Kyk op, nie af nie, vir antwoorde
EVOLUSIE leer dat ’n reeks veranderinge geleidelik van ons ’n hoër diersoort gemaak het. Aan die ander kant sê die Bybel dat ons volmaak begin het, geskep na God se beeld, maar dat onvolmaaktheid kort daarna ingetree het en die mensdom langsamerhand agteruit begin gaan het.
Ons eerste ouers, Adam en Eva, was die oorsaak van hierdie agteruitgang toe hulle sedelike onafhanklikheid probeer verkry het en hulle gewete afgestomp het deur moedswillige ongehoorsaamheid aan God. Hulle het opsetlik, asof in ’n voertuig, deur die beskermende skutreling van God se wet gedring en afgestort na waar ons nou is, met siekte, veroudering en die dood, om nie eers te praat van rassevooroordeel, godsdienshaat en verskriklike oorloë nie.—Genesis 2:17; 3:6, 7.
Dieregene of gebrekkige gene?
Die Bybel verduidelik natuurlik nie in wetenskaplike taal wat met Adam en Eva se volmaakte liggaam gebeur het toe hulle gesondig het nie. Die Bybel is nie ’n wetenskapsboek nie, net soos ’n motoreienaar se handleiding nie ’n handboek oor motoringenieurswese is nie. Maar soos die eienaar se handleiding is die Bybel akkuraat; dit is nie ’n mite nie.
Toe Adam en Eva deur die beskermende versperring van God se wet deurgebars het, is hulle organismes beskadig. Daarna het dit afdraand met hulle gegaan tot hulle dood toe. Deur die wette van oorerflikheid het hulle kinders, die mensdom, onvolmaaktheid geërf. Daarom sterf hulle ook.—Job 14:4; Psalm 51:7; Romeine 5:12.
Ongelukkig sluit ons erfenis ’n neiging tot sonde in, wat as selfsug en onsedelikheid geopenbaar word. Seks het natuurlik sy gepaste plek. God het die eerste mensepaar beveel: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde” (Genesis 1:28). En as ’n liefdevolle Skepper het hy dit vir die man en vrou ’n plesier gemaak om daardie opdrag te gehoorsaam (Spreuke 5:18). Maar menslike onvolmaaktheid het tot die misbruik van seks gelei. Trouens, onvolmaaktheid raak elke faset van ons lewe, met inbegrip van hoe ons verstand en liggaam funksioneer, soos ons almal goed weet.
Maar onvolmaaktheid het nie ons sedelikheidsgevoel laat verdwyn nie. As ons werklik wil, kan ons die “stuurwiel” vasgryp en die lewe se slaggate vermy deur teen die neiging te stry om te sondig. Geen onvolmaakte mens kan natuurlik ’n heeltemal suksesvolle stryd teen sonde voer nie, en God neem dit op barmhartige wyse in aanmerking.—Psalm 103:14; Romeine 7:21-23.
Waarom ons nie wil doodgaan nie
Die Bybel werp ook lig op ’n ander raaisel wat evolusie nie op ’n bevredigende wyse verklaar nie: die mens se normale onwilligheid om die dood te aanvaar, selfs al lyk dit of die dood iets natuurliks en onvermydeliks is.
Soos die Bybel openbaar, is die dood deur sonde veroorsaak, deur ongehoorsaamheid aan God. As ons eerste ouers gehoorsaam gebly het, sou hulle vir ewig gelewe het, so ook hulle kinders. God het die menslike verstand in werklikheid geprogrammeer met die begeerte om vir ewig te lewe. “Hy het ook die ewigheid in die harte van mense geplaas”, sê Prediker 3:11, volgens die New International Version. Die mens se veroordeling tot die dood het derhalwe ’n innerlike konflik in hulle laat ontstaan, ’n voortdurende tweestryd.
Ten einde hierdie innerlike konflik te oorwin en die natuurlike begeerte te bevredig om aan te hou lewe, het mense allerhande opvattings versin, van die leerstelling van die onsterflikheid van die siel tot geloof in reïnkarnasie. Wetenskaplikes stel ondersoek in na die raaisel van veroudering omdat ook hulle die dood wil afweer of dit ten minste wil uitstel. Ateïstiese evolusioniste verwerp die begeerte na ewige lewe as ’n evolusionêre set, of bedrogspul, omdat dit bots met hulle beskouing dat die mens bloot ’n hoër diersoort is. Daarenteen strook die Bybelse stelling dat die dood ’n vyand is met ons natuurlike hunkering om te lewe.—1 Korintiërs 15:26.
Wel, bewys ons liggaam enigsins dat ons veronderstel is om vir ewig te lewe? Die antwoord is ja! Die mensebrein alleen gee ons oorweldigende bewyse dat ons gemaak is om baie langer te lewe as wat ons wel lewe.
Gemaak om vir ewig te lewe
Die brein weeg ongeveer 1,4 kilogram, en dit bestaan uit 10 miljard tot 100 miljard neurone, waarvan daar na bewering nie twee presies dieselfde is nie. Elke neuron kan met tot 200000 ander neurone kommunikeer, wat beteken dat die aantal verskillende stroombane in die brein astronomies is. En asof dit nie genoeg is nie, “is elke neuron ’n gesofistikeerde rekenaar”, sê Scientific American.
Die brein swem in ’n chemiese sop, wat die manier beïnvloed waarop neurone werk. En die brein is baie ingewikkelder as selfs die kragtigste rekenaar. “In elke kop”, skryf Tony Buzan en Terence Dixon, “is daar ’n ontsaglike kragbron, ’n kompakte, doeltreffende orgaan waarvan die kapasiteit blykbaar al hoe oneindiger word namate ons meer daaroor leer.” Hulle haal professor Pyotr Anokhin aan en voeg by: “Daar bestaan nog nie ’n mens wat die volle potensiaal van sy brein kan gebruik nie. Dit is waarom ons geen pessimistiese skattings oor die perke van die mensebrein aanvaar nie. Dit is onbeperk.”
Hierdie verstommende feite is lynreg in stryd met die evolusieteorie. Waarom sou evolusie vir eenvoudige grotbewoners, of selfs vir die hedendaagse hoogs geleerdes, ’n orgaan “skep” met die potensiaal om ’n miljoen of selfs ’n miljard leeftye lank gebruik te word? Dit is werklik net die ewige lewe wat sin maak! Maar wat van ons liggaam?
Die boek Repair and Renewal—Journey Through the Mind and Body sê: “Die manier waarop beskadigde bene, weefsel en organe hulleself herstel, is niks anders as ’n wonderwerk nie. En as ons ’n oomblik daaroor nadink, sou ons die onopsigtelike hernuwing van vel en hare en naels—sowel as ander dele van die liggaam—uiters verbasingwekkend vind: Dit duur 24 uur per dag voort, week na week, en herskep ons, biochemies gesproke, letterlik oor en oor gedurende die loop van ons lewe.”
Op God se bestemde tyd sal dit vir hom geen probleem wees om hierdie wonderdadige selfhernuwingsproses onbepaald te laat aanhou nie. Dan, uiteindelik, sal “die dood tot niet gemaak word” (1 Korintiërs 15:26). Maar om waarlik gelukkig te wees, het ons meer as net ewige lewe nodig. Ons het vrede nodig—vrede met God en met ons medemens. Sulke vrede kan net ’n werklikheid word as mense mekaar waarlik liefhet.
’n Nuwe wêreld wat op liefde gegrond is
“God is liefde”, sê 1 Johannes 4:8. Liefde—veral die liefde van Jehovah God—is so kragtig dat dit die onderliggende rede is waarom ons die hoop kan hê om vir ewig te lewe. “God het die wêreld so liefgehad”, sê Johannes 3:16, “dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”
Ewige lewe! Wat ’n wonderlike vooruitsig! Maar aangesien ons sonde oorgeërf het, het ons nie die reg om te lewe nie. “Die loon wat die sonde betaal, is die dood”, sê die Bybel (Romeine 6:23). Maar gelukkig het liefde God se Seun, Jesus Christus, beweeg om ten behoewe van ons te sterf. Die apostel Johannes het aangaande Jesus geskryf: “Daardie een [het] vir ons van sy siel afstand gedoen” (1 Johannes 3:16). Ja, hy het sy volmaakte menselewe as “’n losprys in ruil vir baie” gegee sodat ons wat geloof in hom beoefen van ons sondes kwytgeskeld kan word en die ewige lewe kan geniet (Matteus 20:28). Die Bybel verduidelik: “God het sy enigverwekte Seun in die wêreld uitgestuur sodat ons deur hom die lewe kan verkry.”—1 Johannes 4:9.
Hoe moet ons dus reageer op die liefde wat God en sy Seun aan ons betoon het? Die Bybel sê voorts: “Geliefdes, as dit is hoe God ons liefgehad het, dan staan ons ook onder verpligting om mekaar lief te hê” (1 Johannes 4:11). Ons moet leer om liefde te betoon, want daardie eienskap sal die grondslag van God se nuwe wêreld vorm. Vandag besef baie mense hoe belangrik liefde is, soos Jehovah God dit in sy Woord, die Bybel, beklemtoon.
Die boek Love and Its Place in Nature het gesê dat “kinders geneig is om te sterf” as hulle nie liefde kry nie. En tog verdwyn daardie behoefte aan liefde nie wanneer mense ouer word nie. ’n Vooraanstaande antropoloog het gesê dat liefde “die middelpunt van alle menslike behoeftes vorm net soos ons son die middelpunt van ons sonnestelsel is . . . Die kind wat nie liefde gekry het nie, is biochemies, fisiologies en sielkundig baie anders as die een wat liefde gekry het. Eersgenoemde groei selfs anders as die laasgenoemde.”
Kan jy jou voorstel hoe die lewe sal wees wanneer almal op aarde mekaar waarlik liefhet? Nooit weer sal enigiemand bevooroordeeld teen iemand anders wees omdat hy van ’n ander nasionaliteit is, ’n lid van ’n ander ras is of ’n ander velkleur het nie! Onder die bestuur van God se aangestelde Koning, Jesus Christus, sal die aarde met vrede en liefde gevul wees, ter vervulling van die geïnspireerde Bybelpsalm:
“o God, gee aan die koning u regte . . . Hy sal aan die ellendiges van die volk reg verskaf, die kinders van die behoeftige verlos en die verdrukker verbrysel. In sy dae sal die regverdige bloei en volheid van vrede, totdat die maan nie meer is nie. En hy sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde. Want hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red.”—Psalm 72:1, 4, 7, 8, 12, 13.
Die goddelose sal nie toegelaat word om in God se nuwe wêreld te lewe nie, net soos daar in ’n ander Bybelpsalm beloof word: “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit. En nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie; ja, jy sal ag gee op sy plek, maar hy sal daar nie wees nie. Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.”—Psalm 37:9-11.
Dan sal die verstande en liggame van alle gehoorsame mense, met inbegrip van diegene wat uit die graf opgewek is deur ’n opstanding van die dooies, herstel wees. Almal wat lewe, sal uiteindelik die beeld van God volmaak weerspieël. Oplaas sal die groot stryd om te doen wat reg is verby wees. Die tweestryd tussen ons begeerte om te lewe en die huidige harde werklikheid van die dood sal ook iets van die verlede wees! Ja, dít is die onfeilbare belofte van ons liefdevolle God: “Die dood sal daar nie meer wees nie.”—Openbaring 21:4; Handelinge 24:15.
Mag jy dus nooit moed opgee in die stryd om te doen wat reg is nie. Gee gehoor aan die Goddelike vermaning: “Stry die voortreflike stryd van die geloof, kry ’n stewige houvas op die ewige lewe.” Daardie lewe in God se nuwe wêreld is wat die Bybel “die werklike lewe” noem.—1 Timoteus 6:12, 19.
Mag jy die waarheid besef van die stelling in die Bybel: “Jehovah [is] God . . . Hy het ons gemaak‚ en nie ons onsself nie.” Aanvaarding van daardie waarheid is ’n noodsaaklike stap om aan die vereistes te voldoen vir lewe in Jehovah se nuwe wêreld van liefde en regverdigheid.—Psalm 100:3, NW; 2 Petrus 3:13.
[Lokteks op bladsy 11]
Die lewe in God se nuwe wêreld is wat die Bybel “die werklike lewe” noem.—1 Timoteus 6:19
[Prent op bladsy 9]
Mense het deur die skutreling van God se wette gedring, met rampspoedige gevolge
[Prent op bladsy 10]
Die mensdom sal ’n nuwe wêreld van vrede onder die heerskappy van God geniet