Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 4/8 bl. 18-21
  • Waarop stuur die Arbeidersbeweging af?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarop stuur die Arbeidersbeweging af?
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Probleme binne die Arbeidersbeweging
  • Probleme buite vakbonde se beheer
  • Aanpassings vir voortbestaan
  • Deur die geswoeg van kinders
    Ontwaak!—1999
  • Deel 4—Die industriële omwenteling—Waartoe het dit gelei?
    Ontwaak!—1992
  • Deel 2—Uitbreiding om mag te konsolideer
    Ontwaak!—1992
  • Meidag—Wat beteken dit vir jou?
    Ontwaak!—2005
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 4/8 bl. 18-21

Waarop stuur die Arbeidersbeweging af?

Deur “Ontwaak!”-medewerker in Kanada

“RYKDOM hoop op, en mense vergaan”, het ’n digter opgemerk. Tog word talle aangetrek deur die verlokking van immer toenemende materiële rykdom. Dit is waarom kapitalisme in die Middeleeue te voorskyn gekom het.

Werkers het besef dat ’n agteruitgang in lewensgehalte dikwels vir talle met kapitalisme gepaard gaan. Om hulleself te beskerm, het hulle vakbonde gestig. Oral waar Kapitalisme floreer het, het die arbeidersbeweging ontstaan.

Maar kritici en self party ondersteuners spreek hulle besorgdheid uit dat georganiseerde arbeid in verval raak. Rubriekskrywer Anthony Westell sê: “Die arbeidersbeweging lewe in die verlede, onbevoeg of onwillig om te verander.” The Economist wys onder die opskrif “Krimpende Broederbond” daarop dat die Britse vakbondledetal in vyf jaar met “minstens tweemiljoen” afgeneem het. Professor Adolf Sturmthal van die Universiteit van Illinois skryf van ’n “krisis in die internasionale arbeidersbeweging”.

Statistiek ondersteun blykbaar hulle bevindinge. Die Japan Quarterly het berig dat die vakbondwerkers in Japan van 32 persent in 1960 tot 29 persent in 1984 afgeneem het, en in die Verenigde State van 33 persent tot 19 persent. Hoewel Brittanje en Wes-Duitsland beweer dat hulle toenames gehad het, het The German Tribune gesê dat “die situasie nie so rooskleurig is as wat die syfers moontlik aandui nie”. Dit het ’n afname in betrokkenheid onder lede en toenames in ongeorganiseerde sektore van die ekonomie gemeld. Hoewel die Australiese vakbondledetal ’n hoogtepunt van 55 persent het, word dit “deur ’n gevoel van onrus, selfs krisis, beklem”, aldus die Far Eastern Economic Review.

Probleme binne die Arbeidersbeweging

Om te slaag, moet arbeidskragte eensgesind wees. Maar talle arbeidersbewegings is lank nie verenig nie. Met die oog op veranderende gesindhede jeens werk sal dit, volgens The Times van Londen, ‘verdag wees as ’n enkele werkersstandpunt voorgelê word: daar bestaan klaarblyklik nie so iets nie’. Stakings in Australië word dikwels deur jurisdiksiegeskille tussen vakbonde veroorsaak. In Kanada waar vakbonde met mekaar slaags is, is vakbondlede na bewering woedend oor die hardhandige metodes van ’n vakbond wie se hoofkwartier in die Verenigde State is. Meer as 400 ontslane werkers in Kanada het twee vakbonde daarvan beskuldig dat hulle “die transaksie” wat hulle betrekkings kon gered het, “verongeluk het”.

’n Tweede interne probleem waarmee vakbonde te kampe het, is ’n gebrek aan betrokkenheid. Die werkersklas, vroeër hoofsaaklik handwerksmense, bestaan al hoe meer uit klerke, tegnici of beroepsmense. Hierdie kantoorwerkersektor ‘is vir vakbonde tradisioneel moeilik om binne te dring’, sê Labour Law and Industrial Relations in Canada.

Lidmaatskap aan ’n vakbond is vir talle noodsaaklik. Beskou die voorbeeld van ’n gegradueerde ingenieur wat hom by die personeel van ’n staatsdepartement gevoeg het. Hy het aan Ontwaak! gesê: “Ek is glad nie eens meegedeel dat ek by die vakbond aangesluit het nie. My naam het bloot op die ledelys verskyn. Toe ’n mosie om te staak omgestuur is, het ek geen voorkeur gehad nie en het dus buite stemming gebly.”

Korrupsie of kriminele bedrywigheid dra tot ontevredenheid by. In New York-stad het ’n belangrike verhoor van vermeende misdadigerbendes wyd verbreide vakbondbetrokkenheid blootgelê. Party Australiese vakbonde “wemel” na bewering “van die misdadigers”. Onwettige optredes gedurende onlangse Kanadese stakings het tot meer as 700 arrestasies gelei, met inbegrip van dié van ’n provinsiale politieke leier.

Probleme buite vakbonde se beheer

Ander faktore, buite die beheer van vakbonde, frustreer arbeiderleiers. Die mensesamelewing is in beroering. Die kamermaadskap van vakbondlede het verbrokkel. ’n Man—49 jaar lank ’n ketelmaker en ’n tyd lank ’n vertrouensman—het aan Ontwaak! vertel hoe min sy aftrede vir medevakbondlede beteken het: “Die laaste dag het hulle ’n hoed omgestuur en vir my $35 [R80] gegee. ’n Paar van die mans het my met die hand gegroet en dit was al. Omdat ek gedurende die depressie ontslaan is, het ek ses maande kort gekom om 50 jaar diens te hê en het ek gevolglik nie die gebruiklike goue horlosie ontvang nie!”

In sekere mate is die vervreemding toe te skryf aan die versuim om aan historiese ideale getrou te bly. Die sakebelange van sekere vakbonde het tot groot ryke gegroei waarin die vakbond die werkgewer is. Gerald Stewart van The Canberra Times sê: “Vakbonde het hulle morele reg om kapitalisme te veroordeel, verbeur toe hulle die minder aantreklike aspekte daarvan nagevolg het.”

Tegnologiese veranderinge en resessies kan tot minder poste in die monteerwerkplaas lei. Die tydskrif Time het berig dat Milwaukee se fabriekswerkers van 223 600 in 1979 tot 171 300 in 1986 afgeneem het. Boonop lok nuwer werkgeleenthede jonger mense met spesifieke vaardighede. Die vakbond is nie altyd vir hierdie soort geïndividualiseerde werker ter sake nie.

Werkers verlang meer as net geld. Maar dagsorgdienste, korter werksweke, veranderbare skofte, werksdeling en gesondheidskemas bevoordeel dalk net werkers in sekere kategorieë. Dit is moeiker vir net een organisasie om in so baie belange te voorsien. En werkgewers omseil vakbonde dikwels deur werknemers kreatiewe voordele regstreeks aan te bied.

In party lande lok vakbonde se politieke of godsdienstige betrokkenheid kritiek van lede uit. Hulle wil dalk nie hê dat ledegeld gebruik word om werksaamhede te steun waarmee hulle nie saamstem nie. Kanadese geregshowe het dit bevestig dat ’n lid om sulke redes mag weier om ledegeld aan ’n vakbond te betaal.

Hoewel staking die vakbond se primêre strydmiddel is, is dit minder suksesvol as tevore. In Kanada het ’n provinsiale minister van justisie gevra dat die polisie se reg om te staak opgehef word, en Quebec het strawwe wette aangeneem om met onwettige stakers in die gesondheidsektor af te reken. In die Verenigde State het die federale regering ingegryp en die vakbond van lugvaartbeheerders ontbind toe dit gestaak het. Ander lande soos Australië, het verpligte arbitrasie.

Werkgewers het strategieë ontwikkel om vakbonde te laat misluk. Verskeie groot korporasies het ’n vorm van bankrotskap ondergaan om lastige vakbondooreenkomste te ontduik. Party dagvaar weens teistering, terwyl ander saamstaan in ’n verenigde front teen die vakbondbeweging.

Aanpassings vir voortbestaan

In baie opsigte bestaan die behoeftes wat aanvanklik tot die arbeidersbeweging aanleiding gegee het nie meer nie. Sosiale wetgewing—na aanleiding van georganiseerde arbeid—beskerm kinders, stel minimum diensstandaarde en beskerm groepsonderhandeling. Maar arbeiderleiers beskou die mag van grootondernemings en toenemende werkloosheid in party lande as bewys dat hulle steeds nodig is.

Nuwe geslagte arbeiderleiers werf opnuut ondersteuning. Een vakbondpresident, wat erken dat vakbonde by talle van die publiek nie meer gewild is nie, sê dat “die hedendaagse arbeiderleier meer aandag aan voorbereiding en navorsing skenk” as om bloot eise te stel. Hulle sukses sal veranderinge in die organisasie en in vakbonde se metodes vereis.

In sekere nywerhede het die arbeidersbeweging aanpassings gemaak en voortbestaan. Motorvervaardigers het baie toegewings van nywerheidsvakbonde verkry om produktiwiteit te verhoog. Nuwe fabrieksondernemings wat arbeid ten gunste van robottegnologie verminder, werf ook vakbonde se steun. “Daar bestaan kommer”, het ’n vakbondbeampte met betrekking tot so ’n onderneming erken, “maar daar is ook ’n gevoel van voldoening dat ons mense ’n rol daarin gespeel het”.

Hoewel sekere vakbonde pogings teenstaan om die werkkragte te verminder, tref ander ’n vergelyk met die bestuur en eksperimenteer met werkdeling, of werkwisseling. Die Seafarers International Union van Kanada is een voorbeeld. ’n Proefprojek maak voorsiening vir eenhede wat uit vier mans bestaan, waarvolgens elkeen volgens ’n wisselrooster 90 dae op ’n keer werk en dan 30 dae vry neem. “Die grootste voordeel”, berig Toronto se Globe and Mail, “is dat meer seeliede werk het.”

Hoewel daar in groot mate gefaal is om vakbonde onder die groter nywerhede te organiseer, is vakbonde steeds suksesvol onder kleiner werkgewers. In een Kanadese provinsie het 42 van die 704 nuwe eenhede wat gedurende een jaar gesertifiseer is alleen meer as honderd mense in diens geneem. “Maar die dae toe vakbonde groot getalle lede op ’n slag kon aanvaar, is grotendeels lankal verby”, het ’n waarnemer gesê.

Dit is duidelik dat baie van die oorsake van agteruitgang in die arbeidersbeweging, soos met die agteruitgang in die samelewing oor die algemeen, buite mensebeheer is. Mans en vroue wat uit ’n begeerte na ’n beter wêreld na die arbeidersbeweging aangetrek word, verdien lof vir hulle opregte pogings om hul medemens te help. Weldenkende mense erken sulke pogings om beter werkomstandighede te verseker. Nogtans lewer vakbonde se huidige toestand ons nog ’n bewys van welmenende dog bloot menslike instellings wat inderdaad in ons kritieke tye verkeerd geloop het.—2 Timotheüs 3:1-5.

[Venster op bladsy 19]

Kapitalisme

Volgens een woordeboek is kapitalisme ’n stelsel waar “produksie- en distribusiemiddele privaat besit en bedryf word om wins te maak”.

Jakob Fugger, ’n ryk Middeleeuse handelaar van Augsburg, Duitsland, het ook die Algemene Agentskap van die pous bestuur, wat die geld vir aflate ingevorder het. Geskiedskrywer Erich Kahler meen dat kapitalisme by Fugger ontstaan het en skryf:

“Sommige hedendaagse ekonome en sosioloë het probeer bewys dat daar reeds in Babilonië spore van kapitalisme was. Maar wat hulle gevind het, is nie kapitalisme nie. Kapitalisme is nie dieselfde as rykdom en roerende goedere nie, dit is nie dieselfde as die maak en uitleen van geld nie, nie eens dieselfde as ’n bloot produktiewe investering van eiendom nie. Nie een van hierdie dinge is op sigself kapitalisme nie, want almal kan aan ’n lewensbeginsel beantwoord, sonder ekonomiese oogmerke, en word dalk gedoen met ’n menslike oogmerk, ’n menslike doel, vir iets wat ’n mens kan geniet. Maar hier, vir die eerste keer, het . . . sake op sigself, geldmakery op sigself, die vervaardiging van goedere en die ophoping van geriewe soveel mag oor die mens gekry dat hy al sy lewenskrag, sy hart, sy hele hede en toekoms, sy hele menswees, in die letterlike sin van die woord, gewy het aan ’n rustelose, ’n immer groeiende en verterende produksie per se, ’n produksie, waarvan hy die einddoel geheel en al uit die oog verloor en vergeet het.

“En dit is die begin van kapitalisme, wat die beheer van kapitaal oor die mens is, die beheer van die ekonomiese funksie oor die mensehart. Hier begin die outonomie van die ekonomie, die rustelose, onbeperkte uitbuiting van die natuur en die vervaardiging van goedere, wat niemand meer die vrye tyd of die vermoë het om te geniet nie. Die gevolge van hierdie ontwikkeling is vandag duidelik.”—Man the Measure.

[Venster op bladsy 20]

Die geskiedenis van die arbeidersbeweging

“Arbeidersbeweging” is “die term wat gebruik word om al die georganiseerde bedrywighede te beskryf van loonarbeiders wat die verbetering van hulle eie omstandighede tans of in die toekoms ten doel het”.—The American Peoples Encyclopedia.

Sommige beweer dat die Hebreeuse slawe in Egipte se weiering om bakstene sonder strooi te maak die eerste arbeiderstaking was, maar die Israeliete was nie loonarbeiders nie; hulle was slawe (Exodus 5:15-18). Die feit dat die apostel Paulus Onesimus na Filemon teruggestuur het, het eweneens nie betrekking op loonarbeiders nie omdat Onesimus ’n slaaf was.—Filemon 10-20.

Die ontstaan van handwerkgildes, dit wil sê verenigings van ambagsmanne wat arbeiders en vakleerlinge in diens geneem het, in die 14de en 15de eeu het die weg vir vakbonde gebaan. Volgens The History of Trade Unionism het huurlinge reeds in 1383 “teen hulle heersers en goewerneurs saamgespan”.

Die eerste arbeidswet in Engeland was die Ordonnansie van Arbeiders (1349 of 1350). Die Statuut van Vakleerlinge (1563) het arbeidsbetrekkinge in Engeland geslagte lank gekodifiseer. Teen die 20ste eeu het die meeste lande die wette verslap wat vakbonde beperk het.

Die I.A.O. (Internasionale Arbeidsorganisasie) is in 1919 onder Artikel 23 van die Volkebondstatuut tot stand gebring en dit bestaan steeds. Die statute van die I.A.O. is in die sosiale wetgewing van die meeste nasies opgeneem.

Vakbonde is in die meeste lande wettig. Dit kan vakbonde wees waarby werknemers by hulle indienstreding kan aansluit of nie, of dit kan vakbonde wees waar lidmaatskap verpligtend is as voorwaarde vir indiensneming.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel