Dis nie my skuld nie!” Die eeu van verskonings
SKIELIK is daar ’n harde slag! Klein Jannie se ma hardloop in die kombuis in om te sien wat daardie verskriklike geraas veroorsaak het. Daar, op die vloer, lê die koekiehouer in skerwe. Jannie staan daar met ’n koekie lomp in sy hand vasgeklem terwyl hy terselfdertyd baie hard probeer om onskuldig te lyk. “Dit was nie my skuld nie!” sê hy vinnig.
OUERS weet maar te goed dat dit baie moeilik vir kinders is om aanspreeklikheid vir hulle eie foute te aanvaar. Maar die volwasse gemeenskap van vandag het dieselfde probleem. Al hoe meer mense glo blykbaar dat die verlokking van hulle eie bevrediging meer is as wat daar redelikerwys van hulle verwag kan word om te weerstaan.
Beskou die voorbeeld van die man wat dieselfde vrou drie keer verkrag het. Gedurende sy verhoor het hy aangevoer dat hy die slagoffer van sy eie manlike hormone was; daar was hoë vlakke testosteroon in sy liggaam. Hy is vrygespreek. ’n Politikus wat op leuens betrap is, het sy meineed aan ’n alkoholprobleem toegeskryf. ’n Dwelmsmokkelaar is vrygespreek nadat hy beweer het dat hy ’n slagoffer van die “aksie-verslawingsindroom” is.
Volgens die U.S.News & World Report kom meer as 2000 groepe elke week bymekaar om diegene wat hulleself as seks- of liefdeslawe beskou, raad te gee. Oor die 200 nasionale organisasies is na die voorbeeld van Alkoholiste Anoniem gestig om die “slagoffers” van ander “verslawings” te help, soos Slaners Anoniem, Homoseksuele Mansooreters Anoniem, Dobbelaars Anoniem, Debiteure Anoniem, Morsjorse Anoniem en Werkoliste Anoniem.
Party deskundiges bevestig die idee dat al hierdie vorme van vernietigende gedrag verslawend kan wees, maar ander is verontrus deur hierdie nuwe verslawingsmode. Soos een sielkundige dit stel: “As ons ’n wêreld van verslawende siektes skep, kan dit beteken dat ons ’n wêreld skep waarin enigiets verskoonbaar is.” ’n Psigoterapeut waarsku dat as mense hulleself eers as hulpelose slagoffers van ’n verslawing bestempel, dit baie moeiliker word om hulle te behandel; hulle verskoning word deel van hulle identiteit.
Dr. William Lee Wilbanks, ’n professor in die strafregspleging, sê dat die hedendaagse gewildheid van verslawingsterapie deel uitmaak van ’n filosofie wat hy die Nuwe Onwelvoeglikheid noem, naamlik: “Ek kan nie anders nie.” Hy blameer die “neiging wat al hoe meer in die wetenskaplike gemeenskap voorkom om mense te beskou as voorwerpe waarop interne en eksterne magte inwerk waaroor hulle geen beheer het nie”. Hy voeg by: “Hierdie beskouing gee te kenne dat die vrye wil selde of ooit ’n rol in menslike gedrag speel.”
Studies beweer dat die menslike wil dalk ’n groter invloed op die selfs meer konvensionele verslawings kan hê as wat daar gedink is. Byvoorbeeld: omtrent 75 persent van heroïenverslaafdes slaag nie daarin om met die gewoonte te breek nie. Maar onder die veterane van die Viëtnamese oorlog is die slaagsyfer baie hoër—byna 90 persent kry dit reg om die dwelm op te gee. Hoekom? Die dwelm is dieselfde; die verslawing identies. Kan dit wees, soos Wilbanks beweer, dat “hulle waardestelsel en selfdissipline hulle gehelp het om ‘nee te sê’”? Dit is nie dat dinge soos chemiese afhanklikheid of selfs ’n aangebore neiging tot sekere probleme nie werklik is nie. Soos Wilbanks dit stel, kan sulke faktore “die stryd teen versoeking moeiliker maak. Maar die stryd kan nog steeds gewen word.”
Dit kan inderdaad. Die verlokking van onmiddellike bevrediging is dalk magtig, maar dit is nie almagtig nie. Die werk van Jehovah se Getuies het wêreldwyd getoon dat dwelmverslaafdes, alkoholiste, egbrekers, dobbelaars en homoseksuele nie hulle begeertes hoef te bevredig nie. Deur wilskrag aan die dag te lê en, nog belangriker, met behulp van God se heilige gees, kan hulle hul probleme oorkom en oorkom hulle dit wel. Ons Skepper weet dus, ongeag wat “deskundiges” sê, wanneer ons verantwoordelik is vir ons eie dade (Numeri 15:30, 31; 1 Korinthiërs 6:9-11). Maar hy is ook barmhartig. Hy verwag nooit meer van ons as wat redelik is nie, “gedagtig dat ons stof is”.—Psalm 103:14.