Sy hart is geraak
“Ons was 13 kinders in ons gesin”, skryf Gloria Adame, “4 seuns en 9 dogters. Dit was 1984. My pa het na Mexiko teruggekeer en uitgevind dat ons gesin die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het terwyl hy in die Verenigde State gewerk het. Hy was glad nie in sy skik daarmee nie en het ons begin teëstaan. Dit het gelyk asof sy hart elke dag meer verhard het.
“Ons was baie lief vir my pa en wou hê dat hy baat moes vind by die lewegewende kennis wat ons ontvang het. Ons het dag na dag vurig tot Jehovah gebid en hom gesmeek om die weg vir ons te open om met my pa oor Jehovah se voornemens te praat. Jehovah het ons smeking verhoor, want hy het ons die moed gegee om elke aand in die sitkamer bymekaar te kom waar my pa saans televisie gekyk het. My ma en ons dogters het daar saamgekom om die daaglikse Bybelteks te lees.
“My ma het die bespreking gelei, en nadat ons die kommentaar gelees het, het ons beurte gemaak om te bid. Wanneer ons jongste sussie Marie, wat toe net vyf was, gebid het, het sy opreg gesmeek: ‘Jehovah, maak asseblief Pappa se hart sag sodat hy ook een van u Getuies sal word.’ Dit het gelyk asof my pa nie luister nie, want hy het die TV se klank net harder gestel. Maar mettertyd het hy die klank al sagter begin stel totdat hy dit een aand heeltemal afgesit het.
“Daardie aand het my ma oudergewoonte gevra wie se beurt dit was om die teks te lees. Tot ons groot verbasing het my pa gesê: ‘Dit is my beurt.’ Ons was verstom, maar het niks gesê nie. My ma het, sonder om teë te stribbel of vrae te vra, vir hom die boekie Ondersoek die Skrif elke dag aangegee. Nadat hy die bespreking van die Bybelteks gelei het, het my ma gevra wie se beurt dit was om te bid. ‘Dit is my beurt’, het my pa gesê.
“Ons was heeltemal stomgeslaan. In die middel van die gebed kon ons nie meer ons trane keer nie. My pa het ook begin huil en Jehovah gevra om hom te vergewe dat hy Hom gelaster het. Hy het ook my ma gevra om hom te vergewe omdat hy ons teëgestaan het.
“In 1986 het my pa dus opgehou om ons teë te staan. In 1990 het ons gesin na Texas in die Verenigde State verhuis. My pa het na verloop van tyd sy lewe aan Jehovah toegewy en dit deur waterdoop gesimboliseer, en so ook sewe van ons susters. In April 1997 is my pa as ’n Christen- ouer man aangestel. Die bespreking van die daaglikse Bybelteks as ’n gesin is tot vandag toe nog vir ons van die allergrootste belang en gebed tot Jehovah is die grondslag van ons gesinslewe.”
[Prent op bladsy 31]
1. Vier dogters wat as pioniers in Mexiko dien. Marie is heel voor
2. Juanita en Isaac Adame saam met ’n paar van hulle kinders. Gloria is heel regs