Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 7/8 bl. 20-22
  • Wat is verkeerd met flankeerdery?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat is verkeerd met flankeerdery?
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • As ’n mens getroud is
  • Emosionele verhoudings
  • Wat van die ongetroudes?
  • Wat is verkeerd daarmee as jy flankeer?
    Ontwaak!—1991
  • Is dit net onskuldige pret wanneer jy flirt?
    Jongmense vra
  • 1 Hoe om probleme te vermy
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2018
  • Bly kuis deur jou hart te bewaak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 7/8 bl. 20-22

Die Bybelse beskouing

Wat is verkeerd met flankeerdery?

“Waarom beskou ons flankeerdery as manipulerend of bedrieglik of sleg? Dit is nie! Dis ’n spel! En dis ’n spel waarin albei wen omdat jy die ander persoon goed laat voel.”—Susan Rabin, bestuurderes van die Skool van Flankeerdery, New York-stad.

BAIE mense beskou flankeerdery as normaal, onskuldig en selfs as noodsaaklik om menseverhoudinge op te bou en te behou. In Westerse lande is daar in onlangse tye ’n buitengewone toename in boeke, tydskrifartikels en spesiale kursusse wat ’n mens die gebare, houdings, asook vlugtige en starende blikke leer wat ’n wesenlike deel van die “flankeerkuns” uitmaak.

Wat is flankeerdery? Daar is verskeie definisies en verklarings. Een woordeboek definieer dit as “ligsinnige verliefdheid of seksueel verleidelike” gedrag. ’n Ander woordeboek definieer flankeerdery as “verlief [optree] sonder ernstige bedoelings”. Dit lyk dus of dit ’n algemeen aanvaarde idee is dat iemand wat flankeer romantiese belangstelling toon sonder dat hy van plan is om te trou. Behoort flankeerdery as onskadelik beskou te word? Wat is die Bybelse beskouing van flankeerdery?a

Hoewel flankeerdery nie spesifiek in die Skrif gemeld word nie, kan ons vasstel wat God se beskouing daarvan is. Hoe? Deur Bybelbeginsels te ondersoek wat op die saak betrekking het. Ons ontwikkel dus ons ‘waarnemingsvermoëns sodat ons kan onderskei wat reg sowel as verkeerd is’ (Hebreërs 5:14). Laat ons eerstens kyk of flankeerdery gepaste gedrag vir getroudes is.

As ’n mens getroud is

Dit is heel natuurlik vir ’n getroude paar om verlief teenoor mekaar op te tree wanneer hulle alleen is. (Vergelyk Genesis 26:8.) Maar om sulke aandag aan iemand buite die huwelik te gee, is in stryd met God se beginsels. Jehovah se voorneme is dat getroude pare ’n hegte verhouding moet geniet, een waarin hulle mekaar vertrou (Genesis 2:24; Efesiërs 5:21-33). Hy beskou die huwelik as ’n heilige, permanente verbintenis. In Maleagi 2:16 sê God: “Ek haat egskeiding.”b

Is flankeerdery deur ’n getroude persoon verenigbaar met God se beskouing van die huwelik? Op sy allerminste toon die getroude flankeerder oneerbiedigheid teenoor die heiligheid van God se huweliksreëling. Dan beveel Efesiërs 5:33 ook die Christenman om ‘sy vrou lief te hê soos homself’ en die vrou om ‘diep respek vir haar man te hê’. Toon flankeerdery, wat jaloesie wek, liefde of respek vir ’n mens se maat?

Iets wat ’n mens beslis tot nadenke stem, is die feit dat flankeerdery tot egbreuk kan lei, ’n sonde wat Jehovah ronduit veroordeel en as verraderlik beskryf (Exodus 20:14; Levitikus 20:10; Maleagi 2:14, 15, vgl. NW; Markus 10:17-19). Trouens, Jehovah beskou egbreuk in so ’n ernstige lig dat hy slagoffers van huweliksontrouheid toelaat om te skei (Matteus 5:32). Kan ons dan glo dat Jehovah so ’n gevaarlike tydverdryf soos flankeerdery sou goedkeur? God sou dit net so min goedkeur as wat ’n liefdevolle ouer dit sou goedkeur dat sy klein kindjie met ’n skerp kombuismes speel.

Die Bybel waarsku aangaande egbreuk: “Kan iemand vuur in sy skoot dra sonder dat sy klere verbrand? Of kan iemand op gloeiende kole loop sonder dat sy voete brandwonde kry? So is dit met hom wat by die vrou van sy naaste ingaan; elkeen wat haar aanraak, sal nie ongestraf bly nie” (Spreuke 6:27-29). Maar selfs al word egbreuk nooit gepleeg nie, loop ’n getroude persoon wat flankeer nog ’n gevaar—om betrokke te raak by wat al “’n emosionele verhouding” genoem is.

Emosionele verhoudings

Party mense het verhoudings buite hulle huwelik aangeknoop waarin romantiese gevoelens ontwikkel, hoewel daar geen seksuele kontak is nie. Maar Jesus het gewaarsku: ‘Elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg’ (Matteus 5:28). Waarom het Jesus beswaar gemaak teen hartstog wat nie verder as die hart gaan nie?

Een faktor is dat daar “uit die hart . . . egbreuk” kom (Matteus 15:19). Maar so ’n verhouding is skadelik selfs al het dit nog nie die punt bereik waar dit tot egbreuk sal oorgaan nie. Hoe so? Een boek oor hierdie onderwerp verduidelik: “Enige bedrywigheid of verhouding wat te veel tyd en energie van jou lewe saam met jou huweliksmaat in beslag neem, is ’n vorm van ontrouheid.” Ja, ’n emosionele verhouding beroof jou maat van tyd, aandag en liefde. Met die oog op Jesus se bevel dat ons ander moet behandel soos ons behandel wil word, kan die getroude flankeerder hom gerus afvra: ‘Hoe sou ek voel as my maat so teenoor iemand anders optree?’—Spreuke 5:15-23; Matteus 7:12.

Wat moet ’n persoon doen as hy so ’n ongepaste emosionele verbintenis gevorm het? ’n Getroude persoon met ’n ongepaste emosionele gehegtheid is soos ’n bestuurder wat agter die wiel aan die slaap raak. Hy moet wakker skrik en besef in watter situasie hy is en onmiddellike, besliste stappe doen voordat sy huwelik en sy verhouding met God skipbreuk ly. Jesus het die behoefte aan drastiese optrede geïllustreer toe hy gesê het dat selfs iets so kosbaar soos ’n oog uitgeruk of ’n hand afgekap moet word as dit ’n mens se goeie posisie voor God sal skaad.—Matteus 5:29, 30.

Dit sou dus verstandig wees om te beperk waar en hoe dikwels jy die ander persoon sien. ’n Mens moet dit beslis vermy om alleen saam met die persoon te wees, en as dit by die werk is, moet julle persoonlike gesprekke vermy. Dit is dalk selfs nodig om alle kontak met die persoon te verbreek. Daarna moet ’n mens streng selfbeheersing toepas wanneer dit kom by jou oë, gedagtes, gevoelens en gedrag (Genesis 39:7-12; Psalm 19:15; Spreuke 4:23; 1 Tessalonisense 4:4-6). Job, ’n getroude man, het ’n uitstekende voorbeeld gestel toe hy gesê het: “Ek het ’n verbond gesluit met my oë: hoe sou ek dan ag gegee het op ’n jonkvrou?”—Job 31:1.

Dit is duidelik dat dit gevaarlik en onskriftuurlik vir ’n getroude persoon is om te flankeer. Maar wat is die Bybel se beskouing van flankeerdery tussen ongetroudes? Moet dit as normaal, onskuldig of noodsaaklik beskou word om verhoudinge met diegene van die teenoorgestelde geslag aan te knoop? Kan dit werklik enige skade aanrig?

Wat van die ongetroudes?

Daar is niks daarmee verkeerd as twee ongetroudes romantiese belangstelling in mekaar toon nie, mits hulle dit oorweeg om te trou en hulle onreine gedrag vermy (Galasiërs 5:19-21). Sulke belangstelling kan in die beginstadium van hofmakery plaasvind wanneer ’n huwelik dalk nog net ’n geringe moontlikheid is. Dit is nie noodwendig ongepas wanneer die bedoelings goed is nie. Sulke gedrag is nie werklik flankeerdery nie.

Maar gestel ongetroudes stuur romantiese seine vir mekaar net vir die pret. Dit lyk dalk onskadelik, aangesien hulle ongetroud is. Maar dink aan die moontlikheid dat iemand se gevoelens kan seerkry. As die flankeerder se gedrag ernstiger opgeneem word as wat dit bedoel word, kan dit verskriklike pyn en hartseer tot gevolg hê. Hoe waar is die woorde van Spreuke 13:12 tog: “’n Uitgestelde hoop maak die hart siek; maar ’n wens wat uitkom, is ’n lewensboom”! Selfs as twee mense beweer dat hulle tot die verstandhouding gekom het dat nie een ernstig in die ander belangstel nie—kan albei seker wees van wat die ander een werklik dink of voel? Die Bybel antwoord: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?”—Jeremia 17:9; vergelyk Filippense 2:4.

Dink ook aan die gevaar van hoerery, met die moontlike gevolge van siekte of ’n buite-egtelike swangerskap. Hoerery word in die Skrif verbied, en diegene wat dit moedswillig beoefen, verloor God se guns. Die apostel Paulus het Christene wyslik vermaan dat hulle, as hulle versoeking wil weerstaan, hulle ‘liggaamsdele moet doodmaak wat hoerery betref’ en “hebsugtige geslagslus” moet vermy, wat tot hoerery lei (Kolossense 3:5; 1 Tessalonisense 4:3-5). In Efesiërs 5:3 sê hy vir ons dat hoerery “selfs nie genoem [moet] word” nie, dit wil sê op so ’n manier dat dit verkeerde begeertes sal wek. Flankeerdery strook nie met sulke raad nie. God verbied selfs onheilsame gesprekke oor seks.

Bybelbeginsels toon dat flankeerdery wreed kan wees teenoor ons medemens en oneerbiedig kan wees teenoor Jehovah, die Insteller van die huwelik. Die Bybelse beskouing van ongepaste flankeerdery is beslis liefdevol en redelik, aangesien dit mense teen seerkry beskerm. Liefhebbers van God sal derhalwe ongepaste flankeerdery vermy en die teenoorgestelde geslag met kuisheid en respek behandel.—1 Timoteus 2:9, 10; 5:1, 2.

[Voetnote]

a Flankeerdery moet nie verwar word met vriendelikheid of geselligheid, waarby geen verliefdheid betrokke is nie.

b Sien die artikel “Watter soort egskeiding haat God?” in die Ontwaak! van 8 Februarie 1994.

[Foto-erkenning op bladsy 20]

© The Curtis Publishing Company

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel