Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 3/1 bl. 26-30
  • Bybelwaarheid het hulle lewens verander

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bybelwaarheid het hulle lewens verander
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ERNSTIGE HUWELIKSPROBLEME
  • DIE KEERPUNT
  • DIE BORDJIES WORD VERHANG
  • SAKE VERBETER
  • DIE WAARHEID VERSPREI IN LATACUNGA
  • ANDER TOEWYSINGS
  • DANKBAAR OOR BYBELWAARHEID
  • Jehovah verseker Daniël van ’n wonderlike beloning
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • Versterk deur ’n boodskapper van God
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • Daar wag vreugde vir diegene wat die waarheid vind
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Die boek Daniël en jy
    Gee ag op Daniël se profesie!
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 3/1 bl. 26-30

Bybelwaarheid het hulle lewens verander

DIE eerste ding wat jou omtrent Delia Rosero opval, is haar lengte. Sy is kort. Die verduideliking borrel oor Delia se lippe: “Ek meen my voorouers was pigmeë.” Haar gesig straal. Jy hou dadelik van Delia.

Daniel Rosero, haar man, is ’n “jeugdige” vyftigjarige, en ’n aantreklike, hartlike man. Sy sprankelende lewenslus wanneer hy jou sien, kom dikwels tot uiting in ’n omhelsing. Daniel was nie altyd so nie.

Omdat ek iets van hulle verlede af geweet het, het ek hulle onlangs besoek met die doel om hulle ondervindinge op te neem. Ek het gemeen dat dit van groot hulp en bemoediging vir baie persone kan wees.

Die Rosero’s woon in die Andesgebergte in die stad Latacunga, Ecuador, ’n stad met ’n bevolking van sowat 30 000. Dit is ’n boeregemeenskap waar volop blomme is en die mense trots daarop is dat hulle landbouers is. Die volgende gesprek het plaasgevind terwyl ons in die sitkamer van die Rosero’s se huis gesit en oor die Cutuchi-rivier uitgekyk het.

ERNSTIGE HUWELIKSPROBLEME

“Ek was skaars 15”, begin Delia, “toe ek getroud is. Dit het nie lank geduur voordat ek kwaai ontnugter is nie. Veertien jaar lank was ek in slawerny. Ek kon nêrens heen gaan nie. Ek het geen hoop gehad nie. Daniel het gedrink. Hy het elke Saterdag ongeveer middernag huis toe gekom en die gesin mishandel en geslaan.

“’n Mens moet daardie desperaatheid ervaar om te besef wat dit beteken. Wanneer Daniel my geslaan het, het ek op ’n stoel geklim en ’n prent van ‘Sint’ Vincent Ferrer teen my bors vasgedruk en uitgeroep: ‘Slaan my! Slaan my!’ Daniel het dan opgehou uit vrees vir die ‘heilige’.”

Daniel beaam wat Delia gesê het. “Ons is in 1948 getroud. Ek was maar net ’n penkop van 19. Ek het geen opleiding gehad nie en was in werklikheid nie in staat om ’n groeiende gesin te onderhou nie. Ons het mettertyd vier dogters en drie seuns gehad. Die lewe was vir my doelloos.

“Volgens wat ons geleer is, het slegs die dood en foltering in die helse vuur op my gewag. Die priester het ons oortuig dat ons nutteloos en verdoem was. Ek onthou dat ek dikwels in my besope frustrasie gesê het: ‘Ek gaan brand. Laat ek dan maar drink!’”

Delia vervolg: “Ons het ’n groot rottangmandjie gehad waarin ons klere gebêre het. Benigno, ons oudste seun, en ek het die mandjie leeggemaak en die kledingstukke netjies elders gebêre. Wanneer Daniel dan woedend huis toe gekom het, het Benigno dikwels in die mandjie weggekruip totdat sy vader aan die slaap geraak het. Dit was die enigste manier om te voorkom dat hy mishandel word.”

Daar is ’n groot verskil tussen die Rosero’s se pienk huis met ’n netjiese binnehof en plante wat met blomme oortrek is en hulle ekonomiese situasie tydens die vroeë jare van hulle huwelik. Daniel verduidelik: “Ek het broeke gemaak—een op ’n dag. Ek het stukwerk gedoen. Maar ek het voortdurend die kleremaker gevra om die volgende dag se loon voor te skiet.”

“Hy het nie die geld huis toe gebring vir kos nie”, voeg Delia by. Haar oë skiet vol trane. “O, hoe pynlik is dit tog om party van daardie middernagtelike konfrontasies voor die gees te roep!” Die gesinsituasie het versleg tot die punt waar Delia eenkeer met ’n groot mes in haar hand gedreig het: “Een of albei van ons gaan sterf, maar hierdie keer sal jy my nie slaan nie.” Gelukkig het die Rosero’s se verhaal nie daar geëindig nie.

DIE KEERPUNT

Daniel vertel van die keerpunt. “Dit was ’n Sondagoggend in Junie 1962. Mario Hernández, ’n spesiale pionier (voltydse prediker van Jehovah se Getuies), het ’n Skriftuurlike onderwerp met my vrou by die deur bespreek terwyl ek uit sig op die bed gelê het. Ek het in werklikheid beter geluister as Delia. Ek het gehoor dat die Bybel een van die beste godsdiensboeke in die wêreld is, hoewel dit myns insiens nie noodwendig van God af gekom het nie.

“Toe Mario Hernández vertrek het, het ek uit die bed gespring en daarop aangedring: ‘Roep die prediker! Roep die prediker terug! Ek wil die Bybel bestudeer.’”

Hier val Delia hom in die rede. “Ek was baie skepties. Ek het twee of drie keer geaarsel voordat ek uitgegaan het om na die Getuie te gaan soek.”

Toe die Getuie terugkom, het Daniel om ’n Bybel gevra. “Ek onthou nog steeds Broer Hernández se antwoord”, hervat Daniel. “‘Goed, ek sal vir jou ’n Bybel bring, maar nie om stof te versamel nie. Dit moet bestudeer word!’ Dit was nou eenmaal Broer Hernández. Hy het nie doekies omgedraai nie. Jy het geweet waar jy staan.”

Daniel gaan voort: “Vyftien dae later is daar met die Bybelstudie begin, maar dit is nie juis gereeld gehou nie. My broer Homero het ook begin studeer en goed gevorder. Homero het gou opgehou om beelde te aanbid. Maar ek onthou dat ek vir hom gesê het: ‘Homero, ek bly nog by die maagd Maria.’ Homero het geantwoord: ‘Boeta, hou aan studeer! Jy sal dit binnekort snap.’”

Daniel se besluit om iets te doen omtrent die dinge wat hy geleer het, het voortgespruit uit ’n besoek aan ’n kringbyeenkoms van Jehovah se Getuies. “Homero het my vertel van die byeenkoms in Ambato. Ek het gesê dat ek sou gaan indien ek dit kon bybring.

“Die organisasie het my oorweldig. Die mense het met mekaar oor die weg gekom al was daar sommer baie van hulle. Jy kon die liefde in die skare aanvoel. Niemand het gerook nie. Niemand het gevloek nie. Die jong manne sowel as die oueres het nie by die jong meisies probeer aanlê of suggestiewe dinge gesê nie. Ek onthou dat ek gedink het: ‘Dit is die waarheid!’ Dit was nie vrees vir die dood of vrees vir die wêreld se einde wat my aangespoor het nie. Dit was die reinheid van die organisasie.”

DIE BORDJIES WORD VERHANG

“Ek het vol geesdrif huis toe gekom en vir Delia gesê: ‘Ek gaan een van Jehovah se getuies word.’”

“Jy is ’n dronklap. Jehovah se Getuies is nie”, was haar antwoord.

Toe, so het die Rosero’s vir my verduidelik, het iets eienaardigs begin gebeur. Daniel het begin om sy lewe ten goede te verander en Delia het die teenoorgestelde weg ingeslaan. Dit het gelyk of Delia wraak wou neem. Daniel sou nou ly weens alles wat hy haar aangedoen het.

“Daar is nie geld vir kos nie, maar wel vir die Bybel!” was haar verwyt. Delia erken dat sy Daniel moedswillig uitgelok het. Sy was seker dat namate hy geestelik gevorder het, die gevaar dat hy haar sou mishandel algaande kleiner geword het.

By een geleentheid het Daniel openlik gehuil. “Delia, Delia, ek het verander! Wat skort met jou?” het hy gepleit. Selfs Benigno het vir sy moeder gevra of sy werklik die slae van die ou dae wou hê.

Namate Daniel meer kennis verkry het, het hy die dinge wat hy geleer het, toegepas. “Die beelde was vir my nogal ’n probleem”, sê hy. “Ek het geglo dat daar wonderwerke met my gebeur het as gevolg van die ikon se voorspraak. Maar Mario Hernández het 2 Korinthiërs 11:14 in sy argument gebruik—‘Satan self verander hom in ’n engel van die lig.’ My antwoord? ‘Goed, die duiwels kan ons met beelde bedrieg. Ek wil dus niks meer met hulle te doen hê nie!’”

Daniel het al die prente en beelde na die binnehof gedra, op hulle gespring en hulle toe verbrand. “Ek was met afgryse vervul en het uit die huis gehardloop omdat ek verwag het dat die dak sou instort as ’n blyk van goddelike toorn”, herroep Delia, “terwyl ek die hele tyd gepleit het: ‘Asseblief, liewe Heer, vergewe die arme dwaas. Ek bid dat u ons nie moet straf nie!’”

Maar Daniel het die verandering aangebring. Op 4 Mei 1963 is hy gedoop om sy toewyding aan God te simboliseer. “Toe was dit ’n opdraande stryd”, gaan Daniel voort. “Rook was ’n groot probleem. Ek onthou dat ek by ontbyt gesê het: ‘Moenie vir my brood gee nie. Bring vir my tabak.’ Maar ek het ook hierdie euwel oorwin.”

SAKE VERBETER

Daniel en Homero Rosero was die eerste Getuies in Latacunga. Die broers onthou die woorde van Arthur Bonno, wat destyds die kringopsiener was: “Gedra julle soos Christene, want julle sal die deur vir ander oopmaak.” En hulle het. Delia het mettertyd haar lewe in 1965 aan Jehovah toegewy.

Daniel onthou hoedat ’n gemeenteopsiener, Luis Narváez, hom aangespoor het om meer self vertroue te verkry: “Daniel, jy het die waarheid uit die Bybel geleer, en dit is ’n groot prestasie. Waarom kan jy nie leer om moue te maak en pakke te sny en te maak nie? Word ’n kleremaker!”

“En ek het”, sê Daniel met ’n breë glimlag. “Luis het vir my sy ou pakke se baadjies gebring. Ek het hulle dan heeltemal uitmekaar gehaal en weer aanmekaar vasgewerk. Ek het die oefening gekry en Luis so te sê nuwe pakke. Ek het ’n besigheid opgebou en in ’n netjiese winkel met glasvensters ingetrek. Ek het ’n meester-kleremaker geword. Nou het ek nie meer vir voorskotte gevra nie. Die klante het my oor die toonbank betaal. Met Jehovah se hulp het ons mettertyd ’n huis gekry.”

Maar namate Bybelwaarheid ’n groter plek in sy hart verower het, het Daniel besef dat hy nie meer geld nodig het nie, maar meer tyd om te preek. Sy broer Homero het ’n aantal goeie tuis-Bybelstudies gehad, en Daniel wou dieselfde vreugde smaak. In Julie 1968 het hy dus ’n spesiale pionier geword. Destyds was daar 12 gedoopte Koninkryksverkondigers in die gemeente en is die vergaderinge deur sowat 30 persone bygewoon.

DIE WAARHEID VERSPREI IN LATACUNGA

Net voordat Luis Narváez Latacunga verlaat het, het hy vir Daniel gesê: “Daniel, ek wil ’n ‘skaap’ in jou sorg laat.” Die belangstellende was die vrou van een van Latacunga se vooraanstaande geneeshere, dr. Mario Moscoso. Twee weke nadat daar met die studie begin is, het dr. Moscoso dit ook bygewoon.

“Mario Moscoso was altyd so nederig”, vertel Daniel. “Hy het my nooit minderwaardig laat voel nie. Trouens, hy het ’n student van my gemaak. Ek moes studeer om die antwoorde op sy vrae te kry. Dr. Moscoso was die hoof van die bloedbank, en toe bloed ter sprake gekom het, is dit openlik bespreek. Enkele weke daarna het hy sy posisie by die bloedbank verlaat.”

Binne ses maande het Mario Moscoso, wat later die republiek se president se huisdokter geword het, Daniel openlik bedank omdat hy hom gehelp het om die waarheid te vind. Hy het Daniel gestuur om saam met sy familielede te studeer. “Die waarheid het soos ’n veldbrand versprei!” roep Delia uit. “Die lys klink soos dié in ’n telefoongids—die Armas, die Bravo’s, die Coronels, die Leons, die Villagómez-gesin. Meer as 30 familielede het hulle lewens aan Jehovah toegewy, om nie eens te praat van die baie kinders en ander wat die vergaderinge gereeld bygewoon het nie.

“In drie-en-’n-half jaar is 60 nuwelinge gedoop, en ’n opkoms van 200 persone was algemeen in Latacunga.”

ANDER TOEWYSINGS

In 1971 is die Rosero’s na Cayambe, ’n klein gemeenskap met 8 000 mense, gestuur. “Ons het die hele gesin saamgeneem”, vertel Daniel, “onder andere my skoonmoeder.” Na drie-en-’n-half jaar is ’n gemeente in Cayambe gestig, en 12 persone het hulle toegewy en dit deur waterdoop gesimboliseer.

In 1974 is die Rosero’s na Otavalo, Ecuador. “Weer eens het die hele gesin verhuis, met die uitsondering van Benigno en my skoonmoeder, wat agtergebly het om vir Benigno te kook. Maar die gesin het nietemin groter geword”, sê Daniel met ’n breë glimlag. “In twee jaar is 11 nuwelinge gedoop, onder andere drie jong manne wat my skoonseuns geword het. Hulle het met drie van my dogters getrou.”

Veral sedert 1973 het inflasie dit vir die Rosero’s al hoe moeiliker gemaak om in die spesiale pionierdiens te bly. Maar hulle het daarmee aangehou. In 1976 is hulle weer na hulle tuisstad Latacunga gestuur waar die ekonomiese druk effens minder is.

“Die grootste aansporing vir my om aan te hou, is ’n progressiewe tuis-Bybelstudie”, verduidelik Daniel. “Ek vra Jehovah gereeld om my te stuur na iemand wat waarlik die waarheid wil hê, want dit is vir my net so stimulerend as vir die student. Op die oomblik is daar ’n ‘lieflike’ gesin wat vordering maak en die vergaderinge bywoon. Ek meen die man se beskrywing van sy godsdiensontwikkeling is baie insiggewend. Hy sê: ‘’n Katoliek deur tradisie, ’n Baptis deur emosie, ’n Getuie van Jehovah deur juiste kennis.’”

DANKBAAR OOR BYBELWAARHEID

Die trant van ons gesprek verander en ons loop na die binnehof waar daar jakobregops, rose en wingerdstokke geplant is. Oorkant die Cutuchi-rivier wei beeste op ’n grastapyt tussen helderkleurige kledingstukke wat oopgegooi is om droog te word. Stowwerige bloekombome se blare ruis in die windjie. Die lug is helderblou. Delia dink diep na.

“Mense sê vir my dat ek lewenslustig is”, sê sy. “Jy weet, ek het dit alles aan die waarheid te danke. Wie weet waar my kinders sonder God se Woord sou wees? Al sewe van hulle is gedoop en bestendige mense. Die waarheid het vir my ’n heeltemal nuwe lewe en nuwe geluk beteken.” ’n Glimlag versprei oor haar gesig en sy sê: “Ons sal aanhou om Jehovah te dien en sy leiding te vertrou.”

Daniel voeg by: “Die waarheid het my lewe gered. Ek is daarvan oortuig dat ek weens alkoholisme sou gesterf het as dit nie vir die waarheid was nie.” Ek meld dat Daniel vir my jonger lyk elke keer wanneer ek hom sien. Hy lag en sê: “Jy weet, die mense hier in Latacunga sê dieselfde. Trouens, hulle sê vir my dat dit die gevolg van my predikingswerk moet wees. Ek het ’n teks wat ek graag vir hulle wys. Dit is hier in Psalm 92:15, 16: ‘Hulle sal steeds gedy wanneer hulle grys is, vet en fris sal hulle bly, om te vertel dat Jehovah opreg is. Hy is my Rots, in wie daar geen onregverdigheid is nie.’”—NW.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel