Die Oktober-skou—“Europa se oudste internasionale perdemark”
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN IERLAND
VERLEDE week was dit ’n vreedsame, stil klein dorpie waar mense rustig met hulle dagtake besig was. Maar hierdie week is dit ’n miernes. Die dorpie is stampvol mense terwyl die sowat 6 000 plaaslike inwoners gasheer is vir meer as 50 000 besoekers. Maar dit is nie eintlik die krioelende mensemassa of die talle markstalletjies of selfs die kleurryke straatkunstenaars wat die meeste aandag trek nie. Dit is die perde! Hulle is oral!
Waar is ons? In die klein dorpie Ballinasloe, wat ongeveer 140 kilometer wes van Ierland se hoofstad, Dublin, is. Waarom is hierdie dorpie wat gewoonlik so vreedsaam is nou só bedrywig? Die rede is wat die organiseerders beskryf as “Europa se oudste internasionale perdemark”, die Oktober-skou.
Waarom Ballinasloe?
Wat maak die Oktober-skou so gewild? Ontwaak! het ’n onderhoud gevoer met George, ’n plaaslike boer wat al baie perde hier verkoop het. “By Ballinasloe”, sê hy, “kan enigiemand—ryk sowel as arm—enige soort perd bring om te verkoop. Dit is hoe eenvoudig dit is.” Maar waarom is dit so anders? “In baie ander plekke is die koop en verkoop van perde ’n bedrywigheid wat streng beperk en beheer word”, verduidelik George. “Op party veilings word net een perderas verkoop. En die transaksie behels gewoonlik dat heelwat vorms ingevul moet word. Daar is nie baie perdemarkte waar enigiemand ’n perd kan bring, hom tot by die verkooparea kan lei en hom eenvoudig kan verkoop nie! Hier by die Oktober-skou word daar nog op min of meer dieselfde manier met perde handel gedryf as wat daar die laaste twee- of driehonderd jaar gedoen is—deur direkte verkope sonder enige formaliteit, net hier in die verkooparea.”
‘Hoe’, het ons gewonder, ‘het dit gebeur dat Ballinasloe die middelpunt van sulke bedrywighede geword het? Waarom het handelaars selfs van Rusland af gekom om hier perde te koop?’ ’n Blik in die geskiedenis help ons om die antwoorde te kry.
Die setel van party van Ierland se belangrike konings was in Tara, wat ongeveer 30 kilometer noordwes van Dublin is. Dit was ’n godsdienssentrum, en later ’n politieke sentrum, in Ierland. Mense het na Tara gegaan om hulle belasting te betaal en te hoor van nuwe wette wat uitgevaardig is. Wat is Tara se verbintenis met Ballinasloe? Wel, Ballinasloe het ontwikkel om ’n rivierdrif op een van die natuurlike roetes na Tara van die weste af. Reisigers wat na en van die koningshuis gereis het, het gevind dat hierdie rivierdrif, wat ongeveer een dag te perd van die weskus af was, ’n geskikte plek was om nuus uit te ruil en goedere te verhandel. Daar is, volgens die organiseerders van die Oktober-skou, ‘getuienis dat perdehandel in die gebied selfs tot die vyfde eeu G.J. teruggevoer kan word’.
In onlangser jare het Ballinasloe se strategiese ligging dit ’n ideale plek gemaak vir die groot amptelike skou wat vroeg in die 18de eeu hier begin is. Party boere het al ’n maand of wat voor die tyd begin om hulle beeste na hierdie mark te neem, al het dit vir party ’n reis van 200 kilometer beteken. Mettertyd het perde die vernaamste aantrekkingskrag hier geword.
Die grond om Ballinasloe is baie vrugbaar en ideaal om vee te teel. Dit lewer sterk, gesonde, vrugbare diere. “Ierse perde”, verduidelik die skrywer Mark Holdstock, “is goed bekend vir hulle stewige bou.” Hy sê verder: “Rasse soos die Ierse Draught gedy al honderde jare in hierdie landskap en het deur die eeue heen al hoe sterker geword.”
Die behoefte aan perde
Die skou draai vandag hoofsaaklik om die koop en verkoop van perde! Wat het perde so belangrik gemaak? In die 18de en 19de eeu het boere regoor Ierland perde op groot skaal gebruik om die landerye te bewerk. Hulle het sterk, betroubare perde nodig gehad om ploeë te trek deur wat dikwels nat, moerasagtige grond was. Maar daar was ’n groot vraag na perde uit ’n ander bron. Leërs het sterk perde nodig gehad wat nie verskrik sou word deur die geraas van oorlog nie en wat die krag en stamina sou hê om swaar voorrade oor ruwe terrein te vervoer. Die Ierse Draught het al hierdie eienskappe gehad en was dus baie gesog. Dit is met ’n Engelse Volbloed gekruis en het ’n dapper, atletiese perd gelewer wat ideaal was vir gebruik in die kavallerie.
Duisende perde, asook soldate, was oorlogslagoffers. Om die perde te vervang wat in die talle veldslae in Europa dood is, was militêre verteenwoordigers van baie Europese lande, selfs van vergeleë Rusland, bereid om na Ballinasloe te reis om nuwe, betroubare volbloedperde te koop. Teen die middel van die 19de eeu het die Oktober-skou “die grootste perdemark in Europa” geword. “Volgens gerug”, sê Holdstock, “is die helfte van die perde wat in die Slag van Waterloo gebruik is by Ballinasloe gekoop.”a
Onderhandelingstegnieke
Die vraag na perde vir dié doel het natuurlik gedurende die 20ste eeu vinnig afgeneem. Militêre voertuie het die kavallerie vervang, en trekkers het die plek ingeneem van ploeë wat deur perde getrek is. Trouens, perdeverkope by Ballinasloe het amper tot ’n stilstand gekom. Ongeveer 40 jaar gelede is hierdie mark egter nuwe lewe gegee.
Hoe het George, wat vroeër genoem is, te werk gegaan om sy perde hier te verkoop? “Ek het net na die verkooparea gegaan met die perde wat ek wou verkoop”, sê hy, “en vroeër of later sou iemand na my toe kom en vra wat my prys is.” George verduidelik dan ’n paar van die geheime van hoe om te onderhandel: “Ons sal ’n ruk lank oor die prys kibbel, soms baie aggressief. As die koper werklik my perd wil hê, sal hy versigtig wees om nie te veel belangstelling te toon nie, omdat hy bang is dat ek moontlik die prys hoog sal hou. Hy sal dalk weggaan en later terugkeer, in die hoop dat niemand intussen ’n beter aanbod gemaak het nie. Hy sal miskien selfs ’n kollega stuur om met my te stry en my besig te hou, om te keer dat iemand anders ’n aanbod maak. Uiteindelik sal ons oor ’n prys ooreenkom en dit met ’n handdruk bevestig. Gewoonlik sal hy dan sommer kontant betaal, en die perde sal net daar van eienaar verwissel. Aangesien daar geen beheerliggaam is wat enigiets kontroleer nie, is daar geen waarborge nie!”
’n Besoeker sal dit dalk moeilik vind om te weet watter perd te koop is en watter nie. “As hy in die verkooparea is”, sê George, “is hy te koop.” Dan noem hy van die plaaslike gebruike: “In die verlede is ’n hopie grond agter op die perd se boud gesit as hy verkoop is—en dit word soms selfs vandag nog gedoen. Andersins is hy eenvoudig deur die nuwe eienaar weggelei. In navolging van ’n ander ou tradisie in die perdehandel in Ierland, het die verkoper ‘geluksgeld’ teruggegee nadat die koper vir ’n nuwe perd betaal het. Dit was ’n klein bedrag wat teruggegee is nadat die hooftransaksie afgehandel was. Dit was veronderstel om die perd ‘geluk’ te besorg by sy nuwe eienaar.
“Jy het werklik goeie kennis van perde en hulle waarde nodig”, waarsku George. “Jy kry gewoonlik waarvoor jy betaal, en die meeste mense verlaat die mark tevrede. Maar selfs ervare perdehandelaars moet op hulle hoede wees. Ek weet van ’n handelaar wat ’n perd verkoop het en toe na ’n kroeg gegaan het vir ’n paar drankies voordat hy huis toe sou gaan. Intussen het die nuwe eienaar die perd se hare gekam en gesny, wat sy voorkoms heeltemal verander het. Die ‘nuwe’ perd is vir die oorspronklike eienaar aangebied, wat dit geredelik teruggekoop het teen ’n baie hoër prys, aangesien hy gedink het dit ’n ander perd is!”
Die moontlikheid om jou ’n kat in die sak te koop, is egter nie die enigste gevaar nie. “Pas op waar jy staan!” waarsku George. “Ons moet onthou dat met soveel perde wat so na aan mekaar staan—miskien ure lank—en met al hierdie bedrywigheid om hulle sal baie perde senuweeagtig wees en miskien skop. Ek het al baie verskrikte perde gesien wat begin steier, selfs wanneer hulle deur ervare ruiters beheer word.” Hy gaan voort: “O, ja! Dra ’n goeie paar Wellingtons [rubberstewels]. Dit is dalk nie modder waarin jy trap nie!”
[Voetnoot]
a Die Slag van Waterloo is in 1815 in Europa beslis. Verskeie leërs met altesaam ongeveer 185 000 man het aan die gevegte daar deelgeneem. Daar was waarskynlik duisende perde wat vir die kavallerie en vir vervoer gebruik is.
[Prent op bladsy 16]
’n Bontponie wat wag om verkoop te word
[Prent op bladsy 16, 17]
Die verkooparea by Ballinasloe op die openingsdag
[Prent op bladsy 17]
Hierdie ras is ’n kruising tussen ’n Ierse Draught en ’n Engelse Volbloed