Ons beskou die wêreld
Hoërhof beslis ten gunste van een van Jehovah se Getuies
Vier jaar gelede het een van Jehovah se Getuies in Florida, VSA, ’n aansienlike hoeveelheid bloed verloor toe sy deur middel van ’n keisersnee geboorte geskenk het. Haar dokters het gemeen dat hulle ’n bloedoortapping moes doen om haar lewe te red. Die pasiënt het op grond van haar waardes en geloofsoortuiging geweier om tot die gebruik van bloed in te stem. Tydens ’n noodverhoor het ’n plaaslike hof beslis dat die pasiënt teen haar sin ’n bloedoortapping gegee kan word as die geneeshere wat na haar omsien dit goeddink. Die vernaamste argument was dat indien die pasiënt sou sterf haar kinders haar sorg en beskerming ontsê sou word. ’n Distriksappèlhof van Florida het hierdie beslissing bekragtig. Die saak is uiteindelik voor die Appèlhof van Florida gebring. Daardie hof het ten gunste van die Getuie beslis en het die beslissings van die twee vorige howe herroep, hoewel dit te laat was om die ongewenste bloedoortappings te voorkom. Die hoërhof van Florida het verklaar dat ouerskap “in en op sigself ’n mens nie die reg ontneem om in ooreenstemming met jou eie oortuiging te leef nie”. Die hof het dus die pasiënt se reg op liggaamlike selfbeskikking en godsdiensvryheid ten sterkste ondersteun.
’n Groeiende taal
Vandag praat meer as 330 miljoen mense Spaans. Teen die jaar 2000 sal die aantal Spaans-Amerikaners in die Verenigde State alleen op 35 miljoen te staan kom. Teen daardie jaar sal Spaans Engels as die mees gesproke taal in die Westerse wêreld verbygaan. Dit is wat die Spaanse tydskrif Cambio16 América sê. Die Instituto Cervantes, ’n organisasie wat die Spaanse taal bevorder, het gerapporteer dat 70 persent meer mense vanaf 1986 tot 1990 in die Verenigde State en 80 persent meer in Japan Spaans geleer praat het. Waarom is daar soveel belangstelling in hierdie taal? Die direkteur van die Instituto Cervantes sê mense besef dat Spaans al hoe belangriker in die Westerse wêreld word. Spaans het ’n bykomende voordeel: Dit word in baie verskillende lande gepraat.
Brandrissieliefhebbers
Al hoe meer mense eet brandrissies. Baie mense wat nie daarvan hou nie, meen dat brandrissies net die natuurlike smaak van kos oorheers. Maar brandrissieliefhebbers beweer dat daar nie ’n groter onwaarheid kan wees nie. Volgens die tydskrif Reader’s Digest verduidelik een van die jongste boeke oor rissies dat brandrissies ’n reuklose chemiese stof bevat wat met die sintuigselle in die mond saamsmelt en hulle gevoelig maak vir die smaak van die kos. Party beweer dat brandrissies ook goed vir jou gesondheid is. ’n Rou rissie bevat meer vitamien C as ’n lemoen. So ver dit bekend is, is die habanero van Yucatan, Mexiko, die rissie wat die meeste brand. Wanneer jy habaneros eet, laat dit jou glo voel asof jou kop van die res van jou liggaam geskei is. Maar party verkies dit so.
Seksueel aktiewe kinders
’n Onlangse opname wat onder laerskoolleerlinge in Connecticut, VSA, gedoen is, het getoon dat 28 persent van dié in standerd vier seksueel aktief is. Die verhouding het tot 49 persent gestyg onder dié in standerd ses en tot meer as 60 persent onder dié in standerd agt. Party deskundiges meen dat ’n aansienlike aantal kinders wat selfs jonger is reeds seksueel aktief is. Volgens die tydskrif USA Weekend raai die Amerikaanse geneesheer-generaal aan dat “skole kondome moet uitdeel” aan leerlinge sodat swangerskappe onder tienderjarige meisies en die verspreiding van vigs voorkom kan word. Sowat 50 skooldistrikte in die Verenigde State het hierdie raad gevolg. Een skooldistrik in New Haven, Connecticut, gee die kondome vir kinders wat nog maar tien jaar oud is. Teenstanders van hierdie program sê dat die verspreiding van kondome onder kinders hulle aanmoedig om geslagsomgang te hê.
Jong probleemdrinkers
In ’n opname wat onder ongeveer 14 000 hoërskoolleerlinge in Japan gedoen is, is 17,3 persent as probleemdrinkers beskou, berig die Asahi Evening News. Die verhouding was groter onder seuns, met 24,8 persent wat drinkgewoontes het wat sielkundige, liggaamlike en sosiale probleme veroorsaak. Meer as die helfte van hierdie jong probleemdrinkers het gesê hulle drink omdat hulle van die smaak hou. Een uit 4 het gesê hulle drink omdat hulle terneergedruk of eensaam is. “Die tyd het aangebreek dat diegene wat met die leerlinge werk die probleem in alle erns begin aanpak”, sê dr. Kenji Soezoeki, wat die opname gedoen het. “Die leerlinge moet op skool en tuis behoorlik onderrig word”, het hy bygevoeg. In Japan is dit onwettig om onder die ouderdom van 20 drank te gebruik.
Opleidingsterreine vir misdadigers
Diegene wat dink dat die meeste gevangenes van die begin af “uiters gevaarlike rowers” is, bedrieg hulleself, sê die Brasiliaanse regsgeleerde Noely Manfredini D’Almeida. In Brasilië sê sy is dit eerder so dat die “tipiese gevangene ’n baie arm en baie jong persoon is wat misdaad begin pleeg het sonder dat hy ’n kans gehad het om sy eie lewe te begin lei”. Hierdie jong oortreders word in die gevangenis opgesluit waar hulle met geharde misdadigers saamlewe. Volgens die tydskrif Veja is hierdie gevangenisse in werklikheid “masjiene wat misdadigers voortbring. Gevangenes met geringe oortredings word professionele misdadigers.”
Oorwinningsongevalle
Colombia het onlangs sy sokkerspan se oorwinning gevier toe dit vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi vir 1994 gekwalifiseer het. Kort nadat die Colombiaanse nasionale span die oorwinning behaal het deur die Argentynse span met ‘’n telling van 5 teenoor 0’ te klop, het die Colombiane luidrugtig die strate ingevaar om fees te vier. Die vreugde het gou op ’n tragedie uitgeloop. Volgens een berig het meer as 70 mense gedurende die straatpartytjies gesterf. Ongeveer 900 mense is ook beseer weens motorongelukke, dronkenskap of ’n bakleiery. Een amptenaar het egter gesê dat hoewel die aantal ongevalle aansienlik hoog is, dit steeds “heeltemal normaal in situasies soos dié” is.
Min besorgdheid oor gesondheid
“Meer as ’n derde van alle kantoorwerkers in Duitsland toon geen belangstelling in hulle eie gesondheid nie”, berig die Süddeutsche Zeitung. Dit was die gevolgtrekking waartoe Claudia Pohle van die Rühr-universiteit in Bochum gekom het nadat sy 343 kantoorwerkers gevra het wat hulle doen om hulle fisiese, emosionele en sosiale welstand te bevorder. Meer as 36 persent van dié wat ondervra is, het min besorgdheid oor hulle gesondheid getoon; minder as 20 persent het ’n lewendige, maar kortstondige belangstelling in die nuutste soort oefening getoon. ’n Skrale 20 persent was bewus van wat hulle moes doen om gesond te bly, en hulle het dienooreenkomstig opgetree.
Die vetsugprobleem
“Amerika is die vetste land ter wêreld”, sê dr. Robert Kushner, hoof van die Voedings- en Gewigsbeheerkliniek van die Universiteit van Chicago. “Die aantal vet Amerikaners ouer as 17 het van 24 persent van die bevolking in 1985 tot 28 persent in 1990 gestyg”, berig The Toronto Star. Wat is die oorsaak? Nuwe navorsing dui daarop dat oormatige etery, ’n gebrek aan oefening en oorerflikheid die vernaamste redes is. “Mense raak swaarder, en dit is baie kommerwekkend”, sê Charlotte Schoenborn van die Nasionale Sentrum vir Gesondheidstatistiek. Vetsug kan hoë bloeddruk, suikersiekte en ander ernstige gesondheidsprobleme veroorsaak. Dit is nie maklik om oplossings te vind nie. Dokters raai aan dat ’n mens jou lewenstyl verander. “Eet minder en doen meer oefening. Wanneer ’n mens eers gewig verloor het, is fisiese oefening al wat werklik help dat ’n mens dit nie weer aansit nie”, voeg die Star by.
Mishandelde kinders
“Geweld teenoor kinders neem groot afmetings aan”, berig die Brasiliaanse koerant O Estado de S. Paulo. Wat nieseksuele aanranding betref, is die persentasie seuns wat aangerand word ongeveer dieselfde as dié van meisies. Maar dit is nie die geval wat seksuele mishandeling betref nie. Onder die jong slagoffers van seksuele geweld is ongeveer 23 persent manlik terwyl 77 persent vroulik is. Selfs nie eers klein kindertjies spring huishoudelike geweld vry nie. Volgens Miriam Mesquita, ’n professor aan die Universiteit van Sao Paulo, “word meer as 30 persent van die moordslagoffers onder 10 deur familielede vermoor”. Ongeveer 29 persent van die kinders wat deur ’n pa, ’n oom, ’n broer of ’n stiefpa vermoor is, is verkrag voordat hulle gesterf het. O Estado de S. Paulo berig dat ongeveer 90 persent van alle gevalle van huishoudelike geweld teenoor kinders in Brasilië nie aangemeld word nie.
Georganiseerde misdaad
“Die invloed van georganiseerde misdaad het teen so ’n onrusbarende tempo uitgebrei dat daar oor die hele wêreld ’n wydverspreide netwerk van kriminele organisasies is”, sê Gianni De Gennaro, die hoof van anti-Mafiabedrywighede vir die Italiaanse regering. Die toename van kriminele groepe soos die Italiaanse Mafia, Chinese triades, Noord-Amerikaanse motorfietsbendes en die kriminele klas van eertydse Kommunistiese lande is ’n bron van groot kommer vir die samelewing. Vanweë onwettige winste kan die misdadigers dit bekostig om die beste tegnologie en vakmanskap te hê, wat dit vir wetstoepassingsinstansies moeilik maak om die probleem die hoof te bied.