Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 7/8 bl. 23-27
  • Voëlkykery—’n Fassinerende stokperdjie vir almal?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Voëlkykery—’n Fassinerende stokperdjie vir almal?
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Opwindend vir enigiemand
  • Waarom is dit so gewild?
  • Grondbeginsels van voëlkykery
  • Waar kan jy begin soek? Jou buurt
  • Maniere om voëls te kyk
  • Voorbereiding is die moeite werd
  • ‘Hou die voëls noukeurig dop’
    Ontwaak!—2014
  • Wanneer voëls in geboue vasvlieg
    Ontwaak!—2009
  • Die vreugdes van voëlkykery
    Ontwaak!—2001
  • Die raaisels van migrasie word ondersoek
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 7/8 bl. 23-27

Voëlkykery—’n Fassinerende stokperdjie vir almal?

“Die voëlkyker se lewe is ’n eindelose reeks verrassings.” W. H. Hudson—The Book of a Naturalist.

BY Kosibaai, naby die grens tussen Suid-Afrika en Mosambiek, het Keith, Evelyn, Jannie en hulle gids 22 kilometer ver geloop om ’n voël te sien. Dit was nie sommer net enige voël nie! Hulle was op soek na die witaasvoël—’n groot swart-en-wit-voël met rooi vel om sy oë. Hy eet dooie visse en die vrugte van oliepalms.

Keith vertel: “Ná die lang staptog het ons teleurgesteld huis toe gekom omdat ons net een gesien het—en boonop op ’n afstand terwyl hy gevlieg het. Maar wat vind ons toe ons terugkom by ons kampplek? Drie witaasvoëls wat in ’n palmboom bo ons sit! Ons het dit geniet om hulle ongeveer ’n halfuur lank dop te hou voordat hulle weggevlieg het en ons ’n wonderlike vertoning met hulle uitgespreide vlerke gegee het. Dieselfde dag nog het ons ook vir die eerste keer ’n visuil gesien. Ja, ’n uil wat visvang!

Opwindend vir enigiemand

Regoor die wêreld verskaf dit mense genot om na voëls te kyk en hulle te hoor. Die meer as 9600 spesies bied geleenthede vir enige wakker voëlkyker. Vir wie is dit nie opwindend om die vinnige flikkering van kleur van ’n kolibrie of ’n visvanger te sien nie? Wie staan nie stil wanneer hulle betower word deur die repertoire van ’n spotvoël, ’n nagtegaal of ’n Australiese liervoël of deur die kenmerkende geroep van die koekoek of die borrelende sang van die Australiese ekster nie?

Voëlkykery is die waarneming van wilde voëls. Dit kan so energiek wees as wat jy wil hê dit moet wees. Jy wil dalk nie graag deur moerasse ploeter of berge klim om seldsame voëls te vind nie. Maar baie mense vind dat voëlkykery in hulle agterplaas of tuin bevredigend en verkwikkend is. Baie mense sit water en ’n voëlvoerder uit om die plaaslike voëllewe te lok. Die aantal entoesiaste neem elke jaar toe. Al hoe meer mense glo dat dit die moeite werd is.

Waarom is dit so gewild?

Volgens die boek An America Challenged, deur Steve H. Murdock, word daar verwag dat die aantal voëlkykers tussen die jare 1990 en 2050 teen ’n vinniger tempo sal toeneem as die Amerikaanse bevolking. Die tydskrif New Scientist het berig dat “al hoe meer mense in Indië begin voëls kyk”. En Gordon Holtshausen, voorsitter van die Publikasiekomitee van die Suider-Afrikaanse Voëlkundige Vereniging, meen dat “[voël]boeke in Suid-Afrika . . . net deur die Bybel oortref word”.

As jy eers ’n voël deur ’n voëlkyker se oë gesien het, sal jy ook ’n entoesias word! Voëlkykery is aansteeklik. Dit kan ’n goedkoop vorm van ontspanning wees wat jou in die buitelug laat kom en jou verstand aan die werk sit. Dit het die aantrekkingskrag van jag sonder dat jy iets doodmaak. Aangesien kinders en volwassenes dit vinnig aanleer, kan dit deur gesinne of groepe vriende geniet word. Dit kan selfs alleen geniet word. Voëlkykery is ’n skoon, heilsame, gesonde tydverdryf en kan regdeur die jaar op omtrent enige plek gedoen word.

Grondbeginsels van voëlkykery

Sien jy partykeer ’n voël en wonder wat dit genoem word? Dit is bevredigend om die name te leer ken van nie net die indrukwekkende arende, poue en swane nie, maar ook van die naguile wat maklik misgekyk word en van grondlopers (Upucerthia). Daar is ook die strandlopers wat so eenders lyk en bossangers met ’n herfskleurige verekleed, asook al dié tussenin.a

Jy sal ’n veldgids tot die voëls in jou land of streek nodig hê om hulle te identifiseer. Dit is ’n sakformaatboek met prente en beskrywings van die mannetjie en wyfie van elke spesie. Die uitvoeriger veldgidse het ook ’n beskrywing van die onvolwasse en seisoensverekleed.

Wat het ’n beginner nog nodig? ’n Goeie verkyker is vir ’n voëlkyker wat ’n visstok of -net vir ’n visserman is. Jy sal verstom wees oor die besonderhede wat jy op die voëls in jou buurt kan sien as jy deur ’n verkyker na hulle kyk. Dit is byvoorbeeld in Afrika moeilik om ’n groot seekoei mis te kyk. Maar tensy jy ’n verkyker gebruik, sal jy dalk nie die klein rooibekrenostervoël sien wat parasiete eet terwyl hy aan die seekoei se rug klou nie.

Nie alle verkykers is vir voëlkykery ontwerp nie, en die beste is om te vergelyk hoe goed verskillende verkykers werk. Onder voëlkykers is die 7 x 42 en 8 x 40 verkykers twee gewilde soorte. Die eerste syfer verwys na die vergroting, en die tweede na die deursnee van die groot lens in millimeter. Die National Geographic Field Guide to the Birds of North America verduidelik dat “’n verhouding van 1 tot 5 tussen vergroting en lensgrootte oor die algemeen as ideaal beskou word vir ligversamelvermoë”. Dit stel jou in staat om kleure selfs in swak lig te sien. ’n Sterker verkyker is dus nie noodwendig beter nie. Beeldskerpte is wat ’n mens wil hê.

Waar kan jy begin soek? Jou buurt

Iemand wat die voëls in sy eie buurt ken, sal baie beter toegerus wees vir ’n uitstappie na ’n ander plek om minder algemene of minder sigbare voëls te vind. Weet jy watter spesies algemeen voorkom om jou huis? Watter voëls vlieg net oor, dalk op pad na ’n nabye meer of vlei? Watter trekvoëls vlieg gedurende hulle seisoenale reise oor? Christopher Leahy het in sy boek The Birdwatcher’s Companion geskryf: “In Noord-Amerika [migreer] ongeveer 80 persent van die sowat 645 spesies broeivoëls.”

Party van hierdie trekvoëls land dalk naby jou huis om te eet en te rus. Ywerige voëlkykers in party gebiede het al meer as 210 voëlspesies in hulle eie agterplaas geïdentifiseer! Jy sal dit interessant en opvoedkundig vind om boek te hou van die datums wanneer jy elke jaar ’n spesie die eerste en laaste keer sien.

Maniere om voëls te kyk

Met ’n verkyker om jou nek en ’n veldgids in jou sak is jy nou gereed om bietjie verder as jou agterplaas te gaan verken. Voëllyste is dikwels by parke en natuurreservate beskikbaar. Hulle toon gewoonlik in watter seisoene spesies daar gesien word en wat die kanse is dat jy hulle sal vind. ’n Voëllys sal nuttig wees om jou waarnemings te bevestig. As die voël wat jy dink jy so pas gesien het as skaars aangegee word, sal dit goed wees om hom goed te bekyk, veral as jy ’n beginner is. (Sien die venster “Basiese gids vir identifikasie”.) As hy aan die ander kant as volop aangegee word, het jy hom heel moontlik reg geïdentifiseer.

Probeer om voor die tyd ’n kaart in die hande te kry wat die staproetes aangee en wat wys watter soorte habitats jy gaan teëkom. Daar is gewoonlik ’n groter verskeidenheid voëls waar twee of meer habitats bymekaarkom. Hetsy jy rondloop of op dieselfde plek bly, probeer om met die omgewing saam te smelt en wag dat die voëls na jou toe kom. Wees geduldig.

Op party plekke is daar ’n telefoonnommer wat entoesiaste kan skakel om na verslae van interessante onlangse waarnemings in die gebied te luister.

Voorbereiding is die moeite werd

Dit is lonend om op die uitkyk te wees na spesifieke voëls, maar dit is tot jou voordeel om voor die tyd te lees oor die voëls wat jy graag wil sien. As jy op die Karibiese Eilande is, het jy dalk jou hart daarop gesit om die todie te vind, of dit nou die Kubaanse, Puerto Ricaanse of Jamaikaanse soort is. Dit is ’n bonkige klein juweel met helderkleurige groen en rooi vere. Herbert Raffaele se Guide to the Birds of Puerto Rico and the Virgin Islands sê vir ons dat hy “moeilik is om te sien, maar dikwels gehoor word”. Die Kubaanse todies is bekend vir hulle onversadigbare eetlus en hoe vinnig hulle hulle kuikens voer. Ná ’n beskrywing van die voël se eetgewoontes, gee Raffaele hierdie raad: “As jy twee klippe teen mekaar stamp, sal dit hulle dikwels lok.”

Jy sal dalk ’n velduitstappie op ’n tyd wil reël dat jy ’n sekere gebeurtenis in die lewensgeskiedenis van ’n spesie kan aanskou, soos die treffende lugvertoning van een van die houtsnippe in die vroeë lente. Of dit kan die indrukwekkende aantal witooievaars by Gibraltar wees of die Bosporus wat in die herfs vir hulle vlug na Afrika toe voorberei. Of die migrasie van voëls oor Israel.

As jy beplan om ’n spesiale voël op te spoor, is dit weliswaar nie soos om ’n historiese monument te besoek wat jy weet altyd daar sal wees nie. Voëls is voortdurend aan die beweeg. Hulle is vol lewe. En verskeidenheid. En verrassings. Maar die soektog en die gewag is die moeite werd!

Dit alles maak voëlkykery opwindend. Ten spyte van jou beplanning sal die voëls dalk nie daar wees wanneer jy daar is nie—ten minste nie die voëls wat jy graag wil sien nie. Maar jy weet nooit watter ander onverwagte ontdekkings dalk op jou wag nie. Een ding is seker: voëls sal jou nooit teleurstel nie. Wees net geduldig. Lekker voëls kyk! En moenie hulle Ontwerper vergeet nie!—Genesis 1:20; 2:19; Job 39:16-21, 30-32.

[Voetnoot]

a Voëls word in agt waarneembare kategorieë verdeel: (1) swemvoëls—eende en eendagtige voëls, (2) seevoëls—meeue en meeu-agtige voëls, (3) waadvoëls met lang bene—reiers en kraanvoëls, (4) kleiner waadvoëls—kiewiete en strandlopers, (5) hoenderagtige voëls—korhoenders en kwartels, (6) roofvoëls—valke, arende en uile, (7) boomvoëls en (8) grondvoëls.—A Field Guide to the Birds East of the Rockies, deur Roger Tory Peterson.

[Venster op bladsy 26]

Basiese gids vir identifikasie

Wanneer jy vir die eerste keer ’n onbekende voël raaksien, sal dit dalk nuttig wees om party van die volgende vrae te probeer beantwoord:

1. Watter soort verekleed het die voël—sonder merke, met strepe, vlekke of spikkels?

2. In watter habitat kom die voël voor—water, moeras, vlei, grasveld of woud?

3. Hoe groot is die voël? Vergelyk met ’n bekende voël—mossie, janfrederik, duif of valk.

4. Hoe gedra die voël hom—pyl hy op insekte af, sweef hy, laat hy sy stert wip, hou hy sy stert op of af of loop hy op die grond?

5. Hoe lyk die voël se snawel—kort en gepunt, kort en stewig, lank, gekrom of haakvormig?

As ’n mens na hierdie “veldkenmerke” kyk en dit in ’n basiese voëlgids naslaan, kan selfs ’n nuweling die algemene spesies begin herken.—Uitstallingsgids, Merrill Creek Reservoir, New Jersey, VSA.

[Foto-erkenning op bladsy 23]

Voëltekeninge op bladsye 23-7: The Complete Encyclopedia of Illustration/J. G. Heck

[Kaart/Prente op bladsy 24, 25]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

BLOU SPOTVOËL

Noord- Amerika

KOLIBRIE

Noord-/Sentraal-Amerika

AMERIKAANSE SEEAREND

Noord-Amerika

ARA-PAPEGAAI

Sentraal-/Suid-Amerika

SNEEUGANS

Noord-Amerika

KARDINAAL

Noord-/Sentraal-Amerika

PELIKAAN

Die Amerikas

ROOFAREND

Afrika, Asië

TOEKAN

Suid-Amerika

SKARLAKENIBIS

Suid-Amerika

FRANKLINSE MEEU

Die Amerikas

GROOT-WITREIER

Wêreldwyd

GRYSKOPPIE

Europa, Noord-Afrika

MANDARYNEEND

China

OOIEVAAR

Europa, Afrika, Asië

FLAMINK

Trope

MAHEM

Afrika

PALETVINK

Australië

KOOKABURRA

Australië

POU

Wêreldwyd

VOLSTRUIS

Afrika

ROSELLA

Australië

[Erkennings]

U.S. Fish and Wildlife Service, Washington, D.C./Glen Smart

Met vergunning van Green Chimney’s Farm

Met vergunning van San Diego Wild Animal Park

Kaart: The Complete Encyclopedia of Illustration/ J. G. Heck

Met vergunning van San Diego Wild Animal Park

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel