Sy het geleer hoe om God te aanbid
Jehovah God ignoreer nie diegene wat hom probeer behaag nie. Dit word toegelig deur die volgende ondervinding wat vertel is deur getuies van Jehovah in Iran:
“Hoewel dit nie moontlik was om [by ’n sekere firma] met die bestuurder te praat nie, het sy sekretaresse ons na haar kantoor genooi. . . . Sy het allerhande boeke begin lees om uit te vind hoe om tot God te bid en verhoor te word. . . .
“Een aand, na haar Zoroastristiese gebede, het hierdie jong vrou in haar eie woorde tot God gebid en gesê: ‘O God, waar u ook al is, wys vir my hoe u wil hê dat ek u moet aanbid. . . .’
“Twee weke later het ons daar aangeklop. Ons het talle lang besprekings gevoer. (Omdat sy in ’n Katolieke skool onderrig is, het hierdie vrou ’n kennis van die ‘Christelike’ geloof gehad. . . .) Sy was gou daarvan oortuig dat sy nou die waarheid gevind het en dat haar gebede uiteindelik verhoor is. Sy het uit die staanspoor die vergaderinge [van Jehovah se Getuies] gereeld begin bywoon, geesdriftig vir ander gepreek en groot veranderinge in haar lewe en gesindheid aangebring.
“Namate die Bybelstudie saam met hierdie vrou gevorder het, het sy besef dat al die boeke wat sy tydens haar soektog na God gelees het, nie die waarheid bevat nie, en dat baie van hulle inderdaad met spiritisme in verband staan. Sy het geleidelik van meer as 40 boeke ontslae geraak, waarvan almal meer as [R35] gekos het. Sy het ontslae geraak van al haar godsdiensartikels, met inbegrip van gelukspennings, kruise, Zoroastristiese embleme en dié wat met astrologie in verband gestaan het—dit ook teen groot geldelike verlies (Hand. 19:19). Hierdie jong vrou het gevolglik haar lewe na minder as ’n jaar aan Jehovah toegewy.”