Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 12/11 bl. 21
  • Hy word onthou vir sy weetgierigheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hy word onthou vir sy weetgierigheid
  • Ontwaak!—2011
  • Soortgelyke materiaal
  • God begin om dinge te maak
    My boek met Bybelverhale
  • Die skatte van Sentraal-Amerika se grootste meer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Costa Rica—klein landjie, groot verskeidenheid
    Ontwaak!—1995
  • My hele lewe lank deur Jehovah onderskraag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Ontwaak!—2011
g 12/11 bl. 21

Hy word onthou vir sy weetgierigheid

● Waarvoor wil jy graag onthou word? Wat sal in mense se gedagtes opkom wanneer hulle aan jou dink? Omdat baie mense graag vir hulle ’n naam wil maak, streef hulle roem na op gebiede soos die wetenskap, die politiek, sport en die kunste. Maar sê nou jy word veral onthou vir die vrae wat jy gevra het?

Vyfhonderd jaar gelede het ’n man in Sentraal-Amerika talle gedagteprikkelende vrae gevra. Hy was die hoof van ’n inboorlingstam, en sy naam was Nicarao, waarvan die naam “Nicaragua” klaarblyklik afgelei is. Sy stam, hulle groot meer en die land waarin hy gewoon het, is na hom vernoem.

Nicarao se stam het op die landstrook tussen die Stille Oseaan en die ontsaglike Nicaragua-meer gewoon. Kort nadat Columbus die Nuwe Wêreld ontdek het, het die Spanjaarde ekspedisies na hierdie gebied onderneem. Kaptein Gil González Dávila het sy troepe noordwaarts gelei vanaf wat vandag Costa Rica is en het Nicarao se land in 1523 HJ binnegegaan.

Stel jou net voor hoe bevrees die ontdekkingsreisigers was terwyl hulle die onbekende gebied verken het. Hoe bly moes hulle tog gewees het toe hulle die hoofman, Nicarao, ontmoet het! Met die vrygewigheid wat tot vandag toe ’n kenmerk is van die Nicaraguaanse kultuur, het sy volk die Spanjaarde verwelkom en vir hulle geskenke, insluitende ’n groot hoeveelheid goud, gegee.

Nicarao wou antwoorde hê op vrae waaroor hy al lank gewonder het. Ander vrae het ontstaan as gevolg van die Spanjaarde se besoek. Volgens kroniekskrywers het hy kaptein González die volgende vrae gevra:

Het jy al gehoor van ’n groot vloed wat alle mense en diere vernietig het? Sal God weer ’n vloed oor die aarde bring? Wat gebeur ná die dood? Hoe beweeg die son, die maan en die sterre? Hoe bly hulle in die lug hang? Hoe ver is hulle van ons af? Wanneer sal die son, die maan en die sterre ophou skyn? Waar kom die wind vandaan? Wat veroorsaak hitte en koue, lig en donker? Waarom wissel die lengte van die dae gedurende die jaar?

Dit is duidelik dat Nicarao gretig was om meer te leer oor die wêreld om hom. Sy vrae sê vir ons baie oor sy godsdiensoortuigings. Dit toon dat hy soortgelyke belangstellings en bekommernisse gehad het as wat baie mense vandag het. En die feit dat Nicarao en sy volk van ’n groot vloed geweet het, herinner ons aan wat die Bybel ons vertel.—Genesis 7:17-19.

Hoewel Nicarao se kultuur gekenmerk is deur spiritisme en rituele menseoffers, was hy besorg oor sy volk se gedrag en lewenswyse. Sy vrae lewer bewys van die werking van ’n gewete. In hierdie verband het die apostel Paulus geskryf dat mense se “gewete saam met hulle getuig en hulle eie gedagtes hulle onderling beskuldig of selfs verontskuldig”.—Romeine 2:14, 15.

Vandag staan ’n standbeeld van die stamhoof Nicarao as ’n gedenkteken naby die plek waar hy die Spaanse ontdekkingsreisigers vermoedelik die eerste keer ontmoet het. Sy weetgierigheid, wat hom beweeg het om diep na te dink oor die lewe en die wêreld om hom, kan beslis vir ons as ’n voorbeeld dien.—Romeine 1:20.

[Kaart op bladsy 21]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Nicaragua

SUID-AMERIKA

ATLANTIESE OSEAAN

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel