Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 3/22 bl. 4-6
  • Stres—die “stadigwerkende gif”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Stres—die “stadigwerkende gif”
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Stres en jou immuunstelsel
  • Nie die enigste oorsaak of die enigste geneeswyse nie
  • Goeie stres, slegte stres
    Ontwaak!—1998
  • Voel jy gestres?
    Ontwaak! – 2020
  • Stres—Wat dit aan ons doen
    Ontwaak!—2010
  • Wat is stres?
    Ontwaak! – 2020
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 3/22 bl. 4-6

Stres—die “stadigwerkende gif”

“Ons hoor gedurig hoe mense sê: ‘Moenie toelaat dat stres jou so onderkry dat jy siek word nie.’ Hulle besef waarskynlik nie dat daar in werklikheid ’n biologiese grondslag daarvoor is nie.”—Dr. David Felten.

JILL, ’n enkelmoeder met ’n tienerseun, ’n kwynende bankrekening en ’n gespanne verhouding met haar ouers, het reeds meer as genoeg rede gehad om te voel dat stres haar onderkry. Toe, onverwags, het sy ’n jeukerige, brandende veluitslag op haar arm gekry. Sy het antibiotika, kortisoonroom en antihistamiene probeer, maar niks het gehelp nie. Die uitslag het eerder oor Jill se hele liggaam versprei, met inbegrip van haar gesig.

Jill is na ’n dermatologiekliniek verwys wat die emosionele toestand van sy pasiënte ondersoek. “Ons probeer uitvind wat in hulle lewe aangaan”, sê dr. Thomas Gragg, die kliniek se medestigter. Hy vind dikwels dat mense met hardnekkige velprobleme, bo en behalwe die mediese sorg, hulp nodig het om stres te hanteer. “Dit sou oorvereenvoudiging wees om te sê dat velsiekte veroorsaak word deur jou gemoedstoestand of dade”, erken dr. Gragg. “Maar ons kan sê dat ’n mens se emosionele toestand ’n groot rol in velsiektes kan speel, en ons moenie aanhou om voorskrifte vir steroïedroom uit te skryf sonder om mense ook te help om iets aan die stres in hulle lewe te doen nie.”

Jill meen dat sy haar vel genees het deur te leer om stres te hanteer. “Van tyd tot tyd kry ek nog ’n uitslag”, sê sy, “maar my vel lyk glad nie so sleg soos voorheen nie.” ’n Ongewone geval? Geensins. Baie dokters meen dat stres dikwels ’n faktor by ’n aantal velsiektes is, onder meer galbulte, skilferuitslag, aknee en ekseem. Maar stres kan meer as net jou vel aantas.

Stres en jou immuunstelsel

Die nuutste navorsing toon dat stres jou immuunstelsel kan onderdruk, aangesien dit moontlik die deur vir ’n aantal besmetlike siektes kan oopmaak. “Stres maak jou nie siek nie”, sê die viroloog Ronald Glaser. “Maar dit vergroot jou kanse om siek te word vanweë die uitwerking wat dit op jou immuunstelsel het.” Daar is veral afdoende bewyse wat stres met verkoues, griep en koorsblare verbind. Hoewel ons voortdurend aan sulke virusse blootgestel word, weer ons immuunstelsel dit gewoonlik af. Maar party deskundiges sê dat hierdie verdedigingsmeganismes kan faal wanneer iemand in emosionele angs verkeer.

Die biologiese meganismes wat hierby betrokke is, word nog nie ten volle verstaan nie, maar party bespiegel dat die hormone wat jou gereed maak vir optrede wanneer jy stres ondervind die werking van jou immuunstelsel kan belemmer namate dit deur die bloedstroom versprei. Gewoonlik is dit nie iets om oor bekommerd te wees nie, aangesien hierdie hormone net op ’n tydelike sending is. Party sê nietemin dat langdurige en hewige stres ’n persoon se immuunstelsel in so ’n mate kan beskadig dat hy vatbaar vir siektes word.

Dit help dalk verduidelik waarom Kanadese dokters skat dat sowat 50 tot 70 persent van die spreekkamerbesoeke wat hulle hanteer stresverwant is en tipiese kwale soos hoofpyne, slapeloosheid, moegheid en maagdermprobleme insluit. In die Verenigde State word daar geskat dat die syfer tussen 75 en 90 persent is. Dr. Jean King meen dat sy nie oordryf wanneer sy sê dat “chroniese stres soos stadigwerkende gif” is nie.

Nie die enigste oorsaak of die enigste geneeswyse nie

Ten spyte van die voorgaande is wetenskaplikes nie seker of stres op sigself die immuunstelsel genoeg kan aantas om ’n mediese verskil te maak nie. Daar kan dus nie dogmaties gesê word dat almal wat stres ondervind, selfs in sy chroniese vorm, ’n siekte sal opdoen nie. Aan die ander kant kan daar nie gesê word dat die afwesigheid van stres goeie gesondheid sal waarborg nie, en dit is ook nie verstandig om mediese behandeling te weier weens die wanbegrip dat optimisme en positiewe denke siekte kan laat verdwyn nie. Dr. Daniel Goleman waarsku: “As gevolg van hierdie gesindheid-sal-alles-genees-retoriek het wydverspreide verwarring en misvattings ontstaan oor die mate waarin siekte deur die verstand beïnvloed kan word en, miskien erger, het dit mense skuldig laat voel as hulle ’n siekte het, asof dit ’n teken van die een of ander sedelike misstap of geestelike onwaardigheid is.”

’n Mens moet dus besef dat die oorsaak van ’n siekte selde tot ’n enkele faktor beperk kan word. Nietemin beklemtoon die verband tussen stres en siekte die wysheid daarvan om te leer hoe om hierdie “stadigwerkende gif” te alle tye teë te werk.

Voordat ons bespreek hoe dit gedoen kan word, kan ons gerus die aard van stres en hoe dit in sommige gevalle selfs vir jou goed kan wees van nader beskou.

[Venster op bladsy 5]

Party aandoenings wat al aan stres gekoppel is

• allergieë

• asma

• depressie

• diarree

• geslagsdisfunksie

• gewrigsontsteking

• griep

• hartprobleme

• hoofpyne

• maagdermprobleme

• maagsere

• migraine

• rug-, nek- en skouerpyn

• slapeloosheid

• velprobleme

• verkoues

[Prent op bladsy 6]

’n Hoë persentasie van doktersbesoeke is as gevolg van stres

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel