Wie vernietig die reënwoude?
DAARDIE vraag word dikwels beantwoord deur die wêreld se armes die skuld te gee. Eeue lank het landvolk in tropiese lande die grond bewerk deur ’n kap-en-brand-landboumetode. Hulle kap ’n lap woud af en brand dit, en net voor of net na die brand plant hulle gewasse aan. Die woud se as voorsien voedingstowwe vir die gewasse.
Hierdie manier van landbou het lank gelede ’n verrassende waarheid oor tropiese reënwoude geopenbaar. Ongeveer 95 persent daarvan groei op baie swak grond. Die woud herbenut die voedingstowwe so vinnig dat hulle meestal in die bome en plantegroei ver bo die grond gehou word, veilig teen die reëns wat hulle uit die grond sal spoel. Die reënwoud is dus volmaak geskik vir sy omgewing. Die nuus is nie so goed vir die boer nie.
Die verknorsing van die armes
Weldra spoel die reëns die voedingstowwe weg wat deur die as van die afgebrande woud agtergelaat word. Boerdery word stadigaan ’n nagmerrie. ’n Arm Boliviaanse boer het dit so gestel: “Die eerste jaar het ek die bome afgekap en verbrand. En die mielies het hoog en soet in die as gegroei, en ons almal het gedink dat ons uiteindelik die paal gehaal het. . . . Maar sedertdien het dinge agteruitgegaan. Die grond word droër en droër, en niks anders as onkruid groei daarin nie. . . . En die peste? Ek het nog nooit soveel soorte gesien nie. . . . Dit is so te sê klaar met ons.”
In die verlede sou ’n boer eenvoudig nuwe lappe woud afgekap en die ou stuk grond laat braak lê het. Sodra die woud weer op die vorige stukke grond gegroei het, kon dit weer afgekap word. Maar hierdie proses werk net as die skoongemaakte lappe grond deur die oorspronklike woud omring word, sodat insekte, voëls en diere die saadjies kan versprei en die nuwe boompies kan bestuif. Dit kos tyd.
Die bevolkingsontploffing het dinge ook verander. Namate boere saamdrom, word die braaktydperke korter en korter. Dikwels put trekboere hulle grond eenvoudig in ’n paar jaar uit, trek verder die woud in en brand dit in ’n breë strook af.
Nog ’n faktor vererger die situasie. Sowat twee derdes van die mense in minder ontwikkelde lande is afhanklik van hout as brandstof vir kook- en verwarmingsdoeleindes. Meer as ’n miljard mense kan slegs in hulle brandstofbehoeftes voorsien deur vuurmaakhout vinniger af te kap as wat dit op die oomblik vervang word.
Dieperliggende oorsake
Dit is maklik om die armes die skuld te gee. Maar soos ekoloë James D. Nations en Daniel I. Komer sê, is dit soos om “soldate daarvan te beskuldig dat hulle oorloë veroorsaak”. Hulle sê verder: “Hulle is bloot pionne in ’n generaal se spel. Om die rol te verstaan wat koloniste in ontbossing speel, moet ’n mens vra waarom hierdie gesinne in die eerste plek die reënwoud binnegaan. Die antwoord is eenvoudig: omdat daar nêrens anders vir hulle grond is nie.”
In een tropiese land besit ’n skrale 2 persent van die grondeienaars sowat 72 persent van die grond. Intussen het nagenoeg 83 persent van die plaasgesinne òf nie genoeg grond om ’n bestaan te voer nie, òf glad nie grond nie. Daardie patroon word in mindere of meerdere mate dwarsoor die aardbol herhaal. Uitgestrekte gebiede wat aan grondeienaars behoort, word gebruik, nie om voedsel vir die plaaslike mense te verbou nie, maar om uitvoergewasse te kweek wat aan ryk nasies in die gematigde gebiede verkoop word.
Die houtkapbedryf is nog ’n berugte skuldige. Behalwe die direkte skade wat houtkappery in die woud aanrig, stel dit ook die reënwoude bloot aan groter gevaar weens brande—en weens mense. Die paaie wat stootskrapers vir houtkappery deur ongerepte woude oopstoot, baan die weg vir hordes trekboere.
En wanneer die plase misluk, wat alte dikwels gebeur, koop veeboere die grond op en omskep hulle dit in weivelde vir vee. Dit gebeur veral in Suid- en Sentraal-Amerika. Die vleis van die beeste wat hulle teel, word hoofsaaklik na ryker nasies uitgevoer. In die Verenigde State eet die gemiddelde huiskat in ’n jaar meer beesvleis as die gemiddelde Sentraal-Amerikaner.
Op die ou end is dit die ontwikkelde nasies wat die vernietiging van die tropiese reënwoude finansier—om hulle eie gulsige begeertes te versadig. Die eksotiese tropiese hout, die produkte, die beesvleis wat hulle gretig van tropiese nasies koop, verg alles dat die woud verdring of verniel word. Die Amerikaanse en Europese sug na kokaïen het daartoe gelei dat honderdduisende hektaar reënwoud in Peru uitgewis is om plek te maak vir die winsgewende kokagewasse.
Die wrange winste
Baie regerings moedig ontbossing op daadwerklike wyse aan. Hulle gee veeboere, houtmaatskappye en uitvoerders van landbouprodukte belastingvoordele. Sekere nasies sal aan ’n boer ’n stuk grond gee as hy dit “verbeter” deur dit te ontbos. ’n Land in Suidoos-Asië het miljoene trekboere na sy vergeleë reënwoude vervoer.
Sulke beleide word goedgepraat met die bewering dat die woude benut word om die armes te help of die dalende ekonomieë te verstewig. Maar volgens kritici is selfs hierdie korttermynvoordele bedrieglik. Grond wat byvoorbeeld nie vir die boer se gewasse geskik was nie, is miskien net so min geskik vir die veeboer se beeste. Veeplase word gewoonlik na tien jaar verlaat.
Die houtbedryf vaar dikwels niks beter nie. Wanneer tropiese hardehout uit die woud gehaal word sonder om aan die toekoms te dink, krimp woude vinnig. Die Wêreldbank raam dat 20 van die 33 lande wat op die oomblik hulle tropiese hout uitvoer binne tien jaar niks meer sal hê nie. Thailand is so drasties ontbos dat dit alle houtkappery onwettig moes verklaar. Daar word geraam dat al die hout in die Filippyne teen die middel-negentigerjare afgekap sal wees.
Maar die bitterste ironie is dit: Studies toon dat ’n stuk reënwoud ’n groter inkomste kan inbring wanneer dit ongeskonde gelaat word en sy produkte—byvoorbeeld die vrugte en die rubber—geoes word. Ja, meer geld as wanneer dieselfde stuk grond vir landbou, veeboerdery of houtkappery gebruik word. Tog duur die vernietiging voort.
Die aardbol kan hierdie behandeling nie vir ewig verduur nie. Die boek Saving the Tropical Forests sê: “As ons met die huidige vernietiging voortgaan, is die kwessie nie as die reënwoude verdwyn nie, maar wanneer.” Maar sal die wêreld werklik ly as al die reënwoude vernietig word?
[Prent op bladsy 7]
Faktore by ontbossing
Oorstromings veroorsaak deur damme
Kap-en-brand-landboumetode
Houtkappery
Veeboerdery