48 STEFANUS
“Vol geloof en heilige gees”
STEFANUS was net ’n onvolmaakte man. Maar toe hy in groot gevaar was, het die Bybel hom op hierdie manier beskryf: “Sy gesig [was] soos die gesig van ’n engel.” Hy was kalm en rustig – alhoewel hy voor die Sanhedrin, die Joodse Hoë Raad, moes verskyn. Dit was dieselfde groep manne wat beveel het dat Jesus ’n paar maande vroeër doodgemaak moes word. Hoe kon ’n man in sulke gevaar so kalm lyk? Die antwoord het met moed te doen.
Die Bybel sê dat Stefanus “vol geloof en heilige gees” was. Die apostels in Jerusalem het hom die verantwoordelikheid gegee om vir die behoeftiges in die gemeente te sorg. Eendag het Stefanus homself voor ’n groep fanatiese teenstanders gevind. Sy woorde was so kragtig dat hulle niks teen hom kon sê nie. Hulle was so kwaad dat hulle hom gegryp het en na die Sanhedrin gevat het. Stefanus se lewe was nou in die Sanhedrin se hande.
Stefanus het moontlik geweet van die belofte wat Jesus aan sy volgelinge gemaak het wat in sulke situasies sou wees: “Julle [moet] nie vooraf bekommerd wees oor wat julle sal sê nie, maar julle moet sê wat ook al in daardie uur aan julle gegee word, want dit is nie julle wat praat nie, dit is die heilige gees” (Mark. 13:11). So ’n belofte het sekerlik vir Stefanus die moed gegee wat hy nodig gehad het. En met die hulp van Jehovah se heilige gees, het hy so rustig soos ’n engel gelyk toe hy voor die Sanhedrin staan.
Die hof het uit 71 lede bestaan, hulle almal was belangrike manne wat geleerd in Judaïsme was. Hulle het in drie rye in die vorm van ’n halfmaan in ’n indrukwekkende saal gesit, met twee manne wat alles neergeskryf het. Stefanus was daarvan aangekla dat hy teen die Wet van Moses en die tempel praat – misdade waarvoor ’n mens doodgemaak kon word. Kajafas, die hoëpriester, het toe vir Stefanus gesê om sy saak te verdedig.
Stefanus het begin deur oor die geskiedenis van God se handelinge met Sy mense te praat. Hy het by Abraham begin en toe oor Josef gepraat wat vervolg was deur sy broers, die 12 familiehoofde van Israel. Stefanus het met respek oor Moses gepraat en uitgewys dat die nasie sy leiding verwerp het. Onder inspirasie het hy selfs besonderhede oor Moses ingesluit wat nie in die Hebreeuse Geskrifte is nie.
Alles wat Stefanus gesê het, het gewys dat hy groot respek gehad het vir die Wet, die tabernakel en vir die tempel wat Jehovah vir ware aanbidding opgerig het. Maar terselfdertyd het hy gewys dat God se mense herhaaldelik gerebelleer het teen die mense wat Jehovah na hulle toe gestuur het.
Stefanus moes sy geloof verdedig teen partydige manne wat al klaar teen hom besluit het
Stefanus het sekerlik gesien dat hy geen genade sou ontvang van hierdie manne wie se harte verhard was nie. Jehovah het hom met goeie rede die moed gegee om met ’n oordeelsboodskap af te sluit. Hy het gesê dat hulle “hardkoppig” is en “altyd die heilige gees [weerstaan],” net soos hulle voorvaders gedoen het. Maar die ergste van alles is dat hulle die profeet doodgemaak het wat Moses voorspel het sou kom. Stefanus het gesê dat hulle daardie regverdige een, Jesus, die Messias, “verraai en vermoor” het.
Die lede van die Sanhedrin was so kwaad dat hulle “op hulle tande begin kners” het vir Stefanus. Maar Jehovah het hom ’n aanmoedigende visioen gegee. Stefanus het dit so beskryf: “Kyk! Ek sien dat die hemel oop is en dat die Seun van die mens aan God se regterhand staan.” Met daardie woorde het die Sanhedrin in woede en geweld uitgebars! Hoekom? Stefanus se woorde het moontlik vir hulle bekend geklink. Toe Jesus Christus ’n paar maande vroeër verhoor was, het hy gesê: “Julle [sal] die Seun van die mens aan die regterhand van die Magtige sien sit” (Matt. 26:64). Stefanus het bevestig dat daardie woorde waar geword het. Jesus het nou aan Jehovah se regterhand gestaan!
Hulle het so kwaad geword dat hulle op hom afgestorm het, hom uit die stad gegooi het en hom gestenig het. Stefanus, wat moontlik nog steeds Jesus se visioen gesien het, het sy Here gevra om sy gees te ontvang. Toe het hy een laaste ding van Jehovah gevra: “Moet hulle nie vir hierdie sonde verantwoordelik hou nie.” Stefanus het toe as ’n getroue volgeling van Jesus gesterf. Hy was die eerste Christen waarvan ons in die Bybel lees wat vir sy geloof doodgemaak is. Maar een jong man wat hierdie moord goedgekeur het, kon nie Stefanus se laaste woorde vergeet nie. Ons sal ’n bietjie meer oor daardie man in Hoofstuk 50, 51 en 53 leer.
Lees die Bybelverslag:
Om te bespreek:
Hoe het Stefanus gewys dat hy moedig is?
Soek dieper
1. Hoekom het die apostels Stefanus en ander manne “vol gees en wysheid” gekies om seker te maak dat die behoeftiges kos kry? (Hand. 6:3-5; bt 41-42 ¶17-18) A
Prent A
2. Watter unieke inligting gee Stefanus oor Moses? (bt 48 ¶13, vtn.)
3. Hoe kon Stefanus so kalm bly toe hy vervolg was? (w18.10 32)
4. Wys Handelinge 7:59 dat Stefanus tot Jesus gebid het? (w05 1/1 31)
Dink aan die lesse
Stefanus was “vol geloof en heilige gees” en het “God se goedkeuring en krag gehad”. Maar hy was nog steeds bereid om kos uit te deel (Hand. 6:2, 5, 8). Hoe kan broers wat talente of groot verantwoordelikhede het, Stefanus navolg? B
Prent B
Stefanus het vir sy vervolgers gebid. Hoe kan ons liefde wys vir dié wat ons vandag teëstaan en vervolg? (Matt. 5:44-48)
Hoe kan jy Stefanus se moed in jou lewe navolg?
Dink na oor die groter prentjie
Wat leer hierdie verslag my oor Jehovah?
Hoe hou hierdie verslag verband met Jehovah se wil?
Hoekom is jy dankbaar dat Stefanus gekies was om saam met Christus in die hemel te regeer?
Leer meer
Kyk hoe ons ons geloof respekvol maar moedig kan verdedig, net soos Stefanus gedoen het.
“‘Stefanus het God se goedkeuring en krag gehad’” (bt 47-50 ¶9-19)
Wanneer Jehovah se mense vandag vervolg word, hoe kan hulle so moedig soos Stefanus wees?