Hoofstuk 4
Eers wêreldvernietiging—dan wêreldvrede
1-3. (a) Wat is die wêreldvernietiging waarteen menseleiers waarsku? (b) Waarom is dít nie die wêreldvernietiging wat die Bybel sê die weg vir blywende vrede en veiligheid sal baan nie?
VOLGENS Bybelprofesie moet daar eers ’n wêreldvernietiging plaasvind alvorens die mensdom ooit blywende vrede kan geniet (2 Petrus 3:5-7). Maar waarom is dit nodig? Uit watter oord sal die vernietiging kom? En wat beteken dit vir mense op hierdie planeet?
2 Ons moet egter besef dat die wêreldvernietiging wat die Bybel voorspel nie dieselfde is as die wêreldramp waarteen baie wêreldleiers, wetenskaplikes en ander waarsku nie. Die onheil waarvan hulle praat, sal glo kom in die vorm van ’n mensgemaakte ramp wat veroorsaak word deur dinge soos besoedeling of die kernwapenwedloop, of albei. Maar so ’n ramp sal natuurlik geen hoop op blywende vrede en veiligheid op die planeet laat nie.
3 Dit sal die aarde vir lewende wesens ruïneer. Kernstraling of die verwagte “kernwinter” sal oorlewendes byvoorbeeld nie in ’n beter toestand nie—dalk selfs in ’n slegter toestand—laat as die wat gesterf het. Oorlewing sal hoofsaaklik van die toeval afhang, hoewel die armes waarskynlik onder die eerstes sal wees wat ly. Watter hoop sou jy hê om onder die oorlewendes van so ’n ramp te wees? En gestel jy het dit oorlewe. Watter hoop sou jy hê dat die lewe nie weer in dieselfde deur twis geteisterde onsekerheid wat tans heers, sal verval nie?
Wat die Bybel voorspel, boesem hoop in
4. Wie gaan vernietig word in die wêreldvernietiging waarvan die Bybel praat?
4 Dit is die feit dat die wêreldvernietiging wat die Bybel voorspel selektief en doelgerig sal wees wat dit anders maak. Dit sal nie ’n ramp wees wat kom bloot as die klimaks van menslike foute nie. Dit sal nie blindelings dood saai nie, maar slegs diegene wat werklik verdien om vernietig te word van die aarde af uitwis. Hierdie soort wêreldvernietiging strook met die goddelike beginsel in Spreuke 2:21, 22: “Want die opregtes sal die land bewoon, en die regskapenes daarin oorbly, maar die goddelose sal uit die land uitgeroei, en die ontroues sal daaruit weggeruk word.”
5, 6. (a) Wat gaan gedurende daardie wêreldvernietiging met die aarde gebeur? (b) Hoe sal dit in hierdie opsig “net soos die dae van Noag” wees?
5 Wat gaan dan vernietig word? Baie mense dink die Bybel voorspel ’n algehele verbranding van die planeet Aarde en alles wat daarop is. Maar dit is nie die geval nie. Jesus Christus self het gesê: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” (Mattheüs 5:5). Daardie ‘erfenis’ sal tog seker nie ’n uitgebrande, lewelose bol wees nie! Die Bybel gee ook God se uitdruklike versekering dat die aarde vir ewig sal voortbestaan as ’n woonplek vir mense.—Psalm 104:5; Jesaja 45:18; Mattheüs 6:9, 10.
6 In ooreenstemming hiermee praat die Bybel van oorlewendes wat op die aarde sal oorbly nadat daardie “groot verdrukking” verby is. Jesus Christus het gesê: “Net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.” Toe die wêreld in Noag se dag vernietig is, was daar ook oorlewendes.—Mattheüs 24:21, 37; 2 Petrus 2:5, 9; Openbaring 7:9, 10, 13, 14.
7. Wat is dit wat dan aan sy einde gaan kom?
7 Wat gaan dus vernietig word? Dit is die wêreldstelsel wat die mens op die aarde opgebou het—tesame met almal wat dit ondersteun pleks van om op God en sy beloofde heerskappy vir die aarde te vertrou (Psalm 73:27, 28). Dit is waarom die uitdrukking “die einde van die wêreld”, wat in sommige Bybelvertalings gevind word, akkurater in ander Bybels weergegee word as “die einde van die tydvak” (NE), “die voleinding van die tydvak” (Ro), “die voleinding van die stelsel” (NW).—Mattheüs 24:3.
8. (a) Uit watter bron sal die vernietiging kom? (b) Dit moet gebeur voordat die teenswoordige wêreldstelsel watter toestand bereik?
8 Die bron van die komende wêreldvernietiging sal nie die mens wees nie, maar Jehovah God. Dit is nie hedendaagse plae soos besoedeling, hongersnood, kernverskrikking en dergelike dinge wat die gevolg van menslike onkunde, foute en verdorwenheid is wat die vernietiging sal meebring nie. Hierdie dinge getuig eerder van die selfsug en algehele mislukking van die teenswoordige wêreldstelsel. Dit gee Jehovah God grond om daardie stelsel heeltemal te vernietig. Hy beloof om dit te doen voordat die huidige wêreld vanself in duie stort of homself vernietig (Openbaring 11:17, 18). Maar is sulke drastiese optrede werklik die enigste oplossing?
Waarom hierdie stelsel moet eindig voordat ware vrede kan kom
9, 10.Hoe toon die mensegeskiedenis dat iets drastieser as net hervorming van die teenswoordige wêreld nodig is?
9 Sommige dink miskien dat God liewer net sekere veranderinge in die huidige stelsel moet aanbring as om dit te vernietig. Maar die Bybel toon dat God realisties besef dat dit nie hervorm kan word nie.
10 Dink ’n bietjie aan die talle veranderinge wat mense al deur die eeue heen aangebring het. Dink aan al die verskillende regeringsvorme waarmee die mens vorendag gekom het. Daar was stadstate, monargieë, demokrasieë, kommunistiese en sosialistiese regerings en diktatorskappe. Dink daaraan hoe dikwels die heersende regeerder of regering deur ’n nuwe vervang is—deur ’n verkiesing, staatsgreep of opstand. Daar was egter geen blywende oplossing vir die mensdom se probleme nie. Selfs welmenende manne wat probeer om die mens se lot te verbeter, vind dat hulle pogings verydel word deur die stelsel waarin hulle vasgevang is. Soos ’n wyse heerser van die ou tyd uitgevind het: deur mensepogings alleen kan ‘wat krom is, nie reguit gemaak word nie’.—Prediker 1:14, 15.
11-13. (a) Wat verhinder die mens om die teenswoordige stelsel te verander sodat dit die hele mensdom tot voordeel strek? (b) Hoe kan die omvang van die nodige verandering dus toegelig word?
11 Die wêreld se stede word byvoorbeeld deur probleme geteister. Maar die mens kan hulle nie sloop en van voor af opbou nie. Dieselfde geld vir die hele ekonomiese en nywerheidstelsel van die wêreld. Eiebelang en nasionalisme ondermyn en verhinder enige ware verandering in die belang van die mensdom in sy geheel.
12 Die hele stelsel is derhalwe soos ’n huis wat op ’n swak fondament, volgens ’n gebrekkige plan en met minderwaardige materiaal gebou is. Wat sal dit help om die meubels te herrangskik of om die huis te verbou? Solank die huis staan, sal jy probleme daarmee hê en sal dit aanhou agteruitgaan. Die enigste verstandige ding om te doen is om die huis af te breek en ’n ander een op ’n goeie fondament te bou.
13 Jesus Christus het ’n soortgelyke illustrasie gebruik toe hy gesê het dat ‘’n mens nie nuwe wyn in ou leersakke gooi nie’. Die nuwe wyn sal die ou wynsak laat bars (Mattheüs 9:17). Hy het gevolglik nie geprobeer om die Joodse stelsel waaronder hy gelewe het, te hervorm nie. Hy het eerder God se Koninkryk as die enigste hoop op vrede en veiligheid verkondig (Lukas 8:1; 11:2; 12:31). In ons dag gaan Jehovah God eweneens nie bloot die teenswoordige stelsel verander nie, want dit sal geen blywende voordeel inhou nie.
14. Sal nuwe wette mense geregtigheid laat liefhê?
14 God se Woord beklemtoon die waarheid dat dit onmoontlik is om deur wetgewing geregtigheid in mense se harte te plaas. As hulle geen liefde vir geregtigheid het nie, sal geen hoeveelheid wette dit ooit daar sit nie. Ons lees in Jesaja 26:10: “Word aan die goddelose genade bewys, dan leer hy geen geregtigheid nie; wat onreg is, doen hy in ’n land van reg, en hy sien die hoogheid van die HERE nie.”—Vergelyk Spreuke 29:1.
15, 16. Hoe toon baie mense ’n gebrek aan ware liefde vir geregtigheid deur die wyse waarop hulle op God se wil reageer?
15 Dit is ’n vasstaande feit dat baie mense die teenswoordige stelsel ondanks die mislukkings en euwels daarvan verkies. Hulle wil hulle nie tot die geregtigheid keer en hulle aan die heerskappy van God onderwerp nie. Hulle sien moontlik die verdorwenheid van hierdie wêreld se politieke stelsels, die sinloosheid van sy oorloë, die huigelary van sy godsdienste en die duidelike bewys dat sy tegnologie selfs groter probleme geskep as wat dit opgelos het. Maar desondanks verkies baie mense dikwels ’n gevoel van veiligheid wat geskep word deur godsdiens- en politieke leiers in wie se belang dit is om die status quo te handhaaf. Hulle is soos die Israeliete van wie God gesê het: “Die profete tree vals op, die priesters regeer met hulle eie gesag, en my volk hou daarvan! Maar wat sal julle doen as die einde kom?”—Jeremia 5:31, NAV; Jesaja 30:12, 13.
16 Jy weet waarskynlik van mense met gewoontes wat hulle eie gesondheid en veiligheid en dié van hulle gesinne in gevaar stel. Hulle verset hulle nogtans teen alle pogings om hulle te help om te verander. Maar wanneer mense hulle teen God se raad en leiding verset, is dit ’n baie ernstiger saak. Diegene wat dit doen, toon dat hulle werklik nie die waarheid en geregtigheid liefhet nie. Van sulke mense het Jesus gesê: “Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en [God] hulle genees nie.”—Mattheüs 13:15.
17. Waarom gaan God die mensdom met vernietiging besoek as dit waar is dat hy nie behae daarin skep nie?
17 God se geduld en barmhartigheid het tereg perke. Waar sou sy liefde vir die regverdiges andersins wees? Hy kan hom tog nie doof hou vir hulle smeekgebede om verligting van die lyding wat goddeloosheid oor hierdie aarde bring nie (Lukas 18:7, 8; Spreuke 29:2, 16). Omstandighede vereis dus wêreldvernietiging. Dit verplig God om op te tree indien hy getrou wil bly aan wat reg is en hom wil ontferm oor diegene wat ook geregtigheid liefhet. Dit is nie omdat God behae daarin skep om die mensdom met vernietiging te besoek nie. “Het Ek dan miskien ’n behae in die dood van die goddelose? spreek die Here HERE. Nie liewer daarin dat hy hom bekeer van sy weë en lewe nie? . . . Bekeer julle dan en lewe.”—Esegiël 18:23, 32.
18. Wat is die prys wat betaal moet word om diegene wat geregtigheid liefhet van onveiligheid te bevry?
18 Die vernietiging van diegene wat die teenswoordige stelsel verkies, is dus die prys wat betaal moet word om diegene wat geregtigheid liefhet van onveiligheid en lyding te bevry. Dit strook met die Bybelbeginsel: “Die goddelose is ’n losprys vir die regverdige.”—Spreuke 21:18; vergelyk Jesaja 43:1, 3, 4.
Heilsame gevolge
19. Watter struikelblokke in die weg van wêreldvrede sal deur die vernietiging van hierdie stelsel verwyder word?
19 Die vernietiging van die teenswoordige stelsel en sy ondersteuners sal die weg baan vir ’n regverdige nuwe stelsel rondom die aarde waarin die oorlewendes eendragtig sal kan saamwerk, nie in selfsugtige mededinging nie. Verdelende volks- en staatsgrense sal uitgewis word. Die verdrukkende las van militêre besteding sal tot die verlede behoort. En so ook die maatskaplike skeidsmure wat verhinder dat die mensdom ’n verenigde gesin is. ’n Belangrike faktor by die verwesenliking van al hierdie dinge sal die feit wees dat almal wat dan lewe die ‘een suiwer taal’ van waarheid met mekaar sal spreek en hulle Skepper “in gees en waarheid” sal aanbid. Dit sal hulle vrywaar van verdelende godsdiensbygelowe, oorleweringe en mensgemaakte geloofsbelydenisse.—Sefanja 3:8, 9, NW; Johannes 4:23, 24.
20. Watter toestand sal volgens Psalm 72 eendag aardwyd bestaan?
20 Wanneer God se regering in die hande van sy Seun Christus Jesus alleenheerskappy oor die ganse aarde voer, sal die Bybelpsalm van die ou tyd vervul word: “In sy dae sal die regverdige bloei en volheid van vrede, totdat die maan nie meer is nie. En hy sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde.”—Psalm 72:7, 8.
21. Hoe sal die aarde self by die komende wêreldvernietiging baat vind?
21 Die aarde sal baat vind by die komende wêreldvernietiging. Dit sal nie meer deur hebsugtige besoedelaars en meedoënlose vernietigers geskend word nie. Daar sal nie meer afvalstowwe in die mere, riviere, oseane en atmosfeer gestort word nie, en hulle sal hulself gou suiwer. So sal God toon dat hy nie afgesien het van sy voorneme om ’n rein tuinplaneet vol mense te hê wat hulle Skepper se pragtige eienskappe weerspieël nie.—Genesis 1:26-28; Jesaja 45:18; 55:10, 11.
22. Hoe strook sulke vernietiging met die feit dat God ’n ‘God van vrede’ is?
22 Die feit dat God die wêreld gaan vernietig, is dus nie strydig met die feit dat hy die ‘God van vrede’ is nie. Dit is ook nie strydig met die feit dat Jesus die “Vredevors” is nie. Dit is hulle liefde vir vrede en geregtigheid wat hulle laat optree om ’n rein, regverdige toestand op die aarde te herstel.—1 Korinthiërs 14:33; Jesaja 9:5, 6.
23, 24. Wat moet ons nou as individue doen as ons ’n vreedsame en veilige toekoms wil geniet?
23 Wat moet elkeen van ons dan doen? Jesus het getoon dat diegene wat God se instruksies in die wind slaan hulle toekomsverwagtinge op “sand” bou, en dat so ’n gebou nooit die komende vernietigende storms sal deurstaan nie. Hy het getoon hoe belangrik dit is dat ons ons verwagtinge op gehoorsaamheid aan God se Woord bou as ons ’n vreedsame en veilige toekoms wil hê.—Mattheüs 7:24-27.
24 Maar waarom het God so lank gewag om ’n einde aan goddeloosheid en lyding te maak? Die Bybel beantwoord ook hierdie vraag, en dit toon wat God gedurende al die afgelope eeue gedoen het om sy voorneme te verwesenlik.
[Prent op bladsy 37]
Net soos mense die Vloed oorlewe het, sal daar oorlewendes van die “groot verdrukking” wees