“Ek wil dit Nou hê!” Die eeu van onmiddellike bevrediging
Klein Jannie se houding is bedoel om intense lyding uit te druk, maar jy vind dit moeilik om nie te lag nie. Sy skouers hang, sy knieë knik en sy treë is lusteloos en swaar. Sy gesig is ’n prentjie van verdriet—sy voorkop is op ’n plooi getrek, sy oë smeek en sy mond is van smart vertrek. Hy dink nou net aan een ding: nagereg.
“Maar Mammie”, kerm hy. Hy kom nie verder as dit nie. Sy ma draai vinnig om, bak en lepel in die hand. “Vir die laaste keer, Jannie, NEE!” sê sy ferm. “As jy nou nagereg eet, gaan jy nie jou aandete eet nie. En ons eet in elk geval binne 15 minute!”
“Maar ek wil NOU ’n bietjie hê!” huil hy. Sy ma hou op met roer en gluur haar seun aan. Hy ken daardie kyk; hy blaas wyslik die aftog en gaan bejammer hom in stilte in die kamer langsaan. Nie te lank nie of sy aandag is afgelei, en teen die tyd dat aandete gereed is, het hy heeltemal daarvan vergeet.
Soms lyk dit amper of kinders aan die oomblik verslaaf is. As hulle iets wil hê, wil hulle dit nou hê. Dit is vir hulle baie moeilik om te begryp waarom hulle op ’n beter beloning moet wag, of waarom hulle hul iets aangenaams moet ontsê omdat dit hulle later skade kan berokken. Tog is dit iets wat hulle—en ons almal oor die algemeen—moet leer.
’n Onlangse studie deur wetenskaplikes aan die Columbia-universiteit in die Verenigde State het die vermoë van jong kinders ondersoek om bevrediging uit te stel ter wille van ’n verlangde beloning. Die kinders het twee keuses gehad, die een ’n bietjie begeerliker as die ander—byvoorbeeld een koekie teenoor twee koekies. Hulle kon die begeerliker keuse net kry as hulle gewag het totdat die onderwyser teruggekom het. Hulle kon egter te eniger tyd ’n einde aan die wagtery maak deur ’n klokkie te lui en dan sou hulle die minder begeerlike keuse kry en die beter een verbeur. Wetenskaplikes het hulle gedrag opgeteken en tien jaar later dieselfde kinders se ontwikkeling nagegaan.
Die tydskrif Science berig dat die kinders wat bevrediging makliker uitgestel het, beter gevaar het as adolessente. Hulle was sosiaal en akademies meer bekwaam en kon spanning en frustrasie makliker die hoof bied. Dit is dus duidelik dat die vermoë om bevrediging uit te stel—om nie dadelik te kry wat ons wil hê nie—’n uiters belangrike vermoë in die lewe is. En dit strek volwassenes ook tot voordeel.
Daar word elke dag druk op ons uitgeoefen om tussen onmiddellike en latere bevrediging te kies. Sommige keuses lyk onbenullig: ‘Moet ek daardie stuk koek eet of my kalorieë tel?’ ‘Moet ek TV kyk, of is daar iets meer produktiefs wat ek nou moet doen?’ ‘Moet ek daardie opmerking maak of my tong in toom hou?’ In elke geval moet ons die versoeking van onmiddellike bevrediging teen die langtermyngevolge opweeg. Hierdie sake is weliswaar dalk nie so ernstig nie.
Die morele besluite wat mense moet neem, is meer verreikend: ‘Moet ek ’n leuen vertel om uit daardie situasie te kom of moet ek ’n eerlike en taktvolle manier vind?’ ‘Moet ek op daardie flirtasie reageer en kyk wat gebeur of moet ek my huwelik koester?’ ‘Moet ek maar saam met die stroom gaan en dagga rook of moet ek die wet gehoorsaam en my liggaam beskerm?’ Jy het ongetwyfeld opgemerk dat die weg van onmiddellike bevrediging ’n mens se hele lewe in ’n oogwink kan verwoes.
Soos die tydskrif Science dit stel: “Om suksesvol te wees moet individue uit vrye wil onmiddellike bevrediging uitstel en in doelgerigte gedrag volhard ter wille van toekomstige resultate.” Ons sal waarskynlik nie ’n goeie lewe lei as ons elke begeerte dadelik moet bevredig nie.
Ons lewe nietemin in ’n wêreld wat behep is met onmiddellike bevrediging, ’n wêreld wat lyk of dit deur duisende volwasse weergawes van klein Jannie beheer word, wat daarop uit is om wat hulle wil hê nou te kry, sonder om oor die gevolge na te dink. Ons hedendaagse wêreld is deur hierdie gesindheid gevorm, en nie ten goede nie.