Kom na die “Geloof in God se Woord” streekbyeenkoms!
MILJOENE mense sal by honderde plekke regoor die wêreld teenwoordig wees. In Suid-Afrika word daar reëlings getref vir byeenkomste in Desember. Een van hierdie driedaagse byeenkomste—Vrydag tot Sondag—sal heel waarskynlik in ’n stad in jou omgewing gehou word.
Jy gaan voordeel trek uit ’n oorvloed praktiese Bybelonderrig. Op die meeste plekke sal die program elke oggend om 9:30 begin. Daar sal Vrydagoggend 25 minute gewy word aan onderhoude met mense wie se lewe grootliks beïnvloed is deur hulle geloof in God se Woord. Die eerste sessie sal afgesluit word met die programrede “Wandel deur geloof, nie deur aanskouing nie”.
Die eerste toespraak Vrydagmiddag sal handel oor die belangrike rol van jongmense in die Christengemeente. Die driedelige simposium wat daarop volg, bespreek hoe Bybelstandaarde Christelike gedrag ten opsigte van spraak, maniere en persoonlike voorkoms raak. Daarna sal die toesprake “Wees versigtig vir ongeloof” en “Die Woord van God is lewend” die aandag vestig op die uitstekende vermanings in Hebreërs hoofstuk 3 en 4. Vrydag se program sal afgesluit word met die toespraak “’n Boek vir alle mense”.
Die eerste toespraak Saterdagoggend is “Geloof sonder werke is dood”. Nog ’n belangrike toespraak daardie oggend, “Word in die waarheid gewortel en standvastig gemaak”, beskryf hoe ons geestelik kan groei. Die sessie sal eindig met ’n gereelde byeenkomshoogtepunt, “Geloof in God se Woord lei tot doop”, waarna nuwe dissipels die geleentheid sal hê om gedoop te word.
Die eerste toespraak Saterdagmiddag, “Stry hard vir die geloof”, bespreek vermanings van die Bybelboek Judas. ’n Uur lange simposium met die titel “Laat ons na die huis van Jehovah gaan” sal die voordele van Christelike vergaderinge uiteensit. Die program vir daardie dag eindig met die toespraak “Die hoedanigheid van ons geloof word nou beproef”.
Sondag se oggendprogram bevat ’n driedelige simposium wat die Bybelboek Joël sal bespreek, asook die toepassing daarvan op ons dag. Daarna volg ’n Bybeldrama met die titel “Hou jou oog eenvoudig”. ’n Hoogtepunt van die byeenkoms is die middag se openbare toespraak “Geloof en jou toekoms”.
Jy sal beslis geestelik verryk word as jy dit bywoon. Jy sal hartlik verwelkom word by elke sessie. Beplan nou om daar te wees. Tree gerus met Jehovah se Getuies by die Koninkryksaal in jou omgewing in verbinding of skryf aan die uitgewers van hierdie tydskrif vir inligting oor waar die byeenkoms naaste aan jou gehou sal word.