Jongmense vra . . .
Wat is fout met my musiek?
“My pa sê: ‘Sit af daardie geraas! Dit maak my ore seer!’”—’n Tienerseun.
“Party rap-musiek is regtig, regtig walglik.”—’n Tienermeisie.
“DIS nie so erg nie”, het Jodie gekla. “Waarom gaan hulle so aan oor musiek?” Die dertienjarige Lisette voel dieselfde. “Dis net ’n liedjie”, sê sy.
Is jy ook voortdurend besig om met jou ouers oor musiek te stry? Indien wel, hoor jy dalk ook klagtes, dreigemente en bevele elke keer wanneer jy jou geliefkoosde kasset of laserskyf speel. (“My pa sê: ‘Sit af daardie geraas! Dit maak my ore seer!’” sê een tienerseun.) Omdat jy moeg is vir die stryery meen jy dalk dat jou ouers ’n berg van ’n molshoop maak. “Wat van toe hulle jonk was?” vra een tienermeisie. “Het hulle ouers nie ook gedink dat hulle musiek sleg was nie?”
Daar steek iets in. Deur die geskiedenis heen was ouer en jonger geslagte geneig om met mekaar te verskil oor sake van persoonlike smaak. Waarom moet jy dan ophou om na jou musiek te luister net omdat jou ouers nie daarvan hou nie? Wat is in elk geval fout met jou musiek?
Musiek se plek in die lewe
Wel, niemand sê in werklikheid dat dit verkeerd is om musiek te geniet nie. Dele van die Bybel—die psalms in die besonder—was oorspronklik getoonset. In Bybeltye het musiek ’n belangrike plek in die aanbidding van God beklee (Psalm 149:3; 150:4). Musiek is ook gebruik om uiting te gee aan vreugde, opgewondenheid en droefheid (Genesis 31:27; Rigters 11:34; 1 Samuel 18:6, 7; Mattheüs 9:23, 24). In die dae van Jesus Christus was musiek iets algemeens by gesellighede; dit het die geleentheid genotvoller gemaak.—Lukas 15:25.
Musiek vervul steeds vandag ’n belangrike rol—veral onder jongmense. The Journal of the American Medical Association sê: “Die gemiddelde tiener luister tussen standerd vyf en tien na 10 500 uur se rockmusiek, net ’n bietjie minder as die totale ure wat hy van kindertuin tot standerd tien in die klaskamer deurbring.”
Opnames toon dat die meeste Amerikaanse jongmense amper uitsluitlik na rock- of popmusiek luister. (Eenvoudigheidshalwe sal ons die woorde “rock” en “pop” gebruik om feitlik al die musiekstyle wat onder jongmense gewild is te beskryf—van soulmusiek en new wave tot rap en heavy metal.) Volgens The World Book Encyclopedia is “rockmusiek nie meer net die musiek van jong Amerikaners nie. Dit is die musiek van die wêreld.”
Rockmusiek se aantrekkingskrag
Waarom is rockmusiek so gewild? Volgens die boek Youth Trends is rock “’n gemeenskaplike taal onder alle jongmense”. Party jongmense meen gevolglik dat as hulle op hoogte bly van wat in die musiekwêreld aangaan—deur die nuutste groepe en liedjies te ken—help dit hulle om by ander aan te pas. Musiek is ’n bindende faktor onder jongmense en verskaf oneindig baie onderwerpe om oor te gesels.
Maar baie jongmense geniet musiek die meeste wanneer hulle alleen is. Het jy ’n moeilike dag by die skool gehad? Dan is jy dalk soos die tienermeisie Bree wat sê: “Ek bly in my kamer, sit die stereostel baie hard aan en bly net daar sit. Op ’n manier verlig dit spanning en druk.” Hoewel daar dikwels gesê word dat rockmusiek net ’n geraas en ’n geskreeu is, het baie gewilde liedjies tog melodieuse wysies en aangename bewerkings.
Maar baie word deur die ritme aangetrek. “Dis die maklikste musiek om op te dans”, het ’n meisie verduidelik toe sy gevra is waarom sy ’n liefhebber van rap-musiek is. Maar baie word ook deur die woorde bekoor. Omdat poplirieke spesiaal vir jongmense geskryf word, beskryf dit elke denkbare gevoel en bekommernis van die adolessent. Rap-musiek is veral bekend vir die klem wat dit op huidige geskilpunte lê, soos rassisme en maatskaplike ongeregtighede. “Ek sit die radio aan en die meeste musiek is onverstaanbaar, dit maak my mal”, kla ’n tiener met die naam Dan in die tydskrif Newsweek. “Rap gaan oor werklike verhale en werklike dinge. Dit is interessant om na te luister.”
Maar dalk is dit die boodskap van die musiek waaroor jou ouers hulle die meeste bekommer.
Rap se boodskap
Neem byvoorbeeld rap-musiek. In rap word die lirieke—straatsleng wat rym—nie gesing nie, maar op die maat van ’n polsende ritme gepraat. Daar is natuurlik inherent niks met die idee verkeerd nie. Deur die dekades heen was daar baie gewilde liedjies wat die gesproke woord bevat het. Maar rap-musiek voer dikwels hierdie gedagte heeltemal te ver.
In die sewentigerjare het rap (of hip-hop) glo gewild geraak in klein dansklubs wat gereeld deur jongmense van die binnestad van New York besoek is. Toe platejoggies rymwoorde saam met voorafopgeneemde polsende ritmes begin sing-praat het, het dansers met byna onbeheerste opgewondenheid daarop gereageer. Rap-musiek is weldra nie net op die strate en in ondergrondse klubs gehoor nie, maar ook in die musiekwêreld. Die name van rap-sangers wat so vermetel soos hulle musiek is—Public Enemy, M. C. Hammer en Vanilla Ice—is met hulle dawerende soort musiek spoedig oor die radio gehoor.
Toe ’n Ontwaak!-verslaggewer ’n groep jong voorstedelike Christene van verskillende rasse gevra het: “Luister baie van julle na rap?” het ’n verbasende meerderheid, interessant genoeg, ja geantwoord! “Waarom hou julle van rap?” het hy vervolgens gevra. “Die ritme”, het een tienermeisie geantwoord. “Dit is vloeiend en ook maklik om na te luister.” “Jy kan daarop dans”, het iemand anders gesê. Maar die volgende vraag is ietwat minder entoesiasties beantwoord: “Is party rap-musiek ’n probleem vir Christene?”
Nadat hulle ’n oomblik verleë stilgebly het, het een meisie erken: “Party rap-musiek is regtig, regtig walglik.” Ander het teësinnig met haar saamgestem. Dit is verontrustend dat baie van die jongmense in werklikheid ’n lang lys afkeurenswaardige liedjies goed geken het—liedjies wat promiskuïteit en perversie in skandelik onverbloemde woorde voorstaan. Party het erken dat vloekwoorde volop in baie van hierdie liedjies voorkom.
Ja, baie van die rap-musiek dra blykbaar ’n boodskap oor van opstand, geweld, woede, rassisme en seksuele ongebondenheid. ’n Rap-voorstander, Daniel Caudeiron, president van Kanada se Vereniging vir Swart Musiek, wat rap ophemel as “verstommend positief”, erken dat baie van die rap “misoginisties [teen die vrou] en seksisties is en soms vuil taal bevat”.—Maclean’s, 12 November 1990.
Die rap-lewenstyl
Dit is so dat nie alle rap-musiek onsedelik of gewelddadig is nie. Volgens ’n artikel in The New York Times het van die musiek positiewe oogmerke soos opvoeding, die ontmoediging van dwelmmisbruik en die oplossing van maatskaplike euwels. Maar onskuldige lirieke kan eerder die uitsondering as die reël genoem word. Toe Newsweek die tien gewildste rap-plate gegradeer het deur ’n soortgelyke standaard te gebruik soos dié van die Amerikaanse rolprentgraderingstelsel was daar net twee wat as G, of geskik vir algemene gehore, beskou is. Newsweek het vier van die plate gegradeer as R (beperk tot ’n volwasse gehoor), en twee is as X gegradeer as gevolg van “vulgêre taal” en eksplisiete seks.
Daarbenewens gaan die boodskap van rap verder as sy lirieke. Rap het ’n kulturele revolusie begin. Miljoene tieners dra klere wat te groot is, veterlose enkeltekkies, denims wat sakkerig sit, goue kettings, bofbalpette en donker brille wat as die standaard rap-uitrusting beskou word. Baie boots ook die swierige gebare en die houding van rap-sangers na. En tot ouers en onderwysers se ontsteltenis het woorde wat nie eintlik bestaan nie, soos yo! en dis—die growwe straatsleng wat in rap verheerlik word—stadig maar seker deel van die omgangstaal geword.
Rap kan heel moontlik ’n opstand teen ongeregtighede verteenwoordig. Maar rap in sy geheel is ook ’n kultuur wat teen Goddelike standaarde van gedrag, kleredrag en spraak in opstand kom. Sou ’n Christen dit waag om deur sy musieksmaak in so ’n twyfelagtige lewenswyse betrek te word?
Rap-musiek is natuurlik nie die enigste soort musiek wat tot die ergste uiterstes gaan nie. Die tydskrif Time sê: “Daar is ’n bitter nasmaak op byna elke gebied van die moderne Amerikaanse popkultuur. Die heavy metal-meesters Motley Crüe beskryf tonele van satanisme, en die Beastie Boys boots masturbasie op die verhoog na.” Die Bybel het voorspel dat ‘goddelose mense en bedrieërs in die laaste dae sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word’ (2 Timotheüs 3:1, 13). Moet dit ’n mens dan verbaas dat baie van vandag se musiek die verkeerde boodskap aan jong Christene oordra?
Daarom kan jou ouers tereg baie bekommerd wees as jy graag na rap of ander uiterste vorme van rockmusiek luister. Hulle vrees moontlik dat dit jou sal benadeel as jy jou verstand gereeld met sulke musiek voed. Is hulle vrese dalk geldig? Ons volgende nommer sal hierdie vraag bespreek.
[Prente op bladsy 17]
Baie jongmense boots nou die kleredrag en houding van “rap”-sangers na