Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 6/22 bl. 10-11
  • Geskep met ’n wonderlike doel

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Geskep met ’n wonderlike doel
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hy maak sy voorneme bekend
  • Hoe God se voorneme vervul gaan word
  • Die lewe het ’n wonderlike doel
    Wat is die doel van die lewe—Hoe kan jy dit vind?
  • Waarom het God die aarde geskape?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Sal ons aarde ooit vernietig word?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Is die lewe op aarde ’n stapsteen na die hemel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 6/22 bl. 10-11

Geskep met ’n wonderlike doel

SOOS vroeër gesê is, kyk mense al lank na die hemel en wonder: ‘Waarom is dit alles hier?’ ’n Talentvolle musikant het lank gelede met waardering gesing: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.”—Psalm 19:2.

Ons pragtige aarde lok ’n soortgelyke reaksie uit. Ná ’n ruimtevaart het die ruimtevaarder Charles M. Duke jr. byvoorbeeld uitgeroep: “Die aarde is die mooiste gesig in die ruimte, met al die kleure van land, oseane en wolke.” Hy het bygevoeg: “Dit was byna ’n godsdienstige ervaring om teen die donkerheid van die ruimte daarna te kyk.”

Hoe reageer jy wanneer jy na ’n helder, sterbesaaide hemel kyk? Of wanneer jy ’n skouspelagtige mooi natuurtoneel hier op die aarde sien? Wonder jy ooit hoe, of waarom, dit ontstaan het?

Hy maak sy voorneme bekend

Jehovah het ’n vraag aan die man Job gestel: “Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het?” (Job 38:4). Die vraag het Job nederig gemaak, want hy het natuurlik op daardie tydstip nie bestaan nie. Maar lank voor Job se tyd het God seuns na sy beeld geskep—geespersone, engele (Psalm 104:4, 5, NW). God het dus voortgegaan om Job oor die aarde uit te vra: “Wie het sy hoeksteen gelê? Toe die môresterre [engele] saam gejubel en al die seuns van God gejuig het?”—Job 38:6, 7.

Waarom was die engele so bly toe die aarde geskep is? Omdat hulle klaarblyklik geweet het dat die aarde een van God se spesiale stoflike skeppingswerke was. Miskien het God die engele selfs ’n voorskou gegee van sy wonderlike voorneme met die aarde. Later het Jehovah aan die mens geopenbaar dat hy ‘die aarde nie geskape het om woes te wees nie, maar dit geformeer het om bewoon te word’, ja, sodat mense daarop kan woon en dit kan geniet, selfs vir ewig.—Jesaja 45:18.

Nadat Jehovah die man en vrou geskep het, het hy sy voorneme met die aarde geopenbaar toe hy die eerste egpaar beveel het: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Genesis 1:28). God het die mensepaar geskep met die wonderdadige vermoë om kinders voort te bring, en dit was sy voorneme dat die hele aarde met volmaakte mense gevul moet word wat die goeie eienskappe van hulle Skepper weerspieël.

Mense woon nou weliswaar feitlik oral op die aarde, maar hulle doen dit nie op ’n manier wat hulle Skepper tot eer strek nie. Mense is in ’n siek, sterwende toestand, en hulle sorg nie behoorlik vir die aarde of sy diere nie. Jehovah het mense volmaak geskep, en sy voorneme was dat die hele aarde mettertyd onder die beheer van ’n regverdige mensegesin moet kom wat almal saam vir ewig in ’n aardse paradys lewe.

Ons kan verseker wees dat hierdie voorneme vervul gaan word. Waarom? Omdat Jehovah belowe dat hy ‘ook sal doen’ wat hy hom voorgeneem het (Jesaja 46:11; 55:11). Sy Woord verseker ons: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon” (Psalm 37:29; Openbaring 21:3, 4). Baie onthou dalk die belofte van God se Seun, Jesus Christus, aan die berouvolle sondaar wat langs hom gesterf het: “Jy sal saam met my in die Paradys wees” (Lukas 23:43). Hoe sal dit teweeggebring word?

Hoe God se voorneme vervul gaan word

Wanneer Christus sy heerskappy ten volle oor die aarde laat geld, sal daardie sondaar opgewek word tot lewe op aarde onder die hemelse heerskappy waarvoor daar al so lank gebid word (Psalm 72:1, 5-8; Matteus 6:9, 10; Johannes 18:36, 37; Handelinge 24:15). Maar voordat die opstanding van die dooies plaasvind, sal die aarde gereinig word van al die mense wat weier om God te aanbid. Die Bybel belowe: “Die God van die hemel [sal] ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie.” En dit voeg by: “Dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”—Daniël 2:44.

Die alwyse Skepper van ons luisterryke heelal kan beslis sy voorneme verwesenlik om hierdie aarde te vul met mense wat sy goeie eienskappe weerspieël! (Genesis 1:27). Ten einde mense die geleentheid te gee om uit te vind hoe God dit teweeg sal bring, het hy ’n boek voorsien wat mense oral kan lees.a Kyk byvoorbeeld hoe ’n man in Dayton, Ohio, VSA, dit beskryf het:

“Ek sal my hele lewe lank aan hierdie boek lees. Dit begin deur te vertel van ’n pragtige tuiste wat deur opstand vernietig word. Tragedie, rampe, smart, moord en die dood volg. Namate die gesin groter word, stort hulle al hoe vinniger in wanhoop en duisternis in. Eeue verstryk, nasies kom op en val, duisende karakters word bespreek, elke menslike emosie van loutere, intense haat tot ’n martelaar se liefde word teëgekom. Hoop, wat as ’n dowwe vonkie begin, groei tot absolute sekerheid. ’n Volmaakte regering gaan die pragtige tuiste herstel. Die heerser is die Koning, Christus Jesus. Die regering, die Koninkryk van God. Die gesin, die mensdom. Die boek is die Bybel!”

Ons spoor jou aan om hierdie allerbelangrikste boek, die Bybel, te bestudeer. Daarbenewens nooi ons jou om die bewyse dat hierdie heelal en al sy aspekte nie bloot toevallig ontstaan het nie in groter besonderhede te ondersoek. Jy sal ’n breedvoerige ondersoek van hierdie saak vind in die boek Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee? Op bladsy 32 van hierdie tydskrif kan jy uitvind hoe om ’n eksemplaar te bekom.

[Voetnoot]

a Sien ’n Boek vir alle mense, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania.

[Prent op bladsy 10]

“Die mooiste gesig in die ruimte”

[Erkenning]

NASA photo

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel