Waardeer vroue en die werk wat hulle doen
DRIEDUISEND jaar gelede het ’n man met die naam Lemuël ’n pragtige beskrywing van ’n deugsame vrou gegee. Dit is in die Bybel in Spreuke hoofstuk 31 opgeteken. Die vrou wie se deugde hy geprys het, was beslis besig. Sy het na haar gesin omgesien, handel gedryf op die markplein, grond gekoop en verkoop, klere vir haar huisgesin gemaak en op die landerye gewerk.
Hierdie vrou is nie as vanselfsprekend aanvaar nie. ‘Haar kinders noem haar geseënd, en haar man prys haar.’ So ’n vrou is kosbaar. Die Bybel sê: “Sy is baie meer werd as robyne”.—Spreuke 31:10-28, New International Version.
Sedert Lemuël se tyd het vroue se werk net ingewikkelder geraak. In die 20ste eeu moet hulle dikwels die rol van eggenote, moeder, verpleegster, onderwyseres, broodwinner en boer speel—alles tegelyk. Tallose vroue maak ongelooflike opofferings net om te verseker dat hulle kinders genoeg kos het om te eet. Verdien al hierdie vroue nie ook waardering en lof nie?
Vroue as broodwinners
Meer vroue as ooit tevore moet vandag weg van die huis af werk om hulle gesin te help onderhou of die gesin op hulle eie te onderhou. Die boek Women and the World Economic Crisis haal ’n verslag aan wat gesê het: “Huiswerk is nie die enigste werk wat vroue doen nie. Daar is betreklik min vroue op aarde wat kan sê dat hulle ‘net ’n huisvrou’ is.” En die werk wat vroue doen, is selde glansryk. Hoewel tydskrifte of televisiestrooisages vroue dalk voorstel as bestuursamptenare met weelderige kantore, is die werklikheid gewoonlik heeltemal anders. Die oorgrote meerderheid van die wêreld se vroue swoeg lang ure vir karige vergoeding.
Honderdmiljoene vroue werk op landerye, plant gewasse aan, sien om na die gesin se kleinhoewe of versorg die vee. Hierdie arbeid—gewoonlik onderbetaald of onbetaald—voorsien voedsel aan die helfte van die wêreldbevolking. “In Afrika word 70 persent van die voedsel deur vroue verbou, in Asië is die syfer 50-60 persent en in Latyns-Amerika 30 persent”, berig die boek Women and the Environment.
Wanneer vroue wel betaal word vir hulle werk, verdien hulle gewoonlik minder as manlike werkers, bloot omdat hulle vroue is. Hierdie diskriminasie is veral ’n bitter pil om te sluk vir ’n moeder wat die gesin se enigste broodwinner is, ’n rol wat al hoe algemener word. Volgens ’n skatting in ’n verslag van die Verenigde Nasies maak tussen 30 en 50 persent van alle huishoudings in Afrika, die Karibiese Eilande en Latyns-Amerika op ’n vrou as die vernaamste broodwinner staat. En selfs in die ontwikkelder lande moes al hoe meer vroue die vernaamste broodwinner word.
Hierdie neiging word aangewakker deur armoede op die platteland oor ’n groot deel van die ontwikkelende wêreld. ’n Man wat gedurig moet sukkel om sy gesin te onderhou, besluit dalk om na ’n nabygeleë stad, of selfs ’n ander land, te trek om werk te kry. Hy laat sy vrou by die huis agter om na die gesin om te sien. As hy daarin slaag om werk te kry, stuur hy sy salaris huis toe. Maar ten spyte van sy goeie bedoelings hou dinge dikwels nie so aan nie. Die gesin wat hy verlaat het, raak moontlik al hoe dieper in armoede gewikkel, en hulle welstand hang dan van die moeder af.
Hierdie bose kringloop, wat gepas as die “vervrouliking van armoede” beskryf word, plaas ’n geweldige las op miljoene vroue. “Vir huishoudings met vroue aan die hoof daarvan, wat na raming een derde van die totale aantal huishoudings in die wêreld uitmaak, is die moontlikheid om arm te wees baie groter as vir dié met mans as die hoof, en sulke huishoudings raak al hoe meer”, verduidelik die boek Women and Health. Maar al is dit ook hoe moeilik, is die uitdaging om die gesin van kos te voorsien nie die enigste uitdaging waarvoor vroue te staan kom nie.
Moeders en onderwyseresse
’n Moeder moet ook na die emosionele welstand van haar kinders omsien. Sy speel ’n uiters belangrike rol daarin om ’n kind van liefde en toegeneentheid te leer—lesse wat moontlik net so belangrik is as die bevrediging van sy liggaamlike behoeftes. ’n Kind het ’n hartlike, veilige milieu nodig terwyl hy grootword sodat hy ’n goed gebalanseerde volwassene kan word. Weer eens is die rol wat die moeder speel van die allergrootste belang.
In die boek The Developing Child skryf Helen Bee: “’n Liefdevolle ouer gee om vir die kind, gee uiting aan sy liefde, stel menigmaal of dikwels die kind se behoeftes eerste, is geesdriftig oor die kind se aktiwiteite en reageer op ’n sensitiewe wyse en met empatie op die kind se gevoelens.” Kinders wat sulke hartlikheid van ’n liefdevolle moeder ontvang het, moet beslis vir haar wys dat hulle haar waardeer.—Spreuke 23:22.
Deur middel van borsvoeding voorsien baie moeders hulle kind reg van geboorte af van ’n liefdevolle huislike atmosfeer. Veral in arm huishoudings is ’n moeder se melk ’n geskenk van onskatbare waarde wat sy aan haar pasgebore baba kan gee. (Sien venster op bladsy 10.) Interessant genoeg, die Bybel sê dat die apostel Paulus sy tere geneentheid vir die Christene in Tessalonika vergelyk het met dié van ’n “sogende moeder” wat “haar eie kinders koester”.—1 Tessalonisense 2:7, 8.
Behalwe dat die moeder haar kinders voed en koester, is sy dikwels ook hulle vernaamste onderwyseres. “My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie”, maan die Bybel waar dit verwys na die omvattende rol wat moeders in die opvoeding van hulle kinders speel (Spreuke 1:8). Dit is hoofsaaklik die ma of ouma wat die kind geduldig leer om te praat, te loop en huishoudelike take te doen sowel as tallose ander dinge.
’n Groot behoefte aan deernis
Deernis is een van die grootste geskenke wat vroue aan hulle gesin kan gee. Wanneer ’n gesinslid siek raak, neem die moeder die rol van verpleegster aan terwyl sy steeds na al haar ander verantwoordelikhede omsien. “Vroue voorsien in werklikheid die meeste gesondheidsorg ter wêreld”, verduidelik die boek Women and Health.
’n Moeder se deernis kan haar selfs beweeg om minder te eet sodat haar kinders nie sonder kos bly nie. Navorsers het bevind dat sommige vroue dink dat hulle genoeg voedsel inneem, selfs al ly hulle aan wanvoeding. Hulle is so gewoond daaraan om die groter deel vir hulle man en kinders te gee dat hulle glo hulle is voldoende gevoed solank hulle nog in staat is om te werk.
Soms kom ’n vrou se deernis tot uiting in haar besorgdheid oor die plaaslike omgewing. Daardie omgewing is vir haar belangrik, aangesien sy ook ly wanneer droogte, woestynvorming en ontbossing die grond uitput. In ’n dorp in Indië was die vroue woedend toe hulle uitvind dat ’n timmerhoutmaatskappy van plan was om ongeveer 2500 bome in ’n nabygeleë woud af te kap. Die vroue het daardie bome nodig gehad vir kos, brandhout en veevoer. Toe die houtkappers daar aankom, was die vroue reeds daar en het hulle hand aan hand in ’n beskermende kring rondom die bome gestaan. ‘Julle sal eers ons koppe moet afkap voordat julle die bome sal kan afkap’, het die vroue aan die houtkappers gesê. Die woud is gered.
“Gee aan haar die beloning wat haar toekom”
’n Vrou, sowel as haar werk, is respek en erkenning waardig, of sy nou die rol van broodwinner, moeder, onderwyseres of fontein van deernis vervul. Die wyse man Lemuël, wat met soveel lof van ’n deugsame vrou gepraat het, het ’n vrou se werk sowel as haar raad waardeer. Trouens, die Bybel verduidelik dat sy boodskap grootliks spruit uit onderrigting wat hy van sy moeder ontvang het (Spreuke 31:1). Lemuël was daarvan oortuig dat ’n pligsgetroue vrou en moeder nie as vanselfsprekend aanvaar moet word nie. “Gee aan haar die beloning wat haar toekom”, het hy geskryf. “Haar werke strek haar tot lof.”—Spreuke 31:31, NIV.
Maar toe Lemuël daardie beskouings neergeskryf het, was dit nie net ’n weerspieëling van menslike gedagtes nie. Dit is opgeteken in die Bybel, wat God se Woord is. “Die hele Skrif is deur God geïnspireer” (2 Timoteus 3:16). Daardie gedagtes weerspieël die almagtige God se beskouing van vroue, aangesien God daardie gedeeltes in die Bybel geïnspireer het vir ons onderrigting.
Daarbenewens sê God se geïnspireerde Woord dat mans ‘aan hulle vrouens eer moet toeken’ (1 Petrus 3:7). En in Efesiërs 5:33 word daar aan mans gesê: ‘Elkeen van julle moet sy vrou liefhê soos homself.’ Trouens, Efesiërs 5:25 sê: “Mans, hou aan om julle vrouens lief te hê, net soos die Christus ook die gemeente liefgehad en homself daarvoor oorgegee het.” Ja, Christus het soveel liefde vir sy volgelinge gehad dat hy gewillig was om vir hulle te sterf. Wat ’n puik, onselfsugtige voorbeeld het hy tog vir mans gestel! En die standaarde wat Jesus geleer en waarvolgens hy gelewe het, het God se standaarde weerspieël wat tot ons voordeel in die Bybel opgeteken is.
Maar ten spyte van die harde werk wat vroue op soveel gebiede doen, ontvang baie van hulle selde erkenning vir wat hulle doen. Hoe kan hulle selfs nou hulle lot in die lewe verbeter? En is daar ’n kans dat gesindhede teenoor hulle sal verander? Wat is die toekomsvooruitsigte vir vroue?
[Venster/Prent op bladsy 10, 11]
Drie Maniere Waarop ’n Vrou Haar Lot Kan Verbeter
Opvoeding. Daar is ongeveer 600 miljoen ongeletterde vroue in die wêreld—die meeste van hulle het nooit die geleentheid gehad om skool te gaan nie. Jy het dalk self min skoolopleiding, maar dit beteken nie dat jy nie jouself kan leer nie. Dit is nie maklik nie, maar baie vroue het al daarin geslaag. “Godsdiensredes kan ’n belangrike rol daarin speel om volwassenes te beweeg om geletterdheidsvaardighede te verkry”, verduidelik die boek Women and Literacy. As jy leer lees, is ’n wonderlike beloning wat jy kan smaak die vermoë om die Bybel self te kan lees. Maar daar is baie ander voordele.
Die geletterde moeder het nie net beter ekonomiese geleenthede nie, maar sy kan ook van goeie gesondheidsgebruike leer. Die geval van die Indiese staat Kerala lig die voordele van geletterdheid treffend toe. Hoewel hierdie streek onder die gemiddelde is wat inkomste betref, is 87 persent van die vroue geletterd. Interessant genoeg, in dieselfde staat is die aantal kindersterftes vyf keer laer as in die res van Indië; vroue leef gemiddeld 15 jaar langer en al die meisies gaan skool.
Die geletterde moeder wakker spontaan die leerproses in haar kinders aan—glad nie ’n maklike taak nie. Die opvoeding van meisies is ’n uitstekende belegging. Niks anders het soveel krag om die gesin se gesondheid en die lewe van vroue self te verbeter nie, sê The State of the World’s Children 1991, ’n publikasie van die Verenigde Nasies-kinderfonds (UNICEF). Lees- en skryfvaardighede sal jou ongetwyfeld help om ’n beter moeder en broodwinner te wees.a
Gesondheid. As ’n moeder moet jy goed na jouself kyk, veral as jy swanger is of ’n baba soog. Kan jy ’n gesonder dieet volg? Byna twee derdes van die swanger vroue in Afrika sowel as in suidelike en westelike Asië ly klinies aan bloedarmoede. Behalwe dat bloedarmoede jou van jou kragte beroof, vergroot dit ook die risiko’s wat met kindergeboorte gepaardgaan en kan dit jou vatbaarder maak vir malaria. Hoewel vleis of vis dalk skaars of duur is, is eiers en ysterryke vrugte of groente moontlik beskikbaar. Jy moet nie toelaat dat bygelowigheid jou daarvan weerhou om voedsame kos te eet nie en moenie weens plaaslike gebruike jóú deel van die gesin se kos prysgee nie.b
Borsvoeding is goed vir jou sowel as vir jou kind. Borsmelk is goedkoper, meer higiënies en voedsamer as enige plaasvervanger. Volgens berekeninge van UNICEF kan ’n miljoen kindersterftes elke jaar voorkom word as moeders hulle babas die eerste vier tot ses maande van hulle lewe borsvoed. As die moeder natuurlik ’n besmetlike siekte het wat sy deur moedersmelk aan die kind kan oordra, moet sy ’n veilige alternatief gebruik om die baba te voed.
Maak seker dat jou huis goed geventileer is as jy binnekant oor ’n oop vuur kook. “Blootstelling aan die rook en giftige gasse van die kookproses is vandag seker die ernstigste beroepsgesondheidsgevaar waarvan ons weet”, waarsku die boek Women and Health.
Moenie rook nie, al verkeer jy ook onder druk om dit wel te doen. Die intensiewe sigaretadvertering in die ontwikkelende wêreld is op vroue gemik en probeer hulle daarvan oortuig dat dit gesofistikeerd is om te rook. Niks kan verder van die waarheid wees nie. Rook benadeel jou kinders en kan jou dood veroorsaak. Volgens berekening sterf ’n kwart van alle rokers uiteindelik as gevolg van hulle tabakverslawing. Daarbenewens waarsku deskundiges dat die moontlikheid baie groot is dat iemand wat vir die eerste keer ’n sigaret rook daaraan verslaaf sal raak.
Higiëne. Jou voorbeeld en raad oor higiëne is uiters belangrik vir die gesondheid van jou gesin. Die publikasie Facts for Life sit die volgende basiese stappe uiteen vir goeie higiëne:
• Was jou hande met seep en water ná enige kontak met ontlasting, en voordat jy met kos werk. Maak seker dat jou kinders hulle hande was voor hulle eet.
• Gebruik ’n toilet, en hou dit skoon en bedek. As dit nie moontlik is nie, moet jy so ver as moontlik van die huis af ontlas en die ontlasting onmiddellik begrawe.—Vergelyk Deuteronomium 23:12, 13.
• Probeer om skoon water in jou huishouding te gebruik. Daarom moet jy putte bedek hou en skoon houers gebruik om water in te dra.
• As jy nie toegang tot skoon drinkwater het nie, moet jy die water kook en dan laat afkoel voordat jy dit drink. Alhoewel water dalk skoon lyk, kan dit steeds besmet wees.
• Onthou dat die kanse groter is dat rou voedsel ’n infeksie sal oordra. Voedselsoorte wat rou geëet word, moet eers gewas en dan so gou moontlik gebruik word. Ander voedselsoorte moet deeglik gekook word, veral vleis en pluimvee.
• Hou voedsel skoon en bedek sodat insekte of diere dit nie kan besmet nie.
• Verbrand of begrawe huishoudelike afval.c
[Voetnote]
a Jehovah se Getuies reël gratis lees-en-skryf-klasse as deel van hulle omvattende program van Bybelonderrig.
b In sommige lande is daar die bygeloof dat vroue nie vis, eiers of hoender moet eet terwyl hulle swanger is nie, uit vrees dat dit die ongebore kind sal benadeel. Soms is dit die gebruik dat die vrou die oorskiet moet eet nadat die mans en seuns klaar geëet het.
c Sien die Ontwaak! van 8 April 1995, bladsye 6-11, vir meer inligting.
[Prent op bladsy 8]
Baie vroue in die Westerse wêreld werk in kantore
[Prent op bladsy 8, 9]
Baie vroue moet in haglike omstandighede werk
[Erkenning]
Godo-Foto
[Prent op bladsy 9]
Moeders is onderwyseresse tuis