Hoeveel krag het die evangelie?
UIT al die boodskappe wat deur die eeue heen verkondig is, was die “evangelie” wat in die Heilige Skrif uiteengesit word, die grootste krag ten goede. Die Bybel verwys daarna as “die evangelie van die koninkryk”, “die evangelie van Jesus Christus”, “die evangelie van die genade van God”, “die evangelie van God”, “die evangelie van vrede” en die “ewige evangelie” (Matt. 4:23; Mark. 1:1; Hand. 20:24; Rom. 15:16; Ef. 6:15; Openb. 14:6). Hierdie “evangelie” is hoofsaaklik die boodskap dat redding of ewige lewe moontlik is op grond van opregte geloof in die versoeningsvoordele van Jesus Christus se offerande, en dat God se koninkryk in die hande van Christus alles op aarde in volmaakte eenheid met die heilige hemele sal bring (Hand. 4:12; Rom. 1:16; Ef. 1:7-14). Waarom het daardie boodskap ’n kragtige uitwerking op diegene wat dit aanvaar?
Beskou die situasie van talle indiwidue wanneer die “evangelie” hulle bereik. Voordat ’n persoon hierdie boodskap hoor, is hy miskien bewus van ’n sekere leemte in sy lewe. Weens persoonlike probleme en omdat hy onreg en verdrukking waarneem, het hy moontlik innerlik na verligting van lyding gesmag. Die indiwidu is miskien teleurgesteld oor sy eie onvermoë om die soort persoon te wees wat hy graag wil wees. Wanneer hy dan die “evangelie” hoor, vind hy uit wat die basiese rede vir sy ellende is, naamlik dat hy, tesame met alle ander lede van die mensdom, ’n sondaar is. Ongeag hoe opreg ’n persoon is, hy sal homself en ander nietemin nog deur sy doen en late teleurstel. Hy kan God nooit van sy geregtigheid oortuig deur volgens ’n bepaalde stel wette te lewe nie. Die “evangelie” toon egter duidelik hoe hy ’n rein gewete voor God en mense kan geniet, met ewige lewe in die vooruitsig. Dit help hom ook om te sien hoe God se koninkryk ’n einde aan alle benoudheid sal maak.—Dan. 2:44.
HOE OM GOD SE GOEDKEURING TE VERKRY
Daar word niks moeiliks van die indiwidu vereis om ’n goedgekeurde naam by God te kry nie. Die Allerhoogste het self die inisiatief geneem om ’n reëling te tref waarvolgens sondes vergewe kan word.
Om die reëling vir die vergifnis van ons sondes te waardeer, moet ons begryp waarom ons nou eintlik sondaars is. Die Bybel toon dat ons gemeenskaplike voorvader, die eerste man Adam, moedswillig teen God gesondig het. Dit het hom van sy hemelse Vader vervreem en almal wat van Adam afgestam het, in ’n toestand van vervreemding gedompel. As ’n sondaar kon Adam slegs sondige kinders verwek wat sou sterf. Die Skrif deel ons mee: “Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het” (Rom. 5:12, NAB). “Die loon van die sonde is die dood.”—Rom. 6:23.
So toon God se Woord dat die dood die straf is wat goddelike geregtigheid vereis wanneer daar gesondig word. Voordat ’n mens dus die ewige lewe kan verkry, moet hy vrygestel word van die straf vir sonde. Aangesien alle mense sondaars is, kon nie een mens die straf op hom neem wat geregtigheid in die geval van selfs een medesondaar vereis nie. Die algehele hulpeloosheid van die mens om die straf vir sonde vry te spring, word uiteengesit in die volgende woorde van die psalmis:
“Niemand kan ooit ’n broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie (want die losprys van hulle lewe is te kosbaar en vir ewig ontoereikend), dat hy vir ewig sou voortlewe, die vernietiging nie sou sien nie.”—Ps. 49:8-10.
Hulp van buite die mensdom was nodig. En in sy groot barmhartigheid het Jehovah God die nodige hulp verleen. Sy dierbaarste Seun, die eersgeborene, het ten volle met sy Vader saamgewerk hierin. Waar hy verduidelik wat gebeur het, het die Christenapostel Paulus aan die Filippense geskryf:
“Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself ontledig deur die gestalte van ’n slaaf aan die neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood aan die kruis.”—Filip. 2:5-8, NAB.
Omdat die Seun van God, deur ’n werking van die heilige gees, op wonderdadige wyse in die baarmoeder van ’n maagd, Maria, vlees geword het, is hy sonder sonde gebore. Dit is waarom hy die straf wat geregtigheid van sondaars vereis het op homself kon neem. Deur sy offerdood op 14 Nisan van die jaar 33 G.J. het hy die profesie in Jesaja 53:5 vervul, wat lui: “Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.”
Ons Maker vereis dat ons in geloof die feit aanvaar dat sy Seun die volle straf vir sonde op homself geneem het en dat hierdie verrese Seun beide “Here en Christus”, ja, die beloofde Messiaanse Koning, is (Hand. 2:36). Die Skrif sê: “Ons sien Hom, naamlik Jesus, wat vir ’n kort tydjie minder as die engele gemaak is, vanweë die lyde van die dood met heerlikheid en eer gekroon, sodat Hy deur die genade van God vir elkeen die dood sou smaak.”—Hebr. 2:9.
’N GELOOF WAT TOT OPTREDE AANSPOOR
Dit is ons geloof in die versoeningsvoordele van Christus se offerande wat ons in ’n posisie plaas om God se gawe van ewige lewe te ontvang. As gevolg van hierdie geloof, kom ’n persoon onder die invloed van die heilige gees. Deur die werking van daardie gees op hom sal die vrug van ware geloof in sy lewe te sien wees. Sy liefde vir Jehovah God, Jesus Christus en sy medemens sal toeneem. Die indiwidu sal tot optrede aangespoor word.
Dit word goed toegelig deur wat in die eerste eeu G.J. met sekere Thessalonicense gebeur het. Die apostel Paulus het met hierdie woorde aan hulle geskryf:
“Ons evangelie het tot julle nie gekom in woord alleen nie, maar ook in krag en in die Heilige Gees en in volle versekerdheid, soos julle weet hoedanig ons onder julle om julle ontwil gewees het. En julle het navolgers van ons geword en van die Here deurdat julle die woord in baie verdrukking ontvang het met die blydskap van die Heilige Gees, sodat julle voorbeelde geword het vir al die gelowiges in Macedonië en Achaje. Want van julle uit het die woord van die Here weerklink nie alleen in Macedonië en Achaje nie, maar ook op elke plek het julle geloof in God uitgegaan, sodat ons nie nodig het om daar iets van te sê nie. Want hulle vertel self aangaande ons watter ingang ons by julle gehad het en hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos.”—1 Thess. 1:5-10.
Let op dat die verkondiging van die “evangelie” in Thessalonika nie bloot ’n saak van woorde was wat geen resultate opgelewer het nie. Inteendeel, die boodskap het ’n kragtige uitwerking gehad op diegene wat dit aangeneem het en het hulle afgodediens laat versaak en knegte van die ware God, Jehovah, laat word. Die werking van God se heilige gees was in die lewens van hierdie gelowiges te sien namate hulle die vreugde weerspieël het wat deur die gees voortgebring word. Hulle sterk oortuiging blyk uit die feit dat vervolging hulle nie verhinder het om in ooreenstemming met die “evangelie” as die “woord van God” op te tree nie (1 Thess. 2:13). Aangespoor deur geloof en liefde en ten volle daarvan oortuig dat ewige seëninge ontvang sou word wanneer goddelike toorn uitgestort word oor almal wat die “evangelie” verwerp, was die Thessalonicense gedring om die waarheid wat hulle aanvaar het te verkondig. Die gemeente in Thessalonika het so bedrywig geword dat nuus oor hulle bekering en die dinge wat hulle geglo het na ander dele van Macedonië en selfs tot in dele van Achaje versprei het. Toe Paulus en sy metgeselle dus die “evangelie” na mense in hierdie gebiede geneem het, was die geloof van die Christene in Thessalonika reeds bekend.
GOEIE VOORBEELDE HET HULLE UITWERKING GEHAD
Die ywer van die Thessalonicense het deels voortgespruit uit hulle aanskouing van die goeie voorbeelde van die apostel Paulus en sy medewerkers. Paulus en sy metgeselle se lewens het getuig van die feit dat God se gees op hulle was. Voordat hulle na Thessalonika gekom het, het Paulus en Silas brutale behandeling in Filippi ontvang. Hulle regte as Romeinse burgers is vertrap. Hulle is sonder ’n verhoor geslaan, in die tronk opgesluit en in die blok gesit. Goddelike tussenkoms het hulle vrylating bewerkstellig en aanleiding gegee tot die bekering van die tronkbewaarder en sy huisgesin.—Hand. 16:22-33.
Die onaangename ervaring van Paulus en Silas in Filippi het nie ’n domper op hulle geplaas nie. Met die vrymoedigheid wat slegs God deur sy gees kan gee, het hulle na Thessalonika gekom. Tydens sy prediking het Paulus alle bedrog en verwaandheid vermy. Hy het met sy eie hande gewerk om sy benodigdhede te bekom en homself dan bestee om die waarheid aan die Thessalonicense te leer. Dit was vir enige opregte waarnemer duidelik dat ’n man wat so lojaal, regverdig, onberispelik en self opofferend was logies nie die bron van leuens kon wees nie. Dit was duidelik dat hy deur die heilige gees gelei is en dat hy ’n getroue navolger van die Here Jesus Christus was.—1 Thess. 2:5-12.
Gevolglik het die “evangelie”, tesame met Paulus se voorbeeld van die goeie invloed wat God se boodskap op indiwidue het, die Thessalonicense in staat gestel om Jesus Christus na te volg. Hulle het ’n goddelik goedgekeurde weg begin bewandel en nie geaarsel om die “evangelie” by elke geleentheid te verkondig nie. Omdat hulle in ’n hawestad gewoon het, het hulle in aanraking gekom met talle handelaars en reisigers wat wyd en syd vir ander van die ywer van die Thessalonicense kon vertel.
IS JY DAARDEUR GERAAK?
Glo jy, net soos die Thessalonicense, in die versoeningsvoordele van Christus se offerande? Dan behoort waarnemers te kan sien dat jy God se gees toelaat om ’n ware krag in jou lewe te wees. Indien dit die geval is, sal daar met verloop van tyd duidelike blyke wees dat jy jou al hoe meer skik na die voorbeeld en leer van die Here Jesus Christus.
As jy die liefde wat teenoor jou persoonlik bewys is innig waardeer, sal jy jouself inspan om nie te sondig nie. Hoe teenstrydig sal dit tog vir ’n indiwidu wees om te beweer dat hy aan die reinigingskrag van Christus se bloed glo en om dan opsetlik ’n sondige weg te bewandel! Dit sal ooreenkom met ’n persoon wat iemand bedank omdat dié sy klere gewas het en dan, nadat hy daardie skoon klere aangetrek het, moedswillig in die naaste modderpoel begin rondrol. (Vergelyk 2 Petrus 2:22.) Dit is duidelik dat geen indiwidu met waardering dit sal doen nie. Net so kan geen persoon wat opregte geloof behou in wat God deur Jesus Christus gedoen het, ’n gewoontesondaar word nie.—1 Joh. 3:4-6.
Daarbenewens dring geloof in God se voorsiening vir ewige lewe ons om te spreek. Dit is waarom Jehovah se Getuies vandag “in die hele wêreld” met die Koninkryksboodskap na mense se huise gaan (Matt. 24:14). En as indiwidue begeer ons beslis dat ons familielede, ons kennisse, ja, almal met wie ons persoonlik in aanraking kan kom, ook die “evangelie” moet hoor en daarvolgens moet op tree. Slegs deur die “evangelie” te aanvaar, kan hulle die goddelike grimmigheid ontvlug wat uitgestort gaan word op die goddelose mensdom, en slegs op hierdie wyse sal hulle die tyd beleef wanneer God se koninkryk in die hande van sy Christus die aarde omskep in ’n plek waar daar geen pyn, siekte en dood sal wees nie.—2 Pet. 3:13; Openb. 21:4, 5.
Die verloop van meer as 1 900 jaar het nie die krag van die “evangelie” laat afneem nie. Dit beweeg nog steeds duisende om hulself te onderwerp aan die invloed van God se gees en om die vrug daarvan, hoofsaaklik liefde, te dra. Omdat hulle deur daardie gees gedring word, kan ware Christene nie ophou om met ander te praat oor die wonderlikste boodskap wat vandag bestaan nie. Is dit waar van jou? Dit sal so wees indien jy waarlik in die “evangelie” glo.