Jongmense vra . . .
Waarom kan ek nie die dinge kry wat ek wil hê nie?
“Daar is sommige dinge waarvan ek regtig hou, en ek wil hulle baie graag hê; maar my ouers kan dit nie bekostig nie.”—Mike.
IS DAAR dinge wat jy graag wil hê, maar nie kan kry nie? Jy het miskien jou hart gesit op ’n nuwe radio, daardie skoene wat al die ander kinders dra of net nuwe jeans met ’n ontwerpersnaam. Party van jou maats het sulke dinge—en stel dit trots ten toon. As daar dus vir jou gesê is dat jou ouers iets nie kan bekostig nie, sal jy dalk teleurgesteld wees.
Maar hoewel dit normaal is om sekere materiële dinge te wil hê, is dit by baie jongmense byna ’n obsessie om dié dinge te besit. Dit lyk of propaganda in die media die grootste rede hiervoor is. Slim TV-, tydskrif- en radio-advertensies dra die boodskap oor dat jy ’n volslae mislukking is as jy nie sekere klere dra of produkte met sekere handelsname gebruik nie. Tieners bestee in die Verenigde State alleen meer as 100 miljard dollar (563 miljard rand) per jaar!
Dan is daar portuurdwang. “As die sosiale groep waarby jy wil inpas jou as uncool beskou”, sê ’n artikel in die tydskrif Marketing Tools, “beteken dit in die oorvereenvoudigde wêreld van die adolessent nie dat jy bloot nie aan hulle standaarde voldoen of dat jy verwerp word nie: dit beteken dat jy ’n Mislukking is.” Wat moet ’n mens doen om “cool” te wees? In baie kringe beteken dit dat jy die beste en die nuutste materiële dinge moet besit. En as jy dit nie kan bekostig nie? “Dis regtig baie moeilik”, erken ’n jong Christen. “Jy gaan skool toe met klere wat nie ’n ontwerpersnaam het nie, en almal terg jou daaroor.” ’n Ander jeugdige erken: “Ek voel soms uitgesluit.”
Jongmense wat in ontwikkelende lande woon, waar mense lang ure swoeg om net die noodsaaklike lewensbenodigdhede te bekom, kan soortgelyke druk ondervind. As dit in julle gesin die geval is, wil jy moontlik ’n beter lewe hê. As jy al TV-programme en rolprente uit ryker lande gesien het, het jy ook dalk ’n begeerte begin ontwikkel na die duur klere, huise en motors wat in daardie programme en films voorgestel word. Omdat dit lyk of sulke dinge heeltemal buite jou bereik is, kan jy verbitterd of selfs depressief raak.
Hetsy jy in ’n arm of ’n ryk land woon, daar kan niks goeds van kom as jy kwaad of gefrustreerd is omdat jy sekere dinge nie kan hê nie. Dit kan ook daartoe lei dat jy gedurig met jou ouers stry. Die vraag is: Hoe kan jy die situasie hanteer?
’n Gebalanseerde beskouing van materiële dinge
Eerstens moet jy besef dat dit nie Jehovah God se wil is dat sy knegte in armoede moet leef of sonder die dinge moet klaarkom wat hulle werklik nodig het nie. God het Adam en Eva immers nie op ’n ashoop geplaas nie, maar in ’n pragtige tuin vol bome wat begeerlik was om te sien (Genesis 2:9). Later het party knegte van God, soos Abraham, Job en Salomo, baie materiële besittings gehad (Genesis 13:2; Job 1:3). Salomo het immers soveel goud besit dat silwer gedurende sy heerskappy as “niks gereken” is nie!—1 Konings 10:21, 23.
Maar oor die algemeen het die meeste van God se knegte nie veel besit nie. Jesus Christus was self arm; hy het nie eens ‘’n plek gehad om sy kop neer te lê nie’ (Matteus 8:20). Maar jy het nog nooit gelees dat Jesus gekla het omdat hy nie die dinge kon bekostig wat hy wou hê nie. Hy het eerder geleer: “Moet . . . nooit besorg wees en sê: ‘Wat gaan ons eet?’ of: ‘Wat gaan ons drink?’ of: ‘Wat gaan ons aantrek?’ nie. . . . Want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word.”—Matteus 6:31-33.
Dit beteken nie dat God verplig is om iemand se begeerte na ontwerpersklere of elektroniese apparate te bevredig nie. God voorsien wat ons nodig het—nie noodwendig wat ons wil hê nie. Dit is waarom die Bybel ons aanspoor om tevrede te wees as ons net “voedsel, klere en onderdak” het (1 Timoteus 6:8). Maar laat ons eerlik wees, dit is moeilik om tevrede te bly. “’n Mens moet gedurig kies tussen dit wat jy wil hê en dit wat jy nodig het”, erken ’n jong man met die naam Mike. Buiten ons eie selfsugtige neigings moet ons ook stry teen die invloed van God se aartsvyand, Satan die Duiwel (1 Johannes 5:19). En een van sy oudste slenters is om mense te laat voel dat hulle iets ontsê word. Eva is op hierdie manier verlei om te dink dat sy iets ontneem word—al het sy in ’n volmaakte paradys gewoon!—Genesis 3:2-6.
Hoe kan jy keer dat jy in ontevredenheid verval? Dit klink dalk na ’n cliché, maar dit help baie as jy jou seëninge tel. Moenie in negatiewe gedagtes verval oor dinge wat jy nie het nie. Dink positief, en herinner jouself aan wat jy wel besit. (Vergelyk Filippense 4:8.) Mike stel dit só: “Daar is baie dinge wat ek regtig graag wil hê, maar ek tob nie daaroor nie.”
Dit help ook om skepties te wees oor slim advertensies wat op jou gevoel speel (Spreuke 14:15).a Voordat jy die oorhaastige gevolgtrekking maak dat jy sal “doodgaan” sonder daardie nuwe paar seilskoene of daardie laserplaatspeler, moet jy die situasie kalm probeer ontleed. Vra jou af: ‘Het ek dit regtig nodig? Kan ek dit gebruik? Is dit wat ek alreeds het goed genoeg?’ Wees veral op jou hoede wanneer advertensies jou wysmaak dat jy groter aansien sal geniet as jy ’n sekere produk besit. Die apostel Johannes se woorde wat in 1 Johannes 2:16 opgeteken is, stem ’n mens tot nadenke: “Alles wat in die wêreld is—die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele—het nie hulle oorsprong by die Vader nie, maar het hulle oorsprong by die wêreld.”
Wanneer jy iets regtig nodig het
Sê nou daar is iets wat jy regtig nodig het? Doen ’n bietjie navorsing voordat jy met jou ouers daaroor praat. Wees gereed om presies te verduidelik waarom jy dit nodig het, hoe jy dit gaan gebruik en waarom jy dink dat dit vir jou nuttig sal wees. Jou ouers sal miskien ’n manier vind om dit by die gesinsbegroting in te pas. Maar sê nou hulle kan nie, ten minste nie vir die oomblik nie? Jy het dalk geen ander keuse as om geduldig te wees nie (Prediker 7:8, NW). Ons lewe in ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’, en baie ouers kan eenvoudig nie al die dinge bekostig wat hulle kinders moontlik vra nie (2 Timoteus 3:1). As jy nie onredelike eise aan jou ouers stel nie, kan jy selfs hulle moeilike taak ’n bietjie makliker maak.
Maar jy kan dalk die inisiatief neem. Kry jy byvoorbeeld sakgeld? Probeer dan leer hoe om jou geldsake sorgvuldig te reël sodat jy elke maand ’n gedeelte daarvan kan spaar. Dit is dalk selfs vir jou moontlik om ’n spaarrekening by ’n bank in jou omgewing oop te maak. (Vergelyk Lukas 19:23.) ’n Jong meisie met die naam Abigail het dit gedoen. Sy sê: “Ek sit my geld in twee verskillende hopies—een om in my bankrekening in te betaal en die ander om uit te gee.” As jy oud genoeg is, kan jy selfs los werkies of deeltydse werk probeer doen.b In elk geval, as jou ouers sien dat jy iets regtig wil koop en dat jy pligsgetrou spaar, sal dit hulle dalk beweeg om ’n deel van die koste vir jou te dek as dit enigsins moontlik is.
As jy ’n paar veranderinge maak in die manier waarop jy inkopies doen, sal dit jou dalk ook help. As iets byvoorbeeld te duur is, kan jy moontlik oor ’n laer prys onderhandel. As dit nie werk nie, kan jy wag en kyk of dit later op ’n uitverkoping te koop is. Kyk ook goed rond vóór jy koop of jy dieselfde ding goedkoper kan kry. Leer om die gehalte van artikels sorgvuldig te ondersoek; soms is artikels sonder ’n handelsmerk uitstekende kopies.c
Leer om tevrede te wees
Spreuke 27:20 waarsku: “Die doderyk en die plek van vertering word nie versadig nie; so word die oë van ’n mens nie versadig nie.” Ja, net soos die doderyk altyd nog mense eis, wil party mense altyd al hoe meer dinge hê—ongeag hoeveel hulle alreeds besit. Vermy daardie selfsugtige denkpatroon. Op die lange duur bring hebsug net frustrasie en ongelukkigheid. ’n Jong man met die naam Jonathan sê: “As jou geluk altyd afhang van wat jy besit, sal jy nooit gelukkig wees nie. Daar sal altyd iets nuuts wees wat jy wil hê. Jy moet leer hoe om gelukkig te wees met wat jy het.”
As jy tevrede is, sal jy portuurdwang die hoof kan bied. Die jong Vincent sê: “Net omdat ek iemand sien wat ’n paar ontwerperseilskoene dra, beteken dit nie dat ek vir my ook ’n paar moet gaan koop nie.” Natuurlik sal dit jou dalk nog af en toe pla wanneer jy iets wat jy wil hê nie kan kry nie. Maar moet nooit vergeet dat Jehovah weet wat jy nodig het nie (Matteus 6:32). En in die nabye toekoms gaan hy ‘die begeerte bevredig van al wat leef’.—Psalm 145:16, NW.
[Voetnote]
a Sien die reeks “Reklame—Hoe raak dit jou?” wat in die Ontwaak! van 22 Augustus 1998 verskyn het.
b Sien die artikel “Jongmense vra . . . Wat kan ek doen om geld te verdien?” in ons nommer van 22 Augustus 1998.
c Sien die artikel “Jongmense vra . . . Hoe kan ek my klerekas verbeter?” in ons nommer van 22 Januarie 1995 vir verdere nuttige wenke.
[Lokteks op bladsy 13]
“Jy gaan skool toe met klere wat nie ’n ontwerpersnaam het nie, en almal terg jou daaroor”
[Prent op bladsy 14]
Jy kan gelukkig wees sonder dat jy alles het wat jy wil hê