Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 4/8 bl. 22-23
  • Daardie pragtige kristalle van Kofoe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Daardie pragtige kristalle van Kofoe
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is kristalle?
  • Van mineraal tot meesterstuk
  • Soos Kristalmaanligstrale
    Ontwaak!—2003
  • ‘Bolivianita—Het jy dit al gesien?’
    Ontwaak!—2005
  • Ruigryp—Wie is die kunstenaar?
    Ontwaak!—1994
  • Skattejag met ’n verskil
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 4/8 bl. 22-23

Daardie pragtige kristalle van Kofoe

Deur Ontwaak!-medewerker in Japan

HET die prag van kristaljuwele of -snywerk jou al ooit gefassineer? Moontlik het dit. Maar soos die meeste van ons weet jy waarskynlik nie hoe dit gemaak word nie. Kom ons gaan na Kofoe, Japan, ’n stad noordwes van die beroemde berg Foedjijama, om meer inligting hieroor te kry. Dit is een van die grootste bronne van edelstene ter wêreld.

Ons sal eers die Lapidary-Navorsingsinstituut besoek, waar die personeel ons van argeologiese vondste vertel wat aandui dat Japannese krygers in die verlede kristalpunte aan hulle pyle gesit het. Sommige pylpunte dateer moontlik uit Christus se tyd. Ons hoor ook watter rol kristalle in godsdiens gespeel het. Die Sjinto-godsdiens draai om natuurlike voorwerpe soos die son, berge, bome en gesteentes. Enigiets buitengewoons is aanbid. Toe ongewone kristalle dus ontdek is, is hulle in plaaslike tempels bewaar.

Tydens Japan se feodale tydperk is kristalle selde gekoop of verkoop. Maar in 1867 het keiser Meidji begin regeer en die feodale stelsel het kort daarna ten einde geloop. Met hierdie verandering het mense kristalle nou vryelik gemyn en verkoop. Kofoe se kristalbedryf is gebore.

Wat is kristalle?

Professor Kenro Tsoenoda van die Jamanasji-Universiteit antwoord: “Die woord ‘kristal’ kan na enige vaste stof verwys wat ’n reëlmatige, herhalende rangskikking van atome het. Diamante, sneeuvlokkies en selfs gewone tafelsout is kristalvormig.”

Waar kom kristalle vandaan? Professor Tsoenoda antwoord: “Kwartskristalle bestaan uit silikon en suurstof, die twee oorvloedigste elemente in die aardkors. Na die aarde geskep is, het dit afgekoel en het ligter chemiese stowwe na die oppervlak gedryf. Terwyl dit hard geword het, is ’n dun, rotsagtige kors gevorm. Maar soms breek warm granitiese magma uit die aarde se binneste deur hierdie kors. Die gevolg: ’n vulkaan. Dan weer styg die magma net genoeg om ’n bult onder die aarde se kors te veroorsaak.” Deur die eeue heen het die voortdurende styging en stadige afkoeling van die warm magma ’n kombinasie van net die regte elemente, temperatuur en druk bewerkstellig om helder kwartskristalle te vorm.

“Ongeag hulle grootte of vorm”, sê die professor voorts, “het hierdie kristalle altyd ses sye. Hulle gladde, plat oppervlakke vorm hoeke van 60 grade met mekaar en loop spits na bo uit. Hulle is natuurlik nie so hard soos diamante nie, wat onder baie groter hitte en druk gevorm word. Maar hulle het ’n hardheid van sewe op Mohs se hardheidskaal, vergeleke met nege vir saffiere en robyne. En hulle kan baie groot wees.”

Van mineraal tot meesterstuk

Mnr. Momose, eienaar van een van die groter werkswinkels in Kofoe, het goedgunstiglik ingestem om ons te wys hoe ruwe kristalle tot pragtige edelstene verwerk word. “In die verlede”, sê mnr. Momose, “is die meeste kristalle wat hier gebruik is in Japan gemyn. Al die myne in Japan is nou om ekonomiese redes gesluit. Sowat 480 ton kristal word jaarliks ingevoer, hoofsaaklik uit Brasilië, terwyl sommige gesteentes uit Afrika, Wes-Duitsland en die Verenigde State kom.”

Die stene word met ’n karborundumlem in skywe gesny, baie soos ’n mens brood sny. ’n Voorman merk dan die steen waar hy elke edelsteen gaan sny. Die vakman plak die edelsteen aan ’n lang stok vas sodat hy dit makliker kan sny. Dan, terwyl hy by ’n draaiskyf sit, slyp hy die fasette vaardig met die hand. Hy kan dit in ’n ovaal, ’n briljante, ’n reghoekige of ’n ander pragtige vorm slyp. Daarna word die stene op ’n draaitafel gepoleer. Elke steen is in ’n meesterstuk verander!

Die waarde en prag word baie verhoog wanneer ’n juwelier hierdie stene in pragtige monterings sit. Ons besoek ’n plaaslike juwelier en sien ’n skitterende uitstalling van edelstene. Ons sien dat ’n groot verskeidenheid dinge uit kristal gemaak kan word: borsspelde, mansjetknope, papierdrukkers, dasspelde, hangertjies. En teen die muur is daar indrukwekkende uitstallings van Foedjijama, kleurryke voëls en die bekende Japannese karp.

Juweliers gebruik goud, platinum, witgoud of silwer op blykbaar oneindige maniere om die natuurlike skoonheid van die edelstene uit te bring. En die prag en waarde van kristalle word baie vergroot wanneer dit met edelstene, soos diamante, gekombineer word. Maar klein kwartskristalletjies in minder sierlike monterings word nou as ossilators in horlosies, televisiestelle, radio’s en ander elektroniese toestelle gebruik. En wie weet waarvoor dit in die toekoms gebruik sal word? Maar intussen is ons tevrede om met bewondering na hulle luisterryke prag te kyk.

[Foto-erkennings op bladsy 23]

Yamanashi Jewelry Museum

The Shakado Museum of Jomon Culture

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel