Hoofstuk 7
Wanneer sal die voorspelde wêreldvernietiging kom?
1. Watter wonderlike voorneme het God met die mensdom?
WATTER verligting sal dit tog nie wees om die einde van oorlog, misdadigheid en die besoedeling van die aarde te sien nie! Hoe aangenaam sal dit tog nie wees om onder ’n waarlik regverdige administrasie te lewe waar ’n mens volkome veiligheid vir jouself en jou gesin kan geniet nie! Die Bybel toon dat God al hierdie dinge gaan verwesenlik. Maar wanneer?
2. (a) Wie sal onverhoeds betrap word wanneer “die dag van Jehovah” aanbreek? (b) Hoe kan ons voorkom dat dit met ons gebeur?
2 Aangaande die wêreldvernietiging wat die weg vir God se Nuwe Orde baan, het die apostel Paulus gesê: “Die dag van die Here [“Jehovah”, NW] kom net soos ’n dief in die nag.” Hy voeg by: “Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ’n dief sou oorval nie” (1 Thessalonicense 5:2, 4). Wanneer “die dag van Jehovah” aanbreek, sal diegene wat nie op die waarskuwings ag slaan nie soos diere wees wat skielik in ’n strik gevang is. Maar dit hoef nie met jou te gebeur nie. Soos die teks toon, is daar persone wat “nie in duisternis” is nie. Dit is omdat hulle God se Woord ondersoek en die dinge wat dit oor ons dag sê ter harte neem.—Lukas 21:34-36.
3, 4. (a) Waar word die volle betekenis van die gebeure van die 20ste eeu verduidelik? (b) Watter vyf hoofpunte wat in Bybelprofesie uiteengesit word, gaan ons ondersoek?
3 Die Bybel beskrywe gebeure van hierdie 20ste eeu duidelik. Maar daardie gebeure is sowat tweeduisend jaar vooruit beskryf! Hoewel baie van die gebeure op sigself algemene kennis is, dui net die Bybel hulle volle betekenis aan.
4 Die profetiese informasie in die Bybel oor ons dag verstrek die volgende besonderhede: (1) Die bepaalde jaar wanneer God “die koningskap van die mens” gee aan “wie Hy wil”. (2) Betekenisvolle gebeure wat sou plaasvind gedurende die tydperk bekend as “die voleinding van die wêreld”. (3) Merkwaardige godsdiensontwikkelinge gedurende daardie tyd. (4) Die behoud van ten minste sommige lede van die geslag wat die begin van “die voleinding van die wêreld” gesien het. (5) ’n Treffende ontwikkeling in wêreldaangeleenthede as ’n finale teken dat wêreldvernietiging ophande is. Kom ons ondersoek hierdie punte.
(1) Die aangewese jaar—1914 G.J.
5. Hoe vroeg reeds het Jehovah se Getuies besef dat die Bybel op 1914 G.J. as ’n betekenisvolle jaar wys?
5 Reeds in 1876 het Jehovah se Getuies besef dat Bybelprofesie die jaar 1914 G.J. aanwys as ’n tyd van groot gebeure met ’n verreikende uitwerking op mense-aangeleenthede. Hulle het die rede hiervoor wyd en syd bekend gemaak.
6. (a) Wat word in Daniël 4:2, 3, 17 bespreek? (b) Wie is die een aan wie Jehovah “die koningskap” gee?
6 As jy jou Bybel by Daniël hoofstuk 4 oopmaak, sal jy ’n profesie vind wat God se voorneme in verband met soewereiniteit oor die aarde openbaar. Daar is gesê dat die doel met daardie profesie se vervulling is “dat die lewendes kan erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil” (Verse 2, 3, 17). Die een aan wie die Allerhoogste “die koningskap” gee, is Christus Jesus. En die laaste boek van die Bybel vertel van die tyd wanneer “die koningskap oor die wêreld” aan hom as hemelse Koning gegee word (Openbaring 11:15, NAV; 12:10). Dit beteken dus dat Daniël se profesie handel oor die tyd wanneer God in mense-aangeleenthede sou ingryp deur “die koningskap oor die wêreld” aan Jesus Christus te gee. Wanneer sou dit volgens die profesie gebeur?
7. (a) Watter profetiese droom word in Daniël 4:10-16 beskryf? (b) Hoe was dit op koning Nebukadnesar van toepassing?
7 Die profetiese droom in Daniël beskryf ’n yslike boom wat afgekap en met bande van yster en koper gebind is totdat “sewe tydperke” daaroor heengegaan het. Gedurende daardie tyd is “’n dierehart” daaraan gegee (Daniël 4:10-16). Wat het dit beteken? God het Daniël laat verduidelik: Nebukadnesar, die koning van Babilon, sou kranksinnig word, van sy troon verwyder word en onder die mensdom uit verstoot word om soos ’n dier te lewe. Na sewe jaar sou die koning sy verstand terugkry. Dit het inderdaad met die koning gebeur, en hy is op sy troon herstel as iemand wat die voortreflikheid van God se heerskappy erken het (Daniël 4:20-37). Maar al hierdie dinge het ’n groter betekenis gehad, en daarom is dit in die Bybel opgeteken.
8. (a) Om watter koninkryk gaan die groter betekenis van die profesie? (b) Wat word in die groter vervulling deur die afkapping van die boom voorgestel, en hoe is ‘’n dierehart daaraan gegee’?
8 Die groter betekenis staan in verband met ’n magtiger heerskappy wat alle lewende dinge op aarde tot voordeel sou strek. Volgens die profesie sou dit “vir alles voedsel” voorsien en selfs beskerming aan diere en voëls verleen (Daniël 4:12). Die enigste heerskappy wat waarlik hierdie voordele kan bied, is die Koninkryk van God. Hierdie regering se regverdige beginsels is toegelig deur die geskiedenis van Juda, met sy konings in Jerusalem. Maar omdat Juda ontrou was, het Jehovah toegelaat dat hulle in 607 v.G.J. deur Babilon verower word. Dit was asof die boom in die droom afgekap en bande van bedwang om die onderstam gebind is. Volksregerings het sedertdien sonder goddelike inmenging wêreldheerskappy uitgeoefen. Aangesien hierdie nasionale koninkryke in die Bybel as “diere” uitgebeeld word, was dit asof ’n engel uit die hemel aangekondig het: “Laat . . . ’n dierehart aan hom gegee word, en laat sewe tydperke oor hom heengaan” (Daniël 4:16; 8:1-8, 20-22). Maar mettertyd sou daardie “sewe tydperke” van heerskappy deur dierlike regerings verstryk. Dan sou die ‘bande’ verwyder word en sou die “boom” weer groei wanneer die een aan wie Jehovah “die koningskap oor die wêreld” sou gee, begin het om wêreldheerskappy uit te oefen.
9, 10. (a) Hoe lank is elke “tyd” by die berekening van die “sewe tydperke”, en hoe toon die Bybel dit? (b) Wanneer het die “sewe tydperke” begin, oor hoeveel jare strek hulle en wanneer eindig hulle?
9 Hoe lank sou daardie “sewe tydperke” wees? Baie langer as sewe jaar, want eeue later het Jesus Christus aangetoon dat hierdie vasgestelde “tye van die nasies” nog nie verstryk het nie. Hulle het sedert Babilon se verowering van Jerusalem in 607 v.G.J. wêreldheerskappy gevoer en sou voortgaan om dit nog ’n ruk lank te doen.—Lukas 21:24.
10 Kyk self hoe die Bybel van profetiese “tye” of “tydperke” praat. Openbaring 11:2, 3 toon dat 1 260 dae gelyk is aan 42 maande, of drie en ’n half jaar. Openbaring 12:6, 14 meld dieselfde getal dae (1 260), maar praat daarvan as “’n tyd [1] en tye [2] en ’n halwe tyd”, of drie en ’n half “tye”. Elk van daardie “tye” is 360 dae (3 1/2 × 360 = 1 260). Elke dag van hierdie profetiese “tye” staan vir ’n hele jaar volgens die beginsel “vir elke dag een jaar” (Numeri 14:34; Esegiël 4:6). Die “sewe tydperke” is gevolglik gelyk aan 2 520 jaar (7 × 360). As ons tel vanaf die noordelike herfs van 607 v.G.J., toe God se tipiese koninkryk in Juda deur Babilon omvergewerp is, bring 2 520 jaar ons by die noodelike herfs van 1914 G.J. (606 1/4 + 1913 3/4 = 2 520). Dit is die jaar toe “die koningskap oor die wêreld” aan Jesus Christus toevertrou sou word.
11. Wat sê geskiedkundiges oor die betekenis van die jaar 1914?
11 Nadat Jehovah se Getuies bekend gemaak het dat die Bybel op 1914 wys, moes hulle etlike dekades wag voordat hulle die uitslag gesien het. Vroeg in 1914 het die vreedsaamheid van die wêreld baie laat dink dat daar niks gaan gebeur nie. Maar voor die einde van die noordelike somer is die Getuies se vertroue geregverdig toe die wêreld in ’n ongeëwenaarde oorlog gedompel is. In ’n resensie van die boek 1914 het geskiedkundige A. L. Rowse geskryf: “As daar ooit ’n jaar was wat die einde van een tydperk en die begin van ’n ander aangedui het, dan was dit 1914. Daardie jaar het die ou wêreld met sy gevoel van veiligheid ten einde gebring en ’n nuwe tydperk ingelui, ’n tydperk wat gekenmerk word deur die onveiligheid wat ons daaglikse lot is.”44 ’n Berig oor Britse staatsman Winston Churchill het gesê: “Die skoot wat op 28 Junie 1914 in Sarajevo afgevuur is, het die wêreld van veiligheid en skeppende denke verpletter . . . Die wêreld was nooit weer dieselfde plek nie. . . . Dit was ’n keerpunt, en die wonderlike, rustige, aantreklike wêreld van gister het verdwyn, om nooit weer te verskyn nie.”45 Daardie jaar, wat eeue tevore deur Bybelprofesie aangewys is, was inderdaad ’n keerpunt in die geskiedenis.
12. Wat was die rede vir die groot omwenteling in mense-aangeleenthede in 1914 en daarna?
12 Dit lyk aanvanklik miskien vreemd dat Christus se troonsbestyging deur ongeëwenaarde oorlog op aarde gekenmerk sou word. Maar moenie vergeet dat Satan die Duiwel “die owerste van hierdie wêreld” is nie (Johannes 14:30). Hy wou nie sien dat God se Koninkryk in beheer van die aarde se aangeleenthede is nie. Om die aandag van die Koninkryk af te trek, het hy sake so bewerkstellig dat mense ’n oorlog begin voer het om húlle aansprake op soewereiniteit te handhaaf. Die Bybel toon ook dat Satan en sy demone probeer het om die Koninkryksregering by sy geboorte te verslind. Met watter gevolg? “Daar het oorlog in die hemel gekom . . . En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.” Omdat Satan slegs “min tyd” oorgehad het, was hy baie toornig (Openbaring 12:3-12). Negentien eeue tevore het die Bybel ons ’n akkurate beskrywing van die gevolg gegee.
(2) Gebeure met besondere betekenis
13. Wat het daartoe aanleiding gegee dat Jesus ‘die teken van sy teenwoordigheid en van die voleinding van die wêreld’ gegee het?
13 In die jaar 33 G.J. het Jesus ‘die teken van sy teenwoordigheid en van die voleinding van die wêreld’ breedvoerig beskryf. Dit is opgeteken in Mattheüs hoofstukke 24 en 25, Markus 13 en Lukas 21. Terwyl Jesus saam met ’n groep van sy dissipels in Jerusalem was, het hy die vernietiging van die tempel aldaar voorspel. Toe het sy dissipels gevra: “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms [“teenwoordigheid”, NW] en van die voleinding van die wêreld?”—Mattheüs 24:1-3.
14. Meld sommige van die betekenisvolle gebeure wat Jesus by “die teken” ingesluit het.
14 Jesus het in antwoord daarop gesê: “Julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ’n begin van die smarte.” Hy het ook gewaarsku dat ‘die ongeregtigheid sal vermeerder’. En daarom, so het hy gesê, sou “die liefde van die meeste verkoel”. Dit is ook betekenisvol dat hy voorspel het: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Mattheüs 24:4-14.
15, 16. (a) Is enige van Jesus se profesieë vervul voordat Jerusalem in 70 G.J. vernietig is? (b) Hoe weet ons dat daar nog ’n vervulling, selfs ’n belangriker een, moet wees?
15 Maar die vraag kan gestel word: ‘Is sommige van daardie profesieë nie vervul voor die vernietiging van Jerusalem deur die Romeine in die jaar 70 G.J. nie?’ Ja, party is vervul. Maar daar sou ’n verdere vervulling wees, soos die profesieë self toon. Jesus het weliswaar ’n vraag beantwoord wat van onmiddellike belang vir sy dissipels was. Maar hy het die geleentheid gebruik om inligting te verstrek oor die tyd in die verre toekoms wanneer “die Seun van die mens . . . met groot krag en heerlikheid” sou kom en wanneer “die koninkryk van God” naby sou wees.—Lukas 21:27, 31.
16 Hierdie dinge het natuurlik nie gebeur voor Jerusalem in 70 G.J. vernietig is nie. Die laaste boek van die Bybel, wat omstreeks 96 G.J. geskryf is, toon dat hierdie gebeure wat met die Koninkryk in verband staan nog toekomstig was (Openbaring 1:1; 11:15-18; 12:3-12). In simboliese taal toon Openbaring dat die oorloë, voedseltekorte en pessiektes wat Jesus voorspel het nog toekomstige gebeure was en op ’n buitengewone skaal sou plaasvind. Dit sou die tyd kenmerk wanneer Christus sy oorwinning oor al die teenstanders van God se Koninkryk sou begin en voltooi (Openbaring 6:1-8). Die feit dat sommige dele van Jesus se profesie wel in die eerste eeu vervul is, het dit as waar beseël en gegronde rede gebied vir vertroue in al die ander dinge wat Jesus gesê het sou gebeur.
17. Is toestande in die wêreld vandag baie anders as wat die geval voor 1914 was?
17 Het hierdie profesieë die groter, vollediger vervulling in hierdie 20ste eeu ondergaan? Oningeligte mense onder 70 meen moontlik dat ons tye normaal is omdat hulle nie ’n tyd onthou toe dinge anders was nie. Maar ouer persone, en ook diegene wat met die geskiedenis vertroud is, weet dat dit nie die geval is nie. Een geskiedenisboek het die volgende oor die gebeure van 1914 gesê: “Net vyftien lande het nie by die oorlog betrokke geraak nie . . . Maar onder hulle was daar geen groot land wat die mag sou gehad het om as bemiddelaar ten behoewe van vrede op te tree nie. Dit het nog nooit in die wêreldgeskiedenis gebeur nie; geen oorlog het nog ooit sulke afmetings aangeneem nie. Die profesie van die Heilige Bybel: ‘Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander’, is letterlik vervul.”46
18. Waarom sou ons ons misgis indien ons die gevolgtrekking sou maak dat algemene oorlog die hele “teken” uitmaak?
18 Maar sulke dinge was nie al deel van wat Jesus gesê het “die teken” sou wees nie. Hy het ’n illustrasie gebruik en gesê: “Let op die vyeboom en al die bome. Net soos hulle bot, weet julle vanself, as julle dit sien, dat die somer al naby is. So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie” (Lukas 21:29-32). As jy net een boom ontydig sien bot, sal jy nie dink dat die somer ophande is nie. Maar wanneer jy al die bome op die regte tyd sien bot, weet jy wat dit beteken. Jesus het insgelyks voorspel dat sy “teenwoordigheid” en “die voleinding van die wêreld” nie net deur oorlog gekenmerk sou word nie, maar deur ’n aantal dinge wat almal in die lewe van een geslag sou plaasvind.
19. (a) Hoe is die verskillende aspekte van “die teken” sedert 1914 vervul, soos die bygaande tabel aandui? (b) Waarom het vroeëre oorloë, voedseltekorte, aardbewings, ensovoorts nie “die teken” uitgemaak waarvan Jesus gepraat het nie?
19 Het daardie dinge plaasgevind? Wanneer jy die bygaande tabel met die opskrif “Wat is die teken?” bestudeer, sal jy moontlik onthou dat jy van oorloë in vorige eeue gelees het. Maar die Eerste Wêreldoorlog het duidelik van al die ander verskil en was ’n keerpunt in die geskiedenis. Jy sal moontlik ook onthou dat voedseltekorte, pessiektes, aardbewings, tye van ongeregtigheid en buitengewone pogings om vrede en veiligheid te bevorder voor 1914 voorgekom het. Maar in geen ander tyd in die geskiedenis het al hierdie dinge met sulke oorweldigende afmetings in een geslag plaasgevind nie. Eerlik waar, as die gebeure sedert 1914 nie die teken vervul nie, wat is dan nog nodig? Ons lewe sonder twyfel in die tyd van Jesus se “teenwoordigheid” in Koninkryksmag.
20, 21. Hoe was die gebeurtenisse verbonde aan die Eerste Wêreldoorlog slegs “’n begin van die smarte”, soos Jesus voorspel het?
20 Die verskyning van aspekte van “die teken” het nie beteken dat God se Koninkryk goddeloosheid dadelik van die aarde af sou wegvee nie. Soos Jesus voorspel het, is “al hierdie dinge . . . ’n begin van die smarte” (Mattheüs 24:8). Ander sou volg. The World Book Encyclopedia sê: “Die Eerste Wêreldoorlog en die nadraai daarvan het gedurende die vroeë dertigerjare tot die grootste ekonomiese depressie in die geskiedenis gelei. Die gevolge van die oorlog en die probleme met vredesaanpassing het tot onrus in feitlik elke nasie gelei.”47 ’n Paar jaar later het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek. Dit was baie afgrysliker as die eerste. Sedertdien het geringskatting van die lewe en eiendom toegeneem en het vrees vir misdade ’n deel van die daaglikse lewe geword. Sedes is oorboord gegooi. Die bevolkingsontploffing skep probleme wat nie opgelos word nie. Besoedeling bederf die lewensgehalte en hou ’n bedreiging in vir lewe. En daar is ook die bedreiging van ’n kernslagting.
21 Wanneer het hierdie “smarte” begin? Londen se Star het opgemerk: “’n Geskiedskrywer in die volgende eeu kan tereg tot die gevolgtrekking kom dat . . . 1914 die dag was toe die wêreld kranksinnig geword het.”48 Daardie jaar, 1914, is lank tevore deur Bybelprofesie aangewys.
(3) Merkwaardige godsdiensontwikkelinge
22. (a) Waarmee het Jesus sy voorspelling oor ’n vermeerdering van die ongeregtigheid en die verkoeling van die liefde geassosieer? (b) Hoe het die leringe van die geestelikes tot hierdie situasie bygedra?
22 Die betekenisvolle gebeure wat Jesus gesê het “die voleinding van die wêreld” sou kenmerk, sluit die volgende in: “Baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Mattheüs 24:11, 12). Jesus het die vermeerdering van die ongeregtigheid of wetteloosheid en die verkoeling van die liefde verbind met die invloed van valse profete—godsdiensleraars wat valslik daarop aanspraak maak dat hulle namens God spreek. Hierdie boek het vroeër getuienis aangebied dat die geestelikes die oorloë van die nasies gesteun, die Bybel se sedelike standaarde as outyds gekleineer en dele van die Bybel as onwaar bestempel het. Met watter gevolg? ’n ‘Verkoeling’ van liefde vir God en sy wette. Dit was ’n belangrike faktor by die sedelike verval tesame met minagting vir gesag en die gebrek aan besorgdheid oor ander.—2 Timotheüs 3:1-5.
23, 24. Wat het die afgelope jare met godsdiens gebeur?
23 As gevolg van sulke toestande het miljoene mense godsdiensorganisasies verlaat. Sommige wend hulle tot die Bybel en skik hulle daarna. Ander onttrek hulle uit teleurstelling en weersin. Baie word vyande van godsdiens. Een rubriekskrywer het gesê: “’n Mens kan nie anders as om getref te word deur die mate waarin die wêreld se moeilikheid in godsdiens gewortel is nie. En min sekulêre politieke mededinging wek ooit die bloeddorstige ywer van godsdiensoorlog.” In die lig hiervan het hy gevra: “Waarom nie godsdiens afskaf nie?”49
24 Die agteruitgang van die vernaamste godsdienste is deeglik gedokumenteer. ’n Verslag oor Italië toon byvoorbeeld dat hoewel 95 persent van die mense hulself as Katolieke bestempel, “kerkbywoning op Sondae op minder as 20 persent geskat word”.50 ’n Ander verslag toon dat die getal priesters dwarsoor die wêreld in tien jaar met 25 000 afgeneem het.51 In die Verenigde State het ’n kerkstudie ’n verdere “afname van tot 50 persent in die Amerikaanse Katolieke priesterdom teen die jaar 2 000” voorspel.52 U.S.News & World Report het melding gemaak van “’n geweldige afname in die getal manne wat by Katolieke kweekskole” in die Verenigde State inskryf, van ’n hoogtepunt van 48 992 tot 11 262 in minder as 20 jaar.53 The New York Times het berig dat die getal nonne wêreldwyd in 15 jaar “van 181 421 tot 121 370 afgeneem het”.54 In die meeste godsdienste is die toedrag van sake dieselfde.
25. (a) Wat toon die Bybel sou daarenteen in hierdie tyd met ware aanbidding gebeur? (b) Onder wie se leiding geskied hierdie versameling van aanbidders van die ware God, en op grond waarvan? (c) Voor watter geskil word mense van alle nasies gestel?
25 Die Bybel toon daarenteen dat “’n groot menigte” uit alle nasies in hierdie tyd van die einde na die aanbidding van Jehovah getrek sou word. Jesus het hierdie versameling voorspel toe hy gesê het dat hy mense van mekaar sou skei, hetsy vir bewaring deur “die groot verdrukking” of vir “ewige straf” (Openbaring 7:9, 10, 14; Jesaja 2:2-4; Mattheüs 25:31-33, 46). Wat is dit wat mense vir oorlewing afskei? Die Bybel antwoord: “Die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:17). En hoe sou mense weet wat God se wil is? Deur gunstig te reageer op die wêreldwye onderrigtingswerk wat Jesus voorspel het toe hy gesê het: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14). Hierdie prediking stel mense van alle nasies voor die geskil: Is hulle vír heerskappy deur God? Of wil hulle, in ooreenstemming met Satan se aansporing in Eden, onafhanklike heerskappy deur die mens hê? Jehovah bied mense die geleentheid om te kies.
26, 27. (a) In watter mate is hierdie getuieniswerk reeds gedoen? (b) Waarom is ’n mens se reaksie op die Koninkryksboodskap ’n ernstige saak?
26 ’n Wêreldwye Koninkryksgetuienis word al hoe kragtiger gelewer. In meer as 200 lande besoek miljoene getuies van Jehovah mense by hulle huise en bied hulle aan om die Bybel gratis saam met hulle te bestudeer. Die publikasies wat hulle gebruik, is die Bybelpublikasies met verreweg die grootste verspreiding op aarde. Trouens, wat verspreiding betref, is hulle van die voorstes onder publikasies van enige aard. En hulle is beskikbaar in meer as 190 tale.
27 Hierdie skeidingswerk is reeds baie jare al aan die gang. Dit is nou haas gedaan. Volgens God se Woord sal diegene wat sy Koninkryksheerskappy verwerp asook diegene wat die geleentheid om van hom te leer onverskillig laat verbygaan, vernietig word (Mattheüs 25:34, 41, 46; 2 Thessalonicense 1:6-9). Vir ander wat hulself as ondersteuners van God se Koninkryk identifiseer, sal dit ’n tyd van groot verligting wees. Maar wanneer gaan hierdie oordeel kom?
(4) ‘Hierdie geslag sal nie verbygaan nie’
28. Binne watter tydperk het Jesus gesê sou die voorspelde wêreldvernietiging kom?
28 Jesus het gesê: “Van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.” Jesus het egter ’n nuttige aanduiding van die tyd gegee toe hy gesê het: “Hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie” (Mattheüs 24:34, 36). Al die verskillende aspekte van “die teken”, sowel as die “groot verdrukking”, moet dus in die lewe van een geslag—die geslag van 1914—plaasvind. Dit beteken dat sommige ooggetuies van die gebeure van 1914, toe “die voleinding van die wêreld” begin het, nog sou lewe om die einde daarvan te sien wanneer die “groot verdrukking” uitbreek. Diegene wat die gebeurtenisse van 1914 onthou, is nou bejaard. Die meeste van hulle het reeds gesterf. Maar Jesus het ons verseker dat “hierdie geslag . . . sekerlik nie [sal] verbygaan” voordat hierdie goddelose stelsel vernietig word nie.—Mattheüs 24:21.
29. Hoe het God dit vir mense makliker gemaak om die regte besluit te neem deur toe te laat dat gebeure sedert 1914 tot die huidige mate ontwikkel?
29 Hoe lankmoedig was God tog om hierdie geleentheid vir bekering te verleng! (2 Petrus 3:9). Vir die eerste keer in die geskiedenis het die een probleem na die ander reuse-afmetings aangeneem—oorlog, besoedeling, oorbevolking, en nog meer. Enigeen van hulle kan tot algehele uitwissing lei. Deur sulke getuienis te laat ophoop, het God dit vir mense makliker gemaak om te sien dat die mens nie die oplossings het nie. Terselfdertyd het die verkondiging van die “evangelie van die koninkryk” regskapenes gehelp om te besef dat die Koninkryk van God die enigste hoop op ware vrede en veiligheid is. God gee hulle dus tyd om hulle aan sy kant van die groot geskil te skaar.
(5) ’n Finale teken
30. Watter finale teken van die nabyheid van wêreldvernietiging word in die Bybel aangegee?
30 Daar is egter nog een gebeurtenis wat moet plaasvind as ’n onmiskenbare teken dat wêreldvernietiging ophande is. Die apostel Paulus het hieroor geskryf: “Die dag van die Here [“Jehovah”, NW] kom net soos ’n dief in die nag. Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ’n skielike verderf hulle . . . en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.”—1 Thessalonicense 5:2, 3; Lukas 21:34, 35.
31, 32. (a) Sal die “vrede en veiligheid” wat deur politieke heersers uitgeroep word eg wees? (b) Waarom sal dit gevaarlik wees om ’n mens daardeur te laat mislei?
31 Die wêreld se leiers weet dat ’n kernoorlog feitlik uitwissing sal beteken. Daarbenewens verg kritieke probleme soos besoedeling, die bevolkingsontploffing en huishoudelike vraagstukke aandag en geld. Hulle wil dus hê dat die gespanne internasionale verhoudinge moet verbeter. ’n Blyk hiervan is die feit dat die Verenigde Volke 1986 uitgeroep het as die ‘internasionale jaar van vrede en veiligheid’. Dit is ongetwyfeld ’n stap in die rigting van die vervulling van Paulus se woorde wat hierbo aangehaal is. Politieke onderhandelinge en verdrae bring natuurlik geen ware veranderinge in mense teweeg sodat hulle mekaar liefhet nie. Dit maak nie ’n einde aan misdadigheid en skakel ook nie siekte en die dood uit nie. Die profesie toon egter dat die tyd sal aanbreek wanneer die nasies sal sê dat hulle ’n mate van “vrede en veiligheid” bereik het. Wanneer dit gebeur, sal “skielike verderf” daardie bedrieërs van die mensdom, tesame met almal wat op hulle vertrou, “oorval”.
32 Maar daar sal oorlewendes wees. Sal jy onder hulle wees?
[Venster op bladsy 78, 79]
“Wat is die teken?”
“Die een nasie sal teen die ander opstaan”—
“Die Eerste Wêreldoorlog het die eeu van Totale Oorlog—in die eerste volle sin van die uitdrukking—globale oorlog, ingelui. . . . Nooit voor 1914-1918 het ’n oorlog . . . so ’n groot deel van die aarde oordek nie. . . . Nog nooit was die slagting so omvangryk en sonder onderskeid nie.”—World War I, deur H. Baldwin.
Die Eerste Wêreldoorlog het die lewens van 14 miljoen soldate en burgerlikes geëis; die Tweede Wêreldoorlog het 55 miljoen lewens geëis. Sedert die Tweede Wêreldoorlog het honderde staatsgrepe, opstande en oorloë die lewens van nagenoeg 35 miljoen mense geëis.
Sedert 1914 het oorlog dus meer as 100 miljoen lewens geëis!
“Daar sal hongersnode wees”—
Na die Eerste en Tweede Wêreldoorlog het voedseltekorte baie lande geteister.
Nou, ondanks jare van wetenskaplike vooruitgang, is byna ’n kwart van die wêreld honger. Na skatting sterf daar jaarliks 12 miljoen kinders voor hulle eerste verjaarsdag weens ondervoeding. Jaarliks sterf daar ook miljoene ander om dieselfde rede.
“Pessiektes”—
Geen aangetekende pessiekte het ooit die Spaanse griep van 1918-1919 geëwenaar nie. Ten minste 500 miljoen mense het die griep gekry; meer as 20 miljoen het gesterf.
Mediese navorsing kon nie verhoed dat dinge soos hartkwaal epidemiese afmetings aanneem nie. Kanker is ’n verergerende plaag. Die getal seksueel oordraagbare siektes het die hoogte ingeskiet.
“Aardbewings” op baie plekke—
Skattings van sterftesyfers wissel na gelang van die bronne. Maar hier is ’n paar voorbeelde: 30 000 tot 32 000 het in 1915 in ’n aardbewing in Italië omgekom; 100 000 tot 200 000 in 1920 in China; 95 000 tot 150 000 in 1923 in Japan; 25 000 tot 60 000 in 1935 in Indië; 12 000 tot 20 000 in 1968 in Iran; 54 000 tot 70 000 in 1970 in Peru; 20 000 tot 23 000 in 1976 in Guatemala; 100 000 tot 800 000 in 1976 in China. Sedert 1914 het derduisende ander in honderde groot aardbewings oor die hele aarde omgekom.
Gegewens uit verskeie bronne toon dat die gemiddelde getal ernstige aardbewings elke jaar sedert 1914 baie groter was as die gemiddelde getal vir die 2 000 voorafgaande jare.
“Die ongeregtigheid [sal] vermeerder”—
Jy ken die feite. Toenemende misdadigheid raak elke land op aarde. Jou eie lewe word daardeur geraak. Wat gebeur in julle gemeenskap in die skole? Word dwelms onwettig in julle buurt gebruik? Wat van oneerlikheid in die sakewêreld? Hoe veilig voel jy saans op straat?
Die ongeregtigheid is nie slegs die verwerping van mensewette nie, maar is veral die verwerping van God se wet. (Kyk 2 Timotheüs 3:1-5, 13.)
God se Koninkryk word oor die hele wêreld verkondig—
Hierdie werk word gereeld deur miljoene getuies van Jehovah in meer as 200 lande gedoen.
Gedurende net die afgelope tien jaar het Jehovah se Getuies ongeveer viermiljard uur aan die openbare verkondiging van hierdie boodskap gewy. In dieselfde tydperk het hulle meer as 5 miljard stukke drukwerk wat op God se Koninkryk as die mens se enigste hoop wys in ongeveer 190 tale uitgegee.
Die aankondiging van “vrede en veiligheid”—
Leiers besef dat vrede nodig is om ’n kernramp af te weer en hulle verergerende probleme aan te pak. ’n Stap in hierdie rigting is die Verenigde Volke se besluit om 1986 as die jaar van “vrede, internasionale veiligheid en samewerking” uit te roep.—Algemene Vergadering, Nommer 32 op die agenda, 39ste sitting.
Waarvan is al hierdie dinge “die teken”? Dat ons nou in “die voleinding van die wêreld” lewe. Dat Christus sy hemelse troon bestyg het en besig is om diegene wat waarlik die wil van God wil doen onder die mense van al die nasies af te skei. Dat die “groot verdrukking” voor die deur is. Lees Mattheüs hoofstukke 24 en 25, Markus 13 en Lukas 21 vir nadere besonderhede.