Die Bybelse verskouing
Is dit verkeerd om te treur?
“EK GLO VAS AAN DIE OPSTANDINGSHOOP, EN EK HET GEDINK DAT DIT VERKEERD SAL WEES OM VOOR ANDER AAN MY DROEFHEID UITING TE GEE EN DAT EK HULLE SAL LAAT DINK DAT EK DALK NIE SO ’N VASTE HOOP HET NIE. EK HET GEDINK AS EK WERKLIK AAN DIE OPSTANDING GLO, SAL DIT NIE VIR MY SO MOEILIK WEES OM DIE VERLIES TE VERWERK NIE.” —CHARLENE, ’N CHRISTEN WAT AL LANGER AS 21 JAAR GEDOOP IS.
WANNEER iemand sterf wat jy liefhet, kan jy gevoelens en ’n gemoedsgesteldheid ervaar wat jy nie verwag het nie—vrees, woede, ’n skuldgevoel sowel as neerslagtigheid. Die Bybel se hartverblydende belofte van ’n opstanding van die dooies tot die lewe op ’n paradysaarde onder God se Koninkryksheerskappy kan vir ’n Christen die slag help verlig (Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15; Openbaring 21:1-4). Maar soos Charlene se woorde toon, dra party Christene, wanneer ’n geliefde sterf, ’n onnodige las—die gevoel dat dit verkeerd is om te treur, dat droefheid op die een of ander manier ’n gebrek aan geloof in die Bybel se belofte van ’n opstanding openbaar.
Wat sê die Bybel egter van droefheid? Is dit verkeerd om te treur wanneer ’n geliefde sterf?
Hulle het getreur
Abraham se geloof is goed bekend. Toe sy geloof op die proef gestel is, het hy “[sy seun] Isak so goed as geoffer” (Hebreërs 11:17, NW; Genesis 22:9-13). Niemand is natuurlik voor Abraham se tyd opgewek nie, maar Abraham het geglo dat, indien nodig, “God mag het om [sy seun] selfs uit die dode op te wek” (Hebreërs 11:18). Ongeveer 12 jaar nadat Abraham se geloof beproef is, het sy vrou, Sara, gesterf. Hoe het daardie man van geloof gereageer? Die Bybel verduidelik dat hy ‘gekom het om oor Sara te rouklaag en haar te beween’ (Genesis 23:2).a Ja, die man wat geloof gehad het dat God die dooies kan opwek, het openlik getreur. Nogtans word Abraham as ’n voortreflike voorbeeld van geloof vermeld.—Hebreërs 11:8-10.
Een van die hartroerendste voorbeelde van iemand wat die verlies van ’n geliefde openlik betreur het, is Jesus Christus self. Oor die dood van Lasarus, ’n intieme vriend van Jesus, lees ons: “Toe Maria kom waar Jesus was en Hom sien, val sy aan sy voete neer en sê vir Hom: Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie. Toe Jesus haar dan sien ween en die Jode wat saam met haar gekom het, ook sien ween, het Hy geweldig bewoë geword in sy gees en Hom ontstel en gesê: Waar het julle hom neergelê? Hulle sê vir Hom: Here, kom kyk. Jesus het geween.”—Johannes 11:32-35.
Dit is werklik hartverblydend om te sien dat die volmaakte Seun van God nie skaam was om openlik te treur nie. Die woord wat in die oorspronklike taal as ‘ween’ (da·kruʹo) vertaal is, beteken “om stilweg trane te stort”. Wat so merkwaardig is, is dat Jesus vantevore twee mense—die seun van die weduwee van Nain en die dogter van Jaïrus—opgewek het en dat hy beslis van plan was om Lasarus op te wek. (Lukas 7:11-15; 8:41, 42, 49-55; vergelyk Johannes 11:11.) Oomblikke vantevore het hy vir Martha gesê: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe” (Johannes 11:25). Tog is Jesus deur sulke hewige emosie oorweldig dat daar trane in sy oë opgewel het.
Daar is iets wat van selfs groter belang is. Jesus is “die presiese afdruksel van sy [Jehovah se] wese” (Hebreërs 1:3, vgl. NW). Jesus se tere en diepe gevoelens toe hy ’n geliefde aan die dood afgestaan het, skilder dus vir ons ’n hartroerende beeld van ons hemelse Vader, Jehovah. Dit beeld ’n God af wat diep meegevoel het met die leed van sy knegte.—Vergelyk Psalm 56:9.
Dit is dus duidelik dat dit nie verkeerd is om te treur wanneer iemand wat jy liefhet, sterf nie. Abraham het oor Sara se dood gerouklaag. Jesus het openlik getreur toe Lasarus gesterf het. Jehovah God verstaan ons pyn, want “hy is besorg” oor ons.—1 Petrus 5:7, NW.
Maar wat van die Christen se hoop? Maak dit ’n verskil?
‘Moenie treur soos die ander nie’
Toe sommige in die eerste-eeuse Christengemeente in Thessalonika oor die verlies van medegelowiges getreur het, het die apostel Paulus hulle probeer vertroos. Hy het geskryf: “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie” (1 Thessalonicense 4:13). Ja, diegene wat vertroue stel in God se belofte om die dooies op te wek, is veel beter daaraan toe as dié wat nie die opstandingshoop het nie.b Hoe so?
Wanneer diegene wat nie die opstandingshoop het nie skielik met die dood te doen kry, voel hulle magteloos. Al sê hulle dat hulle in die een of ander vorm van die hiernamaals glo, put min werklik vertroosting hieruit. Vir baie ander is die oorsaak van hulle droefheid nie net dat die dood hulle van hulle geliefdes geskei het nie, maar dat die skeiding permanent is. Aangesien hulle geen duidelike begrip van ’n opstanding het nie, word hulle verwagtinge saam met hulle geliefdes begrawe; wat hulle betref, sal hulle hulle geliefdes nooit weer sien nie.—Vergelyk 1 Korinthiërs 15:12-19, 32.
Maar vir ware Christene is dit anders. Die dood, het Paulus verduidelik, is soos om te slaap—nie net omdat dit ’n onbewuste toestand is wat soos ’n diepe slaap is nie, maar ook omdat dit moontlik is om daaruit wakker gemaak te word deur middel van ’n opstanding (Psalm 13:4; Prediker 9:5, 10). Daardie Bybelse hoop maak ’n verskil.
Wanneer die Christen ’n geliefde aan die dood afstaan, is hy soos die ongelowiges net so intens bewus van die kameraadskap wat nie meer daar is nie, die verlies van ’n bekende gesig, die afwesigheid van ’n geliefde stem. Die opstandingshoop maak die hart nie ongevoelig nie. Maar dit versag die droefheid of maak dit verdraagliker. Nee, daardie hoop laat verdwyn nie die behoefte om te treur nie, maar dit kan die pyn veel makliker maak om te verdra.
[Voetnote]
a Die Theological Wordbook of the Old Testament sê met betrekking tot die Hebreeuse woord wat as “rouklaag” vertaal word: “Almal wat die verlies van die afgestorwene meegemaak het, het gekom om hulle leed met die familielede te deel. . . . Deurdringende uitroepe of ’n harde geweeklaag het dikwels met die rou gepaardgegaan.” Dieselfde boek verduidelik met betrekking tot die Hebreeuse woord vir “ween”: “Net soos trane met die oë in verband gebring word, word ’n geween met die stem in verband gebring; die Semiete ween nie stilweg nie, maar hardop. . . . Deur die hele O[u] T[estament] is ’n geween die natuurlike en spontane manier waarop daar aan hewige emosie uiting gegee word.”
b Die eerste-eeuse Christene aan wie Paulus geskryf het, het die hoop gehad om na die hemel opgewek te word en daar saam met Christus as medeheersers te dien. (1 Thessalonicense 4:14-17; vergelyk Lukas 22:29, 30.) Paulus het hulle dus aangemoedig om mekaar te vertroos met die hoop dat dié onder hulle wat getrou was en gesterf het, tydens Christus se teenwoordigheid opgewek en verenig sou word met Christus en met mekaar. Vir die oorgrote meerderheid van dié wat sterf, bied die Bybel egter die hoop van ’n opstanding in ’n herstelde aardse paradys.—Johannes 5:28, 29; Openbaring 21:1-4.
[Foto-erkenning op bladsy 26]
Jean-Baptiste Greuze, detail from Le fils puni, Louvre; © Photo R.M.N.