Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • tp hfst. 5 bl. 43-54
  • ’n Geskil wat jou raak

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Geskil wat jou raak
  • Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die oorsprong van verset teen goddelike heerskappy
  • Die geskille wat geopper is
  • Wat na verloop van tyd geopenbaar is
  • Waarom goddeloosheid voortduur
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Menselyding—Waarom laat God dit toe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Die geskil waarby ons almal betrokke is
    Aanbid die enigste ware God
  • ’n Veilige toekoms—Hoe jy dit kan vind
    ‘n Veilige toekoms—Hoe jy dit kan vind
Sien nog
Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
tp hfst. 5 bl. 43-54

Hoofstuk 5

’n Geskil wat jou raak

1. Waarom vind mense dit moeilik om te verstaan waarom God boosheid onder die mensdom toegelaat het?

ONDANKS die gemeenskaplike begeerte na vrede en veiligheid is die mens se geskiedenis deur bloedvergieting en gemeenheid beklad. Die Bybel toon dat God sulke dinge verafsku. Waarom het hy dan nog nie ’n einde aan hierdie toestande gemaak nie? Dit is tog seker nie weens ’n gebrek aan belangstelling nie. Die Bybel sowel as die prag van God se aardse handewerk lewer oorvloedige bewys van sy liefde vir en besorgdheid oor die mensdom (1 Johannes 4:8). Nog belangriker, die eer van God se naam self is op die spel, want hierdie toestande het mense hom laat smaad. Hoekom het hy dan duisende jare van onrus en geweld geduld?

2. (a) Waar in die Bybel leer ons waarom God slegte toestande so lank toegelaat het? (b) Waaruit blyk dit dat die Bybelverhaal oor Adam en Eva geskiedkundig is?

2 Ons vind die antwoord in die Bybel se openingsverhaal oor Adam en Eva. Dit is nie bloot ’n allegorie nie. Dit is ’n geskiedkundige feit. Die Bybel gee ’n volledige, gedokumenteerde geslagsregister wat van die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling teruggaan tot by die eerste mense (Lukas 3:​23-38; Genesis 5:​1-32; 11:​10-32). As ons eerste voorouers het Adam en Eva ’n duidelike invloed op ons gehad. En wat die Bybel ons omtrent hulle meedeel, help ons om die omstandighede wat ons lewens vandag beïnvloed te verstaan.

3. Watter soort voorsieninge het God aanvanklik vir die mens gemaak?

3 Die Bybel toon dat al God se voorsieninge vir die eerste mensepaar baie goed was. Hulle het alles gehad wat hulle vir ’n gelukkige lewe nodig gehad het—’n parkagtige tuiste in Eden, ’n groot verskeidenheid voedsel, bevredigende werk, die vooruitsig om te sien hoe hulle gesin aanwas en die aarde vul, en die seën van hulle Skepper (Genesis 1:​28, 29; 2:​8, 9, 15). Wie kon redelikerwys meer vra?

4. (a) In watter opsigte het mense net na hulle skepping van ander aardse skepsele verskil? (b) Hoe is hulle van die nodige leiding voorsien?

4 Die geïnspireerde verslag in Genesis toon dat mense ’n unieke posisie op aarde beklee het. In teenstelling met diere het hulle ’n sedelikheidsgevoel gehad en was hulle met ’n vrye wil begaaf. Dit is waarom hulle met denk- en oordeelsvermoë toegerus is. Om hulle te lei, het God die man en vrou ’n gewete gegee sodat hulle, as volmaakte mense, normaalweg tot die goeie geneig sou wees (Romeine 2:​15). Daarbenewens het God hulle meegedeel waarom hulle gelewe het, wat hulle moes doen en wie al die wonderlike dinge om hulle heen voorsien het (Genesis 1:​28-30). Hoe verklaar ons dan waarom daar nou sulke slegte toestande heers?

5. (a) Watter eenvoudige vereiste het God aan die eerste mensepaar gestel, en waarom? (b) Waarom het hulle lewensvooruitsigte vir die toekoms tereg op die spel gestaan?

5 Die Skriftuurlike verslag toon dat ’n geskil ontstaan het—’n geskil wat elkeen van ons vandag raak. Dit het ontstaan as gevolg van omstandighede wat nie lank ná die skepping van die eerste mensepaar ontwikkel het nie. God het die man en die vrou die geleentheid gebied om liefdevolle waardering vir hulle Skepper te toon deur ’n vereiste na te kom. Die vereiste het geensins te kenne gegee dat hulle ontaarde neigings gehad het wat in bedwang gehou moes word nie. Dit het eerder in verband gestaan met iets wat op sigself normaal en geoorloof was—die eet van voedsel. God het vir die man gesê: “Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (Genesis 2:​16, 17). Hierdie vereiste het die eerste paar niks ontsê wat hulle nodig gehad het om te lewe nie. Hulle kon van al die ander bome in die tuin eet. Maar hulle lewensvooruitsigte vir die toekoms het beslis op die spel gestaan, en tereg so. Waarom? Omdat die Een wat gehoorsaamheid vereis het inderdaad die Bron en Onderhouer van menselewe is.

6. (a) Ons eerste ouers kon vir ewig gelewe het mits hulle in ooreenstemming met watter grondwaarheid ten opsigte van heerskappy opgetree het? (b) Waarom moes hulle die drang gehad het om God te gehoorsaam?

6 Dit was nie God se voorneme dat mense moes sterf nie. Die dood is nie aan Adam en Eva gemeld nie, behalwe in verband met ongehoorsaamheid. Ons eerste ouers het die vooruitsig gehad om vir ewig in hulle vreedsame parktuiste te woon. Wat is van hulle verwag as hulle dit wou verseker? Hulle moes erken dat die aarde waarop hulle gewoon het, behoort aan die Maker daarvan, en dat God, as die Skepper, tereg gesag oor sy skepping uitoefen (Psalm 24:​1, 10). Hierdie God wat aan die mens alles geskenk het wat hy nodig het, die lewe inkluis, het tog seker gehoorsaamheid verdien aan enigiets wat hy van hulle vereis het. Hy wou egter nie hê dat daardie gehoorsaamheid geforseerd moes wees nie. Dit moes eerder uit gewillige harte kom en uit liefde getoon word (1 Johannes 5:3). Maar ons eerste mense-ouers het in gebreke gebly om sulke liefde te betoon. Hoe het dit gebeur?

Die oorsprong van verset teen goddelike heerskappy

7. (a) Waar, volgens die Bybel, het verset teen God se heerskappy begin? (b) Waarom is dit redelik om aan die geesteryk te glo?

7 Die Bybel toon dat verset teen God se heerskappy nie sy oorsprong op die aarde gehad het nie, maar in ’n ryk wat vir mense-oë onsigbaar is. Moet ons, soos baie, aan die bestaan van so ’n ryk twyfel net omdat ons dit nie kan sien nie? Ons kan immers nie swaartekrag sien nie, en ook nie die wind nie. Hulle het egter ’n wesenlike uitwerking. Ons kan eweneens die uitwerking van die onsigbare ryk waarneem. “God is Gees”, maar tog kan sy skeppingswerke rondom ons gesien word. As ons aan hom glo, is ons verplig om aan ’n geesteryk te glo (Johannes 4:​24; Romeine 1:​20). Maar woon enigiemand anders in daardie ryk?

8. Watter soort persone is die engele?

8 Volgens die Bybel is miljoene geespersone, engele, voor die mens in aansyn geroep (Job 38:​4, 7; Psalm 103:​20; Daniël 7:​10). Hulle is almal volmaak geskape, sonder bose neigings. Maar net soos God se latere skepping, die mens, het hulle ’n vrye wil ontvang. Hulle kon gevolglik ’n weg van getrouheid of van ontrouheid teenoor God kies.

9, 10. (a) Hoe is dit moontlik vir ’n volmaakte geesskepsel om ’n neiging tot die kwaad te hê? (b) Hoe het een van die engele dan Satan geword?

9 Maar baie stel die vraag: Hoe kon enigeen van hulle, as volmaakte wesens, dan selfs die neiging hê om kwaad te doen? Wel, hoeveel keer ontstaan daar in ons eie lewe omstandighede wat ons voor verskillende moontlikhede stel—party goed, party sleg? Die feit dat ons die intelligensie besit om die slegte moontlikhede raak te sien, maak ons nie outomaties sleg nie, nie waar nie? Die eintlike vraag is: Op watter weg gaan ons ons gedagtes en hart vestig? As ons ons besig hou met skadelike gedagtes, kan ons verkeerde begeertes in ons hart begin kweek. Sulke begeertes kan ons mettertyd verkeerde dinge laat doen. Hierdie verderflike kringloop is deur die Bybelskrywer Jakobus beskryf: “Elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.”—Jakobus 1:​14, 15.

10 Die Skrif toon dat dit met een van God se geesseuns gebeur het. Hy is deur sy eie begeertes verlok. Hy het gesien dat God se menseskepping vir hom moontlikhede bied. Kon hulle aan hom in plaas van aan God onderworpe wees? Hy het klaarblyklik begin om ten minste ’n deel van die aanbidding wat God toegekom het te begeer (Lukas 4:​5-8). Deur volgens sy begeerte te handel, het hy ’n teenstander van God geword. Daarom word hy in die Bybel Satan genoem, wat Teenstander beteken.—Job 1:6.

11. Watter betroubare grondslag het ons om te glo dat Satan werklik bestaan?

11 In hierdie materialistiese 20ste eeu is die opvatting dat daar ’n geespersoon soos Satan is nie gewild nie. Maar was gewilde idees al ooit ’n betroubare rigsnoer vir die waarheid? Onder diegene wat kwale bestudeer, was dit eens ongewild om te glo dat onsigbare kieme ’n faktor is. Maar nou is die invloed van kieme goed bekend. Die blote feit dat iets ongewild is, beteken dus beslis nie dat dit geïgnoreer kan word nie. Jesus Christus self het uit die geesteryk gekom en kon dus met gesag oor die lewe aldaar praat. Hy het Satan beslis as ’n bose geespersoon geïdentifiseer (Johannes 8:​23; Lukas 13:​16; 22:​31). Dit is slegs deur die bestaan van hierdie geesteenstander in aanmerking te neem dat ons kan begryp hoe sulke slegte toestande op hierdie aarde ontstaan het.

12. Hoe het Satan met die vrou Eva gekommunikeer, en waarom op daardie manier?

12 Die geïnspireerde verslag beskryf in Genesis hoofstuk 3 hoe Satan te werk gegaan het om sy verkeerde begeerte te bevredig. In die tuin van Eden het hy die vrou Eva genader op ’n wyse wat sy ware identiteit verberg het. Hy het gebruik gemaak van die dier wat die mensepaar dikwels gesien het—’n slang. Deur klaarblyklik gebruik te maak van wat ons buiksprekery sou noem, het hy dit laat lyk of sy woorde van hierdie skepsel af gekom het. Sy aangebore versigtigheid het goed gepas by die indruk wat Satan wou wek.—Genesis 3:1; Openbaring 12:9.

13. Wat het Satan aan Eva gesê, en met watter klaarblyklike doel?

13 In plaas van die vrou regstreeks te vra om hom as haar heerser aan te neem, het Satan eers probeer om twyfel in haar gedagte te wek deur te vra: “Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” Hy het in werklikheid gesê: ‘Dit is tog te jammer dat God gesê het julle mag nie van al die bome in die tuin eet nie.’ Daardeur het hy te kenne gegee dat God moontlik iets goeds van hulle weerhou het. Eva het geantwoord deur God se verbod, wat op net een boom geplaas is, aan te haal en te sê dat die straf vir ongehoorsaamheid die dood was. Daarop het Satan haar eerbied vir God se wet probeer ondermyn deur te sê: “Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken” (Genesis 3:​1-5). Wat sou jy in so ’n situasie gedoen het?

14. (a) Waarom het Eva Satan se slagoffer geword? (b) Wat het Adam gedoen?

14 Eva het toegelaat dat selfsugtige begeerte haar meesleep. Sy het die vrug geëet wat God verbied het. Daarna het haar man Adam, op haar aandrang, ook daarvan geëet. Hy het die kant van sy vrou eerder as die kant van sy Skepper gekies (Genesis 3:6; 1 Timotheüs 2:​14). Wat was die gevolg?

15. Wat verklaar gevolglik die misdade en geweld, asook die siekte en sterfte, wat die mens se bestaan gekenmerk het?

15 Die hele mensdom is in sonde en onvolmaaktheid gedompel. Adam en Eva kon nou nie aan hulle afstammelinge die volmaaktheid oordra wat hulle eens besit het nie. Net soos die replikas wat met ’n defekte gietvorm gemaak word almal dieselfde defek het, is al hulle afstammelinge in sonde gebore met ’n oorgeërfde neiging tot selfsug (Genesis 8:​21). Omdat hierdie neiging nie beteuel is nie, het dit aanleiding gegee tot al die euwels wat die mensdom van vrede en veiligheid beroof het. Dit is hierdie sonde-erfenis wat ook siekte en die dood tot gevolg gehad het.—Romeine 5:⁠12.

Die geskille wat geopper is

16, 17. (a) Wat moet ons besef as ons wil verstaan waarom God hierdie toestand so lank geduld het? (b) Wat is eintlik die geskil wat geopper is?

16 In die lig van hierdie feite dink ons terug aan die vraag: Waarom het God hierdie situasie geduld en so ver laat ontwikkel? Dit is as gevolg van ’n ernstige geskil wat geopper is en die gevolge daarvan vir die ganse heelal. Hoe so?

17 Deur aan te voer dat God se wet aan Adam en Eva nie vir hulle beswil was nie en deur God se verklaring oor die gevolge van ongehoorsaamheid te weerspreek, het Satan God se heerskappy bevraagteken. Nee, hy het nie betwis dat God die heerser is nie. Die geskil wat Satan geopper het, het eerder om die regmatigheid van Jehovah se heerskappy, Sy soewereiniteit, en die regverdigheid van Sy weë gegaan. Hy het listig aangevoer dat mense beter sou vaar as hulle onafhanklik optree deur hulle eie besluite te neem in plaas van hulle aan God se leiding te onderwerp (Genesis 3:​4, 5). Maar sodoende sou hulle in werklikheid die leiding van God se teenstander volg.

18. (a) Watter ander geskil was by die saak betrokke, en waar word dit in die Bybel getoon? (b) Hoe raak hierdie geskil ons?

18 Nog ’n geskil was by die saak betrokke. Aangesien hierdie skepsele van God daar in Eden teen hom in opstand gekom het, was die vraag: Wat sou ander doen? Later, in die dae van die man Job, het Satan openlik beweer dat diegene wat Jehovah dien, dit nie uit liefde vir God en sy heerskappy doen nie, maar om selfsugtige redes, omdat God hulle van alles voorsien. Satan het te kenne gegee dat niemand Jehovah se soewereiniteit lojaal sou steun indien daar druk op hulle uitgeoefen word nie. Die lojaliteit en onkreukbaarheid van elke intelligente skepsel in die hemel en op aarde is gevolglik in twyfel getrek. Die geskil raak jou dus ook.—Job 1:​8-12; 2:​4, 5.

19, 20. Watter geleentheid het Jehovah sy skepsele, geeste sowel as mense, gebied deurdat hy die opstandelinge nie dadelik vernietig het nie?

19 Wat sou Jehovah doen noudat hy voor so ’n uitdaging te staan gekom het? Hy kon Satan en Adam en Eva maklik vernietig het. Dit sou Jehovah se soewereine mag getoon het. Maar sou dit ’n antwoord verstrek het op die vrae wat nou opgekom het in die gedagtes van al God se skepsele wat hierdie verwikkelinge aanskou het? Die ewige vrede en veiligheid van die heelal het geverg dat hierdie vrae eens en vir altyd volkome besleg moet word. Daarbenewens is die onkreukbaarheid en lojaliteit van al God se intelligente skepsele in twyfel getrek. As hulle hom liefhet, sou hulle graag self ’n antwoord op daardie valse aantyging wou verstrek. Jehovah het hulle die geleentheid gebied om juis dit te doen. En deur toe te laat dat Adam en Eva kinders (hoewel onvolmaak) voortbring, sou God voorkom dat die mensegeslag uitsterf—’n geslag wat ons almal wat vandag lewe, insluit. Dit sou hierdie afstammelinge die geleentheid bied om self te kies of hulle goddelike heerskappy gaan gehoorsaam. Dit is daardie keuse wat jy nou moet doen!

20 In plaas van dadelik die doodstraf te voltrek, het Jehovah gevolglik daardie opstandelinge toegelaat om ’n ruk voort te bestaan. Adam en Eva is uit Eden uitgedryf om te sterf voordat duisend jaar verstryk het. (Genesis 5:5; vergelyk Genesis 2:​17 en 2 Petrus 3:8.) Satan sou ook te geleëner tyd vernietig word asof hy ’n slang is waarvan die kop vermorsel is.—Genesis 3:​15; Romeine 16:⁠20.

Wat na verloop van tyd geopenbaar is

21, 22. (a) Wat het Satan en die mensdom ten opsigte van heerskappy gedoen gedurende die tyd wat God toegelaat het? (b) Wat toon die mensegeskiedenis omtrent regering wat probeer om God te ignoreer?

21 Wat het die feit dat die regmatigheid van God se heerskappy bevraagteken is tot gevolg gehad? Het die mens homself bevoordeel deur sy eie sake te probeer bestuur? Die mensdom het die geleentheid gekry om elke denkbare regeringsvorm op die proef te stel. Jehovah het nie ’n einde aan die mens se pogings gemaak voordat die volle resultate gesien kon word nie. Selfs ’n eeu gelede sou te gou gewees het. Die mens het destyds net die “eeu van die tegnologie” betree en het net begin roem oor wat hy alles gaan doen.

22 Maar het ons nog ’n eeu nodig om te sien wat die uitslag van die mens se weg van onafhanklikheid van God sal wees? Selfs vooraanstaande staatsmanne en wetenskaplikes erken dat die aarde ernstige gevaar loop om geruïneer te word. God hoef beslis nie toe te laat dat dit heeltemal vernietig word om te bewys dat die mens se onafhanklike heerskappy ’n volslae mislukking is nie. Met die getuienis van sesduisend jaar oor wat gebeur wanneer regering God ignoreer, kan daar nooit gesê word dat daar nie genoeg tyd was om menseheerskappy te vervolmaak nie. Die feite toon dat geen regering onafhanklik van God ware vrede en veiligheid vir die hele mensdom kan bring nie.

23. Wat gaan binnekort gebeur om die weg te baan vir regverdige heerskappy oor die aarde deur God se Seun?

23 Soos ons later sal sien, het Jehovah God lank voor die tyd en met volmaakte tydsberekening ’n bepaalde geslag aangedui wat sou sien hoedat hy die heelal van alle opstandigheid teen sy goddelike heerskappy reinig. Nie alleen sal goddelose mense vernietig word nie, maar Satan en sy demone sal asof in ’n afgrond bedwing word sodat hulle nie die aangeleenthede van mense of engele kan beïnvloed nie. Dit sal die weg baan vir die regverdige heerskappy oor die aarde deur die regering van God se Seun. Gedurende ’n tydperk van duisend jaar sal daardie regering al die skade wat deur die mens se duisende jare van selfsugtige heerskappy aangerig is, ongedaan maak. Dit sal hierdie aarde se paradysagtige prag herstel en die gehoorsame mensdom weer ophef tot die volmaaktheid wat in Eden geniet is.—Openbaring 20:​1, 2; 21:​1-5; 1 Korinthiërs 15:​25, 26.

24. (a) Waarom gaan Satan en sy demone aan die einde van duisend jaar vrygelaat word? (b) Wat sal die uitslag daarvan wees?

24 Die Bybel sê dat Satan en sy demone aan die einde van daardie duisendjarige heerskappy ’n kort rukkie vrygelaat sal word. Waarom? Sodat almal wat dan lewe ’n geleentheid kan hê om te toon dat hulle lojaal aan Jehovah se soewereine heerskappy is. Tallose mense sal tydens die opstanding herrys het. Vir baie van hulle sal dit hulle eerste geleentheid wees om hulle liefde vir God tydens beproewing te toon. Die geskil sal dieselfde wees as een van dié wat in Eden geopper is—of hulle Jehovah se soewereiniteit deur getroue gehoorsaamheid gaan steun. Jehovah wil net diegene wie se liefde sulke lojaliteit voortbring as sy onderdane hê. Diegene wat hulle aan die kant van God se teenstander en sy demone wil skaar in dié se pogings om die vrede van God se heelal opnuut te verstoor, kan dit doen. Maar deur aldus regering deur God te versmaai, sal hulle vernietiging verdien. En hierdie keer sal dit spoedig kom, asof deur vuur uit die hemel. Alle opstandelinge, geeste en mense, sal dan vir ewig vernietig wees.—Openbaring 20:​7-10.

25, 26. Hoe het die wyse waarop Jehovah sake hanteer het elkeen van ons tot voordeel gestrek?

25 Die mensdom het inderdaad duisende jare lank baie gely. Maar dit was as gevolg van ons eerste ouers se keuse, nie God s’n nie. Hierdie hele tyd moes God smaad verduur en gruwels verdra. Maar God, vir wie ‘duisend jaar soos een dag is’, het ’n langtermynbeskouing van sake, en dit strek sy skepsele tot voordeel. Die geïnspireerde apostel het geskryf: “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Petrus 3:​8, 9). As dit nie vir God se geduld en lankmoedigheid was nie, sou geeneen van ons die geleentheid gehad het om gered te word nie.

26 Ons moet egter nie die gevolgtrekking maak dat God die afgelope sesduisend jaar net ’n lydelike rol gespeel het nie. Nee, hy het nie bloot goddeloosheid geduld, sy kans afgewag en self niks gedoen nie. Soos ons sal sien, toon die feite presies die teendeel.

[Prent op bladsy 51]

Satan het beweer dat alle mense hulle onkreukbaarheid sou prysgee en onafhanklik van God sou optree wanneer hulle beproef word

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel