Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • bm deel 6 bl. 9
  • Job handhaaf sy onkreukbaarheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Job handhaaf sy onkreukbaarheid
  • Die Bybel—Wat is die boodskap daarin?
  • Soortgelyke materiaal
  • Job het Jehovah se naam hooggehou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Job se onkreukbaarheid—Wie kan dit navolg?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Job se onkreukbaarheid—Waarom so merkwaardig?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • ‘Ek sal my onkreukbaarheid nie prysgee nie!’
    Volg hulle geloof na
Sien nog
Die Bybel—Wat is die boodskap daarin?
bm deel 6 bl. 9
Job met swere aan sy liggaam

DEEL 6

Job handhaaf sy onkreukbaarheid

Satan bevraagteken Job se onkreukbaarheid voor God, maar Job bly getrou aan Jehovah

SOU enige mens aan God getrou bly as hy tot die uiterste beproef word en as gehoorsaamheid skynbaar geen materiële voordele inhou nie? Hierdie vraag is geopper—en beantwoord—in verband met ’n man genaamd Job.

Terwyl die Israeliete nog in Egipte was, het Job, ’n familielid van Abraham, gewoon in wat nou Arabië is. Intussen het die engele in die hemel voor God saamgekom, en die opstandige Satan was onder hulle. In die teenwoordigheid van hierdie groep in die hemel het Jehovah sy vertroue in sy lojale kneg Job uitgespreek. Trouens, Jehovah het gesê dat geen ander mens onkreukbaarheid soos dié van Job het nie. Maar Satan het aangevoer dat Job God net dien omdat God hom geseën en beskerm het. Satan het beweer dat Job God sou vervloek as alles wat hy het, van hom weggeneem word.

Engele in die hemel het voor God bymekaargekom, en Satan is onder hulle

God het Satan toegelaat om Job eers van sy rykdom en kinders en toe van sy gesondheid te beroof. Job was onbewus van Satan se rol in al hierdie gebeure en kon dus nie verstaan waarom God toelaat dat hierdie beproewinge oor hom kom nie. Job het nietemin nooit sy rug op God gedraai nie.

Drie valse vriende het na Job toe gekom. In ’n reeks redevoerings wat baie bladsye van die boek Job beslaan, het die mans Job verkeerdelik probeer oortuig dat God hom vir verborge sondes straf. Hulle het selfs beweer dat God nie behae in sy knegte skep of vertroue in hulle stel nie. Job het hulle foutiewe redenasies verwerp. Met vertroue het Job verklaar dat hy sy onkreukbaarheid tot die dood toe sou handhaaf!

Maar Job het die fout gemaak om te besorg te raak oor sy eie regverdiging. ’n Jonger man met die naam Elihu, wat na die hele debat geluister het, het toe begin praat. Elihu het Job tereggewys omdat Job nie besef het dat die regverdiging van Jehovah God se soewereiniteit baie belangriker is as die regverdiging van enige mens nie. Elihu het ook Job se valse vriende streng bestraf.

Toe het Jehovah God met Job gepraat en sy denke reggestel. Jehovah het baie skeppingswonders genoem en Job ’n les gegee in die mens se nietigheid in vergelyking met God se grootheid. Job het die teregwysing van God nederig aanvaar. Omdat Jehovah “baie teer in geneentheid en barmhartig is”, het hy Job se gesondheid herstel, hom twee keer soveel rykdom gegee as wat hy vroeër gehad het en hom met tien kinders geseën (Jakobus 5:11). Deur sy onkreukbaarheid teenoor Jehovah onder uiterste beproewing te handhaaf, het Job ’n antwoord voorsien op Satan se aantyging dat mense nie aan God getrou sal bly as hulle op die proef gestel word nie.

—Gebaseer op die boek Job.

  • Watter aantyging het Satan in verband met Job gemaak?

  • Wat is bereik deurdat Job sy onkreukbaarheid teenoor Jehovah gehandhaaf het?

DIE GROOT GESKILLE

Deur te beweer dat Job—destyds die onberispelikste en mees godvresende mens op die aarde—Jehovah God net om selfsugtige redes dien, het Satan te kenne gegee dat dit ook waar is van alle intelligente skepsele. Satan het sodoende die kwessie oor die mens se onkreukbaarheid teenoor Jehovah geopper. Dit is deel van die hoofgeskil wat Satan in Eden geopper het, naamlik die regmatigheid en regverdigheid van Jehovah se soewereiniteit. Die boek Job toon dat God se skepsele ’n rol kan speel in die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit deur hulle onkreukbaarheid teenoor Hom te handhaaf.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel