Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 3/22 bl. 6-9
  • Goeie stres, slegte stres

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Goeie stres, slegte stres
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Drie soorte stres
  • Sensitief vir stres
  • Hoe om stres te beheer
    Ontwaak!—2010
  • Stres—Wat dit aan ons doen
    Ontwaak!—2010
  • Stres—Die oorsake en gevolge
    Ontwaak!—2005
  • Stres—’n Ernstige gesondheidsgevaar
    Ontwaak!—2010
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 3/22 bl. 6-9

Goeie stres, slegte stres

“Aangesien stres die niespesifieke reaksie van die liggaam op enige eis is, het almal altyd ’n mate van stres.”—Dr. Hans Selye.

AS ’N violis musiek op ’n viool wil maak, moet sy instrument se snare styf gespan wees—maar nie te styf nie. As dit te styf is, sal dit breek. Maar as die snare te slap is, sal dit hoegenaamd geen geluid maak nie. Die regte hoeveelheid spanning lê iewers tussen die twee uiterstes.

Dieselfde geld vir stres. Te veel kan skadelik wees, soos ons reeds gesien het. Maar wat van hoegenaamd geen stres nie? Die vooruitsig klink dalk aanloklik, maar feit is dat jy stres nodig het—ten minste in ’n mate. Stel jou byvoorbeeld voor dat jy skielik sien hoe ’n motor op jou afjaag terwyl jy ’n straat oorsteek. Dit is stres wat jou in staat stel om vinnig van die gevaar af weg te kom!

Maar stres is nie net nuttig vir noodgevalle nie. Jy het ook stres nodig om alledaagse take te verrig. Almal het altyd ’n mate van stres. ‘Die enigste manier om stres te vermy, is om dood te gaan’, sê dr. Hans Selye. Hy voeg by dat die stelling “hy ly aan stres” so betekenisloos is soos die uitdrukking “hy het koors”. “Wat ons eintlik bedoel met sulke uitdrukkings”, sê Selye, “is te veel stres of liggaamswarmte.” In hierdie konteks behels ontspanning ook stres, en so ook slaap, aangesien jou hart moet aanhou klop en jou longe moet bly werk.

Drie soorte stres

Net soos daar verskillende grade van stres is, is daar ook verskillende soorte stres.

Akute stres word deur die druk van die alledaagse lewe teweeggebring. Dit behels dikwels onaangename situasies wat opgelos moet word. Aangesien dit toevallig en net tydelik is, kan die stres gewoonlik hanteer word. Daar is natuurlik diegene wat die een krisis na die ander beleef—trouens, dit kom voor asof chaos ’n deel van hulle persoonlikheid is. Selfs hierdie vlak van akute stres kan onder beheer gehou word. Maar die slagoffer sal dalk teen verandering skop totdat hy besef watter uitwerking sy onstuimige lewenswyse op hom en op diegene om hom het.

Terwyl akute stres tydelik is, het chroniese stres langtermyngevolge. Die slagoffer sien geen uitweg uit ’n stresvolle situasie nie, hetsy dit die weë van armoede of die ellende van ’n gehate werk—of geen werk—is nie. Chroniese stres kan ook deur voortgesette gesinsprobleme veroorsaak word. Die versorging van ’n siek gesinslid kan ook stres meebring. Wat die oorsaak ook al mag wees, chroniese stres put die slagoffer dag na dag, week na week en maand na maand uit. “Die ergste aspek van chroniese stres is dat mense daaraan gewoond raak”, sê een boek oor die onderwerp. “Mense is onmiddellik bewus van akute stres omdat dit nuut is; hulle ignoreer chroniese stres omdat dit oud, bekend en soms amper gerieflik is.”

Traumatiese stres is die skok van ’n oorweldigende tragedie, soos ’n verkragting, ongeluk of natuurramp. Baie oorlogsveterane en oorlewendes van die konsentrasiekampe ly aan hierdie soort stres. Simptome van traumatiese stres kan lewendige herinneringe van die trauma, selfs jare later, tesame met ’n verhoogde sensitiwiteit vir geringe voorvalle insluit. Soms word daar vasgestel dat die slagoffer aan ’n toestand ly wat posttraumatiese stresversteuring (PTSV) genoem word.—Sien venster hierbo.

Sensitief vir stres

Party sê dat die manier waarop ons tans op stres reageer grotendeels afhang van die hoeveelheid en soort stres wat ons in die verlede gehad het. Hulle sê dat traumatiese voorvalle in werklikheid die brein se chemiese werking kan verander, wat ’n mens in die toekoms baie sensitiewer vir stres laat. In ’n studie van 556 veterane van die Tweede Wêreldoorlog het dr. Lawrence Brass byvoorbeeld gevind dat die gevaar van beroerte agt keer hoër was onder diegene wat krygsgevangenes was as onder dié wat nie was nie—selfs 50 jaar ná die oorspronklike trauma. “Die stres wat daarmee gepaardgaan om ’n krygsgevangene te wees, was so hewig dat dit die manier verander het waarop hierdie mense in die toekoms op stres gereageer het—dit het hulle sensitief gemaak.”

Deskundiges sê dat stres-volle gebeure gedurende die kinderjare nie onderskat moet word nie, aangesien dit ’n wesenlike uitwerking kan hê. “Die meeste kinders wat ’n trauma beleef het, word nie na die dokter gebring nie”, sê dr. Jean King. “Hulle oorkom die probleem, gaan voort met hulle lewe en beland jare later in ons kantore wanneer hulle aan depressie of hartsiekte ly.” Neem byvoorbeeld die trauma as ’n ouer sterf. “Stres van daardie omvang wanneer jy jonk is, kan die brein se werking permanent beskadig”, sê dr. King, “sodat dit normale, alledaagse stres nie so maklik kan hanteer nie.”

Hoe iemand op stres reageer, kan natuurlik ook van ’n aantal ander faktore afhang, onder meer sy liggaamsgesteldheid en die middele wat beskikbaar is om hom te help om stresvolle gebeure te verwerk. Ongeag wat die oorsaak daarvan is, iets kan omtrent stres gedoen word. Ons gee toe dat dit nie maklik is nie. Dr. Rachel Yehuda sê: “Om vir iemand wat sensitief vir stres is te sê om net te ontspan, is soos om vir iemand wat aan slapeloosheid ly te sê om net aan die slaap te raak.” Daar is nietemin baie wat ’n mens kan doen om stres te verminder, soos die volgende artikel sal toon.

[Venster op bladsy 7]

Werkstres—’n “Wêreldwye Verskynsel”

’n Verslag van die Verenigde Nasies sê: “Stres het een van die ernstigste gesondheidskwessies van die 20ste eeu geword.” Die teenwoordigheid daarvan in die werksplek is baie duidelik.

• Die aantal stresverwante eise wat deur staatsamptenare in Australië ingestel is, het in ’n tydperk van net drie jaar met 90 persent toegeneem.

• ’n Opname in Frankryk het aan die lig gebring dat 64 persent van die verpleegsters en 61 persent van die onderwysers sê dat hulle ontsteld is oor die stresvolle omgewing waarin hulle werk.

• Stresverwante siektes kos die Verenigde State elke jaar ongeveer R900 miljard. Na raming is 75 tot 85 persent van alle nywerheidsongelukke stresverwant.

• In die een land na die ander is gevind dat vroue meer aan stres ly as mans, waarskynlik omdat hulle by die huis en die werk meer pligte op ’n slag moet behartig.

Stres by die werk is beslis, soos die verslag van die VN dit noem, ’n “wêreldwye verskynsel”.

[Venster op bladsy 8]

PTSV—’n Normale Reaksie Op ’n Abnormale Ondervinding

‘Drie maande ná ons motorongeluk kon ek nog steeds nie ophou huil of deur die nag slaap nie. Net om die huis te verlaat, was angswekkend.’—Louise.

LOUISE ly aan posttraumatiese stresversteuring (PTSV), ’n slepende siekte wat deur terugkerende en oorheersende herinneringe of drome van ’n traumatiese gebeurtenis gekenmerk word. Die persoon met PTSV het moontlik ook ’n oordrewe skrikreaksie. Die geestesgesondheidsdeskundige Michael Davis vertel van een veteraan van die Viëtnamoorlog wat op sy troudag in die bosse ingeduik het toe hy die geluid hoor van ’n motor wat terugplof. “Daar moes allerhande tekens in die omgewing gewees het wat vir hom gesê het dat alles in orde is”, sê Davis. “Dit was 25 jaar later; hy was in die Verenigde State, nie in Viëtnam nie; . . . hy het ’n wit troupak aangehad, nie oorlogsdrag nie. Maar toe hy weer daardie oorsponklike stimulus kry, het hy skuiling gesoek.”

Slagveldtrauma is net een oorsaak van PTSV. Volgens The Harvard Mental Health Letter kan die versteuring voortspruit uit enige “gebeurtenis of reeks gebeurtenisse waar iemand werklik sterf of met die dood bedreig of ernstig beseer word of die gevaar loop om liggaamlik beseer te word. Dit kan ’n natuurramp, ongeluk of mensedaad wees: ’n oorstroming, brand, aardbewing, motorongeluk, bomaanval, skietery, marteling, ontvoering, aanranding, verkragting of kindermolestering.” As iemand bloot ’n traumatiese gebeurtenis sien of daarvan te hore kom—miskien deur treffende getuienis of foto’s—kan dit simptome van PTSV tot gevolg hê, veral as die mense wat betrokke is gesinslede of intieme vriende is.

Mense reageer natuurlik verskillend op trauma. “Die meeste mense wat ’n traumatiese ondervinding beleef, ontwikkel nie ernstige psigiatriese simptome nie, en selfs wanneer daar wel simptome is, neem dit nie noodwendig die vorm van PTSV aan nie”, verduidelik The Harvard Mental Health Letter. Wat van diegene wie se stres wel tot PTSV lei? Na verloop van tyd is party in staat om die gevoelens te verwerk wat met die trauma gepaardgaan en kry hulle verligting. Ander worstel baie jare ná ’n traumatiese gebeurtenis nog steeds met die herinneringe.

Hoe dit ook al sy, diegene wat aan PTSV ly—en diegene wat hulle wil help—moet onthou dat herstel geduld verg. Die Bybel spoor Christene aan om ‘vertroostend te praat met die terneergedrukte siele’ en ‘lankmoedig teenoor almal te wees’ (1 Tessalonisense 5:14). Vyf maande het verbygegaan voordat Louise, wat aan die begin aangehaal is, weer ’n motor kon bestuur. “Ondanks die vordering wat ek gemaak het”, het sy vier jaar ná die ongeluk gesê, “sal motorbestuur nooit weer die aangename ondervinding wees wat dit eens vir my was nie. Ek doen dit net omdat ek dit moet doen. Maar ek het al ver gevorder sedert die tyd ná die ongeluk toe ek hulpeloos was.”

[Prent op bladsy 9]

Baie kantoorwerkers ly aan stres

[Prent op bladsy 9]

Nie alle stres is sleg vir jou nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel