Diskriminasie teen die vroulike geslag
IN Wes-Afrika koop ’n sakeman ’n negejarige kind. In Asië word ’n pasgebore baba lewend in die woestynsand begrawe. In ’n Oosterse land sterf ’n kleintjie van die honger in ’n weeshuis—verworpe en onversorg. ’n Gemeenskaplike faktor het hierdie tragedies met mekaar verbind: Al die slagoffers was dogtertjies. As deel van die vroulike geslag is hulle as wegdoenbaar beskou.
Dit is nie alleenstaande gevalle nie. In Afrika word duisende meisies en jong vroue as slawe verkoop, sommige vir ’n skrale R70. En daar word berig dat honderdduisende jong meisies elke jaar, meestal in Asië, as prostitute verkoop word of gedwing word om as prostitute te werk. Nog erger, bevolkingsyfers vir ’n aantal lande dui daarop dat tot 100 miljoen meisies “vermis” word. Dit is klaarblyklik toe te skryf aan die afdrywing van vroulike fetusse, die vermoording van babadogtertjies of die absolute verwaarlosing van vroue.
In baie lande was dit lank—eeue lank—hoe vroue beskou is. En op sommige plekke is dit steeds die geval. Waarom? Omdat daar in sulke lande groter waarde aan seuns geheg word. Die mening word daar gehuldig dat ’n seun die voortbestaan van die familienaam kan verseker, eiendom kan erf en vir ouers kan sorg wanneer hulle oud word, aangesien hierdie lande dikwels nie ’n staatspensioen vir bejaardes voorsien nie. ’n Asiatiese gesegde gee die volgende te kenne: “Om ’n meisie groot te maak, is soos om ’n plant in jou buurman se tuin nat te lei.” Wanneer sy groot is, sal sy die huis verlaat om te trou of sy kan selfs as ’n prostituut verkoop word en sal dus van min of geen hulp wees wat die versorging van bejaarde ouers betref nie.
’n Kleiner deel
In lande wat deur armoede geteister word, lei hierdie gesindheid daartoe dat die meisies in die gesin minder kos, minder gesondheidsorg en minder opvoeding kry. Navorsers in ’n Asiatiese land het bevind dat 14 persent van die meisies ondervoed is in vergelyking met net 5 persent van die seuns. In sommige lande word twee maal soveel seuns as meisies na gesondheidsentrums gebring, verduidelik ’n verslag van die Verenigde Nasies-kinderfonds (UNICEF). En meer as 40 persent van die jong vroue in Afrika sowel as in suidelike en westelike Asië is ongeletterd. “Daar bestaan ’n verskriklike apartheid tussen die geslagte in die ontwikkelende wêreld”, het wyle Audrey Hepburn, eertydse ambassadeur van UNICEF, gesê.
Hierdie “apartheid tussen die geslagte” verdwyn nie wanneer die meisies volwassenheid bereik nie. Armoede, geweld en ’n eindelose geswoeg is alte dikwels ’n vrou se lot, juis omdat sy ’n vrou is. Die voorsitter van die Wêreldbank het verduidelik: “Vroue doen twee derdes van die wêreld se werk. . . . En tog verdien hulle maar net een tiende van die wêreld se inkomste, en hulle besit minder as een persent van die wêreld se eiendom. Hulle is onder die armstes van die wêreld se armes.”
Volgens ’n verslag van die Verenigde Nasies maak vroue meer as 70 persent uit van die 1,3 miljard mense op aarde wat in nypende armoede leef. “En dit word erger”, het die verslag bygevoeg. “Die aantal plattelandse vroue wat in absolute armoede leef, het oor die afgelope twee dekades met byna 50% toegeneem. Armoede word al hoe meer met vroue geassosieer.”
Wat selfs traumatieser as die knellende armoede is, is die geweld wat die lewe van soveel vroue verwoes. Na raming is honderdmiljoen meisies, hoofsaaklik in Afrika, aan verminking van die vroulike geslagsorgane onderwerp. Verkragting is ’n algemene vorm van mishandeling wat in sommige gebiede feitlik ongedokumenteerd bly, hoewel studies daarop dui dat 1 uit 6 vroue in sommige lande gedurende haar leeftyd verkrag word. Mans sowel as vroue ly weens oorloë, maar die meeste vlugtelinge wat noodgedwonge uit hulle huise moet vlug, is vroue en kinders.
Moeders en versorgers
Die las om na die gesin om te sien, rus dikwels swaarder op die moeder. Sy werk waarskynlik langer ure en is heel moontlik die enigste versorger. In sommige plattelandse gebiede in Afrika is omtrent die helfte van alle gesinshoofde vroue. Op party plekke in die Westerse wêreld het baie gesinne ’n vrou as gesinshoof.
Daarbenewens moet vroue, veral in ontwikkelende lande, tradisioneel van die swaarste take verrig, soos om water en vuurmaakhout te gaan haal. Ontbossing en oorbeweiding het hierdie take baie moeiliker gemaak. In sommige droogtegeteisterde lande bestee vroue drie of meer uur per dag daaraan om vuurmaakhout te soek en vier uur per dag om water te gaan haal. Eers wanneer hierdie geswoeg agter die rug is, kan hulle met die werk begin wat in die huis en op die lande van hulle verwag word.
Dit spreek vanself dat mans sowel as vroue ly in lande waar armoede, honger of konflik alledaagse verskynsels is. Maar vroue ly buite verhouding baie. Sal hierdie situasie ooit verander? Is daar enige werklike vooruitsigte dat alle vroue eendag met respek en op bedagsame wyse behandel sal word? Is daar enigiets wat vroue nou kan doen om hulle lot te verbeter?
[Venster/Prent op bladsy 5]
Kinderprostitute—Wie se skuld is dit?
Na raming word eenmiljoen kinders—meestal meisies—elke jaar gedwing om prostitute te word of as prostitute verkoop. Araya,a van Suidoos-Asië, vertel wat met sommige van haar klasmaats gebeur het. “Kulvadee het ’n prostituut geword toe sy maar net 13 was. Sy was ’n gawe meisie, maar haar ma was dikwels dronk en het gewoonlik poker gespeel en het dus nie tyd gehad om na haar dogter om te sien nie. Kulvadee se ma het haar aangemoedig om geld te verdien deur met mans uit te gaan, en kort voor lank het sy as prostituut begin werk.
“Sivun, ’n ander leerling in my klas, het uit die noorde van die land gekom. Sy was net 12 toe haar ouers haar na die hoofstad gestuur het om as ’n prostituut te werk. Sy moes twee jaar lank werk om die kontrak af te betaal wat haar ouers aangegaan het. Sivun en Kulvadee is nie buitengewone gevalle nie—5 uit die 15 meisies in my klas het prostitute geword.”
Daar is miljoene jongmense soos Sivun en Kulvadee. “Die seksbedryf is ’n groot mark met sy eie momentum”, sê Wassyla Tamzali van UNESCO (Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur). “Om ’n 14-jarige meisie te verkoop, is deesdae eintlik ’n alledaagse verskynsel.” En as hierdie meisies eers as seksslawe verkoop is, is dit haas onmoontlik om hulle koopprys af te betaal. Manju, wat deur haar vader verkoop is toe sy 12 was, het steeds R1400 geskuld nadat sy sewe jaar as prostituut gewerk het. “Daar was niks wat ek kon doen nie—ek was vasgevang”, verduidelik sy.
Dit kan vir die meisies amper net so moeilik wees om vigs vry te spring as om aan die koppelaars te ontkom wat hulle as slawe aanhou. ’n Opname wat in Suidoos-Asië gedoen is, het aangedui dat 33 persent van hierdie kinderprostitute met die vigs-virus besmet is. So lank as wat die prostitusiebedryf met ’n omset van 23 miljard rand floreer, sal hierdie meisies waarskynlik aanhou ly.
Wie se skuld is hierdie afstootlike gebruik? Dit spreek vanself dat diegene wat meisies as prostitute koop of verkoop ’n groot deel van die skuld dra. Maar die veragtelike mans wat die meisies gebruik om hulle seksuele begeertes te bevredig, moet ook veroordeel word. Want sonder sulke onsedelike mense sal die prostitusie van hierdie meisies nie bestaan nie.
[Voetnoot]
a Name is verander.
[Prent]
Ongeveer ’n miljoen jong meisies word elke jaar gedwing om as prostitute te werk
[Venster/Prent op bladsy 6]
’n Vrou se werksdag in Sentraal-Afrika
Die vrou staan sesuur op en berei ontbyt voor vir haar en haar gesin wat hulle teen die middel van die oggend sal eet. Nadat sy water by ’n nabygeleë rivier gaan haal het, vat sy koers na haar landery—dit kan tot ’n uur neem om tot daar te loop.
Tot omtrent vieruur die middag sal sy die grond bewerk, skoffel of natlei, en sy sal net ’n kort rukkie ophou werk om watter kos sy ook al met haar saamgeneem het te eet. Die twee oorblywende dagligure word gebruik om vuurmaakhout te kap en kassawe of ander groente vir die gesin bymekaar te maak—en dit alles dra sy huis toe.
Sy kom gewoonlik teen sononder by die huis aan. Nou moet die aandete berei word, ’n taak wat twee of meer uur in beslag kan neem. Op Sondae word klere in die plaaslike rivier gewas en dan gestryk sodra dit droog is.
Haar man sal selde al hierdie harde werk waardeer of na haar voorstelle luister. Hy gee nie om om die bome af te kap of die struikgewasse in die woud af te brand sodat sy die grond kan bewerk nie, maar hy doen nie veel meer nie. Hy sal nou en dan die kinders rivier toe neem om te bad, en hy sal dalk ’n bietjie jag en visvang. Maar ’n groot deel van sy dag gesels hy net met ander mans in die dorpie.
As die man dit kan bekostig, sal hy ná ’n paar jaar ’n nuwe, jonger vrou huis toe bring wat dan al sy liefde ontvang. Maar daar sal nog steeds van sy eerste vrou verwag word om soos altyd aan te hou werk, totdat haar gesondheid ingee of totdat sy sterf.
Afrikavroue dra ’n swaar werklas