Van ons lesers
Feesdae Toe ek die artikels “Feesdae—Waarom party kinders dit nie vier nie” in die Ontwaak! van 22 November 1993 klaar gelees het, het trane van vreugde oor my wange gerol. Ek is as een van Jehovah se Getuies grootgemaak en ek het presies gevoel soos baie van die kinders wat aangehaal is. Ek wil ons jongmense ’n pluimpie gee omdat hulle sulke mooi voorbeelde is! As ouer is dit vir my aanmoedigend om te weet dat baie kinders op so ’n jeugdige ouderdom Jehovah wil behaag.
T. K., Verenigde State
Ek is nege en ek het nooit geweet dat Allerheiligeaand so verkeerd en afstootlik is nie. Ek voel nie dat ek iets mis nie.
A. C., Verenigde State
Toe ek ’n kind was, het ek altyd uitgesien na Kersfees en Pase. Maar nou besef ek dat hulle heidense feeste is en dat dit nutteloos is om blote tradisie na te volg. Die verduideliking wat gegee is, was volledig en omvattend.
S. L. P., Duitsland
Ek is vandat ek ses was as ’n Getuie grootgemaak, en ek is nou in my vroeë dertigerjare. Baie mense het gemeen dat ek, my broer en my susters iets ontsê is. Ek het aan hulle verduidelik dat ons die hele jaar deur geskenke ontvang het en dat ons ouers vrylik van hulle tyd en hulleself aan ons gegee het. Ons het baie dinge saam gedoen. My pa het ook ons weeklikse gesinsbybelstudie getrou gehou. Dít was die beste geestelike geskenk! Ek het nooit gegrief gevoel omdat ons nie feesdae gevier het nie.
D. Y., Verenigde State
Ek is 14 jaar oud en ek kan my vereenselwig met wat gesê is. Ek is dankbaar dat hierdie artikel verskyn het. Dit het my versterk om te weet dat ander jonges vir die waarheid opkom.
C. A., Verenigde State
Ek voel nie ek mis enigiets omdat ons nie feesdae vier nie. My gesin gee vir my geskenke en geld wanneer ek dit nodig het. Ek het van dieselfde speelgoed as wat ander kinders van my ouderdom [12] geniet.
L. C., Verenigde State
Hierdie artikel was ’n antwoord op baie gebede. ’n Mens verstaan nie die vreugdes en vrese van kinderopvoeding nie totdat ’n paar betraande ogies na jou opstaar wat lyk of hulle vra waarom iemand met haar die spot gedryf het. Ons dogtertjie het vanjaar kleuterskool toe begin gaan, en hoewel ons inligting oor die feesdae nageslaan het, was dit nogtans moeilik vir haar. Ons het elke aand gebid dat sy sterk en moedig by die skool moet wees. Toe kom dié Ontwaak!-artikels. Sy kan so goed lees soos ’n kind in standerd vyf, en al wat ek dus moes doen, was om haar die tydskrif te gee om te lees. Dit het haar versterk toe sy lees wat ander kinders te sê het en sy hulle foto’s sien. Net die volgende dag het sy een van die tydskrifte by haar onderwyseres gelaat.
G. M., Verenigde State
Van die kinders by die skool het my geterg omdat ek nie feesdae vier nie; daarom het ek afskrifte van die tydskrif gemaak en vir hulle daarvan gegee. Ek is seker dat die tergery sal ophou omdat hulle nou weet dat ek nie iets ontsê word nie.
K. H., Verenigde State
Bussafari Wanneer ek neerslagtig voel, doen ek somtyds naaldwerk en luister na my Awake!-bandopnames. Ek was regtig verbaas oor hoe die artikel “’n Bussafari na die middel van Australië” (8 Junie 1993) my opgebeur het. Dit het gevoel of ek daar was en in die vreugde en opgewondenheid van die reisigers gedeel het. Baie, baie dankie.
A. W., Verenigde State