’n Unieke versoening
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE
BRUCE was twee jaar oud in 1945 toe Marie, sy ma, hom laas gesien het. Ná Marie se egskeiding het Bruce se pa wettige toesig oor hom gekry. Marie het haar natuurlike gevoelens onderdruk en besluit dat dit in haar seun se belang sou wees as hy deur sy pa en sy pa se nuwe vrou grootgemaak word, sonder enige emosionele toutrekkery van haar kant. Sy het daarna alle kontak met Bruce verloor.
’n Paar jaar later is Marie weer getroud en het sy nog ’n seun gehad, maar sy het nog steeds aan Bruce gedink. Waar was hy? Wat het van hom geword?
Toe Bruce se pa in 1976 oorlede is, het Marie sy begrafnis bygewoon. Bruce, wat toe ’n gawe jong man in sy dertigerjare was, was saam met sy stiefma daar. Aangesien Marie nog steeds van mening was dat Bruce gedink het dat sy stiefma sy natuurlike ma is, het sy gevoel dat dit liefdeloos sou wees om haar aan hom voor te stel, veral op so ’n tyd. Marie sou anders opgetree het as sy geweet het dat Bruce se pa hom kort ná sy hertroue verwerp het en dat sy ouma hom grootgemaak het.
Om en by hierdie tyd het Marie met Sue, een van Jehovah se Getuies, kennis gemaak en geredelik tot ’n tuisbybelstudie ingestem. Bruce en sy vrou het per toeval terselfdertyd die Bybel saam met Sue se man, Alan, begin studeer. Kort voor lank het Marie egter weens gesondheidsprobleme haar studie beëindig en weggetrek.
In 1995 het Jehovah se Getuies weer met Marie in aanraking gekom. Sy het haar Bybelstudie hervat en vinnig vordering gemaak. Kort voor haar doop het Marie ’n Christen- ouer man in haar vertroue geneem en hom van Bruce vertel. Die ouer man het navraag gedoen en nie alleen uitgevind dat Bruce en sy gesin Getuies van Jehovah is nie, maar dat Bruce ’n ouer man in ’n gemeente in Marie se tuisdorp is!
Die ander ouer manne in Bruce se gemeente was bekommerd. Hoe sou Bruce daarop reageer as hulle vir hom sê dat sy ma by die volgende spesiale byeenkomsdag gedoop gaan word? Het hy selfs geweet dat sy bestaan? Maar onmiddellik nadat Bruce die feite te wete gekom het, het hy en sy gesin hulle gehaas om Marie te gaan ontmoet. “Die verlede maak nie saak nie; in die waarheid is dit die toekoms wat tel!” was Bruce se bemoedigende woorde toe hy sy ma omhels.
In Maart 1996 is Marie, wat toe 78 jaar oud was, by Engeland se East Pennine-Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies gedoop—deur Bruce. Hoe bly was Bruce tog om sy ma as ’n geestelike suster te win!
[Prent op bladsy 24]
Bruce, saam met sy ma