Van voorraadskure tot stadions
Deur Ontwaak!-medewerker in Spanje
DIE hórreo is van heuweltop tot seestrand ’n bekende kenmerk van die landskap van Galicië, Noordwes-Spanje. Min Galiciese opstalle is daarsonder. Omdat die hórreo gewoonlik van graniet of hout gemaak en sonder uitsondering met ’n kruis versier is, kan dit maklik vir ’n familiegrafkelder aangesien word.
Dit word egter vir iets meer alledaags gebruik. Dit is ’n klein voorraadskuur, of graanskuur, wat gebruik word om graan, aartappels en ander gewasse gedurende die klam wintermaande droog te hou. Die paddastoelpilare waarop dit rus, help om die knaagdiere te fop wat baie graag aan die oes sou wou smul.
Maar die kruis van ’n sekere hórreo in die dorpie Xeoane is 30 jaar gelede verwyder. (Sien foto hierbo.) Hierdie klein voorraadskuur—net 10 vierkante meter—was die eerste geheime vergaderplek van Jehovah se Getuies in Galicië. Tot 23 Getuies het hierdie klein plekkie vol gesit en onder die sluier van die nag opgedaag en vertrek om gevangeneming tydens Franco se diktatorskap te vermy.
Dit is nou ongeveer twee dekades sedert godsdiensvryheid aan Jehovah se Getuies in Spanje toegeken is. Die Getuies in Galicië het onlangs hulle jaarlikse streekbyeenkoms gehou. ’n Streekkoerant, La Voz de Galicia, het gesê:
“Net soos die vroeë Christene in die Romeinse katakombes vergader het om hulle seremonies te hou wat deur die owerheid verbied is, het die eerste Jehovasgetuies van Galicië in die vyftigerjare ’n hórreo gebruik. . . . Nou is daar 4000 [Getuies] in die vier Galiciese provinsies. . . . Hierdie keer is hulle vergaderplek—die munisipale sportstadion—baie groter.” Dit was inderdaad baie anders as daardie nederige hórreo! En nou is daar dwarsdeur Spanje sowat 80 000 Getuies in meer as duisend gemeentes!
[Prent op bladsy 24]
Groot byeenkoms in voetbalstadion in Barcelona