Die Bybelse beskouing
Protesoptredes en betogings—Kan dit die wêreld verbeter?
“ONS moet reguit sê wat ons dink, ons moet die strate invaar.” Dit was die opskrif van ’n hoofartikel in die National Catholic Reporter, ’n Rooms-Katolieke koerant, net voordat die Persiese Golf-oorlog in 1991 uitgebreek het. Die artikel het lesers aangespoor om deur die hele Verenigde State aan vredesoptogte en demonstrasies deel te neem en het voorts gesê: “Dit sal miljoene mense en volgehoue inspanning verg om tot hierdie regering se onkunde en hardkoppigheid deur te dring. . . . Die mense moet die strate invaar.”
Sulke oproepe word vandag dikwels gehoor. Met soveel politieke, ekonomiese en omgewingskrisisse wat die mensdom se welsyn bedreig, voel mense verplig om ‘die strate in te vaar’ en deel te neem aan protesoptredes, gebede en betogings. Die geskille wissel van die bekamping van buurtmisdaad tot die verwesenliking van wêreldvrede. Dit is interessant dat baie van hierdie betogings deur kerkorganisasies en godsdiensleiers goedgekeur word.
Maar is dit reg dat Christene aan sulke betogings deelneem? En kan protesoptredes—of dit nou in die vorm van oproerige optogte of somber gebede by kerslig is—werklik die wêreld verbeter?
Betogings—die Christelike beskouing
Betogings is al deur een sosioloog beskryf as “’n besonder doeltreffende manier om ’n politieke mening uit te druk . . . sodat burokrasie wat ’n dooiepunt bereik het, aangemoedig kan word om die nodige stappe te doen”. Ja, diegene wat aan protesoptogte deelneem of wat betoog, doen dit gewoonlik omdat hulle hoop dat hulle gesamentlike pogings die ongeregtighede en korrupsie sal kan regstel wat in die huidige sosiale en politieke stelsel gesien word.
Maar watter voorbeeld het Jesus Christus vir sy volgelinge nagelaat? Jesus het in ’n tyd geleef toe die Jode deur die Romeinse Ryk onderdruk is. Die mense wou ongetwyfeld baie graag van die onderdrukkende Romeinse juk bevry word. Maar Jesus het sy volgelinge nooit aangemoedig om te betoog, aan protesoptogte deel te neem of op enige manier by die politiek betrokke te raak nie. Daarenteen het hy herhaaldelik gesê dat sy dissipels “nie van die wêreld” moet wees nie.—Johannes 15:19; 17:16; sien ook Johannes 6:15.
Toe regeringsamptenare Jesus eweneens onregverdig in hegtenis geneem het, het hy nie ’n oproer probeer veroorsaak nie, hoewel hy dit ongetwyfeld kon gedoen het as hy wou. Hy het eerder vir die Romeinse goewerneur gesê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie” (Johannes 18:33-36). Toe Jesus voor ’n geskil te staan gekom het, het hy nie aan enige protesaksies deelgeneem nie, want hy het besef dat ’n mens nie aan die politieke aangeleenthede moet deelneem nie. En hy het sy volgelinge aangespoor om dieselfde te doen.
Maar as ’n mens aan betogings deelneem, skend jy die grondbeginsel van Christelike neutraliteit wat Jesus sy volgelinge geleer het. Buitendien kan deelname aan sulke betogings selfs daartoe lei dat jy jou aan ander onchristelike gedrag skuldig maak. Hoe? Betogings wat met goeie bedoelings gereël word, ontaard dikwels in ’n opstand, waartydens deelnemers strydlustig, beledigend of gewelddadig word. Deelname aan taktiek wat onwettig is en wat die gereg dwarsboom, trek dalk aandag, maar dit stem nouliks ooreen met die Bybel se vermaning om jou te “onderwerp aan die magte wat oor [jou] gestel is” en om “in vrede met alle mense te leef” (Romeine 12:18; 13:1). Pleks van burgerlike ongehoorsaamheid te bevorder, spoor die Bybel Christene aan om hulle lewenswandel onder die nasies skoon te hou en om aan menseregerings onderdanig te bly, selfs al is diegene wat aan die bewind is moeilik om tevrede te stel of onredelik.—1 Petrus 2:12, 13, 18.
‘Maar nie alle betogings gaan met strydlustigheid of gewelddadigheid gepaard nie’, sal party dalk sê. Dit is waar, en party betogings bring blykbaar goeie resultate voort. Maar kan protesoptredes—selfs al is dit vreedsaam en word dit met ’n goeie doel gehou—werklik die wêreld verbeter?
Kan dit die wêreld verander?
Christene is diep besorg oor hulle bure en wil hulle help. Maar is deelname aan betogings werklik die beste manier om hulle te help? Die boek Demonstration Democracy sê: “Alle maniere van politieke meningsuitdrukkings het hulle beperkings.” Om die mensdom se ellendes uit die weg te ruim, sal ongetwyfeld veranderinge vereis wat deur geen protesoptrede of optog bereik kan word nie.
Jesus het ’n soortgelyke argument gestel toe hy die eeue oue godsdiensstelsel van sy dag bespreek het. Hy het van daardie skynheilige stelsel van aanbidding wat deur die Fariseërs beoefen is, gesê: “Niemand sit ’n nuwe stuk lap op ’n ou kleed nie; want die aangelapte stuk skeur van die kleed af en daar kom ’n erger skeur” (Mattheüs 9:16). Wat het Jesus probeer sê? Dat die ware Christelike godsdiens hom nie sou aanpas by goddelose en uitgediende stelsels wat reg was om uit die weg geruim te word nie. Hy het besef dat dit tevergeefs sou wees om ’n uitgediende stelsel te probeer red.
Dieselfde geld vir die wêreldstelsel wat die mensdom al eeue lank aan ongeregtigheid, wreedheid en onderdrukking onderwerp. Prediker 1:15 sê tereg: “Wat krom is, kan nie reguit word nie.” Ja, vandag se wêreldstelsel kan nie reguit gemaak word nie, ongeag die edelste pogings. Waarom nie? Omdat, soos 1 Johannes 5:19 sê, “die hele wêreld in die mag van die Bose”, Satan die Duiwel, lê. Jesus het na hom verwys as “die owerste van hierdie wêreld” (Johannes 12:31). Solank hierdie stelsel onder Satan se beheer is, sal geen lapwerk permanente verligting bring nie.
Dit beteken nie dat Christene onverskillig teenoor die wêreld se probleme staan of onwillig is om daadwerklike stappe te doen nie. Christene word in werklikheid beveel om baie bedrywig te wees, nie in protesoptredes nie, maar in die predikings- en onderrigtingswerk wat oor die goeie nuus van God se Koninkryk handel—dieselfde Koninkryksregering waarvoor Jesus sy volgelinge geleer bid het (Mattheüs 6:10; 24:14). Die Bybel toon dat die Koninkryk nie hierdie onhervormbare wêreld gaan probeer red nie; dit sal die goddelose regerings en sosiale ordes wat tans die mensdom onderdruk heeltemal vernietig en sal hulle vervang met ’n stelsel wat ware geregtigheid en regverdigheid oor die hele wêreld tot stand kan bring (Daniël 2:44). Onder so ’n stelsel hoef niemand aan protesoptogte deel te neem nie, want Jehovah God, wat ‘alles wat lewe met welbehae versadig’, sal sorg dat al ons behoeftes ten volle bevredig word.—Psalm 145:16.
[Foto-erkenning op bladsy 18]
Labor strike, Leslie’s