Priester erken Getuies se goeie eienskappe
Deur Ontwaak!-medewerker in Australië
IN 1991 is die Condobolin-Koninkryksaal van Jehovah se Getuies in Nieu-Suid-Wallis, Australië, deur ’n brand vernietig. ’n Paar weke later het ’n plaaslike Anglikaanse priester in sy kerkbrief simpatie uitgespreek “oor die verlies van die plek van aanbidding”. Sy brief het verder gesê:
“Hoewel daar ooglopende verskille tussen ons gebruike en hulle s’n is, het ek al jare lank baie lof vir daardie aspekte van hulle geloof wat ek glo op sigself goed is.” Wat was sommige van hierdie positiewe aspekte?
Eerstens: “Hulle is baie gesteld daarop om in die geloof onderrig te word. As gevolg daarvan vergader hulle elke week twee of drie keer.” Dit is waar—Jehovah se Getuies is ’n godsdiens waarin lees, onderrigting en die predikingswerk ’n belangrike rol speel. Hulle het elke week drie vergaderinge.
Die priester se tweede punt was: “Hulle . . . doen gereeld evangelistiese besoeke op mense by hulle huise. . . . Hulle wil hê ons moet weet dat die derde grootste kerkverband in Australië die groep mense is wat sê dat hulle aan geen godsdiens behoort nie (3 841 000 mense). Die Jehovah se Getuies is nie daarmee tevrede om die geloof vir hulleself te hou nie, maar wil dit aan ander mense vertel.” Jehovah se Getuies weet dat hulle aan Mattheüs 24:14 en Markus 13:10 gehoor moet gee deur die goeie nuus te verkondig.
Die derde punt: “Hulle maak blykbaar nie van die gemeenskap gebruik om deur straatstalletjies en ander fondsinsamelingspogings geld in te samel nie. Hulle finansies kom van binne [hulle] gemeenskap.” Die Bybel sê: ‘Julle het verniet ontvang, verniet moet julle gee’ en: “dit is saliger om te gee as om te ontvang”. Hulle hou gevolglik nie kollektes nie. Bydraebussies is by hulle sale beskikbaar waar dit nie die aandag trek nie.—Mattheüs 10:8; Handelinge 20:35.
Wat was die laaste lofwaardige aspek wat hy genoem het? “Hulle bou hulle plekke van aanbidding met die minimum tyd en geld. . . . Jy sal dalk na die Gum Bend Lake Road toe wil gaan . . . en kyk hoe die plaaslike Jehovah se Getuies . . . hulle nuwe Koninkryksaal oprig. Hulle meen dat die werk hulle drie dae sal neem.” Watter raad het hy toe vir sy gemeentelede gegee?
“Ek stel voor dat julle die vier punte wat ek hierbo genoem het weer lees en julle afvra hoe dit julle kan help om aan die sigbare beoefening van julle geloof te dink. . . . Ek wil die mening waag dat die Jehovah se Getuies, met betrekking tot die genoemde vier punte, die gemiddelde Anglikaanse en ander Christelike gemeentes in die skadu stel.”
As jy graag ’n Koninkryksaal wil besoek en self wil sien hoe Jehovah se Getuies aanbid en wat hulle glo, kan jy gerus na die Koninkryksaal naaste aan jou gaan of aan ons skryf vir die adres van die saal naaste aan jou.
[Prent op bladsy 31]
Die Koninkryksaal in Condobolin, Nieu-Suid-Wallis