51 BARNABAS
“Seun van vertroosting”
TOE Saulus van Tarsus ná drie jaar terug na Jerusalem gegaan het, het hy die Christene daar gesoek (Gal. 1:15-19). Vir hom, was hulle nou sy broers en susters, maar vir hulle, was hy nog steeds ’n wrede vervolger. Dit lyk asof baie nie geweet het dat hy regtig verander het nie. Maar een man het die moed en meegevoel gehad om Saulus te help. Sy naam was Barnabas.
Die Christene in Jerusalem was bang om Saulus van Tarsus te help, maar Barnabas was moedig en het hom gehelp
Barnabas verskyn eers in die Bybelverslag as ’n Christen met die naam Josef. Teen omtrent Pinkster 33 HJ het Josef van sy eiendom verkoop en die geld bygedra om sy mede-Christene te help wat hulp nodig gehad het. Omdat hy bekend was vir sy goedhartigheid en bereidwilligheid om ander te vertroos, het die apostels hom Barnabas genoem, wat “seun van vertroosting” beteken. Later, omtrent 36 HJ, het hy die moed gehad om Saulus te verwelkom. Ons lees: “Barnabas [het] hom kom help en hom na die apostels toe gevat.”
Van daardie tyd af, het hulle goeie vriende geword. Saulus het so ywerig in Jerusalem gepreek dat party Jode hom wou doodmaak. Daarom het die broers besluit om hom na sy geboorteplek, Tarsus, te stuur. En Barnabas was omtrent nege jaar later na Antiogië, Sirië, gestuur om daar nuwe Christene aan te moedig. Ons lees: “Hy was ’n goeie man en vol heilige gees en geloof.” Daar het so baie mense op die goeie nuus in Antiogië gereageer dat Barnabas meer hulp nodig gehad het. Hy het na Tarsus gegaan om na sy vriend Saulus te soek. Die twee het ’n baie goeie span in die bediening gemaak. Hulle het ook ’n noodlenigingswerk georganiseer om behoeftige Christene te help.
Saulus, wat later as Paulus bekend geword het, het saam met Barnabas ’n sendingreis aangepak. Hulle moed was oor en oor getoets. In Ikonium wou party Joodse teenstanders hulle met klippe doodgooi, en daarom het die sendelinge wys opgetree en na Listra gegaan. Toe hulle daar aankom het die mense gedink dat hulle gode was! Maar die teenstanders het van Antiogië en Ikonium gekom en daardie mense teen hulle gedraai. Hulle het Paulus met klippe gegooi en hom buite die stad vir die dood agtergelaat. Soos die Christene van Listra rondom Paulus bymekaargekom het, het hy opgestaan en kon hy terug na die stad toe stap. Dink net hoe verlig Barnabas moes gewees het! Later het hulle die stad veilig verlaat. Maar nie lank daarna nie het hulle weer na Listra gegaan om die Christene daar te vertroos. Dit het baie moed geverg!
Saam het Barnabas en Paulus baie gevare ondervind, en hulle het ook goeie ondervindinge gehad. Maar eenkeer was hulle vriendskap getoets. Barnabas was vasbeslote om sy jonger neef Markus saam op hulle volgende reis te vat. Paulus was teen die idee, want Markus het hulle al voorheen in die steek gelaat. Nie een van die twee manne was bereid om in te gee nie. “Toe het hulle vir mekaar kwaad geword en begin stry,” en hulle het uitmekaargegaan.
Barnabas se moed was op ’n nuwe manier getoets. Wanneer ons nie met ons broer of suster saamstem nie, kan dit dalk maklik wees om vir hulle kwaad te bly, om sleg oor hulle te praat of om op te hou om die vergaderinge by te woon. Dit verg moed om nie hierdie dinge te doen nie, en eerder hard daaraan te werk om vrede met God en ons broers en susters te behou.
Dit is duidelik dat nie een van daardie twee manne toegelaat het dat daardie situasie hulle diens aan Jehovah beïnvloed nie. Barnabas en Markus het na Siprus geseil, waar hulle aangehou het met hulle werk om dissipels te maak. Paulus en Silas het aangehou met hulle reis en het wonderlike dinge in Jehovah se naam gedoen.
Het daardie twee manne vir mekaar kwaad gebly? Nee. Dink hieraan: Paulus het later goeie dinge oor Barnabas gesê in sy geïnspireerde briewe. In een van daardie briewe het hy genoem dat sy vriend, net soos hy, hard werk om homself in sy bediening te onderhou (1 Kor. 9:6). In ’n ander brief het hy genoem dat die broers Markus, “die neef van Barnabas” moet verwelkom (Kol. 4:10, 11). Alhoewel Paulus en Barnabas nie meer saam gepreek het nie, was hulle nog steeds goeie vriende. Barnabas het sekerlik aangehou om die betekenis van sy naam uit te leef deur ander met die goeie nuus te vertroos so lank as wat hy kon. En soos hy met Markus gewerk het, het hy sekerlik die jonger man verder opgelei. Ons sal in die volgende hoofstuk oor Markus se moed leer.
Lees die Bybelverslag:
Om te bespreek:
Hoe het Barnabas gewys dat hy moedig is?
Soek dieper
1. Die Leviete het nie enige land as ’n erfdeel gekry nie. So waar het die Leviet Barnabas sy eie land gekry? (Num. 18:20; Hand. 4:36, 37; w98 4/15 20 ¶4, vtn.)
2. Hoekom was Barnabas ’n apostel genoem? (Hand. 14:14; it “Barnabas” ¶3-wcgr)
3. In Siprus het Barnabas en Paulus vir ’n man met die naam Sergius Paulus gepreek. Was Lukas, die skrywer van Handelinge, reg toe hy na Sergius Paulus verwys het as “die prokonsul”? (Hand. 13:7, 12 it “Siprus” ¶7-wcgr) A
Bank of Cyprus Cultural Foundation Collection
Prent A: ’n Muntstuk uit die tyd toe Claudius regeer het. Hy was ’n keiser toe Barnabas en Paulus Siprus besoek het. Dit identifiseer die eiland se goewerneur as “die prokonsul”
4. Hoekom is dit nie verbasend dat die mense van Listra Barnabas en Paulus met offerandes wou verwelkom nie? (bt 97, venster)
Dink aan die lesse
Op watter praktiese maniere kan ons die vrygewigheid van Barnabas navolg?
Alhoewel Barnabas dalk aan die begin die leiding in hulle sendingreis geneem het, het Paulus later meer prominent as hy geword. Maar Barnabas het nie jaloers geword nie. In watter situasies kan ons sy voorbeeld navolg? B
Prent B
Hoe kan jy Barnabas se moed in jou lewe navolg?
Dink na oor die groter prentjie
Wat leer hierdie verslag my oor Jehovah?
Hoe hou hierdie verslag verband met Jehovah se wil?
Hoekom is jy dankbaar dat Barnabas gekies was om saam met Christus in die hemel te regeer?
Leer meer
Hoe wys die verhouding tussen Barnabas en Paulus dat mense met verskillende persoonlikhede saam kan werk?
Kyk in hierdie video hoe broers verskille kan oplos net soos Barnabas en Paulus gedoen het.