Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 1/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Veilige seks”—nie so veilig vir vroue nie
  • Breinoefening
  • Treine se toiletrolboodskappe
  • Die Amerikaanse vuurwapenparadoks
  • Afluistery in Japan
  • Vigs saai verwoesting in Afrika
  • Oorbenutting van die oseane
  • Beter slaapgewoontes
  • Katolieke mis deur altaarmeisies bedien
  • ’n Kultus van eunugs
  • Hoe kan ek voorkom dat ek vigs opdoen?
    Ontwaak!—1993
  • Vigs—Loop ek gevaar?
    Ontwaak!—1993
  • Hulp aan diegene met vigs
    Ontwaak!—1994
  • Waarom verduur Afrika soveel lyding?
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 1/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

“Veilige seks”—nie so veilig vir vroue nie

Ten spyte van baie publisiteit ten gunste van “veilige seks” en die gebruik van kondome om besmetting deur vigs te voorkom, begin dokters nou die wysheid van sulke raad bevraagteken. ’n Mediese verslag wat in die Paryse koerant Le Figaro verskyn, sê hoewel kondome vir mans ’n mate van beskerming teen vigs bied, bied dit vir vroue heelwat minder beskerming omdat ’n besmette seksmaat die buitekant van ’n kondoom maklik kan besmet. Vroue loop ook veral die gevaar om tydens menstruasie besmet te word en ook wanneer hulle enige vorm van vaginale infeksie of besering het. Volgens statistiek is kondome nou blykbaar minder as 69 persent doeltreffend om vroue teen vigs te beskerm. Een dokter het oor hierdie verminderde “veiligheids”-faktor gesê: “Wat sal ons sê van ’n vliegtuig wat in ’n jaar slegs ’n 69-persent-kans het om nie neer te stort nie?”

Breinoefening

“’n Swak geheue is gewoonlik nie die gevolg van die noodlot nie, maar van ’n gebrek aan oefening”, berig DAK Magazin, ’n Duitse publikasie oor gesondheidsversekering. Net soos spiere weens onbedrywigheid wegkwyn, verroes die brein en berg dit minder data as dit min geoefen word. Is dit merendeels ’n probleem wat bejaardes het? Glad nie! “Aangesien dit dikwels vir ons maklik of selfs onnodig gemaak word om te dink”, sê die tydskrif, loop selfs jongmense die gevaar om hulle geheue te laat verroes deur nie hulle verstand op ’n behoorlike wyse besig te hou nie. Wat kan help? Die tydskrif stel die gebruik van breinoefening voor, verstandspeletjies soos die oplossing van probleme wat nommers en letters van die alfabet insluit om die verstand en geheue te stimuleer. “Blokkiesraaisels kan [ook] nuttig wees.”

Treine se toiletrolboodskappe

Totdat moderner toerusting in gebruik geneem word, sal die enigste manier waarop ’n treinkondukteur die owerheid op byna enige Italiaanse trein van ’n noodgeval in kennis kan stel, steeds soos volg plaasvind: Skryf ’n briefie, plaas dit binne-in ’n toiletpapierrol en gooi dit by die volgende stasie by die bewegende trein uit in die hoop dat dit gevind sal word en die owerheid in kennis gestel word. Hierdie stelsel, “wat so oud soos die spoorweë self is”, word deur amptelike spoorwegregulasies voorgeskryf. Dit is “steeds ’n doeltreffende, beproefde metode”, sê ’n amptenaar van die Italiaanse Staatspoorweë, wat nietemin erken dat “kommunikasie op treine ’n baie ernstige probleem is”. In die geval van ’n passasier wat siek word, ’n verdagte stuk bagasie, ’n daad van aggressie of ’n diefstal “is die personeel van die Staatspoorweë in werklikheid magteloos”, sê die Italiaanse koerant Corriere della Sera, aangesien hulle nie die gesag het om in te gryp nie. Om die probleem van kommunikasie op te los, beplan die Italiaanse Staatspoorweë om in die nabye toekoms geslotebaan draagbare telefone in gebruik te neem.

Die Amerikaanse vuurwapenparadoks

Die toename in die aantal handgeweermoorde in die Verenigde State, tesame met ’n reeks massa-skietvoorvalle, het aan die een kant meegebring dat sommige dink dat dit tyd is om die vuurwapens van die misdadigers weg te neem en ander meen dat dit tyd is om self ’n vuurwapen te koop. “Trouens, baie mense huldig albei menings tegelykertyd”, sê die tydskrif Time. En hoewel die druk toeneem om vuurwapens te beheer, is daar nou meer mense as ooit tevore wat vuurwapens koop. Toe die Brady-wet (’n wet op die beheer van vuurwapens) aangeneem is, het vuurwapenhandelaars berig dat verkope die hoogte ingeskiet het voordat dit in werking begin tree het. Daar is nou ongeveer 211 miljoen vuurwapens in die Verenigde State. In ’n poging om daardie hoeveelheid te verminder, is programme begin waarin mense ’n vuurwapen kon oorhandig en ’n $100 (R360) geskenkbewys kon ontvang—sonder dat vrae gevra word. Die veldtogte het honderde vuurwapens uit mense se besit geneem, maar het sommige ook aangespoor om goedkoop vuurwapens te koop sodat hulle dit kon oorhandig en ’n wins kon maak. Een eienaar van ’n vuurwapenwinkel het gesê: “Ek kan jou waarborg dat baie van die mense wat in die oggend vuurwapens oorhandig steeds in die middag vuurwapens sal hê.”

Afluistery in Japan

Die Mainichi Daily News noem afluistery Japan se “nasionale tydverdryf” en berig dat “Japan een van die grootste gebruikers van afluistertoestelle ter wêreld is, met 60 000 piepklein mikrofone wat [elke jaar] verkoop word”. Sommige afluistertoestelle is so klein dat hulle in skryfpenne kan pas. Daar is toestelle wat ’n gesprek 15 meter ver kan opvang en dit oor ’n afstand van drie kilometer kan oorsein. Wie is Japan se afluisteraars? Volgens die koerant soek baie afluisteraars bloot deur “die frekwensies om die sappigste brokkies [skindernuus] te vind”. Maar baie “is jaloerse minnaars wat van hulle geliefdes se getrouheid verseker wil word of vaders wat hulle dogters se bewegings wil dophou”.

Vigs saai verwoesting in Afrika

Volgens skattings deur die Wêreldgesondheidsorganisasie kom nagenoeg 10 miljoen van die meer as 15 miljoen bevestigde gevalle van vigs in die wêreld in Afrika voor, wat dit die kontinent maak wat die ergste geraak word. “Klein sandwalletjies teen riviere wat al hoe voller raak”, is hoe professor Nathan Clumek die huidige maatreëls om die vigs-epidemie te bestry, beskryf het. In ’n onderhoud wat in die Paryse dagblad Le Monde gepubliseer is, het professor Clumek gesê dat Afrika se staatshoofde nog nie ten volle besef het watter vernietiging die virus in Afrika gaan veroorsaak nie. In 1987, toe professor Clumek geskat het dat 10 persent van die kontinent deur vigs besmet sal word, het talle gedink dat dit ’n oordrywing is. Vandag word daar geskat dat tussen 20 en 40 persent van Afrika se bevolking met die dodelike virus besmet sal word.

Oorbenutting van die oseane

“‘Daar is nog baie visse in die see’, lui die gesegde. Maar dit is nie waar nie”, sê The Economist. “Die see se ryk hulpbronne word oorbenut.” Die wêreld se seevisvangs het in 1989 sy hoogtepunt bereik, en dit het sedertdien afgeneem. Die rede is eenvoudig: “Daar is nie genoeg visse in die see oor om broeigetalle te handhaaf nie. Vissers lewe van die reserwe, hulle verbruik die bron wat hulle vangs moet voortbring.” Volgens die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-Organisasie is 13 van die wêreld se 17 groot seevisserye in die moeilikheid—4 van hulle is geklassifiseer as kommersieel uitgeput. Gevorderde tegnologie—soos sonar- en satellietkommunikasiemiddele—het dit vir vissers moontlik gemaak om die vis selfs in afgeleë gebiede op te spoor en om na die presiese ligging van die beste visvangplekke terug te keer. Ontsaglike fabriekstreilers so groot soos rugbyvelde, met nette wat selfs groter is, vang buitensporige hoeveelhede vis. Regerings moet die skuld dra vir die vermorsing, sê The Economist, aangesien 90 persent van die wêreldvangs binne 370 kilometer van sommige lande se kuslyn af plaasvind in waters waaroor hulle sê hulle beheer uitoefen. Die regerings hou ander lande se vissersvlote buite, maar laat plaaslike vlote toe om uit te brei en hulle subsidieer hulle selfs.

Beter slaapgewoontes

“Slaaploosheid is dalk vir baie mense produktief, maar as die liggaam van ure se slaap ontneem word, sal die gevolge taamlik onproduktief wees”, sê die Brasiliaanse tydskrif Exame. Die neuroloog Rubens Reimão verduidelik: “Die liggaam sal nie die ure se slaap vergeet wat ’n persoon dit skuld nie. Inteendeel, dit sal altyd onthou en skielik ’n rekening stuur wat tot uiting kan kom in vergeetagtigheid, konsentrasieprobleme en ’n stadige denkvermoë.” Om onnodige bekommernis te vermy, beveel dr. Reimão die volgende aan: “Los die oplossing van werksprobleme of om daaroor te dink vir wanneer jy by die werk is.” Ten einde te ontspan en beter te slaap, stel Exame gereelde oefening, sagte musiek, gedempte beligting en goeie gedagtes voor.

Katolieke mis deur altaarmeisies bedien

Die gebruik van meisies om priesters tydens die viering van die mis by te staan, is tot nou toe deur sommige kerkowerhede geduld. In ’n brief wat deur pous Johannes-Paulus II goedgekeur en na die voorsitters van die Katolieke biskoppe se konferensies oor die hele wêreld gestuur is, het die Kongregasie vir Goddelike Aanbidding en die Sakramente individuele biskoppe die reg gegee om altaarmeisies te kies om met die bediening van die mis te help. Die Corriere della Sera sê dat die woordvoerder vir die Vatikaan, Joaquin Navarro Valls, toe hy die aankondiging gedoen het, en om “selfs die geringste straaltjie van hoop op feministiese ideale uit te doof”, gou daarop gewys het dat die nuwe reëling die kerk se gesindheid teenoor vrouepriesters geensins wysig nie. Waarom dan die altaarmeisies? “Dit verbaas my nie”, het die sosioloog Franco Ferrarotti gesê. “Die Kerk kan nie priesters vind nie, en blykbaar ook nie altaarknapies nie.”

’n Kultus van eunugs

Die Indian Express van Bombaai berig dat daar meer as eenmiljoen eunugs in Indië is. Slegs 2 persent van hulle is so gebore. Die res is gekastreer. Volgens die Express word aantreklike seuns verlei of ontvoer en na een van die baie sentrums in Indië vir die skepping van eunugs geneem. Daar word die seuns aan ’n seremonie onderwerp waartydens hulle onder andere “koninklike behandeling” ontvang en wat uiteindelik tot die verwydering van hulle testikels lei. Daarna word die nuwe eunug deur ’n ouer eunug aangeneem en ’n “moeder-dogter”-verhouding word tot stand gebring. Hierdie eunugs word vrouename gegee en gedra hulle daarna soos vroue en trek soos vroue aan. Die meeste eunugs word in ’n kultus georganiseer met ’n godheid aan die hoof. Daar is baie tempels deur die hele Indië waarin eunugs tydens ’n jaarlikse fees as goddelike wesens vereer en aanbid word.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel