Die 2011-tsoenami in Japan—Oorlewendes vertel hulle verhale
Lees ooggetuieverslae van mense wat die aardbewing en die daaropvolgende tsoenami in Japan oorleef het.
DIE vierde grootste aardbewing wat nog ooit in die wêreld opgeteken is, het Japan Vrydag 11 Maart 2011 om 2:46 nm. getref. Dit het ’n yslike tsoenami tot gevolg gehad, asook kragtige naskokke wat mense in die gebied weke lank met vrees vervul het. Sowat 20 000 mense het gesterf of word vermis. Duisende het dit egter oorleef. Hier volg party van die oorlewendes se verhale.
Tadajoeki en sy vrou, Haroemi, was by hulle huis in Isjinomaki, Mijagi-prefektuur, toe hulle ’n gedreun gehoor het en hulle huis vreeslik begin skud het. “Ons het buitentoe gehardloop en was geskok om skeure in die grond te sien”, het Tadajoeki gesê. “Ons het gesien hoe ons huis heen en weer wieg en hoe stof soos rook uit die mure borrel.”
Die aardbewing se episentrum was 129 kilometer van die kus van Mijagi af. Die tsoenami het oor ’n afstand van 670 kilometer, al langs die Pasifiese kus van Japan, verwoesting gesaai. Op sommige plekke was die golwe aan die kuslyn 15 meter hoog, en dit het keerwalle en rivieroewers vernietig en tot 40 kilometer ver in die binneland ingestroom.
Bronne wat elektrisiteit, gas en skoon water voorsien het, is heeltemal vernietig. Ongeveer 160 000 huise, winkels en fabrieke is beskadig of weggespoel. Op een stadium het tot 440 000 slagoffers in sowat 2 500 tydelike skuilings, soos skole en plaaslike gemeenskapsentrums, gebly. Baie ander het by familie of vriende gaan bly. Tienduisende mense het gesterf, waarvan duisende nie gevind is nie.
Verlies en droefheid
Die tsoenami het baie meer sterftes veroorsaak as die aardbewing. Joitsji, in Rikoezentakata, Iwate-prefektuur, het onmiddellik vermoed dat ’n tsoenami op die aardbewing sou volg, en daarom het hy sy ouers na ’n nabygeleë skuiling geneem. Toe het hy gaan kyk of sy bure hulp nodig het. Omdat Joitsji nog steeds bekommerd was oor sy ouers, wou hy en sy vrou, Tatsoeko, seker gaan maak dat hulle veilig is, maar toe hoor hulle dat ’n tsoenami op pad is.
Hulle het hulle na ’n ander skuiling gehaas, maar hulle kon nie by die gebou inkom nie omdat die ingang deur puin versper was. Toe het hulle gesien hoe ’n pikswart gebou, die saagmeule, op hulle afgepyl kom. “Hardloop!” het Tatsoeko uitgeroep.
Hulle het uiteindelik ’n skoolterrein bereik, wat hoër geleë was. Van daar af het hulle gesien hoe die tsoenami die hele buurt verswelg. “My huis spoel weg”, het iemand gesê. Byna driekwart van Rikoezentakata is verwoes, asook die skuiling waarin Joitsji se ouers was. Sy pa se liggaam is nooit gevind nie, maar sy ma se liggaam is uiteindelik gevind.
Toroe het naby die kus by ’n fabriek in Isjinomaki gewerk. Ná die eerste skudding het hy na sy motor gehardloop om weg te kom. Hy het vir ander geskreeu om ook te vlug omdat hy vermoed het dat ’n tsoenami op die skudding sou volg.
“Ek het eers in die rigting van my huis gery, wat hoër geleë was, maar toe het ek in ’n verkeersknoop vasgesit”, het Toroe vertel. “Ek het oor die radio gehoor dat die tsoenami reeds ’n nabygeleë stad bereik het. Ek het my venster afgedraai sodat ek kon uitkom indien die tsoenami ons bereik. Kort daarna het ek ’n yslike swart golf wat meer as twee meter hoog was, sien aankom. Die motors voor my het my motor getref, en ons is almal tot ver in die binneland meegesleur.
“Ek het met ’n gesukkel by die venster uitgeklim, maar toe is ek deur die olierige, stinkende stroom meegevoer. Ek het in ’n motorwerkswinkel beland, waar ek aan ’n trap vasgegryp het en tot op die eerste verdieping geklim het. Met groot inspanning kon ek drie mense help om ook veiligheid te bereik. ’n Paar van ons het daardie aand die stygende water en die koue en sneeu oorleef. Maar ons kon nie die ander red wat om hulp geroep het nie.”
Voor die aardbewing het Midori in Kamaisji, Iwate, ’n aangename kuiertjie by haar oupa en ouma geniet. Sy het kort tevore haar hoërskoolloopbaan voltooi en het haar diploma gaan wys vir haar oupa, wat al ’n tyd lank ’n invalide was. Hy het hardop gelees wat op die diploma staan en het Midori geprys vir al haar harde werk. Net vyf dae later het die aardbewing plaasgevind.
Midori en haar ma, Joeko, het die oupa en ouma aangespoor om na ’n veilige plek te vlug omdat hulle oortuig was dat ’n tsoenami op pad was. Maar die oupa het gesê: “Nee, ek gaan nêrens nie. Tsoenami’s het nog nooit tot hier gekom nie.” Hulle wou hom uit die huis uit dra, maar hulle kon hom nie optel nie, en daarom het hulle hulp gaan soek. Maar teen dié tyd het die tsoenami reeds die kuslyn bereik. “Maak gou! Hardloop!” het mans op ’n heuwel daar naby geskreeu. Die tsoenami het die een huis ná die ander verswelg. Midori se wanhopige geroep: “Oupa! Ouma!” het hard weergalm. Haar oupa se liggaam is later gevind, maar haar ouma is nooit gevind nie.
Pogings om hulp te voorsien
Die Japannese regering het onmiddellik brandweermanne, polisiemanne en lede van die verdedigingsmag van regoor Japan na die gebied gestuur. Binne ’n kort tydjie was meer as 130 000 mense by reddings- en noodlenigingswerk betrokke. Mettertyd het ander lande en internasionale organisasies ook hulp verleen. Tientalle reddingspanne sowel as mediese personeel het kort voor lank daar aangekom. Hulle het na oorlewendes gesoek, mediese hulp voorsien en opruimingswerk gedoen.
Verskeie organisasies, onder andere Jehovah se Getuies, het hulle lede gehelp. Ná die aardbewing en tsoenami op die Vrydagmiddag het die Getuies onmiddellik gaan seker maak of diegene wat gereeld saam met hulle vir aanbidding vergader, veilig is. Op baie plekke was die paaie egter onbegaanbaar, en daar was geen elektrisiteit of telefoondiens nie. Omdat die rampgebied so groot was, was dit baie moeilik om mense op te spoor.
Takajoeki, een van die ouer manne in die gemeente van Jehovah se Getuies in Soma, Foekoesjima-prefektuur, kon net ’n paar gesinne op daardie verskriklike Vrydagmiddag in die hande kry. “Ek het besluit om die volgende dag na die ander te gaan soek”, het hy gesê. “Ek het van sonop tot sononder, eers per motor en toe te voet, verder gesoek. Ek het 20 plekke, insluitende skuilings, besoek om gemeentelede te probeer vind. Wanneer ek van hulle gevind het, het ek vir hulle uit die Bybel gelees en saam met hulle gebid.”
Sjoendji in Isjinomaki vertel: “Ons het spanne gevorm om medegelowiges te probeer vind. Toe ons die rampgebied bereik het, was ons sprakeloos. Motors het aan elektriese pale gehang, huise was opmekaargestapel en die hope puin was selfs hoër as die huise. Op die dak van ’n motor het ’n dooie liggaam gelê—waarskynlik iemand wat nie die koue nag oorleef het nie. ’n Ander motor het onderstebo tussen twee huise gehang. Daar was ’n dooie liggaam in die motor.”
Sjoendji was verlig toe hy mede-aanbidders in skuilings gevind het. “Toe ek hulle sien”, sê hy, “het ek besef hoe lief ek hulle het.”
“Julle het so gou gekom!”
Twee jong Getuievroue, Joei en Mizoeki, het naby mekaar gewoon in Minamisanrikoe, Mijagi. Toe die eerste skudding bedaar het, het hulle buitentoe gehardloop en mekaar gesien. Hulle het saam na hoogliggende terrein gehardloop. Skaars tien minute later het hulle gesien hoe die hele dorp, insluitende hulle huise, deur die een golf ná die ander weggespoel word.
Joei en Mizoeki het ander Getuies by ’n skuiling gevind, en hulle het saam gebid. Die volgende oggend het lede van hulle gemeente sowel as naburige gemeentes oor die berg gekom om vir hulle kos en ander items te bring. Joei en Mizoeki het uitgeroep: “Ons het geweet dat julle sou kom, maar julle het so gou gekom!”
Hideharoe, een van die Getuie-opsieners van die Tome-gemeente, het die skuiling besoek. Hy vertel: “Ek het die hele nag lank ons vriende wat langs die kus woon, probeer opspoor. Uiteindelik, om vieruur die oggend, het ek gehoor dat party by ’n skool skuiling gevind het. Om seweuur het omtrent tien van ons bymekaargekom om rysbolletjies te maak, en drie van ons het die kos per motor na hulle geneem. Die meeste paaie was onbegaanbaar. Met ’n groot gesukkel het ons by die skool uitgekom. Selfs diegene wat hulle huise verloor het, het ons gehelp om hulp aan ander te verleen.”
Daar word in hulle geestelike behoeftes voorsien
Jehovah se Getuies vergader gereeld om die Bybel te studeer, en party gemeentes doen dit op ’n Vrydagaand. Dit was die geval in Rikoezentakata; maar die Koninkryksaal—die Getuies se plek van aanbidding—is kort tevore deur die tsoenami weggespoel. “Kom ons hou in elk geval die vergadering”, het een van die Getuies voorgestel. ’n Huis wat nie te erg beskadig was nie, is gekies, en die gemeentelede is in kennis gestel.
Die elektrisiteit was afgesny, maar hulle het lig gehad, aangesien hulle ’n kragopwekker in die hande kon kry. Sestien mense het die vergadering bygewoon. “Ons het van vreugde gehuil”, vertel die jong Jasoejoeki, wie se woonstel deur die tsoenami verwoes is. “Dit was die beste toevlug wat ons kon hê.” Hideko het gesê: “Hewige naskokke het die vergadering dikwels versteur, maar terwyl ons saam was, het ek van my vrese en bekommernisse vergeet.”
Die gemeente het sedertdien nie een van hulle vergaderinge oorgeslaan nie. Twee dae later, op die Sondag, is ’n toespraak gehou met die tema: “’n Wêreldwye broederskap word van ’n ramp gered.”
Georganiseerde noodlenigingswerk
Verskeie regeringsagentskappe, sowel as die takkantoor van Jehovah se Getuies in Ebina, naby Tokio, het kort voor lank met noodlenigingswerk begin. Teen die Saterdag, die dag ná die aardbewing, het die takkantoor reeds die ontsaglike rampgebied in drie dele verdeel. Op die Maandag, drie dae ná die aardbewing, het verteenwoordigers van die takkantoor hierdie gebiede besoek.
Noodlenigingswerk is in die daaropvolgende weke en maande voortgesit. Tonne noodlenigingsvoorraad wat deur die Getuies voorsien is, is versprei. Op een stadium is 3 noodlenigingsentrums en 21 pakhuise en ander plekke gebruik om noodlenigingsvoorraad aan slagoffers te voorsien. Gedurende die eerste twee maande het honderde vrywilligers meer as 250 ton kos, klere en ander benodigdhede versprei. Baie Getuies het hierdie voorraad met hulle bure gedeel.
Lede van die Rikoezentakata- en die naburige Ofoenato-gemeente van Jehovah se Getuies gebruik hulle herboude Koninkryksaal om mense geestelik op te bou. Dít sal die plaaslike mense help deur die moeilike tyd wat vir hulle voorlê—hulle moet ’n nuwe begin maak en moet herstel van die trauma wat deur die verwoestende aardbewing en tsoenami veroorsaak is. Van die meer as 14 000 Getuies in die rampgebied het 12 gesterf en word 2 nog vermis.
Baie van die Getuies wat slagoffers van hierdie verskriklike ramp was, het soortgelyke ondervindinge vertel as ’n gesin wat gesê het: “Toe ons gevlug het, het ons elkeen net een sak gehad. Maar ons medegelowiges het in al ons behoeftes voorsien.” Hoe wonderlik is dit tog dat knegte van die ware God, Jehovah, nou die voorreg kan geniet om deel te wees van die wêreldwye broederskap waarvan Jesus en sy apostels gepraat het! Hierdie band kan nie deur tsoenami’s of enige ander natuurrampe vernietig word nie.—Johannes 13:34, 35; Hebreërs 10:24, 25; 1 Petrus 5:9.
[Venster/Prent op bladsy 18]
DIE KERNRAMP WAT GEVOLG HET
Die skade wat die tsoenami aan die reaktors by die Foekoesjima Daiitsji-kernkragstasie aangerig het, het wêreldwyd groot opslae in die nuus gemaak. Radioaktiewe straling het oor Japan en ander lande versprei. Duisende moes ontruim word weens die gevaar van die dodelike straling.
“Ons huis was naby die kernkragstasie”, vertel Megoemi. “Die dag ná die aardbewing het ons gehoor van die skade aan die kragstasie en is daar vir ons gesê om te vlug.” Haar suster Natsoemi vertel: “Helikopters het in die lug gehang, sirenes het geloei en daar is herhaaldelik afgekondig dat ons die gebied moet ontruim.” In die daaropvolgende weke het hulle op nege verskillende plekke gebly. Die twee meisies is uiteindelik toegelaat om net vir twee uur terug te keer huis toe om ’n paar goedjies te gaan haal.
Tsjikako, wat in haar 60’s is, het in Namie, Foekoesjima, gewoon. “Toe die aardbewing plaasgevind het, het ek na ’n skuiling in die omgewing gegaan. Daar het ek en my twee kinders as gevolg van die hewige naskokke ’n slapelose nag deurgebring. Seweuur die volgende oggend is daar vir ons gesê om onmiddellik na ’n skuiling in ’n ander stad te gaan.
“Daar was baie verkeer, en daarom het ons eers omtrent drieuur die middag by ons bestemming aangekom. Ons het daar gehoor van die ontploffing by die kernkragstasie. Omdat ek gedink het dat ons gou weer sou terugkeer huis toe, het ons niks saamgeneem nie.” Sy en haar gesin het van die een plek na die ander getrek totdat hulle uiteindelik ’n woonstel ver van hulle huis af gevind het.
[Erkenning]
Photo by DigitalGlobe via Getty Images
[Venster/Prent op bladsy 20]
LESSE VIR ONS ALMAL
Joitsji, van Rikoezentakata, wat vroeër genoem is en byna al sy materiële besittings verloor het, het gesê: “Ek kan waarlik daarvan getuig dat materiële dinge nie sekuriteit bied nie.” Knegte van God het oor die jare heen soortgelyke gedagtes uitgespreek, veral diegene wat die les ter harte geneem het wat Jesus ander geleer het. Hy het verduidelik hoe onbelangrik materiële besittings is in vergelyking met God se guns en seën.—Matteus 6:19, 20, 33, 34.
Nog ’n les is om op waarskuwings ag te slaan. Dit kan die verskil tussen lewe en dood beteken. Diegene in Japan wat onmiddellik na hoogliggende gebiede gevlug het, het in baie gevalle die ramp oorleef.
[Kaart/Prente op bladsy 16]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
JAPAN
TOKIO
Kamaisji
Rikoezentakata
Minamisanrikoe
Isjinomaki
Soma
Kernkragstasie by Foekoesjima
Ebina
Takkantoor van Jehovah se Getuies
[Prente]
Rikoezentakata, Iwate
Soma, Foekoesjima
Isjinomaki, Mijagi
Kamaisji, Iwate
Minamisanrikoe, Mijagi
[Prent op bladsy 14]
Haroemi en Tadajoeki
[Prent op bladsy 15]
Joitsji en Tatsoeko
[Prent op bladsy 17]
Joeko en Midori
[Prent op bladsy 17]
Toroe
[Prent op bladsy 17]
Die voertuig wat Toroe bestuur het
[Prent op bladsy 17]
Takajoeki
[Prent op bladsy 18]
Sjoendji
[Prent op bladsy 19]
Mizoeki en Joei
[Prent op bladsy 19]
Hideharoe
[Prent op bladsy 19]
Noodlenigingswerkers in aksie
[Prent op bladsy 20]
Die Rikoezentakata-Koninkryksaal, ná die tsoenami
[Prent op bladsy 20]
Herbouwerk, ná drie maande
[Prent op bladsy 20]
Voltooide Koninkryksaal
[Foto-erkenning op bladsy 14]
JIJI PRESS/AFP/Getty Images