Van ons lesers
Reïnkarnasie Dankie vir die uitstekende artikels “Het jy voorheen gelewe? Sal jy weer lewe?” (8 Junie 1994). Hierdie artikels vertel op ’n eenvoudige en rasionele manier die waarheid omtrent die toestand van die dooies. Ek glo dat enigiemand wat na die waarheid oor hierdie onderwerp soek nie anders kan as om te aanvaar wat julle geskryf het nie.
F. P., Italië
Voormalige bokser Baie dankie vir die artikel “Ek het dit waarvoor ek lief was, leer haat” (8 Junie 1994). Obdulio Nuñez se verhaal het ons gehelp om sommige van my man se mediese probleme te verstaan. As ’n voormalige bokser ly hy ook aan depressie. Dit is waarlik Jehovah God wat my man gehelp het om sy lewe te verander!
S. S., Verenigde State
Pyn Ek is ’n professionele masseur en wil julle bedank vir die reeks “Is ’n lewe sonder pyn moontlik?” (22 Junie 1994). Ek was hoogs beïndruk deur die insig, balans en wysheid wat in die navorsing en aanbieding van hierdie inligting gesien kon word. Die artikel sal ’n kosbare hulpmiddel vir spesialiste, pasiënte en ander wees. Deur van masseertegnieke gebruik te maak, hou ek aan om pyn te beveg terwyl ek op die dag onder God se Koninkryk wag wanneer chroniese pyn nie meer sal bestaan nie.
D. T., Denemarke
Hierdie artikels het my baie vertroos. Ek het dit vir ’n paar ander mense wat soos ek daagliks met pyn te kampe het, gegee om te lees.
M. G., Verenigde State
Ek lê hier en skryf aan julle vanuit my bed, waaraan ek die afgelope twee en ’n half jaar van tyd tot tyd gekluister is vanweë twee verskuifde werwels. Dankie vir die fantastiese artikel “Ly jy aan rugpyn?” (8 Junie 1994). Ek het gehuil toe ek dit gelees het, want dit was asof julle met my gepraat het. Ek kon skaars glo dat enigeen hierdie probleem so goed kon verstaan.
B. H., Engeland
Net tien dae gelede moes ek ’n rugoperasie ondergaan, en ek wil julle vir die noukeurige inligting bedank. Die artikel het my gehelp om die oorsaak van my pyn te verstaan. Die voorstelle is baie nuttig en ek hoop dat baie dit sal toepas en operasies sal vermy.
K. G., Hongarye
Musiek-anachronisme? Ek het baie van die artikel “Van ’n swerwende hippie tot ’n Suid-Amerikaanse sendeling” gehou (22 Maart 1994). Maar een punt het my dronkgeslaan. Richard Fleet sê dat hy in September 1973 na Liverpool gegaan het om die Beatles te sien optree. Sover ek weet, het die Beatles in 1969 vir die laaste keer in die openbaar opgetree en in 1970 uitmekaar gegaan.
C. S., Duitsland
Jammer vir die misverstand. Richard Fleet het bedoel dat hy na Liverpool gegaan het om ’n klub te besoek waar die Beatles eenmaal opgetree het.—RED.
Selfmoord Ek bedank julle met my hele hart vir die artikel “Jongmense vra . . . Is selfmoord die oplossing?” (8 April 1994). Ek wou al baie keer daardie uitweg volg. Toe ek ’n kleuter was, het iemand wat ek vertrou het my seksueel gemolesteer. . . . In die verlede het ek al soveel briefies geskryf waarin ek gesê het ‘Ek wil doodgaan’ dat ek nie meer weet hoeveel keer dit was nie. Ek het sedertdien een van Jehovah se Getuies geword en ek dien nou as ’n voltydse bedienaar, maar ek ondervind steeds van tyd tot tyd hierdie drang. Ek het die dag voordat ek die artikel ontvang het hierdie gevoel gehad. Dit het my laat huil. Maar Jehovah het my toegelaat om te bly lewe, en hy vertel my blykbaar sagkens: ‘Hou aan om te lewe.’ Ek wil julle werklik baie bedank.
Y. K., Japan