“Moet nooit moed opgee nie”
WILMA RUDOLPH was by haar geboorte baie klein en sieklik. Sy het eers op vierjarige ouderdom begin loop. Toe het sy ernstig siek geword aan skarlakenkoors en longontsteking. Hoewel sy dit oorleef het, was haar linkerbeen verlam. Haar ma was vasbeslote dat Wilma sou loop en het haar uitgeteerde been gemasseer en drie van haar ouer kinders geleer om dieselfde te doen. Daar was dus daagliks vier skofte waartydens ‘Wilma gevryf’ is.
Toe Wilma agt was, kon sy met ’n beenstut loop. Kort voor lank het sy gehardloop en gespeel. Sy was vasbeslote om haar gebrek te oorkom. Oefening het haar gehelp, sowel as haar ma se raad: “Moet nooit moed opgee nie.”
Wilma het nie. En in 1960 het sy by die Olimpiese Spele in Rome, Italië, drie goue medaljes ontvang. Sy het die 100- en 200-meternaellope gewen en eerste gekom in die laaste deel van die 400-meteraflos.
Gedurende die Eerste Wêreldoorlog, toe Glenn Cunningham ’n sewejarige seuntjie was, het brandwonde aan sy bene byna sy lewe gekos. Hy het maande lank in die bed deurgebring en daar is vir hom gesê dat hy dalk nooit weer sou kon loop nie. Sy ma het elke dag sy beskadigde spiere gemasseer en hom aangemoedig om te loop en toe te hardloop. Glenn het nie moed opgegee nie. Trouens, hy het uiteindelik 21 uit 31 mylwedlope op die binnenshuise baan by Madison Square Garden gewen. En in 1934 het hy ’n wêreldrekord in die myl opgestel.
Daar is tye in die lewe dat ons almal die een of ander terugslag ondervind. Dit is dikwels ’n gesondheidsprobleem. Hoe goed sal dit tog wees as ons, pleks van die stryd gewonne te gee, vasbeslote is om nie moed op te gee nie! ‘Ons gee nie moed op nie’, skryf die apostel Paulus in verband met geestelike inspanning. “Maar al vergaan ons uiterlike mens [ons liggaam] ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe [met nuwe krag].”—2 Korinthiërs 4:16.
[Foto-erkenning op bladsy 31]
UPI/Bettmann Newsphotos