Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 6/22 bl. 6-9
  • Het dit sommer net gebeur, of is dit geskep?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Het dit sommer net gebeur, of is dit geskep?
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Twee kante van dieselfde muntstuk”
  • ’n Ordelike begin
  • Waarom hulle teësinnig is om te glo
  • Hoe ruimtevaart moontlik gemaak word
  • Wie het dit geskep?
  • Lesse wat ons uit die heelal leer
    Ontwaak!—1992
  • Ons ontsagwekkende heelal
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Het dit werklik ’n begin gehad?
    Ontwaak!—1999
  • Hoe het ons heelal hier gekom?—Die geskilpunt
    Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 6/22 bl. 6-9

Het dit sommer net gebeur, of is dit geskep?

BAIE wetenskaplikes voel ongemaklik oor die idee dat ’n intelligente Skepper die heelal geskep het. Daarom spekuleer hulle dat dit op die een of ander manier vanself ontstaan het. Maar niemand kon nog verduidelik hoe dit gebeur het nie.

Dit is in werklikheid soos die tydskrif Scientific American in sy nommer van Januarie 1999 berig het: “Die oerknalteorie beskryf nie die geboorte van die heelal nie.” Die tydskrif het bygevoeg: “’n Ander teorie wat selfs vroeër tye beskryf, sal nodig wees om die oorspronklike skepping van die heelal te verklaar.”

Maar dink jy dit is redelik dat die heelal op die een of ander manier vanself ontstaan het? Die fisikus Charles H. Townes het gesê: “Fisici hoop weliswaar om verder as die ‘oerknal’ te kyk en moontlik die oorsprong van ons heelal byvoorbeeld as ’n soort afwyking te beskryf. Maar waarvan is dit dan ’n afwyking en hoe het dít ontstaan? Vir my lyk dit of die vraag van oorsprong altyd onbeantwoord gelaat word wanneer ons dit net vanuit ’n wetenskaplike oogpunt ondersoek.”

Daar word nou aanvaar dat die heelal op een tydstip nie bestaan het nie en dat dit op die een of ander manier ontstaan het. Kan dit wat ons oor die wette van die heelal uitgevind het ons help om te verstaan hoe dit alles kon gebeur het?

“Twee kante van dieselfde muntstuk”

Bogenoemde word van energie en materie gesê. “Materie is eenvoudig een vorm van energie”, het Scientific American gesê. Hierdie verhouding tussen materie en energie is uitgedruk deur Einstein se beroemde vergelyking E=mc2 (energie is gelyk aan massa vermenigvuldig met die spoed van lig tot die tweede mag). Hierdie vergelyking toon dat ’n klein massa, of ’n bietjie materie, ongelooflike energie besit. “Dit verduidelik”, het die universiteitsprofessor Timothy Ferris gesê, “waarom ’n bom so groot soos ’n lemoen ’n stad kan verwoes.”

As ’n mens na die ander kant van die muntstuk kyk—volgens Einstein se teorie—kan energie ook in materie verander word. Die stoflike heelal kon dus gevorm gewees het deur wat een kosmoloog beskryf het as “die ontsagwekkendste verandering van materie en energie wat ons die voorreg gehad het om vlugtig te sien”.

Maar waarvandaan het die materie en die energie gekom wat vir so ’n “verandering” nodig was? Die wetenskap bied geen bevredigende antwoord nie. Die Bybel sê interessant genoeg van God: “Vanweë die oorvloed van dinamiese energie en omdat hy sterk is in krag, ontbreek nie een van hulle [die hemelliggame] nie” (Jesaja 40:26, NW). Ongeag hoe God die heelal geskep het, hy het ongetwyfeld die energie en die krag wat nodig is om dit te doen.

Voorsien wetenskaplike bewyse ’n grondslag om te glo dat ’n Opperintelligensie ons heelal geskep het? ’n Kykie na die manier waarop die heelal ontstaan het, help om dit te beantwoord.

’n Ordelike begin

Dink hieraan: Die onbeheerde omsetting van materie in energie tydens die ontploffing van ’n kernbom veroorsaak chaos, soos in 1945 gesien is toe sulke bomme Hirosjima en ’n groot deel van Nagasaki in Japan totaal verwoes het. Maar die heelal is harmonies en pragtig en allesbehalwe chaoties! Dink ook aan hierdie wonderlike aarde met sy verbasende verskeidenheid lewensvorme. Dit kon beslis nie sonder intelligente leiding en beheer ontstaan het nie!

Die tydskrif Newsweek van 9 November 1998 het die implikasies van ontdekkings in verband met die skepping van die heelal hersien. Dit het gesê die feite “dui daarop dat materie en beweging eerder ex nihilo, uit niks, in ’n ontsettende ontploffing van lig en energie ontstaan het soos Genesis [in die Bybel] te kenne gee”. Let op die redes wat Newsweek gee vir hulle vergelyking van hoe die heelal begin het met die Bybel se beskrywing van die gebeurtenis.

“Die kragte wat losgelaat is, was—en word—in buitengewone (wonderdadige?) ewewig gehou: As die Oerknal effens minder hewig was, sou die heelal stadiger uitgedy het en sou dit gou (binne ’n paar miljoen jaar of ’n paar minute—in elk geval gou) weer ineengestort het. As die ontploffing effens hewiger was, sou die heelal dalk te ver uitmekaar gespat het om sterre te kon vorm. Die kanse teen ons was astronomies—en dít is presies die regte woord. Die verhouding van materie en energie tot die grootte van die ruimte tydens die Oerknal moes binne een kwadriljoenste van 1 persent van volmaak af gewees het.”

Newsweek het te kenne gegee dat daar as ’t ware ’n “Insteller” van die heelal was en gesê: “Neem net ’n graad weg (sien hierbo, die foutgrens van een kwadriljoenste van 1 persent), . . . en dan sou dit nie net disharmonie tot gevolg gehad het nie, maar ewige entropie en ys. Wat—wie?—was dus die groot Insteller?”

Die astrofisikus Alan Lightman het erken dat dit vir wetenskaplikes “’n raaisel is dat die heelal in so ’n besonder ordelike toestand geskep is”. Hy het bygevoeg dat “enige suksesvolle kosmologieteorie uiteindelik ’n verklaring behoort te bied vir hierdie entropieprobleem”—naamlik waarom die heelal nie in chaos verval het nie.

Waarom hulle teësinnig is om te glo

Stem jy saam dat “’n besonder ordelike toestand” op ’n Organiseerder dui? Die meeste mense sou. Maar diegene wat sê dat hulle ateïste is, is teësinnig om saam te stem. Waarom? Weens geloof! Soos professor Ferris geskryf het, “is ateïsme, om eerlik te wees, ’n geloof soos enige ander”. En hy het gesê dat dit beter sou wees “as ons God heeltemal uit kosmologie weglaat”.

Dit is wat baie doen—maar met moeite. Byvoorbeeld, nadat George Greenstein, professor in sterrekunde, baie dinge genoem het wat as bewyse van ontwerp in die heelal gesien kon word, het hy geskryf: “Ek is daarvan oortuig dat sulke ‘toevallighede’ nouliks per ongeluk kon gebeur het.” Greenstein voer nietemin aan: “God is nie ’n verduideliking daarvoor nie.” Sommige wetenskaplikes gee sodoende logika prys om hulle tradisionele wetenskaplike opvattings te bewaar.

Die beroemde fisikus Fred Hoyle het egter erken dat sy “geloof” later in sy lewe gewankel het. In die tagtigerjare het hy gesê: “As ’n mens die feite met gesonde verstand interpreteer, lyk dit of ’n superintellek met die fisika, asook met die chemie en biologie, gepeuter het en dat daar geen noemenswaardige onbeheerde kragte in die natuur is nie. Die berekeninge wat ’n mens uit die feite doen, lyk vir mý so oorweldigend dat dit hierdie gevolgtrekking byna onbetwisbaar maak.”

Dit is interessant dat sir Isaac Newton soortgelyke gevolgtrekkings gemaak het toe die hedendaagse era van wetenskaplike ondersoek nog maar net begin het. Hy is deur sy ontdekkings beweeg om te skryf: “Hierdie uiters pragtige stelsel van die son, planete en komete kon slegs voortgespruit het uit die raadgewing en heerskappy van ’n intelligente en magtige Wese.”

Let op een gevolg wat die ontdekkings van bewegingswette deur Newton en Johannes Kepler gehad het.

Hoe ruimtevaart moontlik gemaak word

Kepler het vroeg in die 17de eeu die wette van planetêre beweging beskryf, en The World Book Encyclopedia het gesê dat hierdie wette “gebruik word om die wentelbane van mensgemaakte satelliete te bepaal en om die vlugte van ruimtetuie te beplan”. In 1687 het Newton sy beroemde bewegingswette gepubliseer, en hierdie wette, “soos Kepler s’n, vorm ’n grondslag vir ruimtevaartbeplanning”, het hierdie ensiklopedie gesê. Waarom is dit die geval?

Omdat mense hierdie wette kan gebruik en deur middel van wiskundige berekeninge kan vasstel waar ’n spesifieke liggaam op ’n sekere tyd in die ruimte sal wees. Sulke berekeninge word moontlik gemaak deur die konsekwente, altyd voorspelbare beweging van hemelliggame, wat die maan en die aarde insluit. Die maan snel byvoorbeeld voort in ’n wentelbaan om die aarde teen ’n gemiddelde snelheid van 3 700 kilometer per uur, en dit voltooi hierdie reis van bietjie minder as ’n maand met verbasende voorspelbaarheid. Die aarde lê sy jaarlikse reis om die son, teen ’n snelheid van sowat 107 200 kilometer per uur, met soortgelyke voorspelbaarheid af.

Wanneer mense op die aarde vlugte na die maan beplan, rig hulle gevolglik hulle ruimtetuie op ’n plek in die ruimte wat derduisende kilometers voor die maan in sy wentelbaan is. Deur middel van verskeie berekeninge weet hulle presies waar die maan op ’n voorafbepaalde tydstip sal wees. En as die ruimtetuig die regte rigting en krag het, sal dit ook op daardie plek in die ruimte wees, en dit maak ’n maanlanding moontlik.

Wat maak sulke voorspelbaarheid in die beweging van hemelliggame moontlik? Die eerste Amerikaanse ruimtevaarder wat om die aarde gewentel het, John Glenn, het oor die orde in die heelal gesê: “Kon dit sommer net gebeur het? . . . Ek kan dit nie glo nie.” Toe het hy bygevoeg: “Die een of ander Krag het dit alles in wentelbane geplaas en hou dit daar.”

Die ruimtewetenskaplike dr. Wernher von Braun, met ontsag vervul vir die wette wat die heelal reël, het die volgende te sê gehad: “Bemande ruimtevaart . . . het tot dusver net ’n klein skrefie vir ons oopgemaak waardeur ons na die ontsagwekkende uitgestrektheid van die ruimte kan kyk. Ons uitsig deur hierdie skrefie op die eindelose geheime van die heelal bevestig net ons geloof in die skepper daarvan.”

Die beroemde fisikus P.A.M. Dirac, wat ’n professor in wiskunde aan die Universiteit van Cambridge was, het saamgestem: “’n Mens kan moontlik die situasie beskryf deur te sê dat God ’n wiskundige van ’n baie hoë orde is, en Hy het hoogs gevorderde wiskunde gebruik om die heelal te maak.”

Wie is hierdie Meesterwiskundige, hierdie Opperintellek, wat vir die wonders van die skepping verantwoordelik is?

Wie het dit geskep?

Wanneer ons deur ’n onbekende gebied reis en op ’n pragtige huisie met netjiese grasperke en lieflike tuine afkom, kom ons nie tot die gevolgtrekking dat dit sommer vanself daar gekom het nie. Dit is geheel en al ’n onredelike gevolgtrekking. ’n Uitstekende bouer en ’n bekwame tuinier het dit klaarblyklik gedoen.

Ons luisterryke heelal, wat soveel ingewikkelder is, het eweneens beslis ’n Skepper gehad. In die Bybel identifiseer hy hom deur ’n naam, en sê: “Ek is Jehovah. Dit is my naam” (Jesaja 42:8, NW). Mense wat God se werke waardeer se gevoel is só in die Bybel opgeteken: “U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep.”—Openbaring 4:11.

Buiten die feit dat hy sy persoonlike naam wat hy homself gegee het aan mense openbaar, het Jehovah ook in sy geskrewe Woord geopenbaar waarom hy die aarde voorberei het vir mense om daarop te woon. En Jesus Christus, God se eie Seun, het ons verseker dat ons op God se Woord kan vertrou toe hy gesê het: “U woord is waarheid.”—Johannes 17:17.

’n Wetenskaptydskrif het onlangs gesê: “In teenstelling met alle vorige geslagte weet ons hoe ons hier gekom het. Maar soos alle vorige geslagte weet ons nog steeds nie waarom nie.” En tog is die antwoord op hierdie vraag, Waarom?, beskikbaar—God se Woord voorsien dit. Kyk gerus na die antwoord in die volgende artikel.

[Prent op bladsy 6]

Tydens die atoombomontploffing in Hirosjima het ’n bietjie materie geweldige energie vrygestel

[Erkennings]

Hiroshima Peace and Culture Foundation from material returned by the United States Armed Forces Institute of Pathology

USAF photo

[Prent op bladsy 7]

Energie wat in wonderlike, ordelike sterrestelsels omgesit is

[Erkenning]

Met vergunning van: Anglo-Australian Observatory, photograph by David Malin

[Prent op bladsy 8, 9]

Watter wette maak maanlandings moontlik?

[Prent op bladsy 9]

“Die een of ander Krag het dit alles in wentelbane geplaas en hou dit daar.”—John Glenn

[Erkenning]

NASA photo

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel