die ongesuurde brood en die beker wyn, nie, want die gebruik van daardie embleme gee nie alleen te kenne dat die persoon die voordele van Christus se dood ontvang nie, maar ook dat hy ’n deelgenoot in daardie selfde opofferende weg is.
SELFONDERSOEK
Hoewel die oorgrote meerderheid van diegene wat vandag die “een kudde [onder] een herder” uitmaak van hierdie onderskeid bewus is, kan die vraag by party ontstaan oor hoe ’n persoon weet of hy die hemelse roeping ontvang het. Dit kan nie meer vasgestel word deur enige sigbare getuienis soos toe die wonderdadige gawes van die gees in die vroeë dae van die Christengemeente gegee is nie. Die glorieryke hoop om die hemelse erfenis te ontvang, wat gegee word aan diegene wat ‘kinders van God genoem’ word en wat “deelgenote van die hemelse roeping” is, is selfs kosbaarder as daardie gawes (Hebr. 3:1; 1 Joh. 3:1-3). Daar was destyds slegs die een hoop, maar vandag, wanneer daardie deel van God se “administrasie” so te sê voltallig is, swaai die hekke van die Koninkryk wawyd oop met ’n uitnodiging aan ’n “groot menigte” om aardse seëninge te ontvang, soos reeds gemeld is. Dit is veral waar sedert 1935, toe die “groot menigte” duidelik geïdentifiseer is as ’n aardse klas met die hoop op ewige lewe op ’n paradysaarde.—Ef. 1:10, NW; Openb. 7:9-17.
Word dit aan die indiwidu oorgelaat om te kies watter hoop hy wil koester, hetsy ’n hemelse of ’n aardse? Nee. Voordat enige persoonlike hoop gekoester kan word, moet die persoon hom onvoorwaardelik toewy en laat doop, ’n stap waardeur hy instem om voortaan God se wil te doen, nie sy eie wil nie. God laat Sy wil geskied deur die werking van sy heilige gees. Hoe daardie gees werk in die geval van diegene wat deur God gekies word as toekomstige lede van die “klein kuddetjie”, en hulle aanvuur met ’n hemelse hoop, word in Romeine 8:14-17 verduidelik. Daardie Christene het onmiskenbare getuienis in hulself gehad dat hulle tot die hemelse koninkryk geroepe was.
Ontvang daardie toegewyde knegte wat deur God as lede van die “groot menigte” aanvaar word ook God se gees? Beslis, net soos daardie getroue knegte van God in voorchristelike tye, soos Moses en Johannes die Doper, wat geen hemelse hoop gehad het nie (Matt. 11:11). God handel vandag met ieder van sy toegewyde knegte en kweek in hulle ’n hoop op lewe in sy koninkryk. Paulus het vir daardie vroeë Christene gesê hulle word “gered in hoop”, die hemelse hoop. Hy het ook gepraat van die hoop vir die “skepping”, die res van die mensdom, wat ‘op die openbaarmaking van die kinders van God wag’ met die vooruitsig om self die “vryheid van die heerlikheid van die kinders van God” as sy herstelde aardse kinders te geniet.—Rom. 8:18-25.
Elkeen moet dus gered word in ’n sekere hoop. Dit moet vir jou ’n opwindende en baie wesenlike hoop wees. Indien jy, na ’n eerlike ondersoek, meen dat daar ’n mate van onsekerheid bestaan, of indien jy besef dat dit sterk gevoelens was wat jou die gevolgtrekking laat maak het dat jy die hemelse roeping ontvang het, of moontlik dat so ’n roeping jou van ander onderskei het of effens belangriker gemaak het, en jou geregtig gemaak het op spesiale behandeling en eerbied, het jy goeie rede om jou posisie weer in oënskou te neem. Moenie aarsel om God opreg en nederig te vra om wysheid en leiding en om hulp om sy wil te doen nie. Hy sal jou nie verwyt nie. ‘God behandel julle as seuns’ wat hy liefhet.—1 Kor. 11:28; Hebr. 12:4-11; Jak. 1:5-8.
Alle “skape” wat die “nagmaal van die Here” bywoon, hetsy as waarnemers of deelnemers, verheug hulle daarin om teenwoordig te wees ‘ter gedagtenis aan’ alles wat Jesus gedoen het toe hy sy lojale liefde vir sy Vader getoon het, asook vir enigiemand wat geloof in hom beoefen. Laat ons dieselfde gees van volharding en lojaliteit tot die einde toe toon, net soos Jesus wat “hulle liefgehad [het] tot die einde toe”. Johannes het gesê dat Jesus se volgelinge “in die wêreld” is. Om ons te bemoedig, het Jesus hiermee saamgestem en bygevoeg: “In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin” (Joh. 13:1; 16:33). Laat ons dus almal daagliks “feesvier . . . met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid”, soos Paulus vermaan het.—1 Kor. 5:8.