’n Skokkende gebrek aan waardering
PERSONE versuim alte dikwels om dank te betoon vir weldade wat aan hulle bewys is. Kinders neem soms die sorg en aandag van liefdevolle ouers as vanselfsprekend aan. Hulle raak miskien deurmekaar met slegte metgeselle en begin om te rook, dwelms te gebruik of te drink. Hulle dink egter nie aan die droefheid wat hulle dade vir hulle vader en moeder veroorsaak nie. Hulle het werklik ’n gebrek aan waardering vir die pogings wat hulle ouers aanwend om hulle groot te maak.
Die nasie Israel was in ’n soortgelyke situasie. As ’n liefdevolle Eggenoot het Jehovah vir sy volk gesorg. Deur sy profeet Jeremia het hy hulle herinner aan wat die verhouding aanvanklik was: “Ek onthou die geneentheid van jou jeug, die liefde van jou bruidstyd, toe jy agter My aan geloop het in die woestyn, in ’n onbesaaide land. Israel was vir die HERE ’n heiligheid, die eerstelinge van sy opbrings; almal wat hom opeet, sal skuld op hulle laai, onheil sal oor hulle kom, spreek die HERE.”—Jeremia 2:2, 3.
Toe Jehovah die Israeliete uit slawerny in Egipte verlos en hulle deur die woestyn gelei het, was die nasie in sy jeug. Uit hoofde van die verbond wat by die berg Sinai in die Arabiese woestyn met die volk gesluit is, het Israel ’n vrou vir die Allerhoogste geword. Jehovah God het die hele nasie as heilig beskou. Israel was net so heilig soos die “eerstelinge” van die oes wat by die heiligdom aangebied is (Exodus 22:29; 23:19). Israel het aanvanklik vertroue in Jehovah God getoon deur die geleentheid aan te gryp om Egipte te verlaat en toe ’n moeilike reis deur ’n onherbergsame woestyn te onderneem. Daardie liefde was nie misplaas nie, daar die Almagtige sy volk beskerm het. Toe Amalekiete Israel byvoorbeeld moedswillig aangeval het, het Jehovah hulle verlos. Hy het die onervare Israelitiese leër, onder aanvoering van Josua, in staat gestel om die Amalekiete ’n verpletterende neerlaag toe te bring. (Exodus 17:8-13; vergelyk Exodus 13:17.) Maar soos Jeremia toon, het die nasie sy eerste liefde, soos dié van ’n maagd in haar bruidstyd, verloor. Die ‘huwelik’ is in 1513 v.G.J. by die berg Sinai voltrek.
In die lig van wat Hy vir die nasie gedoen het toe dit nog jonk was, het Jehovah hierdie vrae aan die Israeliete gestel wat eeue later gelewe het: “Watter onreg het julle vaders in My gevind, dat hulle ver van My afgewyk en agter nietige afgode aan geloop het en self nietig geword het? En hulle het nie gesê nie: Waar is die HERE wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons in die woestyn gelei het, in ’n land van wildernis en kuile, in ’n land van droogte en doodskaduwee, in ’n land waar niemand deurtrek en waar geen mens woon nie?”—Jeremia 2:5, 6.
Hierdie woorde van Jehovah moes die Israeliete ernstig laat nadink het. Watter rede het hulle voorvaders gehad om die Allerhoogste te verlaat, om valse gode, nuttelose nie-gode, te aanbid en om self nietig te word, persone met geen geestelikheid nie? Waarom het hulle nie na Jehovah as hulle God gesoek nie? Hy was die Een wat hulle voorvaders uit slawerny in Egipte verlos het. Hulle het baat gevind by sy voorsienings en beskerming in die woestyn—’n droë, dor gebied vol kuile wat gevaarlik was vir mense en diere wat daarin kon val. As Jehovah nie op wonderdadige wyse water voorsien het nie, sou die Israeliete en hulle diere van die dors omgekom het. Die gebied was een van “doodskaduwee” verwarrend en verbysterend soos die duisternis. Daar was geen duidelike pad nie, want die roete waarlangs die Israeliete gereis het, was nie een waarlangs ander reeds gereis het nie. Daar was geen nedersettings langs die pad nie.
Jehovah het nie net in die woestyn vir die Israeliete gesorg nie. Hy het hulle eindelik ook na die vrugbare land Kanaän gebring. Maar in plaas daarvan om waardering te toon, het die Israeliete, volgens Jehovah se woord deur Jeremia, “my land verontreinig en my erfenis ’n gruwel gemaak” (Jeremia 2:7). Deur ontrou aan Jehovah te word en afgode te begin aanbid, het die Israeliete hulle Godgegewe land besoedel. Diegene wat die volk tot hulle sinne moes bring, het heeltemal gefaal. Jehovah se woord deur Jeremia sê voorts: “Die priesters het nie gesê: Waar is die HERE nie? En die wat die wet handhaaf, het My nie geken nie; en die vorste het teen My oortree, en die profete het geprofeteer deur Baal en agter dinge [valse gode] aan geloop wat geen voordeel bring nie.”—Jeremia 2:8.
Die priesters moes Jehovah beslis gesoek het met die doel om sy wil te doen. Maar hulle het nie. Hulle het die verantwoordelikheid gehad om die wet aan ander te leer, maar hulle het nie die Een geken wat dit gegee het nie. Deur hulle gedrag wat strydig was met sy persoonlikheid, weë en handelinge, het hulle getoon dat hulle Jehovah nie ken nie. Die herders of vorste van die nasie het ’n slegte voorbeeld vir hulle onderdane gestel, want hulle het Jehovah se wet geïgnoreer. Profete wat die volk moes help om na Jehovah terug te keer, het geprofeteer deur die valse god Baäl en hulle na ander magtelose gode, blote afgode, gewend vir beskerming en seën.
Dit is dus nie verbasend dat Jehovah sy voorneme bekendgemaak het om met die ontroue Israeliete in die koninkryk van Juda te twis nie. Hy het ’n regsaak teen hulle gehad. Ons lees: “Daarom sal Ek nog met julle twis, . . . en met julle kindskinders sal Ek twis.”—Jeremia 2:9.
Die optrede van ontroue Israeliete was destyds ongehoord. Dit was skokkend. Jehovah se woord deur Jeremia sê: “Want gaan oor na die eilande van die Kittiërs, en kyk; en stuur na Kedar, en gee daar goed ag op; en kyk of so iets gebeur het: of ’n nasie sy gode verruil—wat nie eers gode is nie.” Met ander woorde, gaan wes na Kittim en oos na Kedar en kyk of enige nasie sy gode vir ander verruil het. Nasies voeg miskien die gode van ander volke by hulle eie panteons. Maar dit was iets ongehoords dat hulle hulle eie gode heeltemal deur dié van ander nasies vervang. “Maar my volk” sê Jehovah se woord verder, “het [my] heerlikheid verruil vir wat geen voordeel bring nie” (Jeremia 2:10, 11). Ja, die Israeliete het die heerlikheid van die onsigbare God vir nuttelose gode verruil.
Hoe skokkend was dit tog! Dit was ernstig genoeg om selfs die hemele ‘van skrik te laat verstyf. Dit is presies wat die profesie van Jeremia sê: “Verbaas julle hieroor, o hemele, en huiwer, verstyf heeltemal van skrik, spreek die HERE. Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.”—Jeremia 2:12, 13.
Israel se handelwyse was waarlik die toppunt van ondankbaarheid. Jehovah het sy volk wonderlik behandel as ’n getroue Eggenoot. Maar die volk was erger as die afgodsaanbiddende nasies. Hoewel die nasies hulle skuldig gemaak het aan afgodediens, het die Israeliete Jehovah versaak en hulle na nuttelose gode gewend vir guns. Hulle God was vir hulle ’n onfeilbare bron van beskerming, leiding en seën. Hy was soos ’n fontein, “die fontein van lewende water”. Maar die Israeliete het hulle eie reënbakke uitgekap en hulp gesoek deur bondgenootskappe met heidense wêreldmoondhede, Egipte of Assirië, aan te gaan.—Jeremia 2:18.
’n Les vir ons
Die ondervinding van die Israeliete bevat lewensbelangrike lesse vir God se hedendaagse knegte. Net soos Israel op wonderlike wyse uit slawerny in Egipte bevry is, is Christene bevry van die duiwelse magte van duisternis. Hulle is gereinig deur die kosbare bloed van Jesus Christus en is op die weg na die ewige lewe in ’n regverdige nuwe orde wat uit nuwe hemele en ’n nuwe aarde sal bestaan (Kolossense 1:13, 14; 1 Petrus 1:17-19; 2 Petrus 3:13). ’n Onoortreflike blyk van God se liefde, naamlik sy Seun as ’n losprysoffer, het dit moontlik gemaak.—Romeine 5:6-8.
In die lig van wat Jehovah vir sy knegte gedoen het, sal dit inderdaad ’n skokkende gebrek aan waardering wees as enige Christen ware aanbidding versaak en ’n lewensweg inslaan wat strydig is met die goddelike wil. Enige Christen wat onberouvol op hierdie weg voortgaan, sal veroordeel word. Die Bybel deel ons mee: “As ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar ’n verskriklike verwagting van oordeel en ’n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer” (Hebreërs 10:26, 27). Ons het dus beslis goeie rede om hard te probeer om onder diegene te wees wat alles wat Jehovah God deur middel van Jesus Christus gedoen het waarlik waardeer. Net soos persone wat moedswillig sonde bedryf nie ongestraf sal bly nie, net so seker sal diegene wat lojaal aan hulle Skepper bly hulle beloning ontvang.