Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 3/1 bl. 30-31
  • Die vreugde van ware aanbidding

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die vreugde van ware aanbidding
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Soortgelyke materiaal
  • Jerusalem—“die stad van die groot Koning”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Jerusalem—’n rede “om bly te wees”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Aardse Jerusalem in teenstelling met hemelse Jerusalem
    Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
  • Die luisterryke stad
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 3/1 bl. 30-31

Psalms

Die vreugde van ware aanbidding

DIE beoefening van ware aanbidding saam met ander is ’n bron van onuitspreeklike vreugde vir toegewyde knegte van die Allerhoogste. Die intensiteit van hulle gevoel word weerspieël in Psalm 122, waarvan die openingswoorde lui: “Ek was bly toe hulle vir my gesê het: Laat ons na die huis van die HERE gaan!” (V. 1). Net die blote gedagte daaraan om na Jehovah se heiligdom te gaan, het vreugde en vrede by die psalmis gewek.

Die opskrif skryf Psalm 122 aan Dawid toe. Die Septuaginta laat egter die woorde “Van Dawid” weg. Dit en sekere woorde wat in die psalm gebruik is, het talle geleerdes die gevolgtrekking laat maak dat dit nie deur Dawid geskryf is nie. Psalm 122 kan nietemin maklik verstaan word as ons die opskrif aanvaar wat in die Hebreeuse teks verskyn.

Dit was vir Godvresende Dawid baie aangenaam om na Jehovah se huis te gaan om te aanbid. Die omvang van sy vreugde blyk uit sy optrede toe die heilige ark na die berg Sion vervoer is. Die Bybel deel ons mee: “Daarby het Dawid met alle mag gedans voor die aangesig van die HERE.” Hy en “die hele huis van Israel [het] die ark van die HERE met gejuig en basuingeklank opgehaal.”—2 Sam. 6:14, 15.

Die res van Psalm 122 is ongetwyfeld geskryf om die gevoelens uit te druk van enige aanbidder wat na Jehovah se heiligdom gegaan het. Ons lees: “Ons voete staan in jou poorte, o Jerusalem! Jerusalem wat gebou is soos ’n stad wat goed saamgevoeg is, waarheen die stamme optrek, die stamme van die HERE—’n voorskrif vir Israel!—om die Naam van die HERE te loof” (Ps. 122:2-4). Hierdie psalm beeld dus die aanbidders uit as persone wat van buite Jerusalem kom en dan stilstaan om oor die stad heen te kyk onmiddellik nadat hulle deur die poorte gekom het. Wat begroet hulle oë? Jerusalem is ’n stad wat “goed saamgevoeg is”. Die huise was na aan mekaar gebou, asof hulle “saamgevoeg” was. Dit was die gewone reëling in ’n stad in die ou tyd. Dit was makliker om so ’n kompakte stad wat deur sterk versterkings omring is te verdedig as ’n groot, uitgestrekte metropolis. Dit was nie vir die stad se verdedigers nodig om ’n groot gebied te verdedig en sekere dele kwesbaar vir aanvalle deur die vyand te laat nie. Daarbenewens was Jerusalem omring deur berge en steil valleie aan die ooste, suide en weste, en dit het die gebied waar daar gebou kon word, baie beperk. Aangesien die stad se bewoners na aan mekaar gewoon het en van mekaar afhanklik was vir hulp en beskerming, kon die fisiese nabyheid goed die geestelike eenheid van die hele nasie afbeeld wanneer al die stamme van Israel vir aanbidding vergader het. Wanneer hulle ‘die Naam van Jehovah geloof het’, het hulle die Allerhoogste geloof, die een wat deur die naam verteenwoordig word.

Jerusalem was nie alleen die sentrum van ware aanbidding nie, maar die stad was ook die regeringsetel. Die psalmis sê voorts: “Want daar staan die stoele vir die gereg, die stoele van die huis van Dawid” (Ps. 122:5). As die hoofstad was Jerusalem die plek waar finale oordele gevel is. Koning Dawid het die posisie van regter beklee, en so ook ander lede van sy huis. Die Bybel berig: “Die seuns van Dawid was priesters” (2 Sam. 8:18). Die feit dat hulle “priesters” genoem word, beteken dat hulle ministers of amptenare was, en in hierdie hoedanigheid moes hulle oordele gevel het.

In die lig van Jerusalem se belangrikheid, sê die psalmis voorts: “Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe! Mag daar vrede wees in jou skanse, rus in jou paleise!” (Ps. 122:6, 7). Dit sou uiters gepas vir die Israeliete wees om te bid vir die vrede of welsyn van Jerusalem as die hoofstad van die nasie en sentrum van aanbidding. Liefde vir die stad weens die posisie wat dit beklee het, sou in harmonie met God se wil wees. Gevolglik kon alle liefhebbers van die stad, dit wil sê, alle liefhebbers van ware aanbidding en geregtigheid, verseker wees van goddelike guns en sou hulle veiligheid, ‘’n rustige lewe’, geniet. Die bede van die psalmis is dat daar vrede binne die skanse of versterkings van Jerusalem moes wees, dat die welsyn van die stad verseker moes wees. Hierdie veiligheid moes die versterkte paleise insluit.

En veral omdat die stad ’n sentrum vir die aanbidding van Jehovah was, sou dit in die belang van die nasie wees indien dit vrede geniet het. Deur vir die vrede van Jerusalem te bid, sou ’n Israeliet dus die belange van mede-Israeliete op die hart dra. Dit blyk uit die volgende woorde van Psalm 122: “Ter wille van my broers en my vriende wil ek spreek: Vrede in jou! Ter wille van die huis van die HERE onse God wil ek die goeie vir jou soek.”—Ve. 8, 9.

Vandag word ware aanbidding nie meer met ’n spesifieke stad of ’n bepaalde plek verbind nie. Jesus Christus het vir ’n Samaritaanse vrou gesê: “Daar kom ’n uur wanneer julle nie op hierdie berg [Gerisim] en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie. . . . Maar daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.”—Joh. 4:21-23.

In plaas daarvan om dus vir ’n bepaalde plek te bid, bid God se knegte tereg vir mekaar en vir die vrede van die Christengemeente as ’n geheel, wat vandag ware aanbidding voor ander verhef. Voel jy oor die vergaderinge van hierdie gemeente net soos die psalmis gevoel het? Verheug jy jou om saam met ander met dieselfde kosbare geloof te wees? Is jy net so besorg oor die welsyn van die gemeente as wat die psalmis oor die vrede van Jerusalem was? Indien dit die geval is, lewe jy in ooreenstemming met die gees van Psalm 122.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel