Kanada se luisterryke “bewegende pad”
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KANADA
“Watter rivier is dit?” “’n rivier sonder end”, het die inboorlinggids geantwoord
DIE jaar was 1535. Min het Jacques Cartier, die ontdekkingsreisiger wat die vraag hierbo gevra het, toe geweet dat die waterweg wat hy op die punt was om in kaart te bring eendag een van die belangrikste waterweë in Noord-Amerika sou wees. Hierdie rivier het die eerste wye “pad” vir vroeë pelshandelaars en koloniste en uiteindelik vir hedendaagse reuse-oseaanvragskepe geword. Die rivier is by sy monding meer as 130 kilometer wyd en strek ongeveer 1200 kilometer van die Atlantiese Oseaan af tot by die Ontariomeer in die binneland.
Geskiedenisboeke skryf die eer aan Jacques Cartier toe as die een wat hierdie pragtige waterweg die St. Laurens genoem het. Later is hierdie naam vir die rivier sowel as vir die golf by sy ingang gebruik.
Party van Noord-Amerika se pragtigste landskappe word langs die St. Laurens aangetref. Kranse en ruie valleie loop tot teen die water af om een van die wêreld se langste fjords, die Saguenay-fjord, te skep, wat oor bykans 100 kilometer strek. Die magtige Saguenay-rivier vloei vanuit die noorde in die St. Laurens in en vorm ’n estuarium waar die seestroom met die rivierstroom vermeng.
Seebioloë sê dat dit hier is waar twee wêrelde mekaar onder die wateroppervlak ontmoet. Koue, brak seewater vloei deur onderwaterkanale wat tot 400 meter diep kan wees, styg dan en meng met die vars water van die riviere. Die seelewe gedy in hierdie estuarium. Witdolfyne, dwergvinwalvisse, vinwalvisse en reuse blouvinwalvisse word in ’n betreklike klein gebied aangetref. Hierdie vier soorte walvisse lewe gewoonlik honderde kilometer uitmekaar. Dit is geen wonder nie dat meer as 70 000 toeriste in een onlangse jaar bootritte op die St. Laurens onderneem het om die walvisse te sien.
Die kombinasie van plante, diere en voëls al langs die rivier is een van die buitengewoonste op aarde. Daar is honderde vissoorte, meer as 20 soorte amfibieë en reptiele en 12 soorte seesoogdiere. Daar word gesê dat bykans 300 voëlsoorte sy moerasse en oewers dikwels besoek. Trekvoëls, soos eende en sneeuganse, kom by die duisende na hierdie waters toe.
Verder stroomop kom die berge met hulle rustige, blou skakerings aan die ander kant van die rivier se oewers te voorskyn. Donker woude grens aan sy oewers. Statige eilande hou in sy wye kanaal wag. Plase, dorpies en stede is langs sy oewers geleë.
Van Montreal af, verder die binneland in, onderbreek ’n reeks stroomversnellings die rivier oor ’n afstand van 160 kilometer. Anderkant die stroomversnellings word die seevaart rustiger waar die rivier oor ’n afstand van 60 kilometer vol eilande is wat bekend staan as die Thousand-eilande (maar wat in werklikheid bykans tweeduisend eilande is).
Die verkeer op die “pad”
Reeds in 1680 het Europese koloniste daaraan gedink om die “pad” deur middel van kanale vir seeverkeer te verleng sodat dit verby Montreal sou strek en die stroomversnellings sou vermy. Bykans 300 jaar later, in 1959, is die droom bewaarheid toe die St. Laurens-seeweg geopen is. Dit word as een van die wêreld se puikste ingenieursprestasies beskou.
Ten einde hierdie waterweg oor ’n afstand van 293 kilometer te voltooi, is sewe nuwe sluise tussen Montreal en die Ontariomeer gebou. Dit het vereis dat meer as 150 miljoen kubieke meter grond en rots uitgegrawe moes word, wat, as dit in ’n gelyke hoop op ’n rugbyveld gestapel sou word, ’n berg hoër as 35 kilometer sou vorm. Met die hoeveelheid beton wat vir die sluise gebruik is, kon ’n mens ’n hoofweg met vier verkeersbane tussen Londen en Rome bou.
Jacques LesStrang, skrywer van die boek Seaway—The Untold Story of North America’s Fourth Seacoast, het ’n seekaptein aangehaal wat gesê het: “Hierdie waterweg het geen gelyke in die hele wêreld nie. Dit is nie maklik om oor hierdie rivier te vaar nie, maar die grootsheid van die rivier, die druising van die Niagara-waterval en die eindelose reeks mere en eilande maak dit besonder aantreklik.”
Oseaanskepe wat van hierdie verlengde “pad” na Duluth-Superior aan die Verenigde State se kant van die Superiormeer gebruik maak, beweeg stroomop tot 180 meter bo seevlak, wat die hoogte van ’n wolkekrabber van 60 verdiepings is. Die afstand van die vaart tot in die binneland is altesaam 3700 kilometer van die Atlantiese Oseaan af.
Dié soort seeverkeer het tot kommersiële welvaart vir stede langs die roete gelei. Die boek The Great Lakes/St. Lawrence System sê: “Binne sy twee landsgrense lê die nywerheidshartland van Kanada sowel as die Verenigde State, bevolkingsdigthede van meer as 100 miljoen en die grootste enkele bron van nywerheids- en vervaardigingsrykdom in die westerse wêreld.”
Onder die meer as 150 hawestede wat al langs die waterweg van die Atlantiese Oseaan af tot by die Superiormeer geleë is, is (in Kanada) Quebec, Montreal, Toronto, Hamilton, Sault Sainte Marie en Thunderbaai en (in die Verenigde State) Buffalo, Erie, Cleveland, Detroit, Chicago en Duluth-Superior. Elke jaar vervoer skepe van Casablanca, Le Havre, Rotterdam en elders miljoene ton skeepsvrag op die St. Laurens. Die gebruik van die “pad” skep tienduisende werkgeleenthede en lewer elke jaar ’n inkomste van miljarde rande.
Alarmkrete
Maar ná meer as 30 jaar van seevaart op hierdie “pad” word alarmkrete gehoor. Environment Canada hou vol dat die St. Laurens tesame met sy Groot Mere-reservoir al eeue lank “as ’n riool en ’n stortplek gebruik word”. Die “Groot Rivier” was nog tot onlangs toe daarteen opgewasse.
Groot oseaanvragskepe het in die varswatermere en in die rivier van hulle ballas ontslae geraak. Nywerhede en stede langs die seeweg het giftige chemikalieë in die rivier gestort. Die landbou het sy afvloei bygedra. Al hierdie gevolge saam het ’n bedreiging vir die rivier geword.
Namate meer besoedelstowwe in die rivier gestort is, het vissoorte geleidelik verdwyn. Mettertyd was dit verbode om te swem. Daarna is ’n verbod op die eet van sekere vis en skulpvis geplaas. Die drinkbaarheid van kraanwater wat van die rivier af gekom het, is bevraagteken. Sekere soorte dier- en plantlewe is amptelik op die lys vir bedreigde spesies geplaas. Dooie witdolfyne het op die oewer uitgespoel, slagoffers van siektes wat deur gifstowwe in die water veroorsaak is.
Die “pad” word skoongemaak
Die rivier het ’n duidelike boodskap uitgestuur. Die luisterryke “bewegende pad” moes herstel word. In 1988 het die Kanadese regering dus in reaksie hierop die St. Laurens-aksieplan in die lewe geroep om die rivier deur ’n program van bewaring, beskerming en herstel skoon te maak, veral van Montreal af tot by die Atlantiese Oseaan.
Daar word nou voortgegaan om planne vir die oorlewing van bedreigde spesies te ontwikkel. Bewaringsgebiede word tot stand gebring om wat oorgebly het behoue te laat bly. Die nuwe Saguenay-marinepark, waar die Saguenay-rivier die St. Laurens ontmoet, is tot stand gebring om die buitengewone see-omgewing en natuurlewe te bewaar.
Nuwe reëls is neergelê. Nywerhede het ’n keerdatum gekry waarop hulle die rivier se besoedelstowwe met 90 persent moes verminder. Nuwe tegnologiese metodes word ontwikkel om besoedeling tot die minimum te beperk. Gebiede wat deur gifstowwe in rivierafsaksels of deur baggerwerk besoedel is, word skoongemaak. In sekere gebiede moet nuwe habitats vir die natuurlewe langs die oewers tot stand gebring word deur afsaksels te gebruik wat gesuiwer is. Maatreëls word getref om die getalle en bewegings van die duisende toeriste te beheer wat die rivier jaarliks besoek.
Die skade kan herstel word. Vir eers sal die rivier, anders as paaie wat deur mense gebou is, self herstel as mense dit ophou besoedel. Die grootste behoefte is dat nyweraars sowel as gewone verbruikers, diegene wat voordeel trek uit die handelsbedryf langs die rivier en die Groot Mere, hulle gesindheid verander.
Die witdolfyn is een aanduiding dat daar welslae behaal is in die herstelling van die skade. Hoewel witdolfyne steeds bedreig word, is hulle besig om terug te keer nadat hulle getalle van 5000 tot slegs sowat 500 verminder het.
Daar is nuwe bewustheid onder die publiek van die skade wat aan die rivier se natuurlike rykheid en sy vroeëre prag aangerig is. Sal hierdie waardering groot genoeg wees om in die toekoms met herstelpogings vol te hou? Dit sál, wanneer die mens God se skeppingswerke respekteer en waardeer.
[Foto-erkenning op bladsy 20]
Courtesy of The St. Lawrence Seaway Authority