Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 6/22 bl. 12-14
  • Sê nou hy beantwoord nie my liefde nie?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Sê nou hy beantwoord nie my liefde nie?
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die pyn van smoorverlief wees
  • Ondersoek jou gevoelens
  • Sien die waarheid onder die oë
  • Hoe om die pyn te verwerk
  • Hoe kan ek vir hom nee sê?
    Ontwaak!—2001
  • Hoe kan ek vir hom sê hoe ek voel?
    Ontwaak!—2004
  • Hoe moet ek ’n meisie behandel wat in my belangstel?
    Ontwaak!—2005
  • Sê nou hy sê nee?
    Ontwaak!—2004
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 6/22 bl. 12-14

Jongmense Vra . . .

Sê nou hy beantwoord nie my liefde nie?

“Ek is baie bekommerd. Ek het op hom verlief geraak. Maar ek weet nie hoe hy oor my voel nie. Wat moet ek doen? Hom laat weet hoe ek voel? Nee, nee, ek kan dit nie doen nie! Wat sal ander van my sê?”—Huda.a

HUDA, ’n jong Libanese vrou, was verlief op iemand wat nie haar liefde beantwoord het nie. Dit is nie ’n ongewone probleem nie. ’n Ander jong vrou, met die naam Zeina, het ’n soortgelyke ondervinding gehad. Sy sê: “Ek het hom elke dag gesien omdat hy ons buurman was. Hy was baie aantreklik. Ek het dus op hom verlief geraak.”

Dit is natuurlik nie verkeerd om sterk gevoelens vir iemand te hê nie—mits die persoon iemand is met wie dit vir ’n Christen gepas is om te trou (Spreuke 5:15; 1 Korintiërs 7:39). Dit is ook nie vir ’n jong vrou verkeerd om te wil trou en kinders te wil hê nie. Maar sê nou jy raak verlief op ’n hubare persoon wat onbewus is van jou gevoelens—of dit nie beantwoord nie?

Die pyn van smoorverlief wees

Soos Huda voel jy moontlik dat jy in die middel van ’n emosionele orkaan is. Opwindende emosionele hoogtepunte kan gou gevolg word deur verlammende laagtepunte. “Partykeer voel ek soos die gelukkigste meisie in die heelal, en ander kere voel ek soos die hartseerste”, het Zeina gesê. Onbeantwoorde liefde kan angs, slapelose nagte en selfs depressie veroorsaak.

In Spreuke 13:12 sê die Bybel: “’n Uitgestelde hoop maak die hart siek.” En wanneer die hoop glad nie verwesenlik word nie, kan dit verwoestend wees! Jy vind moontlik dat jy heeltyd oor hierdie persoon dink en gretig is om enige brokkie nuus oor hom te hoor. Jy beraam miskien plannetjies om sy aandag te trek of dink dalk flou verskonings uit om saam met hom te wees. En wanneer jy by hom is, vind jy dit dalk moeilik om normaal op te tree.

Dit kan veral verwarrend raak wanneer die persoon op wie jy verlief is af en toe spesiale aandag aan jou gee en dan op ander kere optree asof hy glad nie in jou belangstel nie. En dit kan jou jaloers maak as jy sien hoe hy baie aandag aan iemand anders gee of bloot vriendelik en hoflik teenoor ander is. Die Bybel sê: “Woede is wreed, en toorn kook oor; maar wie kan voor jaloersheid standhou?”—Spreuke 27:4.

Huda het erken: “My jaloesie was so onbeskryflik bitter dat ek van my verstand af kon geraak het as ek die saak nie reggestel het nie.” Dit kan ook daartoe lei dat jy jouself haat. Huda het gesê: “Ek het myself die skuld gegee omdat ek op iemand verlief geraak het wat my nie liefhet nie en omdat ek myself so gepynig het.”

Terwyl ’n jong vrou in Westerse lande dalk die vrymoedigheid het om ’n jong man eenvoudig te nader en te sê hoe sy voel, is nie alle jong vroue daartoe geneig nie. En in party kulture sou dit as onvanpas of selfs skokkend beskou word as ’n meisie sulke inisiatief neem. Wat kan jy dus doen as jy op iemand verlief geraak het wat nie jou liefde beantwoord nie?

Ondersoek jou gevoelens

Probeer ten eerste om jou gevoelens kalm en objektief te ondersoek. Die Bybel waarsku: “Wie op sy eie hart vertrou, hy is ’n dwaas” (Spreuke 28:26). Waarom? Want alte dikwels is die oordeel van ons hart dwaas (Jeremia 17:9). En wat soos liefde voel, is dikwels op die ou end iets anders. “Ek het aandag en liefde nodig gehad”, het Huda erken. “Ek het iemand nodig gehad om my lief te hê en na my om te sien. Van my kinderjare af het ek nooit liefde ontvang nie. Dit het my diep geraak.” As jy uit ’n gesin kom wat liefdeloos is of waarin mishandeling plaasvind, voel jy moontlik eweneens ’n hunkering na liefde en erkenning. Maar is ’n romantiese verhouding noodwendig die oplossing?

Ongelukkig is mense wat leeg en eensaam voel dikwels slegte huweliksmaats. Hulle trou met die verwagting dat hulle sal kry wat hulle meen hulle so dringend nodig het. Maar ware geluk word ervaar wanneer ’n mens gee, nie wanneer ’n mens ontvang nie (Handelinge 20:35). En ’n vrou is baie beter toegerus vir die huwelik as sy redelik goed voel oor haarself en ‘nie in persoonlike belangstelling ’n oog op net haar eie sake hou nie, maar ook in persoonlike belangstelling op dié van ander’.—Filippense 2:4.

Wanneer jy voel dat daar druk op jou uitgeoefen word om te trou, kan jy maklik oorreageer op enige aandag van die teenoorgestelde geslag. Partykeer word ’n jong vrou se begeerte na romanse deur vriende en familie aangewakker. Party gemeenskappe lê baie klem daarop dat ’n meisie moet trou sodra sy hubaar is. Die boek Women in the Middle East sê: “As ’n vrou byna dertig en nog ongetroud is, raak haar gesin baie bekommerd oor haar.” Omdat die gesin se eer op die spel is, sal ’n vader dalk probeer om sy dogters so jonk moontlik te laat trou.

Nietemin is Bybelbeginsels belangriker as kultuur. En die Skrif spoor jongmense aan om te wag totdat hulle “verby die bloei van die jeug” is voordat hulle trou (1 Korintiërs 7:36). Maar sê nou jy voel dat jou vriende of ouers onnodige druk op jou uitoefen om te trou? Die Bybel sê vir ons dat die godvrugtige Sulammitiese meisie haar metgeselle ernstig gelas het “om nie die liefde wakker te maak of op te wek voordat dit die liefde behaag nie” (Hooglied 2:7). Dit sal moontlik resultate lewer as jy jou gevoelens op ’n soortgelyke manier uitspreek, veral as jou ouers godvresend is.

Sien die waarheid onder die oë

Jy moet nogtans uiteindelik die waarheid onder die oë sien aangaande die persoon wat jy voel jy liefhet. Dit is dalk nie maklik om dit te doen nie en sal jou moontlik baie emosionele pyn besorg. Maar die Skrif vermaan: “Koop waarheid en verkoop dit nie” (Spreuke 23:23). Vra jou af: ‘Het ek enige redelike grondslag om verlief te wees? Hoeveel weet ek werklik omtrent hierdie persoon? Wat weet ek omtrent sy gedagtes, gevoelens, menings, gewoontes, waardes, vermoëns, talente en lewenswyse?’

Nog iets wat jy in ag moet neem, is of die persoon werklik enige belangstelling in jou getoon het. Dikwels word blote goedhartigheid of vriendelikheid verkeerd vertolk. “Hy wou maar net vriendelik wees”, het Huda gesê, “maar ek het sy woorde en optrede as persoonlike belangstelling vertolk omdat dit is wat ek wou hê. Nadat ek besef het dat hy nie in my belangstel nie, het ek verneder gevoel. Ek het gevoel dat ek nie sy belangstelling verdien nie en dat daar iets met my verkeerd was.”

Moontlik het jy al dieselfde gevoel as gevolg van ’n soortgelyke ondervinding. Maar jy moet besef dat die feit dat jy nie in daardie persoon se oë net reg was nie, nie beteken dat jy nie in die oë van iemand anders net reg sal wees nie. Per slot van rekening is hy nie die enigste jong man in die wêreld nie!

Hoe om die pyn te verwerk

Dit sal nietemin ’n rukkie duur om jou gekwetste gevoelens te verwerk. Wat kan help? Een manier is om ’n “ware metgesel”—’n volwasse Christen wat na jou sal luister—in jou vertroue te neem (Spreuke 17:17, NW). Dalk is daar ’n ouer vrou in die gemeente met wie jy kan praat. Christenouers kan ook ’n belangrike rol speel deur hulp en ondersteuning te verleen. Zeina sê: “’n Christenvrou in ons gemeente het my benoudheid opgemerk en was volwasse genoeg om my te help. Ek het op my gemak gevoel by haar en haar alles vertel. Sy het my aangespoor om met my ouers te praat. Ek het dus met hulle gepraat, en hulle het my verstaan en gehelp.”

Onthou ook die krag van gebed (Psalm 55:23). Huda sê: “My gebede tot Jehovah het my gehelp om van my pyn ontslae te raak. Ek het ook nuttige artikels in Die Wagtoring en Ontwaak! gelees.” Daarbenewens is dit belangrik om jou nie af te sonder nie (Spreuke 18:1). Meng met ander mense. “Nog iets wat my gehelp het”, sê Zeina, “is dat ek besig gebly het en ’n pionier [voltydse evangeliedienaar] geword het. Ek het ook meer met ander vroue in die gemeente begin omgaan. Dit het my gehelp om geestelik te vorder.”

Die Bybel praat wel van “’n tyd om lief te hê”, en dalk sal jy mettertyd iemand ontmoet wat jou liefde sal beantwoord (Prediker 3:8). Jehovah God het mense geskep met ’n begeerte om die plesier van liefde in die huwelik te geniet, en jy sal moontlik ook uiteindelik baat kan vind by hierdie wonderlike voorsiening van ons Grootse Maker. Intussen kan jy gerus die jare waarin jy ongetroud is ten beste benut, jare wat “sonder sorge” is, soos die apostel Paulus sê (1 Korintiërs 7:32-34). Jy kan in elk geval verseker wees van die vervulling van die Bybelse belofte: “U [Jehovah] open u hand en bevredig die begeerte van al wat leef.”—Psalm 145:16, NW.

[Voetnoot]

a Die name is verander om die privaatheid van die betrokkenes te beskerm.

[Prent op bladsy 13]

Partykeer word vriendelikheid verkeerd vertolk

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel