Van ons lesers
Toeval of ontwerp? Ek het so pas die reeks “Hoe het ons hier gekom? Per toeval of deur ontwerp?” (8 Mei 1997) klaar gelees. Dit het om verskeie redes my belangstelling gewek: (1) Die eenvoudige manier waarop julle ’n omvattende, ingewikkelde onderwerp soos evolusie bespreek het, asook die oortuiging waarmee julle die Bybel se beskouing oor ons oorsprong verdedig het. (2) Die illustrasies wat julle gebruik het om julle lofwaardige oogmerk te bereik. Ek is ’n navorser en student aan ’n groot kommunikasiekollege. Sulke artikels bewys dat julle ALTYD noukeurige navorsing doen voordat julle ’n artikel plaas. Dit is ongetwyfeld waarom al die joernaliste, redakteurs en navorsers wat saam met my werk die Ontwaak! gereeld lees en geniet.
D. S. T., Kameroen
Waarom so siek? Ek ondervind al die emosies wat Jason gemeld het in die artikel “Jongmense vra . . . Waarom moet ek so siek wees?” (22 April 1997). Elke keer wanneer ek die artikel lees, voel dit vir my of ek met iemand gesels wat my toestand verstaan, daarvoor begrip het en daaroor besorg is. Baie dankie dat julle my las ligter gemaak het. Ek weet dat Jehovah omgee en dat hy op sy bestemde tyd alle siektes sal wegneem.
O. A., Ghana
Twee weke voor hierdie artikel verskyn het, is daar vasgestel dat ek epilepsie het. Ek het so pas 18 geword, en my siekte het al die vryhede wat ek net onlangs verkry het, drasties ingekort. Daar is soveel voorsorgmaatreëls om te tref en pille om te onthou. Dit het ook ’n groot uitwerking op my ouers gehad, wat twee ander kinders aan die dood afgegee het. Die artikel het my werklik so geraak dat dit my tot trane beweeg het. Dit het juis dié gedagtes aangeroer wat ek onderdruk het, en ek het weer ietwat normaal gevoel. Ek kon sien dat daar ander met soortgelyke probleme en sorge is. Jehovah het deur sy organisasie die inligting laat druk wat ek nodig het om sterk te bly.
D. S., Verenigde State
Toe ek die artikel gelees het, het ek besef dat my siekte my ouers meer lyding besorg as enigiemand anders. Hulle sê vir my dat my siekte oorgeërf is, en dit maak hulle terneergedruk. Wanneer ek hulle so sien, voel ek baie jammer vir hulle.
Y. H., Japan
Gedurende my kinderjare het ek goeie gesondheid geniet. Maar tydens my tienerjare het ek die een siekte na die ander gehad. Ek het die voltydse bediening betree, en die eerste twee maande kon ek weens swak gesondheid nie my doelwitte bereik nie. Ek was baie terneergedruk en het (verkeerdelik) gedink dat ek iets verkeerds teen Jehovah gedoen het en met siekte gestraf word. Die artikel het my gehelp om my behoorlik by my situasie aan te pas en om moed te skep.
C. K., Ghana
My negejarige dogtertjie het ’n leergestremdheid en serebrale verlamming. Sy is baie intelligent en weet dat haar gestremdhede normale bedrywighede beperk. Ondanks haar opgewekte en gelukkige geaardheid maak dit haar van tyd tot tyd ietwat terneergedruk. Hierdie artikel was baie aanmoedigend vir haar, asook die besprekings wat sy elke aand met haar pa oor die toekomstige Paradys het waar sy soos ander kinders sal wees.
Y. P., Verenigde State
Ek stry nou al ongeveer tien jaar teen ’n ‘onsigbare siekte’ wat my spysverteringstelsel aantas. Ek moes as gevolg daarvan die voltydse bediening verlaat. Noudat ek hierdie artikel gelees het, voel ek vir die eerste keer of iemand my stryd verstaan. Dit is ’n verligting om te weet dat ek nie alleen is nie. Dit is asof ’n swaar las van my afgehaal is. Ek sal julle nooit genoeg kan bedank nie. Hierdie aanmoedigende en tydige artikels help ons om in hierdie ou stelsel aan die gang te bly.
L. C., Kanada